GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Uit die boks

Willie Knoetze

Katools!

"Het jy dit, kry jy dit of deel jy dit uit?"

My liewe ma het dit altyd gesÍ as ek of my sussie effens hiper was, en nou sit ek en wonder oor daardie selfde ding. Liefde en alles wat daarmee gepaardgaan. Geluk, hartseer, verwarring, sekerheid, pyn, hoop ... ons almal ken die gevoel. Of sal ek eerder sÍ, ons almal ken die drama.

Nou, soos ek hier sit, het ek al 'n paar stelle afgetrap. Verlief, lief, dol, histeries, noem dit maar op. Partykeer is dit jou brein wat dink, en soms is dit jou hart wat die voortou neem. Dis gewoonlik as die hart praat wat ons mal word. (Om die brein te volg is so, uhm, onromanties. En wie wil nou onromanties wees?) Dis egter ook die probleem: die hart is 'n bliksem. Hy maak jou blind, swak, horende doof en, gewoonlik, totaal en al irrasioneel. Veral vir my, moet ek erken.

Verliefdheid. Op skool het dit net 'n mooi gesig op straat, of 'n tragiese held op TV gevat om my heeltemal te gooi. Een glimlag kan lei tot hordes gediggies, gebede, ure op die klavier en, natuurlik, nagte se geskommel. Die soete droomwÍreld van adolessensie. Dan was daar ook die heerlike melancholie waarin ek myself so kon toewikkel. Die ongekende hartseer en verlange na mense wat ek nog nie eers geken het nie. (Nog 'n paar nagte voor die klavier, met die gordyne toe en die ligte af. Vreeslike queen.)

Ek onthou veral vir Hendrik* - ons kadetorkes se tamboermajoor. Dit was my standerd 6-jaar (graad 8 deesdae) en hy was in standerd 9. Vir my was hy die mooiste seun op skool: blougroen oŽ, 'n donkerblonde kuif, blas vel en 'n mond wat in staat was tot die wonderlikste dinge (so het ek geglo). Hy het na Brut geruik, so, ek het dadelik oorgeslaan. Hy kon trompet speel, so, ek het (tot ons bure se verdriet) ure en ure trompet geoefen. Ai tog. Eenkeer moes ek sy musiekboek vir hom oortrek ... ek wonder of hy ooit die briefies onder die papier en kleeflint ontdek het?

In ieder geval, daar het niks van gekom nie, en hy moes uiteindelik sy plek in my kop afstaan vir Bernard - die bastrom. En hy weer vir die MIV+-karakter (Cameo) op MŰre is nog 'n dag. Rofstoeiers, die man van die verfadvertensie (ligtoring op 'n damwal), een of ander boyband-outjie - almal het 'n kans gekry om my mal te maak. Genadiglik het elkeen nie 'n gediggie gekry nie - my polse sou dit nooit gehou het nie.

My oorgang na "bereikbare" mense was nogal skielik en onverwags. Ek en 'n paar vriende is The Yearling toe in Pretoria (Tshwane). Ons het nog lekker gekuier op die dansvloer, toe 'n stem uit die hemel aankondig dat ons moet af. (Ek het kort vantevore 'n fliek oor Stonewall gekyk en het dadelik gedink dis die polisie!) Erg op my senuwees het ek begin mik vir die balkon, dalk is dit nie so hoog nie en kan ek spring. Gelukkig roep die stem toe weer. Dit was 'n aankondiging: Ray se show gaan begin. Ligte het geflits, musiek het begin speel en "BOEM!" - daar staan hy: Ray!

Half geskok en baie verlig het ek my plek langs die verhoog ingeneem, vreeslik nuuskierig om te weet wat nou aan die gang is. Toe kliek ek - dis 'n stripshow! Dit was my vriendin wat eerste haar oŽ geglo het, aan my mou geruk het en in my oor gefluister het: "Maar dis Raymond!" So waar as wragtig, daar staan die gespierde donkerkop wat saam met ons op skool was! Kan jy dit nou oorvertel!

Ek was nog besig om te giggel toe hy my op die vloer trek en beduie ek moet sy kostuum uittrek. (Duidelik het hy my ook herken.) Ek het verdwaas saamgespeel en toe maar weer gaan sit. Het einde was dit egter niet - met 'n mond vol ys kniel hy toe voor my en gee my my eerste oopmond soen!! Ek het gebloos soos 'n verkeerslig toe hy daar opstaan. Net daar het my kop my gelos. Ek het soos 'n zombie gesit en ys kou sonder 'n clue wat om my aangaan. Toe ek weer bykom, sit ek kaal bolyf op 'n stoel in die middel van die verhoog, met Ray wat aan my belt peuter. Dit het gevoel of honderde oŽ vir my ongevormde lyf staan en lag. Daar was gelukkig nie kans vir my om te dink nie - want die volgende oomblik het Elizabeth my in die gang afgesleep, omgedraai en my klere gaan haal. Ek het eers in die kar begin praat.

Dit was ook die laaste wat ek van hom gesien het - al het hy gereeld in my gedagtes kom aanklop. Daardie soen ...

My volgende soen het ek by Cornť gekry. Hy was 'n kop langer as ek, en jy kon 'n helikopter op sy borskas laat land. Ons was al 'n geruime tyd vriende toe hy eendag vir my sÍ hy is lief vir my. Ek het nie mooi geweet wat om te doen nie, toe sÍ ek vir hom: "Nee, jy is nie." Vir my was daardie vyf woorde van die gevaarlikste kettings om iemand mee vas te bind en ek het gesÍ hy kan dit nie sommer net sÍ nie. Dit was die einde van die gesprek en ons is na ons volgende klas toe. Eers by die huispartytjie ('n goeie paar weke later) het ek besef ek moes dit nooit gesÍ het nie. NŠ groot joligheid en baie drank het ons almal op die grasperk gestaan en liedjies sing. Iemand het geskree: "Group Hug!!" en ja, toe soen hy my. Deur al die lawaai en vuurwerke in my kop het ek Kabous se stem gehoor: "Wat gaan hier aan?" NŠ dit was daar chaos. Drank is aangedra, grappe is vertel, Ruben het in die tuin gekots en almal is huis toe. O, en ek was verlief.

Ek het die hele naweek geskryf aan 'n brief, gedig en al, om vir hom te probeer sÍ dat ek dalk net vir hom ook lief is. Ek het resepte uitgesoek vir 'n aandete om hom mee te bekoor en die Argilla-potte uit die stoor gaan haal. My hare is gesny, die woonstel is skoongemaak en daar was blomme in elke ding wat kon water hou. Sondag het ek hom gebel en genooi vir ete. Ek was spyt oor wat ek soveel weke terug kwytgeraak het. Maar ja, spyt kom te laat. Hy kon nie Sondag maak nie, en die volgende keer wat ek hom gesien het, was hy en Ruben saam. As mense kon gedagtes lees, sou hulle my vir 'n aap aangesien het. Die CD wat ek vir hom gekoop het, het 'n gat dwarsdeur die geskenkpapier in my rug in gebrand. Toe hy vra of iets fout is, het ek gesÍ dis seker sonsteek.

So sou ek my nog dood bekommer oor Alwyn (wat maande op 'n slag verdwyn het); huil oor Albert (ek is Stellenbosch toe, hy't in Pretoria gebly); dweep oor Ruan (wat nie belang gestel het nie), en uiteindelik my hart verloor op Burger. Die feit dat hy nie sy hart op my verloor het nie, het my nie so erg gepla nie. Burger was skaars uit die kas uit, en ek het vas geglo hy sal nog bykom. Ek het potte vol koffie agter hom aangedra, saam met hom gaan rame uitsoek vir 'n nuwe bril, nagte om gekuier en Franschhoek platgeloop. Ek het gedigte op my woonstelvenster geskryf sodat die hele wÍreld kon sien ek is verlief. ('n Duitse toeris het 'n foto geneem vanuit Van Riebeeckstraat.) Vir sy verjaarsdag het ek my woonstel omskep in 'n wonderwÍreld van kerslig, kos en van ons vriende. Daarna het ek hom en 'n vriendin gevat om na Amanda Strydom te gaan luister in Kaapstad. (Amanda het my storie so aangehoor en op my CD geskryf: "Die hoop beskaam nie.") As ek aan iets kon dink om vir hom te doen, sou ek, met oorgawe.

Maar ja, ek wou nie glo dat hy nie vir my lief sou word nie - en hy kon nie sien dat ek eintlik stapelgek was nie. Burger het so, onwetend, twee keer my hart gebreek. Een keer met 'n "verbeeldingryke queen" en een keer met 'n "kuifkop-dwerg" (ek was nie baie PC nie). Tog het ek elke keer myself oortuig dat hy nog sal bykom. Ironies, want dis toe ek wat al die tyd moes bykom.

Dit het uiteindelik by 'n poŽsie-aand gebeur. My gesonde verstand het, saam met ons tafel se wyn, teruggekom van vakansie af en my op my gat geskop. Ek was boos. Vir myself, vir die dwerg, die queen en vir hom. So boos dat my verstand besluit het Bermuda is dalk tog beter as De Akker en my summier verlaat het. Die wreedste, aakligste gedig is net daar gebore en voorgelees - met Burger in die gehoor. (Nog iets wat ek sou wou terugtrek.)

Nodeloos om te sÍ, ons het nog nie eintlik weer kontak met mekaar gehad nie. 'n Ruk lank was ek selfverklaard aseksueel. Ek het die leisels as voorsitter van die universiteit se gayvereniging (LesBiGay) oorgeneem en laat loop. As iemand iets te sÍ gehad het oor gays op kampus, was ek daar, oorgehaal en reg om te baklei. Ek het baie vinnig die bynaam "Tannie Willie" gekry, want my deur was altyd oop vir Dorothy se vriende en hul sorge. As die amptelike Moffie op Kampus was daar genadiglik ook nie juis baie ouens wat romanties in my belang gestel het nie. 'n GeseŽnde tyd sonder enige persoonlike angs of drama.

Dit was eers in Johannesburg waar die episode met Jannie (wat my nou nog so dan en wan opsoek) begin het. Ons was al van Stellenbosch af vriendelik met mekaar, al was hy 'n passievolle lid van 'n homofobiese selkerk en ek 'n passievolle lid van LesBiGay. Mettertyd het hy teenoor my (teen diť tyd voorsitter en Tannie vir al die skewes) erken dat hy biseksueel is. Daar was baie dae wat hy op my bank kom lÍ en huil het. Biseksualiteit was nie vir hom 'n maklike oriŽntasie om mee vrede te maak nie - en die kerk het nie juis gehelp nie. Sy soeke na liefde, en die verhoudings wat gevolg het, het ook gesorg vir menigte nagte se kuiers. Hy is egter weer deur sy kerk "bekeer" en ons het kontak verloor.

My nuwe werk in Johannesburg (Equality Project) het beloof om dieselfde emosionele isolering te voorsien as LesBiGay. Ek was reg vir 'n hele jaar sonder enige hartstogtelikhede. Toe bel Jannie. Ek het hom gaan ontmoet in Melville vir koffie. Ek het hom met 'n gebreide jas en klipharde bootse tegemoet gemince - ek wou so obvious as moontlik wees voor hy kans kry om te preek. Hy was egter nie met 'n verdoemende predikasie gewapen nie. Hy was net mooi. Skielik was ek nie meer "Tannie Willie" en berader van die menigtes nie, maar net Willie - met die hots vir Jannie. Die aand toe hy my op sy bed vasdruk, het die malheid my weer ingehaal. Hy't my gesoen tot my tone gekrul het en gesÍ hoe hy dit jare lank al wou doen. Ek het gedroom van wit eilande en sagte lakens. 'n Paar sms'e en 'n aandete later was ek smoorverlief. Maar toe is hy nie. Die volgende jaar is ek terug Stellenbosch toe, waar hy my toe raakloop en sÍ dat hy nou reg is. Toe is dit my beurt om onseker te wees. (Wie sien die bose kringloop?)

Hy het gister gebel om te sÍ hy mis my.

Ek het gesÍ die Tuinroete is mooi.



* Willie gebruik deurgaans nie die persone se regte name nie. DB.



LitNet: 16 Augustus 2005
In 2002 vang ek graad in Inligtingskunde aan die US. Daarna vorder my driejarige obsessie met studentaktivisme (Lesbigay) na 'n voltydse aanstelling by The Lesbian and Gay Equality Project in Jan'sburg. Die direkte kontak met regse Religie het my bloed egter te veel laat kook - toe trek ek see toe. Die Kaap was bietjie duur, nou druk ek besigheidskaartjies in die Tuinroete. Hier gaan nie te veel aan nie, maar dis lekker.

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.