FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hamlet (2000)

Coenraad Walters

Met: Ethan Hawke, Kyle MacLachlan, Sam Shepard, Diane Venora, Bill Murray, Live Schreiber, Julia Stiles, Karl Geary
Draaiboek en regie: Michael Almereyda

Ons held Willem Wikkelspies sou vandag ’n ryk man kon wees, selfs al sou hy net een toneelstuk geskryf het. ’n Soektog na “Hamlet” in die Internet Movie Database lewer 74 titels op, waarvan veertig bloot “Hamlet” as titel het. Die vroegste is Clťment Maurice se stilprent van 1900 met die befaamde Sarah Bernardt as Hamlet. Een van die beroemdstes is sekerlik die 1948 weergawe met Laurence Olivier as regisseur en ster, en Jean Simmons as Ophelia. In die afgelope dekade alleen was daar reeds Zeffirelli se prent (1990) met Gibson as die huiwerige Deen en Glenn Close as sy ma, asook Kenneth Branagh se ellelange prent met briljante oomblikke en vindingryke rolverdeling, wat ongelukkig nie tot ’n geheel kon kom nie. Campbell Scott regisseer ’n Hamlet wat tans in produksie is en aanstaande jaar uitgereik word. Benewens ’n hele aantal televisierolprente is daar ook geanimeerde weergawes, en so lank gelede as 1967 was daar al A gay Hamlet.

’n Mens wil dus amper vra: waarom nog ’n verfilmde Hamlet? Kyk jy egter na die reeks gemoderniseerde Shakespeare stukke wat die afgelope paar jaar by Hollywood uitgestroom het, soos Romeo + Juliet, Richard III en die onlangse Titus, is dit egter nie vreemd nie dat regisseur en draaiboekskrywer Almereyda wou sien wat van Hamlet word as hy in die jaar 2000 in New York gekonfronteer word met die probleem waarmee hy reeds vierhonderd jaar gelede gekonfronteer is. Die koning word ’n invloedryke sakeman; die vyand Fortinbras iemand wat die maatskappy met ’n vyandige oorname bedreig; en Ophelia deel foto’s uit in plek van vars kruie.

Hierdie fliekvlooi is lief vir spitsvondige verwerkings van ou materiaal. Romeo + Juliet was byvoorbeeld baie opwindend, glad nie ’n diep-ontroerende tragedie nie, maar baie interessant; en die lading van ’n bekende reŽl soos “My kingdom for a horse” deur die visuele aanbod van die moderne Richard III het bygedra tot die effektiwiteit daarvan. Almereyda se Hamlet laat egter die indruk dat slim sy baas gevang het.

Die kontras tussen die situasie waarin Hamlet en sy familie hul bevind en die oorspronklike Shakespeare-dialoog wil net nie heeltemal oortuig nie, sodat ’n mens wonder of daar nie ’n groter uitdaging sou wees nie: om ’n draaiboek in moderne Engels te skep wat net so meevoerend as die oorspronklike sou wees. Dit is wel so dat die verhaal ontroer ten spyte van die irritasies, danksy Shakespeare se eeue-oue wysheid.

Die ooreenskuif van paradigmas (Shakespeare se Elsinore en hedendaagse New York) laat sekere diskrepansies ontstaan wat te hoŽ eise aan die kyker stel. Selfs in Branagh se gekose era oortuig die spook: die manier waarop die spook probleemloos aanvaar word in Almereyda se weergawe oortuig hierdie kyker glad nie. Of pas dit juis in ’n “New Age” waarin buitengewone spirituele en metafisiese ervarings nuwe geloofwaardigheid geniet? (Terselfdertyd: wat sou Andrť P. Brink se Donkermaan gewees het sonder Antje van Bengale?)

Benewens die probleem om “disbelief” te “suspend”, lÍ daar in die spel ook groot irritasies. Ethan Hawke kom nie heeltemal die mas op as die verskeurde Hamlet nie: hy is net te slap. Of beteken dit eintlik dat hy dus wel slaag? Karl Geary as Horatio is totaal uit sy diepte uit — ’n verleentheid, veral as ’n mens sy gevleuelde groet aan die slotwoorde met Hamlet se dood ken. Enkele akteurs doen wel goeie werk: halfpad deur die prent word Kyle MacLachlan ’n wonderlik bose en listige Claudius, en Bill Murray is (vir die inslag wat hier gevolg word) ’n ideale Polonius.

Die verwerking van die dramateks tot draaiboek kom soms voor as plundering, veral wanneer bekende aanhalings (moontlik doelbewus?) net deels gebruik word. Die beste voorbeeld hier is seker Polonius se raad aan Laertes: “ Neither a borrower nor a lender be,/ For loan oft loses both itself and friend, Ö” Waar is die rymende en voltooiende “ Ö And borrowing dulls the edge of husbandry.” ?!? Of verteenwoordig ek nou die pynlike puriste?

Enkele elemente wat spitsvondig uitgebuit is in Baz Luhrman se onlangse Romeo + Juliet, veral die gebruik van moderne tegnologie, word hier weer ingespan, soms met goeie gevolge. ’n Deel van Hamlet se onderhoud met Gertrude vind telefonies plaas; fakse vervang boodskappers; Rosencrantz en Guildenstern se boodskap aan die Engelse koning is op ’n starskyf. Hamlet is ’n filmstudent wat kyk na opnames van homself besig om van sy beroemde monoloŽ te lewer. Die beste fonds is die “play within the play”: Hamlet stel ’n video saam van uittreksels uit ou rolprente en spesiale animasie om die mimiek van die toneelgroep te vervang. In vroeŽ tonele is daar dikwels televisiestelle aan ‘t speel, en die beeldmateriaal is gewoonlik van groot ontploffings. Wanneer Hamlet in ’n videowinkel ronddwaal en vra of hy moet wees of nie, is die enigste titel wat ’n mens duidelik raaksien, “Deep impact” — duidelik bewustelik bedink. Wanneer Hamlet praat oor die akteur wat sy verbeelde emosie toon terwyl Hamlet dit nie self kan regkry nie, sien ons James Dean op sy skerm; later sien ons Laurence Olivier aan ‘t gesels met Yorick se skedel.

Daar is dus goeie dinge in die prent, en heelwat slimmighede. Ten spyte daarvan voel ’n mens bedroŽ as jy by die teater uitstap. Vir ’n werklik intelligente herinterpretasie van Hamlet, gaan soek Tom Stoppard se rolprentweergawe van sy briljante verhoogstuk Rosencrantz and Guildenstern are dead. Of hoop en bid dat iemand soos Antonia Bird of Jane Campion die Nieu Seelanse dramaturg Jean Betts se toneelstuk Ophelia thinks harder in die hande kry. Dan sal die vonke rondom Hamlet weer spat.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.