GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die lyf as landskap

Hennie Aucamp

Aan die nagedagtenis van Sheila Cussons, wat geen onderskeid getref het tussen sensualiteit en mistiek nie.

Die naaktfiguur in die kunste - of wat ons vandag met terugskouende wysheid kunste noem - is so oud soos die mensheid self, en kom voor in kulture wat reeds hul omtrekke in die mis van die tyd begin verloor. Soms word beeldjies opgegrawe wat kennelik met vrugbaarheidsrites geskakel het - wil hierdie beeldjies lewe verheerlik of doodsangs besweer?

Sheila Cussons oordeel soos volg in haar gedig "Voor twee antieke vrugbaarheidsbeeldjies" (Die skitterende wond):

maar die mens ...............................
.....................................................
het miskien tóé al in dié kleibeelde
met enorme heup en penis, dringend
en duister die angs verbeeld van 'n ras
bewus van 'n skerp verlies
wat hy net wis dat hy sterfte op woeste
sterfte verwoed met terugteel, inhaal.

Seks en religie sluit 'n meer bewustelike vennootskap in byvoorbeeld tempelbeelde in Nepal en Indië, met die kopulasietonele tussen naakte en seminaakte figure. En dan is daar die ten onregte "berugte" Etruskiese tombe-fresko's waaroor DH Lawrence so kundig geskryf het in Etruscan Places; dieselfde Lawrence wat die motto-reëls vir Eybers se vers "Jong seun" voorsien het:

Why were we crucified into sex?
Why were we not left rounded off,
and finished in ourselves?

Maar "die roekelose kulti van die kloot en skoot" waarvan Opperman in "Dennebol" praat, het nie altyd met dood en vrees en religie saamgehang nie. Daar was kulture wat seks gevier het, uitbundig en vreugdevol, soos die voorstellings op Griekse amfore en vase ruimskoots getuig - elke voorstelling 'n Kama-Sutra-in-die-kleine.

Wat in eeue van beeldende kunste gebeur het, in watter media of dimensie ook, sou herleef in fotografie; en weer word die naakte mens tegelyk offer en katafalk; nagmaalsbeker en taveerne-roemer. Weer word die liggaam in vreugde gesien; weer in boetedoening en pyn.

Waar daar naaktheid en seksualiteit is, ook in fotografie, is ritueel, of 'n verkapte vorm daarvan, nie ver nie. Die naakt kom nooit van sy/haar oergeskiedenis weg nie.

Male Bodies: A photographic history of the nudeMy oorspronklike vertrekpunt vir dié bespreking was 'n vergelyking van twee groot opgesette geskiedenisse van die manlike naakt binne die Westerse tradisie, naamlik The Homoerotic Photograph: Male Images from Durieu/Delacroix to Mapplethorpe van Allen Ellenzweig (1992) en Male Bodies: A Photographic History of the nude van Emmanuel Cooper (2004).

Ellenzweig se werk is deeglik nagevors, en het 'n akademiese struktuur, want dis binne die kader "Gender"-studies van die Columbia Universiteit, New York, aangepak. Veral die opstelle oor sekere temas sal nog vir baie jare geldig wees - ek noem enkele hoofstukke: "Durieu/Delacroix and the Tradition of the 'Academic Nude'", "Sutcliff in England, Eakins in America" (hier begin die term "akademiese naakt" al klaar ironies klink), en voort tot by "The Current Scene".

Maar 'n "current scene" is aan die verander terwyl 'n skrywer daaroor skryf, en daarom is Male Bodies van Cooper 'n belangrike opvolg van The Homoerotic Photograph. Ook beteken dit 'n "politieke" uitbreiding op die werk van Ellenzweig.

Ellenzweig verwys byvoorbeeld baie skraps na enkele vroue wat die naakte man/seminaakte man gefotografeer het, te wete Marie Cosindas, Sorel Cohen en Chantal Regnault; 'n onverdedigbare leemte, binne 'n akademiese opset. Cooper, hierteenoor, erken vroue wat ook belangrike ikoon-makers was/is, soos Imogen Cunningham, Bernis von zur Muehlen, Annie Leibovitz, Nan Goldin, Grace Lau, Dianora Niccolini, Karen Tweedy Holmes en Vivienne Maricevic.

Maar Cooper se lys vrouename is helaas óók onvoldoende, en moet aangevul word uit bronne soos The Male Nude in Photography (1980) van Lawrence Barnes, maar bowenal The Male Nude (1998) van David Leddick, wat met periodisering werk. Die oorkoepelende periode word só deur Leddick omskryf: "The Liberation of the Male Nude Image in the 20th Century", gesien teen die agtergrond van die neëntiende eeu, en hierop volg 'n reeks periodes: 1900-1920, 1920-1940, 1940-1960, 1960-1980, 1980 tot die huidige toe.

Hoogsbelangrike vrouefotograwe wat deur Ellenzweig en ook Cooper verswyg word, figureer sterk by Leddick. Dis interessant dat die neëntiende eeu geen vrouefotograaf van die mansnaakt oplewer nie; hiervoor moet vir die jare twintig en dertig van die twintigste eeu gewag word, toe die Körperkultur in Duitsland sy hoogty bereik het en fotograwe soos Ingeborg Boysen en Leni Riefenstahl, naas manlike kollegas soos Kurt Reichert en Gerhard Riebicke, die manlike naakt in liriese foto's verheerlik het, dikwels teen 'n bos- of waterkantagtergrond.

Dit kan wees dat gemelde Duitse liggaamsverheerlikers tipiese verteenwoordigers van die Duitse Romantiek is - hul kollega Herbert List kan ook hier genoem word - maar miskien is hier terselfdertyd 'n hunkering na 'n oerbegin, soos by Sheila se ou man in die gedig "Die rivier" (Die woedende brood):

weer regop … staan: waterglad-gespier,
visslank, én god én naak.

Wat selfs by Leddick ontbreek, is die grootse naaktfigure uit Leni Riefenstahl se Nuba-periode. Daar kan 'n reëlregte lyn van haar Olimpiese spieswerper ("Junger Athlet", 1936) na die pesige kragspeletjies van die Nuba getrek word.

Riefenstahl se aanstigting tot haar verblyf in die Soedan was 'n foto van George Rodger wat hy as fotograaf van Life van twee naakte Nuba-mans geneem het, die een magtige figuur wydsbeen op die skouers van 'n ander. Die res is geskiedenis, ofte wel twee volumes foto's wat Riefenstahl se verblyf onder die Nubas in woord en beeld boekstaaf. Tot Cooper se eer moet gesê word dat hy George Rodger se "etnografiese" werk opnuut onder die publiek se aandag gebring het, maar helaas sy mees ikoniese foto, die een waarna so pas verwys is, weggelaat het.

Dis veral van 1960 af dat die vrouefotograaf van die mansnaakt 'n formidabele faktor binne die bedryf geword het. Sy bepaal haar nie meer by "liefdesbriewe" aan haar eie naakte man soos Cunningham en Bernis von zur Muehlen nie, maar is gedurf en grensverskuiwend, soos Nan Goldin wat 'n naakte man op 'n toilet toon, peinsend en met 'n sigaret in sy hand, of 'n ander man, ook nadenkend, besig om te masturbeer. Daar is 'n groeiende literatuur oor die vrouefotograaf wat in die manlike naakt spesialiseer, maar dis 'n aparte studie, en sal stellig 'n faset van feminisme wees.

Maar miskien gaan dit hier bloot om 'n demokratisering van fotografie, 'n saak waaroor die fotograaf Karen Tweedy Holmes sterk voel. Die naakt in fotografie, sê sy, behoort bloot 'n generiese term te wees, nie gebonde aan nét die man en nét die vrou nie. Asof as 'n antwoord op haar versugting het daar in 2002 'n boek verskyn: [nudes] indexii. Hierin word agtereenvolgens betrek die vrou, die man, gay pare, lesbiese pare, heteropare.

Wanneer fotobundels van die manlike naakt vergelyk word, is daar nóg 'n verskuiwing merkbaar, naamlik van swart-wit-foto's of sepia-foto's na kleurfoto's.

Waar Ellenzweig net swart-wit-foto's gebruik in The Homoerotic Photograph, betrek Cooper (The Male Body) en David Leddick (The Male Nude) ook kleurfoto's.

Vroeër jare het estete hul verset teen kleurrolprente, en so is daar in die fotografiebedryf fotograwe wat nog steeds hul effektiefste stellings in swart-wit maak. Ander fotograwe weer sien kleur as 'n kragtige emosionele agent, of dit nou om "realistiese" kleure of luriede neonkleure handel. Dis juis hul soetlike kleurgebruik wat só 'n wesenlike bydrae tot die bewustelike kitsch van Pierre et Gilles lewer.

Bernis von zur Muehlen en Jan Saudek weer kleur van hul foto's gedemp in, met byvoorbeeld ligroos of 'n suggestie van groenblou, soos die fotograwe van ouds, en verkry hiermee 'n liriese effek in die geval van Bernis von zur Muehlen, maar 'n verontrustende en anargistiese effek in die geval van Jan Saudek.

In dié stadium kan gevra word of 'n standaardboek oor die manlike naakt nog haalbaar is in 'n tyd wat smoor onder die oordaad naaktfoto's van mans, hetsy in glanstydskrifte soos Provocateur en Blue, of in pornotydskrifte. Ook is daar die kwessie kopiereg. Cooper se weglating van Mapplethorpe se werk in The Male Body is so blatant dat dit hier doodgewoon om kopieregprobleme sal handel: Mapplethorpe verteenwoordig 'n waterskeiding in die fotografie van veral die manlike naakt, en is onder geen omstandighede te ignoreer nie.

Ook is dit nie genoeg om al die regte name in 'n bundel te hê nie. Die handjievol foto's van 'n fotograaf wat deur 'n konsensus van menings tot ikone verklaar word, dié moet in berekening gebring word; mindere foto's deug nie.

Annie Leibovitz se foto's in Cooper se bloemlesing kon van enigiemand gewees het. Jy soek vergeefs na haar humoristiese naaktfoto's van byvoorbeeld Sting en Whoopie Goldberg; eersgenoemde moedernaak en leembesmeerd op die rand van 'n droë dam of pan, op een been, soos 'n reier of 'n Masai; en Goldberg baldadig van bó gesien in 'n bad gevul met melk (donkiemelk soos in die geval van Kleopatra?).

Alles in ag genome, is The Male Nude van Leddick die naaste wat daar is aan 'n "ideale" boek oor die manlike naakt in fotografie. Die foto's is met onberispelike smaak en oorleg gekies. Wat Leddick ontbeer, is akademiese teorie. Daarvoor moet die kyker na onder meer Ellenzweig gaan, of na Melody D Davis van The Male Nude in Contemporary Photography.

Hierdie skrywer gaan hom nie verder met die "geskiedenis" van die naaktfoto van die man besig hou nie. Genoeg om te sê dat dié geskiedenis met nutsfoto's begin het vir wetenskaplike ondersoek, maar spoedig ander belange ontwikkel het, van die suiwer estetiese af tot die kommersiële toe, soos foto's van liggaamsbouers, en natuurlik pornografiese foto's in lus-tydskrifte.

'n Boeiender uitgangspunt is die volgende: Hoe omseil die begenadigde fotograaf die cliché? Want as daar 'n genre is wat hom aan inteelt skuldig maak, en clichés by die vleet ontwikkel het, dan is dit juis die manlike naakt in fotografie.

"Vreemdmakingstrategieë" is hier die teëgif, en dis waarby die res van dié artikel hom gaan bepaal, met 'n "rubrisering" van enkele strategieë wat hierdie kyker by wyse van vergelykend kyk geïdentifiseer het.

Die wetenskaplike konteks
Die vroegste foto's van die manlike naakt het in diens van die mediese en psigiatriese wetenskap gestaan, en dié konteks het distansiërend ingewerk op latere kykers, soos ook "etnografiese" studies van byvoorbeeld Australiese "aborigines" en Rooihuide van die Apache-stam. Wetenskap het erotiek gekanselleer/getransendeer.

Etnografiese studies werp 'n probleem op: word hulle vandag as Polities Verkeerd gesien? Is dit waarom Leni Riefenstahl se foto's van die Nuba, en die manjifieke naaktstudies van getatoeëerde mans van Tahiti van Gian Paolo Barbieri in bloemlesings soos dié van Ellenzweig, Cooper en David Leddick ontbreek?

Dan is daar ook Eakins en Muybridge se pogings om naaktliggame in beweging op film vas te lê - op hul dag bona fide-navorsing, maar sedertdien uitgebrei tot die algemeen-piktorale woordeskat. "Nude descending a staircase" van Marcel Duchamp en skilderye van Francis Bacon is byvoorbeeld deur Muybridge se werk afgevuur, en 'n fotograaf soos Sorel Cohen het eweneens hulde gebring aan Muybridge in 'n foto met dié veelseggende titel: "After Bacon/Muybridge: coupled figures/chin and crotch roll, counter to leg attack".

Die Klassieke konteks
Die agterdoek van suile, kruike, sipresse, beelde en wat ook al Antieke Beskawings suggereer, was nog altyd die toeverlaat van skilders en fotograwe wat by die Sensuur en Burgerlike Moraliteit wou verbykom met naaktfigure. Wat Klassiek is, is Kuns, en sielsverheffend, en verhewe bó kritiek, het die Bewakers van Sedes vroeër gedink.

Die skilder en geniale tekenaar Eugène Delacroix - 'n neëntiende-eeuse weerklank van Michelangelo - het ook in die Klassieke Naakt gespesialiseer. (My verwysing na Michelangelo is nie uit die lug gegryp nie; die Suid-Afrikaanse Nasionale Galery in Kaapstad besit byvoorbeeld 'n blad met nátekeninge deur Delacroix, in bruin ink, van Michelangelo-beelde.)

Delacroix het in 1853 'n opdrag aan die fotograaf Durieu gegee om 'n reeks studies van 'n naakte man te maak. Dié man, waarskynlik 'n arbeider, het gedefinieerde spiere gehad, en is deur Delacroix "geregisseer" voordat Durieu hom afgeneem het, nou met 'n staf, dan weer met 'n lans, met as agtergrond die tipiese ateljee-rekwisiete van die tyd, naamlik drapeersels en staanders. Delacroix het hierdie foto's nageteken. Die foto's self is in 'n album gehou, streng vir Delacroix se privaatgebruik, want skaars tien jaar ná die eerste daguerreotipes was daar al 'n verbod op die verspreiding van obsene materiaal.

By die fotograaf Baron Wilhelm von Gloeden (1856-1931) het die saak al anders verloop. Sy poskaartstudies van naakte en seminaakte peasant-seuns in Sicilië was duidelik op 'n klandestiene gaymark gerig, en was dikwels penis- eerder as sielverheffend.

Vandag kan Von Gloeden se werk maklik as "camp" afgemaak word, as in die gedagte gehou word wat Susan Sontag as "eis" aan "camp" gestel het. Ware camp, het sy in haar seminale essay oor camp gesê, is nie van homself bewus nie; en aan dié eis voldoen talle foto's van Von Gloeden, wat sjarmeer juis om hul naïwiteit. Maar tussen sy foto's is daar ook bona fide-kunsstudies, meesal van enkelfigure, en dit vergeet die dekonstrueerders van Von Gloeden dikwels.

Daar is opvallende parallelle tussen die Europeër Von Gloeden en die Amerikaner Thomas Eakins (1844-1916), maar ook verskille. Die skilder en fotograaf Eakins het binne die raamwerk van 'n kunsakademie gewerk, en het naaktstudies van sy manstudente as voorstudies vir skilderye gebruik, by name vir "The Waterhole". Hierdie skildery, 'n vaste verwysing in besprekings oor die naakte man in die kuns, plaas die naakt binne 'n Arkadiese omgewing, en handhaaf só die tradisie van die Klassieke Naakt. Ook in sy ateljeestudies, met sy studente in togas gestol in gestileerde dansbewegings, soos in Griekse tempelfriese of op kruike, is daar 'n knieval na die Klassieke. Gemelde studies kon ook van Von Gloeden gewees het, of van die Amerikaner F Holland Day, wat in die oorgangsjare tussen die neëntiende en die twintigste eeu gewerk het.

By Day het die verwysings na die Griekse Oudheid weer eens bestaan uit rekwisiete soos kruike, pyl en boog en 'n lier; en soms, baie nadruklik, klein Griekse beeldjies, soms in die hand van 'n naakte model. Maar Day het ook die Christendom betrek in foto's: Christus aan die Kruis, en Sebastiaan.

Met die opkoms van spiertydskrifte in die veertigerjare word gimnasiumfigure eweneens binne 'n Klassieke konteks geplaas, met suile, toue, visnette, stokke en so meer. Maar camp het nou bewustelik geword, en spitsvondig in die geval van Bruce of Los Angeles. Hy was geïnteresseerd in die teater, en was 'n meester van teatrale beligting. Die lewensvreugde van talle van sy aardse modelle kanselleer die kitsch in baie van sy studies, en sy buitelugtonele met kaal jong mans is tydeloos modern. Geleidelik het sy modelle ontslae geraak van stertrieme en spiernaak verskyn, soms met meer as net 'n beduidenis van 'n ereksie.

Humor is een van die belangrikste vernuwings wat Bruce of Los Angeles na die fotografie van naakte mans gebring het, 'n genre wat geneig is om homself alte ernstig te bejeën. Daar is byvoorbeeld sy guitige toespeling op falliese wapentuig, soos waar sy model met 'n rewolwer staan - naak, op cowboy-stewels en -hoed na. Op een foto staan 'n gewapende model, vrolik bewus van die grap, oordwars oor 'n saal wat op 'n bankie lê: "Shoot 'm, cowboy, shoot 'm".

Miskien moet gemeld word dat die poswese in Amerika tot 1968 toe die versending van naakte beeldmateriaal van mans verbied het. Bruce of Los Angeles het van een sentrum na 'n ander gereis met sy koffer foto's.

Die veertigerjare was ook die periode van George Platt Lynes (1907-1955), nie net 'n voorloper van Mapplethorpe nie, maar 'n konstante binne die wêreld van naaktfotografie.

Hierdie baie belangrike fotograaf het, op versoek van sy vriend Lincoln Kirstein van die New York City Ballet, balletfoto's geneem, maar ook talle foto's vir modetydskrifte, sowel as portretstudies van Gertrud Stein, Jean Cocteau, Christopher Isherwood en talle ander selebriteite van die jare dertig en veertig. Sy groot passie was egter foto's van die manlike naakt, maar dié foto's het nooit op uitstallings verskyn nie, want hulle sou sy brood-en-botter-fotografie kon beëindig het, gesien die repressiewe aard van die Amerikaanse publiek en owerhede in daardie jare.

Lynes se vriend Glenway Wescott het Lynes se artistieke en persoonlike frustrasie begryp, en voorgestel dat Lynes 'n reeks voorstellings van Griekse mites maak waarvoor hy tekste sou voorsien. Dié onderneming het doodgeloop, maar daar bestaan wel 'n reeks hoogs toneelmatige foto's van Lynes, veral wat beligting betref, van onder meer die volgende mitologiese of mitologieverwante figure: Iksion, Narsissus, Diogones, Aktaion, Zeus (wat uit sy dy geboorte geskenk het aan 'n seun), die "tweede" Orpheus, naamlik Orpheus wat ná Eurudikê se dood homoseksuele verhoudings aangeknoop het. Vir "Orpheus (2)" het twee balletdansers naakt geposeer, met Orpheus se lier as bedekking van, maar eweneens suggestief van, die penis.

Miskien wou Lynes ook maar by die burgerlike moraliteit verbykom met sy "Griekse" foto's, en was mitologiese verwysings sy vreemdmakingstrategie.

Teen die einde van sy betreklik kort lewe - Lynes is op agt en veertig dood aan kanker - het Lynes ál sy modefoto's vernietig, 'n simboliese verset oor die werk wat hy om den brode moes doen. Die versiende Kinsey het twee honderd foto's van naakte mans by Lynes gekoop vir sy Instituut. Sy ondersteuning het baie beteken vir 'n fotograaf wat sy tyd ver vooruit was.

Anders as Lynes het Herbert List (1903-1975) nooit uitdagende frontale naaktfigure gefotografeer nie. Hy het uit Duitsland gevlug in die oorlogsjare en hom in Griekeland gevestig, met sy fotoboek Licht ueber Hellas (1953) as herinnering aan sy Griekse ballingskap.

Die woord wat as refrein opduik in alle kommentare oor List se werk, is statuesque. Sy Griekse seuns, altyd met baaibroekies aan, staan of sit soos beelde in die eeue-oue kultuurlandskap met sy suile en sipresse. List het nie teater-"rekwisiete" nodig gehad nie; Griekeland het alles voorsien: dekor sowel as "spelers".

Daar is 'n verwyderdheid by List, en hieraan dank hy dalk sy blywende status as vaslegger van die skone. Sy werk mag homosensueel heet, of 'n enkele keer homoëroties, maar nooit blatant homoseksueel nie.

Sy mees erotiese foto's is ironies genoeg van naakte standbeelde, en in dié "reeks" is die foto wat hy in 1945 in München geneem het, 'n poëtiese hoogtepunt. Naakte beelde en selfs 'n fries met skaapramme lê slordig versprei in 'n bouval, "gehoog", soos op óú tekeninge, met wit - die wit van werklike sneeu. Twee beelde, rug en boude na bo, lê of hulle in 'n stryd gesneuwel het. 'n Derde beeld sit nadenkend na die ander beelde en die winterstadskap en kyk. Vir my is dié ontroerende toneel 'n klaagsang vir 'n beskawing wat wás; en weer moes ek aan Sheila Cussons dink, dié keer in haar gedig "1945":

Europa lê in puin: 'n swart koerantberig,
staccato, stomp; 'n oggendteegerug.
Europa is 'n krater in die firmament, niks meer.
En dan die kragtige slotreëls:
'n Aartsengel lê in die reën se glans en stil verteer
die roes sy silwer vlerk, die kosmos van sy silwer brein.

Teaterkonteks
Die teatrale en die teatermatige het reeds sterk ter sprake gekom na aanleiding van "Die Klassieke konteks". Von Gloeden het "agterdoeke" (natuurlike landskap van Sicilië), toneelkostuums en ander rekwisiete gebruik vir sy tablo's; George Platt Lynes het 'n Griekse narratief voorsien met sy modelle wat Griekse mites vergestalt.

Maar naakt- en seminaakt-tonele binne teaterverwante en Hollywood-ateljees bring 'n verdere "vreemdmakingstrategie", of platweg gestel, 'n "passion killing"-devies. Dis waar dat Michael Childers se foto's in Hollywood Voyeur "erotic and stylish" genoem word, maar telkens oorwoeker styl die erotiese inhoud.

Daar is talle voorbeelde van Childers se spitsvondighede; meesal "in-house jokes". Chi Chi LaRue, ongekroonde diva van die pornobedryf, staan byvoorbeeld in swart kouse en hoëhakskoene, blond gepruik en omswagtel met vere, teen 'n borssuikerpilaar. "Sy" is die Irma la Douce van nóú, en kyk uit 'n hoogte neer op haar pornosterre, twee mans wat mekaar tongsoen. Die man met die klapbord is uiteraard ook jonk, mooi en kaal. (Geen penis in sig nie.)

En daar is David Hockney in 'n Death in Venice-pak, strikdassie dazu, wat loom en Sondags op 'n lugmatras vaar op 'n Kaliforniese swembad, van die soort wat hy op skilderye en op foto's verewig het. Maar net 'n foto later toon Childers hom op 'n lae stoel by 'n rusbank, sy kamera gerig op die nogal geswolle liesband van 'n liggende jong Hollywood-sater.

Hollywood Voyeur is elegant en stylvol, maar net by uitsondering eroties.

Anders is die geval by Cindy Sherman, wat diep verontrustende foto's van seminaakte figure neem, psigologies ver verwyder van die kyker, op grond van hul kostuums en grimering. Sherman herskep dikwels skilderye van die meesters, soos "Die kranke jonge" van Caravaggio, of haarself in hoepelrok, met uitpeulende borste.

En net so verontrustend is die vreemdmakingstrategieë van Joel-Peter Witkin, waaroor Melody D Davis so indringend skryf in The Male Nude in Contemporary Photography.

Dié vreemdmakingstrategieë begin by Witkin by die manier waarop hy sy negatiewe "aanrand"; hy krap daarop en bring dowwe kolle en vlekke aan. Hierdie andersmaking klop met sy modelle: hermafrodiete, dwerge, wanstaltiges, verminktes, in troebel en lugubere ruimtes. Hy plaas sy modelle in 'n mitologiese verband van sy eie, maar 'n keer verwys hy na 'n standbeeldagtige model as Hermes, die penis gedeeltelik afgesny.

Selfs sy titels werk bevreemdend. Een foto heet byvoorbeeld "Portrait of the Constellation: Entrail Lust". Die gemaskerde model sit op sy knieë en masturbeer; soos in 'n opvoering van "Die Sewe Doodsondes" straal sy masker verbetenheid en wellus uit, met selfs 'n horing op die voorkop aangebring. Hy het rou ingewande oor sy bene en voor hom op die grond.

Ook Witkin betrek die Christenwêreld in sy foto "Penitente". 'n Gekruisigde man, weer eens gemasker, is vol stekels, wat waarskynlik na Sint Sebastiaan verwys. Links en regs van hom is skilderye van medegekruisigdes, beide met aapkoppe of aapkopmaskers. Aan die voete van die gekruisigde, net-net dekodeerbaar, is daar twee kopbene.

Wie deur die donker wêreld van Sherman en veral Witkin opgerui raak, het dalk 'n psigiater nodig.

Memento mori, waarby inbegrepe die vanitas-gedagte
Sekere fotograwe inkorporeer "stillewes" van die vanitas-soort in hul naaktstudies. Die stillewe met kopbeen, naas 'n kers wat einde toe sputter, moet die mens aan sy eindigheid herinner; maar ook stillewes met verwelkende blomme en vrugte wat begin "afneem", wil die mens aan sy kortstondigheid herinner.

Effens anders is 'n studie van die fotograaf Max L Nielsen uit 1926. 'n Naakte jong man sit kopbeen in die hand à la Hamlet. Dit is sý lewende gesonde vlees wat hóm - en ons, die kykers - bewus moet hou van die skrikwoorde in Joernaal van Jorik van DJ Opperman, daar waar Dabor vir Jorrie (dink aan Yorick!) sê: "... ons maak maar almal 'n geraamte groot."

Nog meer navrant is 'n foto van Abe Frajndick in [nudes] indexxi. Dit stel 'n vrou voor wat liefdevol 'n kopbeen in haar arms wieg, asof dit 'n baba is.

Herbert List se foto's van geraamtes in die katakombes van die Kapusyner-klooster in Palermo, party in kerklike ampsgewaad, kan elk as mementori mori gelees word, ofskoon met 'n tikkie ironie, want List se kommentaar oor sy foto's uit 1950 is nie sonder meer ernstig nie. (Dié wat hy in 1939 in dieselfde klooster afgeneem het, is van somberder kommentaar voorsien. Het oorlogswolke oor Europa iets hiermee te maak gehad?)

Verhulling 1
Verhulling in naaktfotografie kan een van twee uitwerkings op die kyker hê: dit kan die erotiese potensiaal van 'n foto deur suggestie verhewig, of dit kan erotiek kanselleer, alles afhanklik van die materiaal waarmee verhul is, en die hoek waaruit die "naakt" benader is. Jim Mooney, fotograaf, versteek sy model so volledig dat daar nóg mens nóg geheim is!

Verhullingsmateriaal kan verbande, plastiek, nat papier, verf, sonligstrepe deur hortjies, tatoeërings en so meer wees.

Ouer lesers sal onthou dat die heel eerste uitgawe van die kultuurtydskrif De Kat hom van die verhullingstegniek bedien het: 'n toegedraaide vrou moes misterie verbeel. En hét. Tóé.

Verhullingstegnieke in diens van "vreemdmaking" van 'n foto, het sedert die sogenaamde "wet look", in foto's van vrouens sowel as mans, ou nuus geword; kortom: 'n cliché.

Maar soms kry iemand dit reg om dié cliché te besiel, soos byvoorbeeld die fotograaf Richard Sawdon Smith in sy fotoreeks Safer Sex. Op 'n foto in dié reeks, getiteld "Fucking", maak hy van dubbelbeligting gebruik. Dis 'n dubbele selfportret, in elke sin van die woord. Richard Sawdon Smith is tegelyk penetreerder ("fucker") en gepenetreerde ("fuckee"), binne 'n kamer wat 'n hospitaalsfeer oproep. Alles word deur 'n plastiekmembraan gesien, wat 'n kondoom suggereer. Smith is MIV-positief.

Verhulling 2
In Verhulling 1 was die hele liggaam die pakket wat verhul is. 'n Aparte kategorie is die penis wat nie gesien word nie en die ou stelreël van Kipling, naamlik "die krag van die afwesige", demonstreer.

'n Foto van Bernis von zur Muehlen kan as voorbeeld dien. 'n Naakte seun of man is besig om van iets af te klim, die penis deur een been afgeskerm; regs van hom staan 'n houtbeeld van 'n vrou, maar met haar een hand só gehou dat dit na 'n half-erekte penis lyk.

Veel meer blatant, en ook veel meer potent, is die bekende foto van Bruce Weber van 1994 getiteld "Guy from the Navy". 'n Mooi jong man met 'n Griekse profiel en 'n gebeeldhoude liggaam sit nakend op die rug van 'n granietleeu. Beide man en leeu word regs van die kant af gesien, wat 'n soort distorsie van die leeukop meebring. Van agter gesien lyk dit presies soos die kop van 'n penis, maar meer nog, dit lyk of dit die penis van die "guy from the Navy" kan wees.

Vivienne Maricevic maak korte mette met die strategie van die verhulde penis. In 'n ongetitelde foto plaas sy 'n vrolike man, vermoedelik uit die volkslaag, agter 'n ronde tafel. Die boë van vier piesangs herhaal die halfmaan van die tafel, maar lei ook die oog na die vertikaal van die volkmens se eie piesang, 'n ooreenkoms waaroor hy uitbundig lag.

Die vreemdmaking van die naakte penis
Wanneer die penis geïsoleer word van die liggaam, en net nóg 'n vorm en tekstuur is, kan dit bevreemdend inwerk op die kyker. Dis 'n effek wat Warren Truitt 'n paar keer bereik in sy fotografieboek Textures, maar nie een van sy tekstuurstudies haal by Dianora Niccolini se ongetitelde foto uit 1979 nie, waar sy 'n haas ontliggaamde penis in 'n bosomgewing plaas, tussen blare en teenaan 'n droë tak. Dié besnede penis kan enige bosding wees - sampioen, boomwurm, wortel.

Nog 'n vreemdmakingstrategie van die penis stuur ook al op 'n cliché af, naamlik die ontspanne penis gesien as roos. Die penis word tussen wysvinger en duim ingeknel, op só 'n manier dat die voue van die voorhuid in riffel op riffel te lê kom, om dan soos 'n roos te lyk. Oor na Sheila Cussons:

Die roos te ver heen om
nog om te gee of sy obseen is.

(Uit: "Sterwende roos", Die sagte sprong)

Kan die erekte penis in konteks van die hele liggaam nie-eroties wees? Vir hierdie kyker is Peter Hujar se foto "Bruce de Sainte Croix" (1976) 'n meditatiewe essay eerder as 'n blatant erotiese foto. 'n Man sit op 'n stoel in 'n andersins leë vertrek. Hy sit met een been gestrek, en sy regterhand omklem sy magtige ereksie; maar sy kop, sy afkyk op sy penis, ondermyn 'n erotiese lesing van dié foto. Hy kon Hamlet gewees het wat na Yorick se kopbeen kyk, en hy skyn te dink: "Is dit dié ding, tegelyk wapen en metafoor, wat my lewe bepaal?"

Vreemdmakingstrategieë van die liggaam self
Die liggaam word oud. Die vel raak verrimpeld, vol lewer- en ander vlekke. Daar is uitsakkings en uitstulpings. Daar is klonte en spatare, en hare waar hulle nie nodig is nie: in neusgate en ore.

Die afgetakelde liggaam is reeds dapper verken deur kunstenaars soos Stanley Spencer, Alice Neel, Don Bachardy, Lucian Freud en ander, maar fotograwe het nie altyd die moed of die lus om verby die "body beautiful" te kyk nie.

Die Britse fotograaf John Coplans het 'n indrukwekkende CV as kurator, skrywer, kunstenaar en versierder. Hy het in die tagtigerjare met sy outoportrette begin. Hy neem homself in onvleiende houdings en posisies af - en dit as 'n óú naakte man. Ekshibisionisme? Nee; maar vir dié kyker is Coplans se foto's te bewustelik lelikmakend. Die foto's van badhuistonele van Laurence Salzmann is veel natuurliker en simpatieker, met ou mans tussen mans van wisselende ouderdom, party amper jonk, met stoom as algemene versagter en gelykmaker.

Daar is op die donker subteks van Joel-Peter Witkin se naaktfotowêreld gewys; 'n wêreld - en dit sê ook ander kommentators - wat aan die Victoriaanse "freak show" herinner. Nooit word 'n misvormde sy menswaardigheid gegun nie - en dit kán: dink maar aan die aangrypende vertolking van John Hurt as The Elephant Man in die gelyknamige rolprent.

Uniek en ontroerend tussen fotoboeke van die manlike naakt is George Dureau, New Orleans, 50 Photographs uit die jaar 1985. Naas die volmaakte word veral die verminkte vertoon: dwerge, mense wat misvorm gebore is, mense wat ledemate in ongelukke verloor het. Wat opval by die foto's van "burnt ones", is die vertrouensverhouding wat bestaan tussen modelle en die man agter die kamera. Fotograaf en model kyk mekaar nie net as mense aan nie, maar as mense met hul eie identiteit en waardigheid.

Die meeste fotograwe stuur verby misvormdheid. Cooper het wel twee voorbeelde in Male Bodies, maar ou mans en vet mense figureer nie prominent in sy boek nie.

Swangerskap kan 'n vroueliggaam anders en vreemd maak; of miskien is dié stelling verouderd. Sedert hoogswanger aktrises naak op die omslae van glanstydskrifte en in rolprente begin verskyn het, soos onderskeidelik Demi Moore en Ute Lemper, is 'n rewolusionêre proses begin wat nie meer gestuit kan word nie. Die vrou is nie net baas in eie buik, soos feministe in die vorige eeu in Nederland verklaar het nie, sy voel haar vry om dié buik ten toon te stel, en dra tot in 'n gevorderde staat van swangerskap klere wat die naakte midderif en buik laat sien.

Dit is dus nie verbasend nie dat die eerste kwart van [nudes] indexxi 'n aansienlike aantal foto's van swanger vrouens bevat. Merkwaardig tussen dié foto's is die reeks van Mark Sadan met onderwatertonele van 'n swanger vrou. Die water is goud-deuraar met sonlig van bo, daar is waterplante in beweging, en in dié water, soms sittend op die bodem, die swanger vrou. Die kyker voel of hy iets uit die Skeppingstyd meemaak.

Maar is die naakte swanger vrou vir alle kykers 'n bevreemdende ervaring?

Sekerlik nie vir vroue nie, en vir party mans is die vrou op haar mees erotiese in die swanger staat.

Die kop as naakte spierknop
Dit is vreemd hoe min fotograwe die erotiese potensiaal van die kop - die naakte kop - ontgin. F Day Holland het dit al gedoen met sy sensuele studie van sy protegé, die jong Kahlil Gibran; Herbert List het dit gedoen met sy kopstudies van jong seuns (sien Junge Männer), en Konrad Hechter, eietydse fotograaf, span onder andere die dagoue baard, die sogenaamde "five o'clock shadow", in om die erotiek van 'n gesig te verhoog. Ander fotograwe weer "zoom" in op die klam, halfoop mond, soms met 'n sigaret wat aan lippe kleef.

Die kop word, by die man sowel as die vrou, in ons tyd en dae volledig "ontklee" deur alle hare af te skeer. 'n Straatwys "rent boy" het 'n keer in 'n gesprek met my ewe spitsvondig van die "Pollsmoor look" gepraat, en hy had iets beet: die kaal klapperdop het van ouds af assosiasies met kriminaliteit.

Skrywers of digters is hulle bewus van die erotiek van die kop. John Miles verwys iewers in Liefs nie op straat nie na 'n man wat soos 'n ereksie lyk, en Sheila Cussons sê, weer eens van 'n man:

Sy lende is in sy kop, jy sien dit aan die oë.

(Uit: "Die kundige minnaar", Verwikkelde lyn)

Hierdie reël kan net so toegepas word op Herb Rits se seksdeurdrenkte kopstudies van Sean Connery, Mel Gibson en Daniel Day Lewis.

Die denkende oog
Die foto - en by implikasie die fotograaf - kan nooit volkome objektief wees nie.

Lidia Carbonell sê byvoorbeeld in haar inleiding tot [nudes] indexii: "It is the way we look that defines the nude." Die kyker word trouens net so seer deur die naaktfiguur gedefinieer as wat die naaktfiguur deur die kyker gedefinieer (lees: begrens) word.

Sheila Cussons beklemtoon hart (emosies?) by kyk in die volgende versreëls:

Daar is 'n sien, 'n soort sien -
waarom is dit seldsaam? - wat van
die hart is, eenvoudiger as oë
omvattend en ineens

(Uit: "Op 'n velletjie vergeelde papier in 'n antikwariese boek", Die sagte sprong)

Die "vreemdmaking" van 'n foto begin dus al by die individuele kyker.

Die lyf as landskap: 'n viering
Die individuele lyf, veral gefragmenteerd, met byvoorbeeld die kop weggelaat, word byna abstrak, en roep spontaan landskappe op, veelal duine, pienk en glad, soos by Sossus of in die Rooi Woestyn; of beenmeelwit, soos by De Hoop. Edward Weston se foto "Nude" (1925) is hier 'n pragtige voorbeeld. Jy kan nie met sekerheid sê of dit om 'n jong seun of 'n jong meisie gaan nie.

Een van die stemme in Hooglied in die Bybel, stellig dié van die bruidegom, sê in hoofstuk 7, vers 2:

Jou naeltjie is 'n ronde kom waarin die kruiewyn nie ontbreek nie. Jou maag is 'n hoop koring met lelies omring.

Sheila Cussons dig in dieselfde ekstatiese trant:

Die lyf is lieflik: die halfmaan-deukie om die nael,
die modellering van die fyn kniekuil; maar hoe
ingewikkeld moes daardie Luim gewees het - ernstig én
geestig én teer, en alles warm van wellus
deursing - wat uit die onderent van die rugstring
twee sulke boude kon laat blom.

(Titelgedig in Verwikkelde lyn)

Soms plaas 'n fotograaf 'n klomp naakte lywe kop-en-punt (maar kop en punt ontbreek) en dan kry 'n mens voorwaar 'n landskap van rûens en boude - "huppelend", sou die Prediker sê - wat hom uitbrei tot aan die einders, soos op die Eerste Dag.

Aan die begin van my bespreking het ek op die gevare van die cliché binne naaktfotografie gewys, en vervolgens enkele vreemdmakingstrategieë bespreek wat die cliché probeer omseil.

Vreemdmaking hou egter dié gevaar in: dat alle erotiek in 'n foto uitgefaseer word en die kyker bloot met "kunssinnigheid" laat.

Gelukkig het fotograwe, soos alle kunstenaars, by uitsondering geseënde oomblikke wanneer "iets" gebeur wat anderkant "kyk" en "verbeelding" lê.

Die laaste woord aan Sheila Cussons:

maar nou verwonderd weet ek,
verwonderd elke dag, dat iets
wat ryk is bo verbeelding verby
deur 'n kier kon geflits het, speldkopklein.

(Uit: "Die koekie seep", Die sagte sprong)

  • Met dank aan Amanda Botha, eksekuteur van die letterkundige nalatenskap van Sheila Cussons, vir die verlof om ruim aan te haal uit die digter se werk.

Geselekteerde bronne
Barbierie, Gian Paolo, Tahiti Tattoos. 1998. Köln: Taschen Verlag.
Barnes, Lawrence (red), The Male Nude in Photography. 1980. Vermont: Vermont Crossroads Press.
Carbonell, Lidia (koördineerder en direkteur van fotografie), [nudes] indexii. 2002. Berlin: Feierabend Verlag.
Childers, Michael, Hollywood Voyeur. 2000. Kaapstad: Janssen Publishers CC.
Cooper, Emmanuel, Male Bodies. A Photographic History of the Nude. 2004. München: Prestell Verlag.
Davis, Melody D Davis, The Male Nude in contemporary Photography. 1991. Philadelphia: Temple University Press.
Dolinsky, Jim (red), Bruce of Los Angeles. 1990. Berlyn: Bruno Gmünder Verlag.
Dureau, George, New Orleans: 50 Photographs, inleiding deur Edward Lucie Smith. 1985. Londen: Gay Men's Press.
Ellenzweig, Allen, The Homoerotic Photograph. Male Images from Durieu/Delacroix to Mapplethorpe. 1992. New York: Columbia University Press.
Ewing, William A, The Body. Photoworks of the Human Form. 1994. Londen: Thames and Hudson.
Hatton, Norman, The Penis. 2001. Kaapstad: Janssen Publishers CC.
Leddick, David, Naked Men. Pionering Male Nudes, 1935-1955. 1997. VSA (Geen stad vermeld): Universe Publishing.
Leddick, David, The Male Nude. 1998: Köln: Taschen Verlag.
List, Herbert, Junge Männer, inleiding deur Stephen Spender. 1988. Londen: Thames and Hudson.
List, Herbert, Italy. 1995. Londen: Thames and Hudson.
Lynes, George Platt, naamlose fotobundel. 1989. Berlyn: Gmünder Verlag.
Lynes, George Platt, Photographs from the Kinsey Institute. 1993. New York: Bullfinch Press.
Riefenstahl, Leni, The Last of the Nuba. 1973. Londen: The Harvill Press.
Riefenstahl, Leni, Die Nuba. Menchen wie von einem anderen Stern. 1976. Frankfurt: Ullstein Sachbuch.
Riefenstahl, Leni, Die Nuba von Kau. 1991. Frankfurt: Ullstein Sachbuch.
Rits, Herb, Calendar. 1994. Kempen: te Neues Verlag.
Rits, Herb, Calendar. 1995. Kempen: te Neues Verlag.
Truitt, Warren, Textures. Photographs. 1990. Londen: Gay Men's Press



LitNet: 06 Mei 2005

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.