GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Henry JamesHet die prolifieke skrywer Henry James (1843-1916) seks met mans gehad? Het dit dalk net gebly by "ondraaglike intieme bewustheid van mekaar"? In sy meevoerende bespreking van Colm Tóibín se The Master roep Hennie Aucamp van die erotiese tonele op.




Verwyderd die uwe, Henry James

Hennie Aucamp

The Master

Colm Tóibín is 'n eietydse Ierse skrywer wat in Ierland woon en werk. Sy status as romanskrywer en essayis groei met elke nuwe publikasie, sy seksoriëntasie ten spyt, want die gehalte van sy werk is so onomstootlik dat dit alle burgerlike vooroordele uit die weg vee. Sy bundel essays Love in a Dark Time: Gay Lives from Wilde to Almodóvar blý byvoorbeeld op winkelrakke verskyn, al is dit reeds in 2001 gepubliseer. Sy voorlaaste roman, The Blackwater Lightship, is verfilm, met onder andere Angela Lansbury in die rolbesetting.

Die essays in Love in a Dark Time, of dit nou oor Thom Gunn, James Baldwin, Elizabeth Bishop of wie ook al gaan, is elkeen 'n monografie in die kleine. Wie in Tóibín se stoet gay skeppers ontbreek, is Henry James, maar so pas het sy geromanseerde weergawe van Henry James se lewe verskyn, getiteld The Master. Dié resensent wil glo dat sy arbeid aan Love in a Dark Time Tóibín laat vermoed het hoe romanmatig talle lewens verloop.

En romanmatig is die lewe van Henry James (1843-1916) weldeeglik, gegee die indrukwekkende familie waaruit hy spruit, met al die spanninge en prikkels binne 'n hoogs begaafde "clan", van oupa af oor pa tot by vier broers en 'n suster. Dis of die James-clan Amerika se antwoord op die Mann-clan van Duitsland is, met dekadensie en alternatiewe seksvoorkeure by beide groepe ingebou.

Maar sibnyd is nog 'n ooreenkoms: Thomas Mann en sy ouer broer Heinrich het soms ernstige meningsverskille gehad, en die verhouding tussen Henry James en sy ouer broer William was allesbehalwe vreedsaam.

Henry James was waarskynlik die vader van die moderne internasionale roman. Met James se heen-en-weer-reise van Amerika na Engeland, en omgekeerd, en van Engeland na Europa, maar altyd weer terug Engeland toe, het hy al iets van die "global village"-gedagte gevestig. Sy Transatlantiese reise was per boot, omdat vliegtuigverkeer nog in die toekoms gelę het.

Colm Tóibín het homself 'n moeilike taak gestel: iewers moes hy halt roep en seleksie toepas, anders kon sy materiaal hom versmoor het. Die mees gesaghebbende biografie oor Henry James, deur Leon Edel, beslaan vyf volumes, en selfs hier moes daar, volgens Edel, streng geselekteer word. Henry James was meer as 'n prolifieke skrywer: hy was 'n węreld. Romans, verhale, briewe, essays, artikels, dramas het uit sy pen gestroom. Ja, sy skryfwerk is met die hand gedoen, totdat hy op die dikteer-metode oorgegaan het.

Tóibín het net 'n fragment uit Henry James se lewe vir sy rekening gekies - 'n ryk periode, wat begin met die grandiose mislukking van James se toneelstuk Guy Domville in 1895 en afsluit in 1899, met broer William en gesin se lang besoek aan Henry James, soms in Londen en soms in sy landelike verblyfplek in Rye, Sussex.

Elkeen van die elf hoofstukke in The Master het 'n datum as opskrif. Hierdie "gedateerde" hoofstukke moet egter nie alte letterlik bejeën word nie. Hulle bevat lang terugflitse wat die leser moet help om die hede in terme van die verlede te interpreteer.

Die gedurfdste element van Tóibín se onderneming raak natuurlik die vermeende gay-oriëntasie van Henry James - gedurf omdat daar, op een insident na, geen bewyse is dat James fisieke verhoudings met mans gehad het nie. Die manier waarop Tóibín die enkele gaygeskakeerde episodes en momente in James se lewe met die verhaalweefsel integreer, spreek boekdele vir sy vakkundigheid. Onderbeklemtoning is sy leidende stylbeginsel, nes by James self.

Vroeg in The Master word die naam genoem van Paul Joukowsky, 'n jong man wat James, toe self nog 'n jong man, in Parys ontmoet het. Paul het hom na sy kamer genooi. Henry James het in die straat gestaan en opgekyk na Paul se verligte kamer, self verskans deur die donker en reën; ure en ure het hy gewaak, en toe teruggegaan huis toe. Wat sou gebeur het as hy na Paul se kamer gegaan het? Paul het dit duidelik gestel wat in sy kamer sou gebeur het. Dan volg 'n reël wat 'n sleutel is tot die enigma Henry James:

It seemed strange, almost sad, to him that he had produced and published so much, rendered so much that was private, and yet the thing that he most needed to write would never be seen or published, would never be known or understood by anyone.

Dis onwaarskynlik dat Henry James ooit James Joyce se beroemdste verhaal, "The Dead", gelees het. Hy sou in ieder geval 'n baie ou man gewees het toe Dubliners verskyn het. Dit kan 'n greep van Tóibín wees - hy is immers Iers - om Henry James se "waak" in die reën met die slot van "The Dead" te skakel. Ook in "The Dead" staan 'n jong man een nag in die reën en opkyk na die venster van sy geliefde, iets wat letterlik tot sy dood gelei het. Die volgende homosensuele episode in The Master volg op Henry James se vlug na Ierland ná die mislukking van sy toneelstuk Guy Domville. Hy is die gas van Lady Wolseley, wat 'n besonder aanvallige kamerheer, ene Hammond, vir Henry James gekies het. Lady Wolseley het Henry James se behoeftes geken, beter as wat hy dit self ooit sou ken. Lady Wolseley en haar minnaar se double entendres laat min aan die verbeelding oor. Sy vra byvoorbeeld vir Henry James: "Is Hammond satisfactory?" waarop James antwoord: "He is perfect, he could not be better." En dan volg dié sprekende passasie:

"Yes, that is why I chose him," she said. "He has great charm, does he not, and discretion, I think?"

She studied him. He said nothing.

Hammond bied homself nagenoeg aan vir "konsumpsie", veral in die toneel waar hy vra of hy in die nag kan kom inloer hoe dit met James gaan. (James was vermoeid ná 'n gekostumeerde bal.) Dit kom egter niks verder as oogkontak tussen James en Hammond nie. Ná Hammond nag gesę het, lę James onrustig in die donker, waaruit die volgende passasie vloei:

He was disturbed by the idea that he longed, now more than ever before, in this strange house in this strange country, for someone to hold him, not speak or move even, but to embrace him, stay with him. He needed that now, and making himself say it brought the need closer, made it more urgent and more impossible.

Lady Wolseley se rol as koppelaar het dus nie geslaag nie. Dat dié koppeling op seksuele verkeer tussen Henry James en Hammond gerig was, is baie deursigtig. Webster, die geheime minnaar van Lady Wolseley, sę byvoorbeeld aan James:

"But being a bachelor must leave you open to all sorts of ... How shall I put it? All sorts of sympathy."

Wat onthou moet word, is dat dit die era van Oscar Wilde was, en dat gissinge omtrent homoseksuele inklinasies aan die orde van die dag was in "verligte" kringe.

In die laaste hoofstuk van The Master duik Hammond weer op, nou deel van Lady Wolseley se entourage, ook tydens die Wolseleys se besoek aan Londen. Weer is daar die onuitgesproke emosionele gelykgeskakeldheid tussen James en Hammond, en weer kom dit niks verder tussen hulle nie as 'n ondraaglik intieme bewustheid van mekaar. Uit vrees dat dit toe tot gevolgtrekkings mag lei, besluit James om 'n geskenkpak van sy boeke aan Hammond te pos, eerder as om dié pak regstreeks aan Hammond te gee.

Die enigste liggaamlike moment tussen James en 'n man vind in die somer van 1865 plaas. Die man is Oliver Wendell Holmes, en dié episode figureer in Sheldon M Novick se boek Henry James: The Young Master, sowel as in Novick se biografie oor Oliver Wendell Holmes. Die situasie is klassiek: twee jong mans moet tydens 'n uitstappie 'n bed deel. Henry James kyk hoe die ekstroverte Holmes hom kaal uittrek en hom by 'n waskom staan en was. James kyk na die sterk bene en boude, die lyn van die rugstring, die delikate bronskleur van die nek. Holmes klim, klaar gewas en afgedroë, poedelkaal in die bed. James was hom ook op dieselfde wyse as Holmes, en probeer ongeërg en natuurlik wees. Ook hý klim dan kaal in die bed wat gedeel moet word. Eers gebeur daar niks nie, maar James weet dat Holmes wakker is. En dan, uiteindelik, voeg James sy liggaam na dié van Holmes.

Die laaste "verhouding" wat James met 'n man het, gebeur laat in sy lewe. Dis met 'n "beeldskone" jong man, 'n Sweedse beeldhouer van Amerikaanse herkoms, Hendrik Andersen. Andersen, op soek na 'n "borg", soos gays van oudsher af gedoen het, maak James nagenoeg die hof. Hy weet wanneer om James aan sy boesem te koester, soos in die Protestantse kerkhof in Rome, waar James deur emosie oorweldig is. James koop selfs een van Andersen se kleiner beeldhouwerke, en nooi Andersen na Lambeth House in Engeland. James beplan reeds 'n ateljee vir sy beskermling, maar Andersen dink en werk op groot skaal en wil beelde vir pleine en węreldstede skep. Volgens beskrywings van sy werke is dit 'n soort voorloper van Hitler se Fascistiese beeldhouprojekte. James staan afwysend teenoor Andersen se konsepte, en uiteindelik skei hul paaie. As Andersen vandag nog onthou word, is dit omdat hy eenmaal bevriend was met die groot Henry James.

Hoe lyflik was James se vriendskap met Andersen? Tóibín, versigtiger as party van James se kommentators, laat dit bly by 'n drukkie hier, 'n omhelsing daar; en hy is waarskynlik nader aan die waarheid as selfs Leon Edel, amptelike biograaf van James, wat geglo het dat Henry James wel teen die einde van sy lewe seksuele verhoudings met mans gehad het. Briewe van James aan Hendrik Andersen kon dié "dwaling" aangemoedig het, want James se "liggaamlike" taal is nogal opvallend. Een sin, aangehaal deur die historikus Rowse, is hier voldoende:

The sense that I can't help you, see you, talk to you, touch you, hold you close and long, or do anything to make you rest on me - this torments me, dearest boy, makes me ache for you, and for myself. I wish I could go to Rome and put my hands on you (oh, how lovingly I should lay them) ...

Vir 'n Victoriaan en Edwardiaan is James hier bra onverskillig; groot "dramas" is al gebou op inkriminerende briewe - onder andere een van James self, The Aspern Papers, wat gebaseer is op die storie dat Shelley se briewe deur Byron se minnares bewaar en eindelik verbrand is. James het waarskynlik gereken dat die ander party jintelman genoeg gaan wees om dergelike briewe te verbrand. Henry James self was 'n groot verbrander van briewe, 'n motief wat meermale opgeneem word in The Master.

Verdere "kandidate" in die liefdeslewe (sic) van Henry James word verswyg deur Colm Tóibín, waarskynlik omdat getuienis hier te skraps is. Twee word genoem deur Martin Greiff in sy "skunnige skinnerboek", The Gay Book of Days. Eerstens Henry James se broer William. Dié teorie, volgens Greiff onderskryf deur Leon Edel, is na vore gebring deur Richard Hall in 'n reeks artikels. Hall se naam ontbreek egter in Greiff se skraps bibliografie, en verdere spekulasie oor dié kwessie is dus sinloos.

Greiff se tweede liefdeskandidaat is die literator Hugh Walpole, wat James "my very dear Master" genoem het, waarop James gereageer het met frases soos "darling Hugh" en "my belovedest little Hugh". Toe Walpole, so lui die storie, die "Master" wou verlei het, het James in trane uitgebars en gesę: "I can't ... I can't." 'n Sprokie, volgens dié resensent, wat so na waarheid klink, gegee die presieuse houding van James omtrent homoseks.

Die laaste man wat genoem moet word, is Morton Fullerton, onweerstaanbaar vir beide geslagte, volgens Rowse: onweerstaanbaar vir Edith Wharton, Henry James se vriendin, landgenoot en skatryk skryfster, en net-net weerstaanbaar vir Henry James. As Fullerton wel na Rye gegaan het, op herhaaldelike uitnodigings van Henry James, het daar dalk iets gebeur wat tot ontwaking sou gelei het, ook van James se geslagtelike instinkte, want Fullerton was, soos mev Wharton kan getuig, 'n meesterlike verleier.

Somerset Maugham - ek haal aan via Martin Greiff - het gesę:

I don't think Henry James knew how ordinary people behave. His characters have neither bowels nor sexual organs. [In James's books] people do not go away, they depart, they do not go home, but repair to their domiciles, and they do not go to bed, they retire.

Beide Wharton en Somerset Maugham kon baie sintuiglik wees, maar 'n radikale deurbraak na seksualiteit soos Wharton in haar onvoltooide kortverhaal "Beatrice Palmato" maak, dit het nie op die pad van Somerset Maugham gelę nie, en allermins op die pad van Henry James.

'n Aanhaling uit "Beatrice Palmato" gee 'n aanduiding van waartoe die Morton Fullerton-skoling kan lei. In die toneel wat volg, gaan dit om 'n bloedskande-toneel: 'n pa vervoer sy dogter, eers met sy geslepe vingers, en dan met sy tong:

... As his hand stole higher she felt the secret bud of her body swelling, yearning, quivering hotly to burst into bloom. Ah, here was his subtle forefinger pressing it, forcing its tight petals softly apart, and laying on their sensitive edges a circular touch so soft and yet so fiery that already lightnings of heat shot from that palpitating centre all over her surrendered body, to the tips of her fingers, and the ends of her loosened hair.

Eers dekades later sou gay skrywers soos Tóibín en David Leavitt in die gees van Wharton se nagelate fragment skryf; maar oor bloedskande het hul tog nie geskryf nie. Of nog nie. Cocteau het wel, asook Agustin Gómez-Arcos; laasgenoemde meer regstreeks, grafies en dinamies as Cocteau, waarskynlik omdat Gómez-Arcos eietyds is en dus van ná die sogenaamde seksrewolusie.

As uiterlike getuienisse oor Henry James se ontmoetings met jong mans haas niebestaande is, moet sy sluimerende homoseksualiteit uit 'n ander hoek benader word.

Henry James was 'n homofoob. Dié paradoks is nie so vergesog as wat dit mag klink nie. Wie kan die Jode méér haat as sommige Jode self? Wie kan gays méér haat as sommige gays self?

Henry James se belangrikste bęte noire was sy tydgenoot Oscar Wilde. Dit was vir James 'n bitter pil om te sluk dat An Ideal Husband van Wilde 'n dawerende sukses was in die Weseinde, terwyl sý stuk, Guy Domville, byna onmiddellik "gevou" het en vervang is deur nóg 'n stuk van Oscar Wilde. James se reaksie op Wilde se stuk An Ideal Husband word só deur Tóibín geformuleer:

... Every line, every scene was acted out as though silliness were a higher manifestation of truth. No opportunity was missed in portraying witlessness as wit; the obvious and shallow and glib provoked the audience into hearty and hilarious laughter.

Henry James het Wilde 'n ongure karakter gevind; 'n dier.

Wat die gay gemeenskap Henry James nooit vergewe het nie, selfs tot die huidige dag toe, is dat hy in 1895 geweier het om 'n petisie te teken waarin gepleit word dat Oscar Wilde se tronkstraf versag word. James se naamtekening sou, gesien sy status, groot gewig gedra het by die owerhede.

Henry James het ook negatiewe emosies omtrent 'n ander gay-ikoon, Walt Whitman, gehad, maar dit was in sy "teerder jeug", en in later jare het hy hom sy eie "disgrace" berou, naamlik 'n anti-Whitman-resensie na aanleiding van Drum Taps. Hy het gehoop dat dié obskure resensie nooit ontdek sou word nie, maar die onvermoeibare Leon Edel het dit wel opgespoor.

'n Baie beduidende toneel in The Master handel oor 'n besoek van Henry James en ene Perry aan 'n veldhospitaal vir soldate. Nóg Henry nóg William James het toegetree tot die Burgeroorlog, maar hul broers Wilky en Bob het wel, en het beide hul lewens verloor. Dié siekebesoek kon uit skuldgevoel gewees het: die Amerikaanse Burgeroorlog het nooit heeltemal uit Henry James se gedagtes verdwyn nie.

Natuurlik resoneer Henry James se besoek aan siek soldate teen soortgelyke tonele by Walt Whitman, verewig in sy prosa (Specimen Days) en sy poësie. James is nie onaangeraak deur die lot van die soldate nie, veral dan van een besonder mooi gewonde soldaat. Hy bied hom geld aan, en ook sy adres in Newport. Maar anders as Whitman kan hy nie werklik uitreik nie. Hy sou nie, soos Whitman, kos en presente kon bring vir die siekes nie; hy sou hulle bowenal nie kon soen nie.

Die einde van Henry James se veldhospitaal-besoek is skokkend. Hy is verlig om tuis te wees by sy lamp, sy boeke en sy skryfwerk. Só sou sy lewe dan verloop: "once removed", 'n lewe agter glas.

Nog 'n voorbeeld van Henry James se homofobie:

Toe die jong romanskrywer Forrest Reid sy roman The Garden God: A Tale of Two Boys (1905) aan Henry James opgedra het, het James dié vriendskap summier beëindig.

Maar sy negatiewe optredes bevestig maar net dat James presies geweet het wat "the other persuasion" beteken. Sy eie suster Alice was jare lank in 'n intieme lesbiese verhouding betrokke, 'n geskiedenis wat ingesypel het in The Bostonians.

As Henry James die lewe van ander intens van agter glas dopgehou het, is en word hy óók dopgehou, deur die verkykers en ínkykers van sielkundiges, literatore en medeskrywers. Van Henry James sę Rowse byvoorbeeld: "All his characteristics, like E.M. Forster's, are those of a very sharp old lady ..."

Camille Paglia, weer, beklemtoon die rol van die androgiene en transgenderisme in Henry James se werk. Sy sę byvoorbeeld:

The English social novel ... has few androgynes. James's sex reversals are a symptom of his covert Romanticism.

En

The wishy-washy James hero is always making obsequious verbal genuflections towards his master-mistress.

Beide Rowse en Paglia kan van onnodige katterigheid verdink word, maar die volgende uitspraak van Leon Edel kan nie so maklik opsygeskuif word nie. Leon Edel sę dat Henry James jong meisies baie goed verstaan het en hom volkome met hulle vereenselwig het, en laat hierop volg:

He was a young lady in so many ways. A Victorian lady. Somewhere inside him, there was an adolescent girl. And he understood adolescents very well.

'n Biografie - of roman - oor Henry James sou selfs kon heet: Portrait of the author as a young girl.

*

Dié resensie het hom oorwegend bepaal by die gaysubteks van The Master. 'n Enkele opmerking oor die kundigheid van Colm Tóibín kan as slotwoord dien.

Tóibín se "ingang" (point of entry) en "uitgang" (point of exit) vir sy roman is uitstekend gekies.

The Master begin met een van die vernederendste ervarings in Henry James se lewe, naamlik die totale mislukking van sy toneelstuk Guy Domville. James het vyf jaar van sy lewe aan die skryf van dramas bestee, twaalf altesaam, waarvan net vier opgevoer is. Maar dit was nie moeite vergeefs nie. Sy groot romans, soos The Wings of the Dove en The Golden Bowl, het regstreeks gebaat by sy ervarings as dramaturg. Ironies genoeg het James lank na sy dood sukses behaal op die verhoog, met meesterlike aanpassings deur toneelkundiges van enkele van sy romans, soos The Wings of the Dove, The Aspern Papers, The Beast in the Jungle en The Heiress.

Die slot van The Master plaas Henry James waar die leser hom so dikwels tydens die roman teëgekom het: by 'n venster waar hy, die ewige buitestaander, die verbygaande węreld dophou.

'n Resensent van The Master, Peter Rose, het blykbaar verwag dat Tóibín die lang, gedrae sinne van Henry James se laat-periode moes bly handhaaf het, vergetende dat dié sinne reeds in Henry James se eie tyd as leseronvriendelik beskou is, onder meer deur sy broer William en sy groot vriendin, die skryfster Edith Wharton.

Wat hierdie resensent betref, skryf Colm Tóibín stewige, geritmeerde sinne, en beslis nie kort nie, soos aanhalings in my resensie dan ook getuig. Ook bedien hy hom, maar gelukkig baie spaarsaam, van die parenteses waarvan Henry James so gehou het.

Om mee af te sluit - juis aangaande James se parenteses en interpolasies - 'n staaltjie uit Stellenbosch se literęre annale.

In die vyftigerjare het Mrs Marquard Engels aan die Universiteit van Stellenbosch gedoseer, en een skemeraand loop sy, diep versonke in Henry James, in Die Laan toe 'n student voor haar opdoem en "Good evening, Mrs Marquard" sę. Mrs Marquard het bevreemd opgekyk en stadig gesę: "Good - whoever you may be - evening."

Geselekteerde verwysings
Greiff, Martin, The Gay Book of Days. 1982. Secaucus: Lyle Stuart.
Mitchell, Mark, The Penguin Book of International Gay Writing. 1995. Londen: Viking.
Mitchell, Mark en David Leavitt, Pages passed from Hand to Hand. The Hidden Tradition of Homosexual Literature in English from 1748 to 1914. 1998. Londen: Chatto and Windus.
Paglia, Camille, Sexual Personae. Art and Decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. 1990. Londen: Yale University Press.
Rose, Peter, Resensie oor The Master, www.theage.com.au.
Rowse, AL, Homosexuals in History. A Study of Ambivalence in Society, Literature and the Arts. 1977. Londen: Weidenfeld and Nicolson.
Tóibín, Colm, Love in a Dark Time. 2001. Londen: Picador.
Wharton, Edith, Fragment uit "Beatrice Palmato", opgeneem in Derek Parker se An Anthology of Erotic Prose. 1981. Londen: Constable.




LitNet: 14 September 2004

NOTA: Ek ontvang graag reaksie op hierdie teks. Stuur dit na dbbotha@mweb.co.za.
DANIE BOTHA

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.