FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Undertow

Andrť Crous

Regisseur: David Gordon Green
Draaiboek: Joe Conway
Looptyd: 108 min
Spelers: Dermot Mulroney, Jamie Bell, Josh Lucas, Devon Alan

Naby die einde van Undertow kyk die 18-jarige Chris in die spieël. Die afgelope twee dekades was nie vir hom maklik nie, en onlangs het dinge net vererger. Hy moet sterk wees vir sy jonger broer se onthalwe, maar hy voel alleen en weet nie wat om volgende te doen nie. “I like the questions you ask yourself,” sê hy sonder om filosofies te klink.

Hierdie is net een meesterlik menslike sin uit ‘n film wat my gegryp het met die eerste en gelos het met die laaste toneel. Die film het insig in die menslike psige, situasies wat op unieke maniere verfilm word en dialoog wat jy nog nooit gehoor het nie, maar wat perfek pas.

Chris en Tim is die seuns van John Hunn. Dié gesin bly in die Suide van die VSA, waar die pa met enkele varke teel en (so hoor ons) by ‘n taksidermis werk. Tim eet vreemde goed en is gereeld siek, en Chris se konstante kwaadstreke lei vanuit die staanspoor – die wonderlike openingsekwens van die film – tot groot moeilikheid.

Eendag daag John se broer, Deel, onverwags by hulle op; hy het uit die tronk ontsnap, maar sê dit nie vir sy broer nie. ‘n Stuk familiegeskiedenis word opgediep, geheime word verklap, daar is ‘n geveg tussen die twee ouer broers en Chris en Tim moet op die vlug slaan.

Ek sukkel soms om films aan genres te koppel. Is dit die postmodernistiese tendens om van gevestigde strukture weg te breek, is dit die vervorming van genres, of is dit bloot die vervolmaking daarvan? Undertow is naturalisties in sy aanbieding, maar is nie ‘n tradisionele drama nie. Daar is bonatuurlike elemente wat ‘n belangrike rol speel, insluitende een van my gunsteling mitiese karakters: Charon, die bootman van die onderwêreld. Intussen het Tim se gedrag my herinner aan dié van die karakter Rebeca, ’n meisie wat net grond eet, in die magies-realistiese roman 100 Years of Solitude.

Die film het vele sogenaamde chase scenes en dit maak van die film in ‘n mate ‘n riller, waar twee karakters ‘n derde probeer ontduik. Maar rillers is nie so visueel bewus van die kleure van die menslike bestaan nie, nóg fokus hulle in so ‘n mate op die karakters soos die geval hier is.

Dermot Mulroney (Jack Nicholson se waterbedverkoopsman-skoonseun in About Schmidt) is die twee seuns se pa, en Josh Lucas is die oom wat skielik opdaag. Terwyl dié twee se spel byna foutloos is, is dit Jamie Bell wat ongetwyfeld die ster van die film is. Al herken jy nie sy naam nie, sal sy bekendste rol ‘n klokkie lui: Billy Elliot.

Sy rol as jeugoortreder in dié film plaas hom na vyf jaar weer op die sterrekaart. As die ouer en sterker broer lewer hy ‘n geloofwaardige en komplekse vertolking van Chris, ‘n plaasseun uit die Amerikaanse Suide wat nie deel voel van sy eie gesin nie. As ons die histrioniese oordrewenheid van vele ander kinderakteurs se spel in ag neem, is dié vertolking ‘n ligpunt.

Die drie groeperings van manlike figure in die storie verskaf regte diepte aan die karakters. Veral die verhouding tussen Chris (sterk en rebels) en Tim (jonger, sieker, swakker) is intiem, en wanneer Chris in een toneel sy siek broer teen hom vasdruk, is die beeld ryp met effektiewe emosie. Of as ons raaksien dat die plank waarmee Chris ‘n speelvliegtuig vir sy broer maak, dieselfde plank is waarop hy vroeër gebloei het.

Daar is twee tonele waar die twee broers om ‘n kampvuur sit – maar dié is geen kamp nie. Broederlikheid en ‘n spul ander suiwer menslike temas is ter sprake hier in ‘n film wat selfversekerd is en nie ‘n enkele vals noot speel nie.

Philip Glass, die minimalistiese komponis wat verantwoordelik was vir die klankbaan van die Qatsi-trilogie (Koyaanisqatsi, Powaqqatsi en Naqoyqatsi) en van The hours, se musiek is verrassend effektief: indringend dog sag saam met gewelddadige beelde.

Godsdiens, as kern van dié gedeelte van die Amerikaanse samelewing, speel ‘n rol maar word nie buitensporig uitgelig soos vele ander filmmakers sou doen nie. Enkele details word gewys – soos die kerktrio op televisie wat sing “Jesus walks beside me” – maar met die doel om ‘n realistiese representasie van die storie te gee.

Hierdie is ‘n uitsonderlike film. Die kamerawerk is visueel beeldskoon, en die storie produseer rou, ongerepte emosies wat nie altyd mooi is nie. Nog skaarser: dié film is een wat jou sal bybly. Ek waag om te sê dat die film nooit struikel nie. Die storie vloei stadig en sterk, en die stroom van die titel sleur die kyker mee op onverwagte wyse. Oorspronklik en uniek.





LitNet: 10 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.