FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The House of Sand and Fog

Suzette Myburgh

Gegrond op die roman deur André Dubus III
Spelers: Ben Kingsley, Jennifer Connelly, Shohreh Aghdashloo, Ron Eldard
Regisseur: Vadim Perelman
Vertoontyd: Vanaf 30 April

Lank laas het ek so ’n stewige drama op film gesien, eintlik ’n tragedie, in die klassieke sin van die woord. Hoe maklik is ’n huis nie op sand gebou nie, so vervlietend soos ’n miswolk kan ’n lewe wees.

Met die val van die Sjah van Iran vlug een van sy topbevelvoerders, kolonel Massoud Amir Behrani (Ben Kingsley), met sy gesin na Amerika. Uiterlik geniet hulle nog dieselfde weelderige lewenstyl as in hul vaderland, maar Behrani veg om alles bymekaar te hou deur bedags as ’n padarbeider en saans in ’n kafee te werk. Dan sien hy ’n koerantadvertensie vir ’n strandhuis wat op ’n munisipale veiling verkoop word en hy raap dit op vir ’n appel en ’n ei. Na sy vrou (Shohreh Aghdashloo) se aanvanklike onwilligheid om na ’n veel kleiner huis as hul duur huurhuis te trek, rig hulle dit sorgsaam in as hul tuiste — die tuiste waarna hulle al so lank smag.

Die huis het egter behoort aan Kathy Lazaro (Jennifer Connelly), ’n neurotiese, gekwelde Amerikaner wat ’n verlede van verslawing probeer oorkom. Haar man het haar agt maande gelede verlaat en sedertdien het haar lewe ongeveer inmekaargestort. Sy het nagelaat om ’n (foutiewe) belasting van vyfhonderd dollar te betaal, en voor sy vroeg een oggend haar oë kan uitvee, word sy uit haar huis gesit. Sy gaan klop aan vir regshulp, maar voor die proses nog behoorlik aan die gang is, het die Behrani’s klaar haar huis betrek. ’n Getroude polisieman raak betrokke by haar saak, en die toutrekkery om die huis eskaleer uiteindelik tot ’n volskaalse tragedie.

Binne die chronologiese verloop van die verhaal vind ’n meesterlike spel van parallelle plaas. Tydsverloop by Kathy en die Behrani’s word afwisselend weergegee, en die oorgange word slim gebind deur ooreenstemmende tonele. Afgesien van hierdie klein, persoonlike parallelle, raak die kyker mettertyd bewus van die groter parallelle: Behrani en Kathy wat beide die prooi geword het van hul onderskeie regerings, hy van politieke vervolging en sy van ’n burokratiese fout. Jy sien hoe mense se lewens van koers geslinger word deur buitefaktore, en hoe hulle dan binne daardie konteks besluite neem wat die rampspoed laat eskaleer en nóg mense betrek. Die een se dood raak die ander se brood raak die ander se dood, die nimmereindigende noodlotsirkel.

’n Ander aspek waarop hierdie film subtiele maar ysingwekkende kommentaar lewer (veral nou tydens Amerika se omstrede besetting van Irak), is die siening van buite (lees: Midde-Ooste) oor Amerika. Waar die Amerikaanse en Irannese karakters en die twee kulture teenoor mekaar gestel word, kom die Amerikaners die swakste daarvan af wat betref morele imbors. Wat glad nie beteken dat die Irannese vlekkeloos voorgestel word nie — vergelyk byvoorbeeld die kolonel se siening en hantering van vroue. Uiteindelik is regisseur Vadim Perelman se boodskap: alle mense is goed én boos, en afhangende van die omstandighede en hul vlak van bedreiging, sal hulle menslik of onmenslik optree.

Ben Kingsley se waardige, streng kolonel is ’n kragtoer — ’n Oscar vir hom sou nie onvanpas gewees het nie. Ook Shohreh Aghdashloo se benoeming as beste vroulike byspeler was welverdiend; ’n Oscar aan haar sou myns insiens baie sinvoller gewees het as Renée Zellweger se bekroning. Jennifer Connelly, wat reeds die goue beeldjie huis toe geneem het vir haar rol in A Beautiful Mind, was ook ’n benoeming as beste aktrise waardig, terwyl Ron Eldard stewige spel lewer as die polisie-offisier.

’n Spesiale pluimpie gaan aan die draaiboekskrywer wat André Dubus III se hoog aangeskrewe roman foutloos vir die grootskerm aangepas het.

Hierdie fliek is nie lighartige Vrydagaandvermaak nie, maar dis beslis die kyk werd.



LitNet: 02 April 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.