FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mansfield Park (1999)

Coenraad Walters

Met: Frances O’Connor, Jonny Lee Miller, Embeth Davidtz, Alessandro Nivola, Harold Pinter, Sheila Gish, Hugh Bonneville
Draaiboek en regie: Patricia Rozema (gebaseer op die roman van Jane Austen)

Wat ’n heerlike komedie, met die nodige erns, sonder dat dit deurbrand, die misverstande, die interessante karakters en — natuurlik — die “verpligte” huwelik aan die einde. Gekoppel aan Jane Austen se fyn karakterisering en ironie, en ’n uitstekende uitbeelding van Engeland in 1806, word die hele ervaring ’n verfynde genot.

Ons het natuurlik al baie romans in bewegendeprentjie-vorm gesien, ook reeds ’n hele paar Austens: die bewierookte Sense and sensibility, Emma, ’n ou swart en wit Pride and prejudice (en sal ’n mens Clueless bytel as ’n gemoderniseerde Emma?)

Mansfield Park het ek egter ingekry as deel van die moedersmelk van Engels op universiteit. Dis glo Austen se donkerste roman, maar Fanny Price, die heldin, was blykbaar Austen se gunsteling, omdat karakter en skepper nie veel van mekaar verskil het nie. Rozema waag dit dus om buite die grense van die roman te beweeg, van Fanny ’n woordgevoelige en verbeeldingryke skryfster te maak en selfs een van Austen se jeugwerke (oor die geskiedenis van Engeland) aan Fanny toe te dig.

Fanny Price word brandarm groot. Haar ma se suster, Lady Bertram, reŽl dat die kind by hulle kom grootword. Mev Price het in haar toestand beland omdat sy haar hart gevolg het toe sy getrou het. Met ’n nuwe baba elke jaar is sy maar te bly om Fanny af te staan. Lady Bertram se ander suster, mev Norris, is getroud met die predikant wat op Mansfield Park woon. Wanneer hy sterf, ervaar sy dit nie as ’n groot verlies nie. Of lady Bertram gelukkig getroud is, wonder ’n mens: sy geniet haar daaglikse dosisse opium darem net te veel! Sir Thomas Bertram is baie goed vir Fanny en hy word die ware ouer in haar lewe.

Fanny se neefs en niggies beÔnvloed ook haar siening van die lewe en huweliksgeluk. Ouboet en erfgenaam Tom vergesel Sir Thomas na hul plase in Antigua en keer terug met ’n wrewel in sy pa gebaseer op sy afkeer van slawerny. Hierdie onderwerp word baie sterker aan die orde gestel as wat Austen dit kon doen; die ideologiese tyd waarin die rolprent gemaak is, maak hierdie versterkte fokus op slawerny nie alleen moontlik nie, maar byna verpligtend. Tom ontaard in ’n verkwistende dronklap; eers wanneer hy op die rand van die dood is, keer hy terug na sy ouerhuis.

Die oudste dogter, Maria, neem etlike swak besluite en verval in totale sosiale onguns: iets wat Fanny baie versigtig maak. Die ander dogter, Julia, se moontlikhede op huweliksgeluk word ook negatief beÔnvloed, maar herstel darem later!

Edmund, die jongste seun, is die ernstige Bertram-spruit. Hy en Fanny is van kleindag af maats, en as jongman sien hy homself as predikant. Soos die res van die familie, terwyl Sir Thomas nog oorsee is, word Edmund ook bekoor deur die sjarmante Henry en Mary Crawford. Fanny wys Henry as eggenoot af, want sy sien deur hom met haar feillose waarneming van karakter. Edmund bly nog lank betower deur die beeldskone Mary, tot sy haar hand totaal oorspeel.

Die uiteinde is presies wat ’n mens wil hÍ dit moet wees, selfs al is dit ’n antiklimaks. As ’n mens so edel en suiwer soos Fanny kan wees, sal die lewe jou tevrede stel, al lewer dit nie groot opwinding op nie.

Rozema se verwerking bly nie net daarin steek om bewegende prentjies aan die roman toe te voeg nie. ’n Interessante rolprenttegniek aan die slot bevestig aan die kyker dat hy / sy te doen het met ’n kunswerk in ’n ander genre, iets wat die pragtige inkleding en kinematografie reeds suggereer.

Ook die toneelspel maak Mansfield Park besonders. Frances O’Connor is ’n sjarmante Fanny, die lelike arm eendjie wat in bevoorregte omstandighede tot swaan ontluik. Jonny Lee Miller is feitlik ideaal as die skoongesig Edmund — kan dit die blondgebleikte Sickboy van Trainspotting wees?! As die betowerende, dog immorele, skarmunkels, Henry en Mary, lewer Allessandro Nivola en die Suid-Afrikaansgebore Embeth Davidtz skitterende ondersteunende spel. Een van die interessantste vertolkings is diť van die vermaarde dramaturg Harold Pinter in die rol van die strenge, morele Sir Thomas Bertram wat Fanny met soveel warmte in sy huis en sy hart ontvang.

’n Kaapse koerantresensent het ’n groot woord (“somniferous”) gebruik om te sÍ dat Mansfield Park ’n kyker aan die slaap maak. Ek kan nie meer daarvan verskil nie: hier het ons ’n klassieke roman in ’n knap verwerking wat uitstekend verfilm is. Mansfield Park is iets om nie te mis nie. Moenie wag tot dit iewers in die toekoms weer verfilm word nie!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.