GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Krisis

Egon se nuusbrief uit Israel

Dag 1: Ons kuier in die Swart Woud. In die son is dit buitengewoon warm, maar onder die digte dak van die bome is dit koel en aangenaam. Alles is rustig en die wêreld voel na ‘n vreedsame plek. Dan lui die selfoon – dis Judy se mama.

“Het julle die nuus gehoor? Dit klink na oorlog in die Midde-Ooste! Selfs julle tuisdorp is blykbaar deur bomme getref!” skree sy van opgewondenheid oor die telefoon. Mama is geneig tot dramatiese vertellings, maar tog haas ons ons na vriende waar ons televisie kan kyk en die internet kan benut. Mama was reg – hierdie keer het sy nie oordryf nie: dinge lyk regtig sleg. Ek sms my vriend Rafi by die huis, maar hy antwoord nie. Hopelik is dit net omdat hy nie eintlik tegnies aangelê is nie.

Dag 2: Rafi skryf ’n kort e-pos: Onder die omstandighede gaan dit goed. Dit voel soos Jom Kippoer – alles is doodstil. Dis net die skreeu van die sirenes en die huil van die katjoesjas as hulle oorvlieg. Dan die dowwe boem soos hulle êrens land. Katjoesjas is ’n soort bom wat deur die Russe tydens die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel is – hulle kan nie ver vlieg nie en is nie baie akkuraat nie.

Dag 4. CNN rapporteer dat die katjoesjas Haifa getref het en agt mense is dood toe een ’n trein getref het. Dit beteken net een ding: dat Iran Hisbollah van ’n nuwe soort bom voorsien – die oorlog neem ’n nuwe wending.

Nou bel ons daagliks huis toe, elke dag na iemand anders – elke dag is daar minder vriende oor in die dorp soos hulle suidwaarts vlug. Ons liewe buurvrou, van wie ek laas geskryf het, is ook weg: sy, haar dogter en dié se vier kinders is na haar seun in die suide. “Dit was onmoontlik om heeltyd met die kinders in die bomskuiling te sit - dis benoud en daar is geen lugverkoeling nie. Die kinders raak erg beangs as die katjoesjas oorkom en huil dan onophoudelik.”

Nora is 82 jaar oud en woon alleen saam met haar hond, Maggie. “Ek is te oud om in die skuiling te gaan sit. Ek beweeg te stadig in elk geval by die trappe af – daar is gewoonlik nie veel meer as 30 sekondes tussen die waarskuwing en as die bom val nie.” Toe ons vanoggend bel, vertel sy dat daar gister twee bomme naby by die woonstel waar sy woon, geval het. “Maggie het op my skoot gesit en ons het mekaar vasgehou terwyl die hele gebou geskud het. Sover ek weet, is daar niemand oor in die hele gebou nie! Ek sien niemand op straat verby loop nie, maar ek het nog genoeg kos in die huis!” Nora het Auschwitz oorleef.

Ons vind uit dat Edith, van wie ek u ’n jaar of wat gelede vertel het, in die bomskuiling van die plaaslike hospitaal is. Sy het keelkanker. Ek kan my net voorstel hoe sy dit haat – sy is so ’n loner – woon haar lewe lank alleen en verkies dit so.

Dag na dag kyk ons die nuus op CNN – die bombardement van die klein dorpies, kibboetse, moshavs ensovoort word min gewys. As die groot dorpe getref word, sien mens dit wel, maar dan lyk dit eintlik so klinies. Tog val daar honderde katjoesjas, en al om die ander dag bel ek Rafi om te hoor waar die jongste aanval in ons gebied is. Onder andere vertel hy dat die Arabiese dorpie waar van ons studente woon, ook getref is. Ek het nie ’n kontaknommer by my nie en bekommer my oor Saida en haar familie. Is Faisal, van wie se troue u gelees het, veilig? Daar is geen manier om te weet nie. Ons beleef ’n konstante angs. Daar is wel relatief min sterftes. Daar is etlike redes voor: een is dat die mense gevlug het (soos mense in Libanon), maar ook vanweë die feit dat jy niks in Israel mag bou sonder bomskuilings nie. Toe ons ’n nuwe woonstel gesoek het, het die agente vir ons die woonstelle gewys soos elders, maar dan ook altyd die toestand van die bomskuilings. Dit speel ‘n rol in jou keuse!

Dag 9: Shimon Peres op Larry King Live vertel dat meer as duisend bomme reeds in Noord-Israel geval. Noord-Israel, Noord-Amerika, Noord-Afrika – ’n landsgebied wat die televisieskerm vul, en dis die probleem. Min mense besef die gebied onder bombardement is omtrent 60 km van oos na wes en selde meer as 35 km suid van die Libanese grens. So ’n lappie grond, so baie bomme. Waar val hulle almal?!!!!

Ons sien daagliks die vernietiging van Libanon deur die Israeliese lugmag en dit kan nie anders as om mens se hart te breek nie. Dis ’n land wat al soveel hartseer en lyding ervaar het, en nou weer. En dit alles omdat niemand hulle kon of wou beskerm teen die oorname van hul land deur ’n terroriste-organisasie nie, wat vandag so diep gewortel is dat hulle selfs in die kabinet dien.

Ons het al heelwat Libanese studente oor die jare gehad en hoor oor en oor dieselfde klaaglied: “Hizbollah has stolen, has high jacked our country!” Die bitterheid in hulle stem dwing altyd ’n klas tot stilte. Vandag sien ons die hartseer resultaat op ons televisie skerms. Ek probeer Nyala, my een Libanese student, in die hande kry. Sy het voor die vakansie gesê dat hulle hoop om hierdie somer terug te keer - sy verlang te veel na haar familie wat destyds agtergebly het. Ek kry geen antwoord nie – mooi meisiekind, waar is julle?!

Dag 11 : Ek bel Rafi om weer kontak te maak. Eers klink hy heel braaf, maar dan, as ek verder vra, kan ek hoor sy stem wil breek. “Dis maar sleg so in die huis die hele tyd. Ek kan nie juis lees of werk nie; my vrou kry dit darem reg om te lees. Sy is juis besig met Antjie Krog se ’n Ander tongval (in Engels) en geniet dit. Ek bly luister vir die katjoesjas; gister is twee reg oor die huis – ek dink hulle het naby julle vorige woonstel geval. Vanoggend toe ons kon uitgaan, het ek gesien dat Herzelstraat getref is en daar is ’n groot gat – al die besighede om dit is beskadig.” Ons gesels verder en as ek my gemengde gevoelens om nie daar te wees nie, met hom deel, sê hy rustig (die filosoof wat hy is): “Egonne, moenie jou bekommer nie - dis net een klein hoofstuk in die geskiedenis van die oorlog op die Jode! Jy sal nog jou beurt kry!” Dis nou vir jou ’n pel!

Ons is vir nog vyf weke in Europa bespreek – hoofsaaklik hier by Judy se mama, maar ook ’n week in Londen om my seun daar te besoek. Ek sien so geweldig daarna uit om my kind weer na ’n jaar te sien.

Ons beleef heerlike dinge, besoek interessante museums, eet lekker kasespetzelle en drink koue bier, maar niks voel regtig reg nie.

“Ek voel skuldig dat ons hier pret het, terwyl ons pelle tuis in bomskuilings sit,” sê Judy.

“My gedagtes keer telkens terug na Israel,” beaam ek.

Dis ’n moeilike situasie. Dit sou dom wees om vroeër as beplan terug te keer. Ons kan tog niks daadwerkliks doen om by te dra tot die stryd nie en vir ons beide se families sou dit net erge sorge verskaf.

“Mama, ons is so bly julle is in Duitsland. Dit sou so verskriklik kommerwekkend wees as julle daar was!” sê my dogter. Sy is reg.

En tog … dis onmoontlik om voort te gaan met die vakansie asof niks by die huis aan die gebeur is nie. Dis die land waar ons gekies het om te woon. Dis waar ons hart en ons toekoms is. Dis waar baie van ons vriende is en ons studente moet oorleef.

So pas het ek die nuus ontvang: die kaboutermannetjie vir wie ek twee jaar huis skoongemaak het, se huis is getref terwyl hy in die suide by sy seun was. Die nuus het hy gehoor toe hy sy buurman, wie se huis vernietig is, op die televisienuus hoor praat het. Wat maak mens onder sulke omstandighede? Hulle het ongeag die gevaar van Tel Aviv gery om te gaan kyk en toe maar teruggery – daar is nou niks te doen nie. Hopelik sit die diewe ook in die bomskuilings. Ons is hier en probeer alles geniet, maar ons gedagtes bly ooswaarts trek: dit bly waar – oos, wes, tuis bes!!!!

Soos die psalmdigter kan ek net vir u vra: bid vir die vrede van Jerusalem – dan sal ook ons bure vrede beleef!




LitNet: 28 Augustus 2006

Stuur asseblief jou reaksie na gaylit@mweb.co.za. Meld die opskrif of nommer van die brief. Ons plaas dit graag onder "Menings van ons lesers".

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.