Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Augustus 2000

Daar is groot verwagtinge hier in die Bazaar vir die miljoene rande wat Durban gaan instroom die opkomende Comrades-naweek. Want die ekonomie hier is morsdood. Sommige van die winkeleienaars blameer dit op die krisis in Zimbabwe, ander op die stygende petrolprys. Die waarheid is egter: die ekonomie is dood soos ’n mossie. Daar is ’n ontnugtering met die politiek soos nog nooit tevore nie. Ek sou iemand wat ’n politikus wil word, graag waarsku. Die mobs begin ongeduldig raak, en die vyand is duidelik: dit is nie ’n bepaalde party of ideologie nie: dit is politici, dit is die instelling van politici.

Ek sit in Costa do Sol, my stamkroeg hier onder in Wes-straat, net ’n blok weg van die see. Ek was lank laas hier. Ek sit in die donker hoek met Charity. Ek vra of sy nog in haar luukse woonstel, Casablanca, op die Suid-Strand woon. Nee, sy is nou in Crown Court net om die draai, antwoord sy. Die Duitser, die een met die bierpens wat altyd hier buite saam met sy Duitse pêlle om ’n tafeltjie gesit en praatjies maak het met die dames van die nag om ’n glas bier, is dood blykbaar van ’n hartaanval terwyl hy op die job was met een van die dames. Charity het in sy woonstel gebly. Hy was een van die gulhartige mense. Sy vertel van die krisis. Sy hou nie van lyke nie. Haar vriendin het uitasem vir haar kom sê: “Frank is dood, Frank is koud”. Daar lê hy met sy bleek bierpens en sy horing wat nog styf is op Charity se bed. Dit was Frank se woonstel, maar al haar meubels. Ek vang Charity se oë rooi van die rook en drank. Sy het in twee maande verouder. Sy was die enigste van die meisies wat dit na sy begrafnis gewaag het. Sy vertel die mense het haar aangestaar. Sy gee nie om nie, want sy het Frank al van jare terug geken. Hy was daar toe sy, nog ’n jong meisie, vir die eerste keer besigheid begin maak het in Durban se strate. Hy was soos ’n pa vir haar. Ek dink aan die hool, Costa’s, en die mense hier is soos ’n familie. Die ou mans en die meisies. Almal was al met almal in die bed. Almal ken almal se mees private geskiedenisse. Charity vertel van haar gesukkel om haar meubels uit die boedel terug te kry.

* * *

Boggelrug met dun beentjies wat uit sy kortbroek in sy sokkies en skoene steek kom blaai die ou mynkaptein deur die rommel hier in Bohemian Books, ons nuwe donker boekwinkel hier in die Bazaar, in Gillespiestraat, net oorkant die Four Seasons Hotel. Die Four Seasons is onlangs gelikwideer en ’n stukkie van die karnavaleske geheue van Durban is tot niet.

Bohemian Books is ’n plek waar ek van my verlede en my materiële obsessies ontslae kan raak soos die ou man, ’n kliënt met ’n allemintige moesie op sy voorkop, van sy versameling vliegtuigies moes ontslae raak toe hy Durban toe verskuif het. Hy vertel hoe hy gesuip het met sy afskeidspartytjie en “My Way” vir die gaste gesing het. Daar is net een kunstenaar wat “My Way” kan sing, verklaar hy en dit is Frank Sinatra. Hy vertel van sy versameling Swing-plate, van sy boeke oor die Anglo-Boereoorlog en oor Hitler en Rommel. En hy admireer die glans-fotoboek oor Mandela se lewe op een van die tafels. Ons moet dit asseblief vir hom hou tot more of oormore of een of ander tyd in die toekoms. Hy het baie respek vir die ou man wat sewe-en-twintig jaar op die eiland was en nie bitter was toe hy die bewind oorgeneem het nie.

Ek is arm soos nog nooit tevore nie. Daar is geen geld in my krediet- of tjekkaartrekeninge nie. Ek het my oortrokkefasiliteite heeltemal uitgewis op Zaza. Ek wil nie eers aan Zaza dink nie, of aan myself en die waansin van die afgelope paar maande nie. Ek wys vir die ou man André P Brink se boek Portret van die vrou as jong meisie. Hy kan nie meer die fotos van jong naakte vroue waardeer nie. Dit maak hom mal sê hy. Hy sal enigiets gee om sy eie vrou uit die dood terug te win. Sy dogter kry vir hom ou swart en wit Hollywood-films op video en hy bring sy lewe deur voor die televisie-stel. Hy sal terugkom vir die boek oor Mandela.

Die Bazaar is dood, die land is ekonomies dood. Niemand het geld nie. Die musiekwinkel-eienaar uit Tseggeslovakeie met die snor en krul hare kla oor die afgelope twee maande se ekonomiese stilte. Op die toonbank lê sy Malteserhondjie rustig en slaap. Vir drie dae was daar nie een kliënt in my winkel nie. Behalwe Dinsdag het ’n boer uit Pretoria met ’n bierpens ’n swartraam-bril, kortbroek en snor hier ingestorm en R300 se boeke gekoop. Een oor Livingstone se reise. Ek kon weer petrol in die kar gooi, en ’n bietjie lugtyd koop.

My roman Man-Bitch is klaar en afgerond maar ek ken nie die Engelse Uitgewerswêreld nie. Wie lees nog? Al die akademici wat gelees het is afgedank, niemand soek meer boeke oor Suid-Afrika nie, diskoerse oor Apartheid is uit die mode en so ook die koloniale verlede: Die Africana-mark is dood. Niemand stel meer belang nie. En Afrikaans: het daar ooit ’n boekemark vir Afrikaans bestaan? Miskien is Durban te ver verwyder van ’n boekemark: mense sweet en drink bier hier, en raak gou verveeld. Haarkappers uit Kenya, Nigerië, Kongo neem orals oor. Daar is ’n mark vir haarkappers. Meeste boeke wat die afgelope twee weke verkoop is, is obskure filosofie-boeke. Die paar filosowe in Durban koop boeke.

Sondag. Sewe-uur. Ek is oppad na die vlooimark. Miskien is ek meer gelukkig daar. Ek dra die swaar kartondose-boeke na die gereserveerde tafel. ’n Wolk hang donker oor die strand en die stad. Net na ek uitgepak het begin die motreën en ek moet weer pak en hardloop met die boeke na iewers onderdak. Daar hang ’n reënboog oor die stad. Later reën dit terwyl die son skyn. Jakkalsreën het ons dit kleintyd genoem. Uiteindelik skyn die son weer en ek kan my plek gaan inneem. Maar die vlooimark is dood. ’n Vrou uit Rusland het ’n honger na boeke, maar sy het nie geld nie en kla oor Suid-Afrikaners geen belangstelling in literatuur, musiek en teater het nie. ’n Muslim-tannetjie uitgedroog soos ’n wingerdstok kom vra oor kruie-boeke. Uiteindelik kom my geluk. Twee ou kêrels. Hulle was seker saam in die Springbok-legioene. En ek dink daar is meer as net ’n lewenslange vriendskap tussen hulle. Hulle komplimenteer my oor die tipe boeke te koop by my stalletjie. Hulle koop die glansboek oor Mandela, lag vir die foto waarop gesig van ’n ou vriend van hulle verskyn: Joe Slovo. Die een ou kêrel het net een tand wat soos ’n haaitand sy tandvleise versier en hy praat onophoudelik. Uiteindelik, en hy fluister agter sy bakhand, soek hy rigtingaanwysers na daardie plek waar hulle pragtige jong meisies kan ontmoet; die Costa do Sol wat ek vir hulle opgetower het as die lushof waar die mooiste dames in Durban te koop is. Gemeensaamheid met ’n pragtige jong vrou beteken seker veel op die afgetakelde ouderdom.

In die volgende week is die haaitand by my winkel. Hy koop een van my Dassie-boeke. (Die Dassie-boeke is ’n reeks Suid-Afrikaanse tekste in sagteband deur die CNA uitgegee in die vyftiger en vroeë Sestigerjare). En weer vra hy die pad na Costa’s.

Brian ontdek my winkel. Hy was bekend as die “bald-and-bearded bookworm” in die ou dae. Hy het ’n stalletjie op die vlooimark gehad toe tye beter was. En ons ruil annekdotes uit. Ek vertel van die ou wat hier was op soek na ou boeke. Die boeke moet oud lyk, selfs verinneweer. Dit is om sy nuwe kroeg in sy huis te versier. Hy is hier weg met die sewe volumes van Havelock Ellis se Encyclopaedia of Sexual Behavior. Hy vertel op sy beurt van ’n ewe obsessiewe versamelaar van ou boeke in leerbande en vergulde letters. Die ou het al die boeke tot ’n bepaalde grote deurgesaag sodat dit netjies op sy nuwe rake kon vertoon. ’n Amerikaanse kliënt kom die winkel binne. Hy soek die Afrikaanse weergawe van die Wizard of Oz. Hy het die boek in ongeveer driehonderd tale, en nou soek hy die Afrikaanse weergawe (reeds uit druk uit).

Hulle is so dik soos hulle breed, soos hulle lank is: die Transvalers, en hulle marsjeer in gesinne deur die kompleks op soek na iets om hulle nuuskierigheid te stil. Hulle reken oor die radio 26 miljoen rand gaan in die ekonomie van Durban inrol met die Comrades-marathon. Daar is groot afwagting. Miskien is die hordes geletterd, miskien lees hulle, miskien het hulle ’n honger na boeke

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.