GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die L-woord

Egon se nuusbrief uit Israel 32

Soos baie van u wat grootgeword het op die platteland in die sestigerjare, het ek van my ouma my ‘n duidelike, onbevraagde sin vir reg en verkeerd geleer, van wat "goeie" meisies doen en wat nie. Een van daardie dinge wat mens nie doen nie, was om na "vuil" flieks – X-flieks, blouflieks – te kyk. Ek kan ‘n hele brief skryf oor hoekom die goed vuil, siek, gevaarlik, anti-Christelik, verslawend soos heroïen ens is, maar ek gaan nie, want niemand sal my in elk geval glo nie. Óf dis jou ding óf dis nie.

Maar mens word groot en dan op ‘n dag besluit jy om self uit te vind of Ouma die hele waarheid en niks anders as die waarheid gepraat het nie. Tot my verbasing het ek nie op die plek dood neergeslaan nie, en miskien was my eerste pornofliek ‘n slegte keuse, of miskien was ek net te gay om ‘n heteropornografiese fliek interessant te vind, maar ek was heel verveeld en as sodanig verskriklik teleurgesteld. Was dit nou regtig waaroor al die fuss en opwinding was? Kan die goed mens werklik verslaafd maak, of is jy dalk klaar siek en raak daarom verslaafd? Ek wil nie hier en nou op die effekte van, of die dieper afwykende gedrag rondom pornografie ingaan nie – dis nie my veld nie en interesseer my ook nie vreeslik baie nie. Ek besef uit jare van verbonde wees aan maatskaplike werk dat daar regtig probleme kan ontstaan en dat dit ‘n baie komplekse saak is – soos die mens maar ‘n komplekse, soms verwarrende, verwarde dier is.

Maar ek en Judy besluit wel een vakansie in Duitsland dat ons wil kyk na al die ongelooflike keuses van erotiese materiaal op die televisie waarvan ons al so baie gehoor het en ons begin soek. Buiten “sex chatline”-advertensies vind ons niks nie. Ons is seker die enigste mense wat dit nie kan kry nie – net soos ek ‘n dag lank in Amsterdam op soek was na die rooiligdistrik en dit nie kon vind nie!! Praat van pateties wees!

In München vra ons ons gay pelle en hulle haal daar ‘n paar video’s uit vir ons om te geniet terwyl hulle die dag moet gaan werk. Ons klim in hul dubbelbed, reg vir die groot oomblik. Skakel die video aan en begin kyk – wanneer kom “dit”? Ons kyk en ons kyk. Daar word bietjie gesoen en gevry, maar niks GROOT SEKS nie. Ag nee, wat’s fout? Is die heelal teen ons gekant omdat ons 'n bietjie wil doen wat Ouma gesê het nice girls nie doen nie? Wie wil nou in elk geval al die tyd nice wees?! Ek gaan Gay and Lesbian Film Festival toe en sien die een lesbiese fliek ná die ander – bietjie soen, bietjie vry. Niks wat my dogter nie maar hier langs my kan sit en saamkyk nie – en sy’s nie eers gay nie. Miskien is daar ‘n les te leer, ‘n sekere status om te aanvaar: ons is nie bedoel om enige vorm van porno, hoe onskuldig ook al, te sien nie. Miskien sal dit vir ons baie sleg wees en die heelal weet dit en ons moet dit nou vir eens en vir altyd besef.

Soos ek in die vorige nuusbrief geskryf het, het ons ‘n liewe buurvrou, Giselle, noudat ons in die nuwe woonstel is, en ons deel kosresepte en gaan doen ons inkoop by Faisal saam en drink kruietee uit klein glasies met goue randjies soos dit ‘n ware Marokkaan betaam – alles baie aangenaam en korrek.

Maar terwyl ek 'n maand lank in Suid-Afrika by my kinders kuier, vertel Judy my dat daar nogal baie gayprogramme op kabeltelevisie is en sy kyk so af en toe saam met Giselle. Ek hoor sommer dadelik ‘n stoutigheid in haar stem en wonder wat wag op my as ek by die huis kom. My eerste Woensdag terug vra Giselle met 'n glimlag of ons later die aand kom televisie kyk.

“As ons nie te moeg is ná ‘n vol dag van klasgee nie,” sê ek onskuldig, maar om 10.30 sê Judy: “Kom-kom, dis tyd vir ons program!” en ons haas ons na Giselle.

Die program heet The L-Word en dis ‘n soort sepie oor die lewens van ‘n groep lesbians in Los Angeles. Waar het hulle al daardie mooi vrouens in die hande gekry? Ek verkyk my sodat die ander twee vir my lag. Dis 'n fees! Nou nie GROOT SEKS nie, maar net ‘n storie oor vrouens, bietjie meer glamorous as ons, maar tog: sekere van die issues herken en beleef ons ook en dis vir my lekker om dit te kyk. In elk geval sedert ek Flash Dance met Jennifer Beals in die sewentigerjare – in ‘n kombi by die inryteater in Nelspruit – gesien het, dink ek sy is een van die sexyste vrouens op die groot skerm. Hmmmmm!

Ná die program gesels ons oor hul lewens en dié van vrouens in die gay-scene wat ons ken waar daar allerhande onderlinge struwelinge en "partner swapping" is. Dis maar so onder die hetero's en die mooi homo-manne ook, en in ‘n sin besluit ons ons is nie spyt dat ons nie eintlik deel van so ‘n situasie is nie. Ek het dit eenmaal in ‘n vorige verhouding beleef dat ek op ‘n partytjie aan een na die ander eks van my geliefde voorgestel word en dat ek nie gemaklik daarmee was nie. Skynbaar het dit niemand anders gepla nie, maar ek is seker maar Ouma se kind.

Verlede Woensdagaand vat ek my koppie rooibostee en ons stap oor na Giselle vir ons weekslike L-Word-aflewering. Tina wil nie saam trek na New York as Bette die groot pos by die Whitney kry nie, en so gaan dit aan tot skielik een na die ander in die bed by iemand beland en hier in die sitkamer van ons vriendelike buurvrou sien ons regte "lesbieen seks" – groot seks: dis dildo's, en borste en hande op plekke en die mooiste lywe wat baie lekkerkry – en ek weet regtig nie, Ouma, wat so erg is nie, maar ek het elke oomblik geniet! Die ander twee giggel half verleë en Giselle verdwyn onder haar kombersie – dit was onverwags koel – maar ek KYK! Dis te lekker om een oomblik te mis!

Toe ons later ons voordeur oopsluit, sê Judy: “Om te dink ons het so rondgesoek en hier reg by ons kry ons toe ons dosis erotika vir die aand. Sommer so onverwags.” Sy vat my hand en lei my in.

Nouja, blykbaar kom alle goeie dinge na dié wat wag, al kom dit nie presies soos jy dit verwag het nie – en miskien is dit juis dan dat jy dit die meeste geniet. In elk geval, moenie bel op ‘n Woensdagaand ná tien nie, want dan is ons by Giselle voor die boks!




LitNet: 29 Junie 2006

Stuur asseblief jou reaksie na dbbotha@mweb.co.za. Meld die opskrif of nommer van die brief. Ons plaas dit graag onder "Menings van ons lesers".

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.