|
GenèvePieter WagenerMy vriende, die Vogels, het my uitgenooi, eintlik daarop aangedring dat ek vir hulle in Genève moet kom kuier. Daar was nog 'n week van rondreis op my Eurail-kaartjie oor en daarmee het ek koers gevat Genève toe. Ek wou hulle nie voor die tyd bel nie; die onsekerhede oor my reisplanne het enige vaste beplanning bemoeilik. In plaas daarvan om my gasheer moontlik onnodiglik voorbereidings te laat tref, het ek 'n kans gevat om na Genève te reis en hulle dan met my aankoms te bel. Is hulle tuis, dan goed en wel. Indien nie, sou dit 'n bekoorlike reis wees deur die woude en berge van Suid-Europa. Ek het die middag net ná vyfuur op die stasie aangekom. In die somer is dit nog helder lig dié tyd van die dag. Op dié besondere dag ook buitegewoon warm en bedompig. Daar was geen antwoord op my telefoonoproep na hul huis nie en ek het solank die treinrooster nagegaan vir die reis terug Parys toe. Verneem toe dat die middernagritte afgeskaf is. Om tienuur die aand wel een na Marseilles, dan daar twee uur lank wag op 'n aansluiting en nege-uur die oggend terug in Parys. Elf uur. Te lank. Die volgende geleentheid is die sneltrein, vertrek sesuur die volgende oggend, maar neem net drie uur na Parys. Meer aanneemlik, maar wat doen ek die hele nag? Ek het 'n bundel Spaanse kortverhale en 'n wiskundeboek in my bagasie. Daarmee sou ek die nag in die wagkamer verwyl. Ek bel die Vogels nog vir oulaas om halftien. Geen antwoord nie. Dis nog helder lig en die gesin is seker op pad terug van 'n wandeling. Maar ek moet 'n besluit neem: tienuur nou of sesuur die volgende oggend. Ek het 'n ligte Kaapse Yebo-katoenhemp aan, maar dit is so drukkend warm dat 'n koeler aand later onwaarskynlik is. Ek het juis nog 'n hemp vir die sweterigheid saamgebring. Goed. Ek oornag in Genève, op die stasie. Die wagkamer sou met tipies Switserse netheid heel fatsoenlik, gerieflik en veilig wees. Totdat die moegheid my oorval, sou ek die nagtelike Genève verken. Tot so eenuur die oggend. Die stasie is in die hart van kosmopolitiese Genève. Dit wemel van buitelanders wat aan die Verenigde Nasies in die stad verbonde is. Hul teenwoordigheid hier het meestal met menseregte te doen. Ek kyk vies na 'n groep Afrikane wat uit 'n peperduur hotel stap. Dit kos 'n paar duisend rand per aand net om daar te slaap. Elkeen stap met 'n konferensielêer oor menseregte onder die blad. "Human rights are God-given", verkondig 'n wit duif op die blou omslag. Ek wonder of hulle van Burundi is. Teen elfuur begin dit skemer word en ek besluit dat dit 'n goeie tyd vir aandete is. Aan die Ryn. Op pad na die rivier gaan staan ek by 'n fontein, trek my hemp uit, doop dit in die yskoue water en trek dit weer aan. Dit verlig die hitte en bedompigheid van die nag. 'n Ent verder is daar 'n straatkafee aan die oewer van die Ryn en, gedagtig aan die mense van Burundi, bestel ek die goedkoopste dis op die spyskaart. Lasagne en koue, semisoet witwyn. Teen middernag stap ek terug stasie toe. Die stasie se deure is toegegrendel en maak eers die volgende oggend oop, net betyds vir die sneltrein na Parys. Voor die stasie kyk ek af in die straat waarlangs ek so pas gekom het. Dit wemel nog van mense. Oorkant is die Amerikaanse eetplekke: Macdonalds en Burger King. Ook die Franse brasseries. Ek wonder hoe lank ek die tyd tussen hulle kan verwyl voordat hulle almal gesluit is. In die wandelpad tussen die eetplekke is talle staalbanke en ek gaan sit op een van hulle. Sou ek die hele nag hier kon deurbring? Die kennisgewings by die eetplekke kondig aan dat hulle almal om eenuur sluit. Nog 'n halfuur tot dan. Die staalbanke op die plein is, vreemd aan Europa, gerieflik en ek sou die grootste deel van die nag daar kon sit. So tussenin nog 'n stappie langs die rivier en die nag is gou-gou verby. Ek moet net my kop regkry vir die nag. Dit is Europa en daar moet mos mense die hele nag hier rond kuier. Dit is verstommend hoe vinnig mense verdwyn as die kroeë eers toemaak. Ek hou die talle groot uitstalhorlosies om my dop en probeer een soek wat nie met Switserse presiesheid dieselfde tyd as die ander aandui nie. Ek wag in besonder vir al die wysers om tegelyk twee-uur die oggend aan te dui. Om daardie mikpunt te bereik sou my eerste prestasie van die aand wees. Twee-uur die oggend blyk ook die magiese uur van al die goeie mense in Genève te wees, want soos die dosyn wysers na hul teiken kruip, skarrel die welgekledes, die deftiges, goedgemanierdes en vrolikes weg voordat hulle in muise of jakkalse verander. Soos ek die wysers dophou, kom ek nie agter dat alles om my eensaam word nie. Presies om twee-uur, wyservas op elke Switserse uurwerk rondom my, verdoof die ligte van die winkels en eetplekke. Verontrus begin ek my omgewing beloer. Skuins voor my, op die verlate stoele van Burger King, sit 'n groep Somali's stil na my en loer en wonder waarom ek nie soos die ander witmense al verdwyn het nie. Ek dink daaraan hoe koddig dit is dat ons, Afrika-bewoners, die enigste wakker mense in die hart van een van Europa se grootste stede is. Ek is dadelik verlig toe ek die blanke man in my rigting aangestap sien kom. Miskien verbeel ek my, maar ek begin glo dat ek kort gelede gelees het dat Genève een van Europa se gevaarlikste stede geword het. Die man wat aangestap kom, is middeljarig en lyk soos 'n bankier. Bleskop, bril en oorgewig. Die toonbeeld van Switserse standvastigheid. Dit is seker 'n Middeleeuse tradisie van Switserse bankiers om dié tyd van die nag in leë strate rond te wandel. Ek is half bang hy stap verby, maar hy kom langs my op die bank sit. Ons groet in Frans. Oorkant sit die Somali's nog stilweg na ons en kyk. Hy praat 'n Switserse dialek en ek maak verskoning dat ek hom nie verstaan nie. Hy glimlag net en ek is verbaas, half teleurgesteld dat hy nie vra waar ek vandaan kom nie. Van Suid-Afrika, sou ek antwoord en ek sou sê dat ek nog nooit so warm daar gekry het as hier vanaand nie. Hy sê egter niks nie, maar klop 'n paar keer met sy koerant teen sy knie, half ongeduldig. Skielik klap hy die koerant teen my been, staan op en gaan sit op die bank oorkant my. Die Somali's raak aan die lag. Dit is halfdrie. Ek het nie die twee jongmans agter my gewaar nie. Hulle kom verbygestap en een van hulle gaan sit langs die man met die koerant. Die ander jongman drentel van een winkelvenster na die ander verder die straat af. Ek kyk met ongeloof na die jongman op die bank oorkant my. Dit lyk asof hy en die ouer kêrel ou kennisse is, maar die kontras kan nie groter wees nie. Die jongman is in wit geklee, katoenhemp soortgelyk aan myne, maar 'n driekwart-kortbroek tot net onder die knie. Verder, swart sandale. Hy is die mooiste mens wat ek in jare gesien het en ek wonder waarom hy nou soos 'n nagtelike Adonis tussen die opdrifsels van Genève se spoorwegstasie verskyn. Die jongman glimlag asof hy in die sonskyn van die Griekse eilande sit. Net die donker bril ontbreek, maar sy hare is blond, hy is bruingebrand en sy glimlag is so breed en vol wit tande soos die lewensredders s'n waarop ek as jongman so afgunstig was. Hy sit oorkant my, arms oopgevou en bene uitgestrek. Hy skreeu op die Somali's dat dit tyd vir hulle is om in die bome te gaan oornag. Een van hulle skreeu terug dat hulle net wag dat 'n wyfie, kat of feeks soos hy hulle moet kom warm hou. Ek vind die gemoedelikheid koddig dié tyd van die nag. Sonder verdere kommentaar klop Adonis ook vir oukêrel op die been, hulle staan op en begin agter die ander jongman aanstap. Adonis draai skielik om en roep in my rigting dat hy binnekort terug sal wees. Ek voel 'n onrustige dankbaarheid. Dit is al amper drie-uur en die Somali's begin al hoe meer na 'n klomp aasdiere lyk. Soos die twee wegstap, wonder ek wat hulle gaan aanvang. Afrikaanse stories het uitermate beskrywend omtrent dié dinge geword en ek wonder in watter mate fiksie met dié twee mans verwesenlik gaan word. Die gemak waarmee die beelde deur my kop flits, verontrus my, maar ek skryf dit toe aan my onvermoë om dié tyd van die oggend my gedagtes te beheer. Die beelde word grotesk en die belofte van Adonis om terug te keer vul my met 'n kriewelrigheid. Dit is asof Adonis 'n bosgod is wat sy volgelinge byeengeroep het. Op 'n ander straathoek staan nog twee jongmans, korter broeke as syne aan, wat hul gespierde bene vertoon. 'n Rooi motor hou by hulle stil en een van hulle klim in. Die agtergeblewene wuif hulle met 'n soen agterna. Hy bespeur my waar ek alleen op die bank sit en begin in my rigting stap. Ek voel skielik dat dit tyd vir nog 'n wandeling langs die Ryn geword het en stap vinnig aan die ander kant van die straat af rivier toe. Op pad doop ek my hemp weer in die fonteinwater. By die Ryn is ek verlig om etlike paartjies oor die brug te sien stap, waarskynlik vanaf een of ander laat kabaretvertoning. Ek skat dat ek nog 'n halfuur kan omkry deur oor die brug by die fonteine, nou stil, te stap en met die ander brug verder af terug te keer. Aan die oorkantse oewer is 'n reuse-sonwyser, en met die hele nag tot my beskikking probeer ek die beginsels van die instrument ontsyfer. Ek ruk van die skrik toe iemand my skielik van agter liggies aan die skouer vat. Nog 'n innemende jongman, maar in jeans geklee. Met sy hand nog steeds op my skouer, glimlag hy en sê iets onverstaanbaars in Frans. Ek verstaan nie die woorde nie, maar wel die strekking daarvan. My reaksie verbaas my. Ek begin aan hom verduidelik dat die sonwyser glad nie in die nag werk nie, in half-Afrikaans, half-Frans, asof ek besig is om nagraadse wiskunde aan 'n groep grotbewoners te verduidelik. Hy vat my skouer 'n oomblik lank stywer vas, wens my 'n goeie nagrus toe en stap verder. Op daardie oomblik kom Adonis die trappe opgestap vanaf die rivier. In die donkerte agter hom sien ek die omie met die koerant. Hy staan doodstil en ek kry die gevoel dat hy in die rivier wil spring. Ek maak asof ek nie vir Adonis sien nie en stap na die volgende brug. 'n Kwartier later, met my hemp kurkdroog, daag ek weer by die banke oorkant die stasie op. Al die ligte is nou uit, insluitend dié van die klomp horlosies. Moet Switserse suinigheid wees. Die Somali's is egter steeds daar, skaars herkenbaar in die donkerte. As ek van hulle wegkyk, is daar nie 'n siel in sig nie. Nêrens hoor ek 'n motor nie en ek dink hoe ironies dit is dat daar meer lawaai in my plattelandse dorpie is hierdie tyd van die nag. Byna halfvier op 'n dowwe horlosie. Ek was nog nooit so bewus van my eie sigbaarheid nie. Dit moet die eerste keer in my lewe wees dat ek na menslike geselskap verlang. Ek het voorheen gewonder hoe eensame opsluiting moet voel en soms geglo dat dit salig moet wees. Nou word ek toenemend bewus van 'n boosheid in die nag, asof ek beloer word deur 'n roofdier wat nou net een prooi oor het. Gedurende die dag sou daar soveel ander mense wees dat die dier nie van my notisie sou neem nie. Sy teenwoordigheid is so sterk in die gang regs van my dat ek verwag dat hy enige oomblik uit die skaduwees sal kruip. Links agter my sit die Somali's op 'n bondel om hulself teen die ondier te beskerm. Ek begin hoor hoe die dier asemhaal, maar besef dat dit vanuit my eie lugpyp kom. Dit is helder hoorbaar in die stilte van die nag. Ek onthou die kere dat ek besluit het om laat die nag per motor vanaf Port Elizabeth terug te reis huis toe. Ná 'n uur se reis was ek gewoonlik verplig om van die pad af te trek en te rus. Geen wilskrag kon die slaap keer nie. Nou dink ek paniekerig daaraan dat ek oor 'n uur uitgeput op die staalbank aan die slaap kan raak. Stoksielalleen. Buiten 'n groep leeglêers wie se voorvaders bote in die Rooi See geplunder het. My gedagtes gaan terug na die omie met die koerant. Is hy al terug by sy huis? By sy vrou en kinders? Watter drif van eensaamheid laat hom ná middernag onder die brûe van die Ryn ronddwaal? Dan besef ek dat ek eintlik hoop dat hy na die bank oorkant my moet terugkeer. Ons kan gesels oor wat op die voorblad van die koerant staan wat hy so sorgvuldig saam met hom dra. Ek beeld hom oorkant op die bank in en besef dan dat ek eintlik verras wil word deur die aankoms van die twee jongmans van vroeër. Maar waaroor gaan ons praat? Maar om watter rede was ek dan vir hulle lugtig vroeër vanaand? Of al die jare vantevore? Omdat ek toe omring was van alledaagse mense met vervelige gewoontetjies en gerusstellende, voorspelbare optredes? Gestroop van die dag se kunsmatige geklets het ek beland in 'n nag van menslike eensaamheid. Op my skoot lê my sak met die Spaanse verhale. Van watter waarde is hul kunstige bedrewenheid in hierdie verlatenheid? Of die logika van my wiskundeboek? Ek sou eerder die rooi motor om die hoek wou sien ry en met 'n blonde jongman langs my wou gesels. Nie omdat hy die enigste ander mens in die omgewing sou wees nie, maar omdat hy die enigste mensliewende mens sou wees. Wat elke aand eensaamheid ken. Die stasie se hekke het kort voor daglig oopgemaak. Ek het my tas in die bewaarkamer gaan haal en op 'n bankie op die stoep van die stasie gaan wag. Voor my het Genève begin ontwaak. Adonis, sy maats en die rooi motor het verdwyn. In die nugterheid wat te min slaap bring, kom die besef dat ek besig was om my sin vir waardes en verantwoordelikheid te verloor. Dat ek selfs nie eens besorg was dat ek my trein kon verpas nie. 'n Dame, middeljarig en deftig geklee, kom voor my staan en bied my 'n pakkie ronde Nestlé-sjokoladeskyfies aan. Van die soort wat ons as kinders geken het en nou nie meer ingevoer word nie. Sy kom langs my sit en babbel oor hoe 'n wonderlike dag dit gaan wees. Van oorkant die straat kom 'n ouerige man aangehardloop. Uitasem vra hy die dame om verskoning dat hy laat is. Hy moes êrens buite geslaap het, sy pak is gekreukel en stukkies droë gras kleef aan sy rug. Hy is egter glad geskeer en ruik nog na skeerroom. Sy hou die pakkie sjokolade na my uit om vas te hou terwyl hulle mekaar omhels en vasdruk. Oor sy skouer glimlag sy na my en sê saggies: "Die liefde … dit is alles."
Oor die skrywer:Pieter Wagener het meestersgrade in chemie, fisika, wiskunde en arbeidsreg aan verskeie universiteite verwerf en 'n doktorsgraad in wiskunde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy het 'n BA-graad in filosofie en tale asook nagraadse diplomas in rekenaarwetenskap en arbeidsreg. Pieter was twee en twintig jaar lank professor in toegepaste wiskunde aan die Universiteit van Fort Hare. Tans is hy medenavorser in fisika aan die Universiteit van Port Elizabeth. Hy het as kortverhaalskrywer met Boereboeddhiste gedebuteer. Tans is Mantrakolie in voorbereiding - verhale wat die invloed van ekstase en melankolie op kunstenaars uitbeeld. Hy bespeel verskeie musiekinstrumente en is die stigter en dirigent van die Winterberg-orkes.
NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |