GayArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die storie van die advokaat

Johannes de Witt

Daar sit ek toe een vervelige Woensdagoggend by die werk, en besluit om bietjie my hand te waag aan die internet, met die doel om ‘n man te vang. Jy kan mos nie die Lotto wen sonder ‘n kaartjie nie; so sal jy seker ook nie juis ‘n gawe man uit die bloute raakkuier in die 21ste eeu sonder ‘n profiel op die internet nie. So vertel my vriende wat reken hulle weet.

Ek teken aan op ‘n bekende webwerf.

Daar is baie gay ouens in die Kaap, sien ek. En die een is meer “fun-filled” en “cool” en lus vir warm, sedelose seks as die ander een. En daar is foto’s van elke moontlike deel van die manlike anatomie. ‘n Spyskaart vol mans. Soos dr Frankenstein kan jy jou monster volgens eie smaak uitkies. Man, dis te goed om waar te wees, dink ek.

Nou is ek maar ‘n rustige outjie van aard. Ek woon hier in die platteland, want die stad kriewel vir my te veel. En hier bedryf ek my besigheid en ek kuier met my vriende en ek drink lekker wyn en ek pla nie eintlik iemand nie. Maar nou voel ek dis dalk tyd om maar iemand aan te skaf wat agter my rug kan kom lê in die aande en soms vir my vertel ek is nogal oulik. Dis winter, ek is nou so vyf jaar enkellopend, dis tyd.

Na die deurlees van ‘n klompie profiele, raak my aandag vasgenael op ‘n man. Aantreklike gesig, lekker lank en aan die skraal kant soos ek van hulle hou. By die vraag oor sy beroep, noem hy dat hy ‘n prokureur is. Ek hou van mans met goeie beroepe. Die meeste ander eienskappe ook heeltemal na my smaak, behalwe dat hy by die vraag oor alkoholverbruik antwoord “geen”. Nou pleks ek net daar en dan rooi ligte sien flikker en alarms hoor lui, steur ek my toe vir die oomblik nie aan my beste vriend se raad dat mens nie moffies kan vertrou wat nie drink nie.

Ek hou van jou profiel, laat gerus weet of jy my wil ontmoet oor ‘n koppie tee. Met dié openingslyn kontak ek hom. Nie hoeka nie, kom die boodskap terug: ons het ‘n afspraak, hy hou ook van my profiel. Saterdagmiddag om vyfuur sal ons mekaar voor ExclusiveBooks in Cavendish Square ontmoet en dan besluit op ‘n plek vir die koppie tee.

Drie dae later, op Saterdagmiddag, ruk ek op na Cavendish Square. Ek hang in die winkel rond, sien so teen vyfuur ‘n enkellopende ou wat soos die profielfoto lyk by die deur staan. Ek groet, bevestig sy identiteit, stel my voor en toon my beste gedrag ooit. Hy beduie na ‘n koffieplek daar naby. Plaas sy duur motor se sleutels strategies op die tafel vir effek. Ek sê: “So jy is ‘n prokureur.” Hy trek sy neus op so ‘n plooi dat dit lyk of hy onder die wind van rioolplaas verbyry. Nee, nee, nee, verseker hy my. Hy is geen prokureur nie, hy is ‘n ADVOKAAT. Nou ja, toe dink ek, maar ek maak nie ‘n bohaai oor die verkeerde inligting oor sy beroep op sy profiel nie – wil nie so gou tegnies raak nie. Ons kuier te heerlik verder, land en sand.

Ek hou toe nogal baie van hom. Toe ons groet, nooi hy my vir ete by sy huis, dag en datum, een week later. En ek dink hier het ek ‘n trouman beet. Kry later ‘n sms om te bevestig hoe lekker hy gekuier het met my, te wonderlik dat ons so goed oor die weg kom. Gereeld in die volgende week word ek deur hom gekontak, omdat hy wil verneem na my welstand. Saterdagaand is ek gereed om die koeël deur die kerk te jaag, die finale nekslag toe te dien voor die lang en gelukkige saamwees kan begin.

Kom so sesuur by sy huis aan. Lyk maar beskeie, maar Rondebosch, verneem ek later van hom, is die enigste plek vir ‘n mens met selfrespek om te woon, daar is nie ander uitkoms nie, al moet jy nou huur. En die meubels binne is maar oumarig, maar hy vertel my sonder dat ek vra, dat dit vreeslike duur goed is. Ek vra hom waarom hy nie alkohol gebruik nie, en hy vertel my dat hy nie beginselbesware oor alkohol het nie, maar wanneer hy ietsie nuttig, dan is dit net die beste van die beste whiskey. En hy wys my die bottel enkelmout wat hy aanhou vir spesiale geleenthede en vertel my dit kos so R1 300 vir ‘n bottel van dié gedistilleerde goud. Maar wil ek ‘n bietjie daarvan proe?

Nou teen dié tyd het my illusies oor ‘n lang en gelukkige huwelik met die advokaat reeds begin kwyn, maar ek vind die situasie heel prettig en ek sê ja, van hierdie whiskey wil ek graag proe. Hy gooi vir ons elkeen ‘n dop wat skaars die glas se bodem bedek. Seg ek nee, ek het nogal ‘n toleransie vir alkoholiese verversings, so gooi myne maar so met die vry hand tot ek sê stop. Snakkend na asem kry hy die glas toe darem so ‘n kwart vol. Dat dit ‘n absoluut verruklike whiskey was, sal ek nou nie ontken nie. So is hy ook galant genoeg om die glas weer op te vul toe ek hom daarom vra, na die eerste ene in is. Vir homself skink hy niks meer nie.

Daar sit ons toe op die bank in sy sitkamer: ek teug aan my whiskey, en hy kyk vir my. En ek begin bietjie senuwees kry oor waar hierdie kuier nou op pad heen is, maar ek hou vir my nonchalant. Ek is nie vreeslik mal oor die eerste-aand-saamslaap-verskynsel wat deesdae so algemeen voorkom nie; redeneer nog altyd dat as ek die ideale man ontmoet met wie ek dit sou wou doen, ons tog die res van ons lewens tyd het om die daad te pleeg. So die algemene reël is dat ek dit nie doen nie, hoewel dit nou ook nie in bloed geskryf staan nie. Maar nou kan jy dit nie regtig voor die tyd vir mense sê nie, dan dink hulle jy is ‘n koek en wil nie meer met jou kuier nie.

Vra die advokaat my toe na so ‘n rukkie se sit en bekyk, wat ek lus is om nou verder vir die aand te doen. Ek sê toe wel, ek vermoed jy sal moet begin kook, want jy het my mos nou juis vir ete genooi. Is daar iets waarmee ek kan help? Nee, hy sal regkom, dankie, maar ek sien hy is brommerig.

Klaar geëet en een bottel rooiwyn wat ek saamgebring het later, is ons terug op die bank. Lig hy my voete op sy skoot en trek my skoene uit. Ruik aan my kouse, en knibbel so liggies aan my tone. Ek is verstom. Hy beweeg nader en soen my. Ek is so half vasgepen onder hom. Ek is lus vir ‘n sigaret, maar gee huiwerig samewerking eerder as om nou moeilikheid te veroorsaak. Na ‘n wyle se soenery laat hy my los en sit behaaglik terug in die rusbank, soos ‘n kat wat room gekry het.

En toe kom die toespraak. Hy hou van my, en kan sien ek hou van hom. So hierdie is wat hom betref die begin van ‘n verhouding. Maar ek moet die volgende dinge mooi verstaan: hy beskou verhoudings in ‘n baie ernstige lig. In ons verhouding kom hy eerste, en my vriende handhaaf ‘n tweede plek op veilige afstand. Ons gaan dinge saam met mekaar doen meestal, en hy is meer ten gunste van tuisbly as uitgaan. As een van ons siek is, sal die ander een hom versorg. Ons gaan slegs met vakansie weg as ons dit saam kan doen, en ons moet so spoedig moontlik ‘n reis na die ou Transvaal beplan om mekaar se ouers te ontmoet. Ons sal moet begin dink aan saam intrek.

Ek is effens geskok, maar dink hy kan sekerlik nie ernstig wees nie. So ek speel saam, behalwe dat ek paar menings lug: Ek hou nogal baie van uiteet, so as ons tuis moet bly, sal hy moet kook, ek hou nie van kook nie. Ek wil uitgelos wees deur almal behalwe my ma wanneer ek siek is, en my enigste vrywillige bydrae tot siekeversorging is om ‘n doktersafspraak te reël, of op die ergste dan, ‘n lykbesorger te skakel. Die stad geniet ek glad nie, so saambly kan slegs geskied as hy platteland toe trek. Hy sê toemaar, hy sal my regkry. Voor ek my oë uitvee, sal hy my leer kos maak, en my ander nonsens moet ek maar net self laat staan. En ek besluit – ons sal sien …

Ek groet vriendelik, bedank hom hartlik vir die aangename aand, en kry koers huiswaarts. Ek sien hom weer Woensdagaand, wanneer ek opgekommandeer is om sy vriende te ontmoet oor aandete by sy huis. Woensdagaand stel hy my ook in kennis ek slaap by hom oor, die N2 is te gevaarlik in die nag om terug te ry na my tuisdorp. Die interaksie tussen ons begin my fassineer.

So sewe-uur Woensdagaand val ek in die pad Rondebosch toe nadat ek my sebra-pajamas ingepak het. As jy nog nooit die begrip passion killer in sy volle glorie begryp het nie, moet jy my sebra-pajamas beleef, volgens vriende wat my al daarin gesien het. Maar ek is mal daaroor en dit slaap heerlik warm, en ek is ‘n praktiese ou wat werk met ‘n plan.

Woensdagaand eet die advokaat se vriende binne ’n oogwink uit my hand en die aand verloop goed. Slaaptyd fabriseer ek hoofpyn, en ons lê rustig lepel sonder moeilikheid. Na ons die volgende oggend wakker gesing word deur Marianne Faithful met “Ballad for Lucy Jordan” wat hy as luitoon vir sy selfoonwekker gestel het (en ek heel verfrissend gevind het), nooi hy my om Saterdagmiddag ‘n verjaardagete van ‘n vriend in Constantia by te woon saam met hom. Ek nooi hom om Saterdagaand met my en my vriende uit te eet by ‘n knus plekkie in Kaapstad. So gaan ek mos nou met tyd die man al beter leer ken.

Kom Saterdagoggend by sy huis aan, om 11h00 op sy aandrang, sodat ons betyds vir die middagete kan wees. Hy is besig om gras te sny. Met die groetslag vertel hy my ek is nie geskik aangetrek vir die okkasie nie, ek kort ‘n das. Ek weier die das, en vra hom hoekom hy nog nie gereed is om te ry nie; dink hy ek het nie ‘n lewe nie? Hy vra of ek koffie wil hê, ek sê ja, en hy beduie my waar ek die ketel kan vind – hy wil ook hê. Terwyl hy stort, lees ek die koerant wat ek saamgebring het. Klaar gestort en aangetrek in das en baadjie, vra hy my waarom ek die koerant lees, want hy het my nou goed genoeg leer ken om te besef dat ek nie baie intelligent is nie, so ek moet die koerant eerder neersit en die dinkwerk in hierdie huishouding aan hom oorlaat. Ek besluit hier kom nog oorlog, maar sê niks.

Die middag verloop goed. Die advokaat is die enigste persoon by die geleentheid met ‘n das aan. Ek kuier heerlik met die mense by die partytjie en geniet die goeie kos en wyn wat in onbeperkte hoeveelhede bedien word. Hy drink vrugtesap en mineraalwater, want die wyn is nie na sy smaak nie, en hy kla die eend is te droog gebak. Verder praat hy nie juis met my nie, en ek nie met hom nie. Ek sien uit na vanaand: ek weet reeds dat hy nie my vriende gaan oorleef nie.

Om agtuur stop ek en my suster (dis nou my biologiese suster, met wie ek klaarkom soos die spreekwoordelike “house on fire”) saam met my beste vriend by die restaurant. Die advokaat is paraat ook daar. Hy het blykbaar vanoggend opgelet in die klas oor stiptelikheid. Ons stap in, Sus steek ‘n twakkie op. Die kelner kom beduie ons sit in Nie-Rook, en die advokaat raak senuweeagtig oor ons swak gedrag. Ek haal twee bottels ongeëtiketteerde wyn uit my wynsak, en sweet begin pêrel op die advokaat se voorkop. Vyf ander vriende van my arriveer. Die advokaat groet hulle bot, en doen geen moeite om deel te word van die geselskap nie.

Hy besluit dat om snedige aanmerkings te maak oor dit en dat, ten aanhore van die hele geselskap, sy bydrae sal wees. En wanneer daar ‘n effens geskokte stilte volg, noem hy terloops dat hy net ‘n grappie maak, en die ys is twyfelagtig gebreek. Maar my liewe suster besluit sy gaan hom gou uitsorteer, en begin dieselfde truuk met hom doen.

Sê die advokaat vir my: “Jy brom so binnensmonds soos iemand wat yl; ek verstaan nie wat jy sê nie.”

Kyk die hele tafel hom fronsend aan.

Sê die advokaat: “Ek maak net ‘n grappie.”

Sê my suster vir die advokaat: “Ek verstaan jy speel klavier, ek sien jy het sulke mooi hande.”

Sê die advokaat vir haar: “Ek wens ek kon aan iets dink waaroor ek jou ook kon komplimenteer.”

Sê my suster: “Ontspan, ek maak net ‘n grappie.”

Van daar af gaan die aand toe net afdraande. Ons groet na ‘n ewigheid buite die restaurant, en wens hom ‘n heerlike aand verder toe. Hy gluur ons aan of ons van ons sinne beroof is. My suster stel hom in kennis dat ons eintlik net ‘n grappie maak met die goeie wense.

Die advokaat het my daardie aand verlaat met skreeuende bande die nag in. Nooit het ek eers die kans gekry om hom te vra oor belangrike dinge soos sy voorkeure in politiek, rugby en boy bands nie.

So ja, dis terug na die tekenbord. Selfs ‘n spyskaart kan misleidend wees. Wie weet, dalk is “fun” en “cool” en doodgewoon lekker sedeloos bietjie minder gekompliseerd …




LitNet: 30 Augustus 2006

Stuur asseblief jou reaksie na gaylit@mweb.co.za. Meld die opskrif of nommer van die brief. Ons plaas dit graag onder "Menings van ons lesers".

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.