FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

My big fat Greek wedding

Suzette Kotzé

Spelers: Nia Vardalos, John Corbett, Michael Constantine, Andrea Martin, Joey Fatone
Regisseur: Joel Zwick

Daar word orals groot gewag gemaak van My big fat Greek wedding, die nuutste “indie”-fliek wat loketrekords laat spat, maar vermoed mens die teenwoordigheid van daardie groteske monster, die Hollywood-reklamemasjien?

Dat Hollywood vir dekades al flieks op die mark sit wat meer bek as binnegoed is, is ou nuus, maar gewoonlik was hierdie soort hype beperk tot die groot name in die hoofstroomkategorie. Nou, lyk dit my, het die reklamemonster ook die sogenaamde kunsfliekgenre met skubberige modderpote betree — à la Jurassic Park, terwyl ons nou met groot metafore werk.

Dis ’n tendens wat ek die eerste keer bemerk het met verlede jaar se Chocolat, ’n pragtige fliek, ja, maar tog op die tjoklitboks-manier, blinkglad in sellofaan verpak vir die kommersiële mark. Hierdie jaar was dit Amélie, nogmaals ’n fliek wat ek baie geniet het, maar weens al die hype vooraf het ek soveel meer verwag. Dieselfde storie met Bend it like Beckham. Dis kunsflieks, ja, dis flieks wat ek algar geniet het … maar dit was niks werklik besonders nie. Kortom, dit was middelmoot, veerligte Vrydagaandvermaak. Ek meen my gevoel van teleurstelling is veroorsaak deur genoemde reklamemasjien — wat my wysgemaak het elk van hierdie flieks gaan “my lewe verander”, soos Amélie se lokreël dit gestel het. Wat presies is wat ’n goeie kunsfliek behoort te doen, en wat presies is wat nie een van hierdie flieks vir my gedoen het nie.

Dus, My big fat Greek wedding: dis vermaaklik, dis prettig, die dialoog is pittig en snaaks … maar ek het dit al alles tevore gesien. Die lelike eendjie (in hierdie geval ’n werklike oujongnooi in elke opsig van die woord!) raak verlief op ’n man “uit ’n ander nasie”, ontluik in ’n swaan, word deur die held gevra om haar hand, en dan word die verliefdes gestuit deur haar konserwatiewe en afkeurende pa. Daar is die raserige en verknoopte uitgebreide familie, die Griekse moeder se beheptheid met kos, die Griekse moeder én vader se beheptheid met kleinkindertjies van suiwer Griekse afkoms, die bekrompenheid en chauvinisme van ’n sterk patriargale gesinsopset (alles onder die naam van liefde vir wat “syne” is, natuurlik), en die knoeiende matriarg agter die patriarg wat éintlik dinge beheer (’n oorbekende scenario vir Afrikaners, en sielkundig ’n ongesonde een).

My grootste beswaar teen die fliek, behalwe dat dit nie regtig die ophef werd is nie, is dat die spanningslyn so flou is. Van die oomblik dat die verliefdes besluit om te trou, verloop alles verskriklik voorspelbaar — vergelyk dit byvoorbeeld met Bend it like Beckham, waar jy tot op die einde naels kou oor of die held en heldin se liefde gaan uitwerk. Die pa se teenstand is eintlik maar ongemotiveer en tandeloos, en die nie-Griekse bruidegom se uiteindelike aanvaarding deur middel van die geykte beeld van “ons is appels en pere, maar ons is almal vrugte” is regaf soetsappig.

Vir my gevoel probeer die fliek te hard om hartlik en gemoedelik te wees — om te wys hoe ’n hartlike en gemoedelike nasie die miskende Grieke, afstammelinge van die grootste Westerse kultuur, in werklikheid is? Iets soos: kyk, ons is net so heethoofdig en tradisievas en hou net sulke lekker familiepaarties soos daardie Italianers en Franse?

Genoeg kritiek. Nia Vardalos, draaiboekskrywer én die hoofkarakter Toula, is ’n plesier en ’n vars bries in die filmwêreld — die gemiddelde vrou op straat het beter “looks” as sy! En daar is ’n lekker vonk tussen haar en John Corbett (die karakter Chris in daardie wonderlike TV-reeks Northern Exposure en meer onlangs Carrie se minnaar in Sex and the city), wat ’n stewige vertolking lewer as haar minnaar, Ian.

My slotsom: dis ’n gawe fliek, gaan kyk gerus, maar moenie te veel verwag nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.