FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

FilmFundi word geborg deur
Cinema Nouveau

Festen - The celebration

Met: Ulrich Thomsen, Henning Moritzen, Thomas Bo Larsen, Paprika Steen, Birthe Neumann, en ander
Draaiboek: Mogens Rukov en Thomas Vinterberg

    Alle gelukkige families is eenders; ’n ongelukkige familie is ongelukkig op sy eie manier - Leo Tolstoy: Anna Karenina

As Festen ’n akkurate aanduiding is van die kwaliteit wat van Dogme 95 prente verwag kan word, maak ek my reg vir ’n groot fees.

Dit is vir die kyker geensins ’n maklike rolprent nie. Die basiese verhaalgegewens spreek vanself. Helge (Henning Moritzen) se familie trek saam om sy sestigste verjaardag te vier. Sy oudste seun Christian (Ulrich Thomsen) maak ’n toespraak waarin hy verwys na die dood van sy tweelingsuster en na die voortdurende seksuele molestering wat hul pa op die tweeling afgedwing het.

Die geselskap probeer die spanning ignoreer en Christian vertrek. Hy word egter omgepraat deur die kok (wat saam met hom grootgeword het - Bjarne Henriksen) om sy pa te konfronteer en nie weer weg te hardloop nie. Sy pa ontken egter skuld.

Terug in die eetsaal vra Christian om verskoning en stel dan ’n heildronk op sy pa in as moordenaar van sy suster. Die gaste probeer vlug, maar die kok het hul motorsleutels laat steel en hulle is gevange in die plattelandse landgoed. Hulle moet nou maar die beste van ’n slegte saak maak en die ete word voortgesit.

Helge se vrou (Birthe Neumann) maak ’n toespraak, praat met elkeen van haar kinders en beveel Christiaan om sy pa om verskoning te vra. Sy reaksie is om haar te beskuldig dat sy van alles geweet het. Hierop word hy hardhandig deur sy jonger broer, Michael (Thomas Bo Larsen), uit die huis gegooi.

Hy kom egter terug, onderbreek sy ouma se volksliedjie omtrent ’n plattelandse idille, probeer verder praat, maar word di keer in ’n woud vasgebind. Hiervan ontsnap hy ook, en bewerkstellig dan dat sy suster Helene (Paprika Steen) ’n brief voorlees wat die oorlede suster voor haar selfmoord in die huis versteek het. Christian se beskuldigings word in di brief bevestig.

Hierna val die fees uiteen. ’n Hoogs gekoringde Michael rand sy pa aan en sweer dat hy nooit weer sy kleinkinders sal sien nie.

Die volgende oggend aan ontbyttafel (ek sal nooit weer kan aanhoor hoe iemand teen ’n glas tik om aandag aan etenstafel te verkry nie!) is dit duidelik dat, hoewel alles uiterlik kalm en eenders lyk, die familieverhoudinge onherstelbaar verander het.

Aangesien Festen die eerste Dogme 95 film is, val sekere tegniese aspekte op. Die sertifikaat wat Festen as egte Dogme film verklaar, word aan die begin op die skerm vertoon. Die rolprent is deurgaans verfilm met ’n handkamera, in natuurlike lig, en in ruimtes waar die verhaal sou kon afspeel. Geen terugflitse, spesiale effekte, klankbaanmusiek of kunsmatige aksie (soos ’n moord) word gebruik nie. En die regisseur word verswyg (moenie vir iemand vertel nie, maar dis die tweede skrywer wat hierbo genoem word!).

Die groot gedagte agter Dogme 95 is om kunsmatigheid uit rolprente te weer sodat ’n sterk verhaal vertel kan word, en sterk, oortuigende karakters op ’n natuurlike manier kan skouers skuur en ontwikkel. Of die teoretiese soeke na waarheid in rolprente in die plek van illusies geldig of oudmodies is, en of die tegniese vereistes werklik nuut is, of nie, dit maak byna nie saak nie: die verhaal wat hier vertel word, is so meesleurend en oortuigend dat ’n mens eintlik niks van Dogme hoef te weet om Festen te waardeer nie (ek s doelbewus nie “geniet” nie!). En inderwaarheid word een stel rolprentkonvensies vervang met ’n ander.

Daar is al beswaar gemaak teen die naewe strewe na “waarheid” deur die Dogme groep. Inderdaad is enige kunsvorm ’n poging om elemente van die werklikheid voor te stel of uit te beeld. Dit kan nie die werklikheid / waarheid self wees nie. Veral nie in hierdie verhaal nie, hoewel die strewe na waarheid omtrent Christian en Linda se kinderjare die ruggraat van die prent vorm.

Die uitstekende spel van al die akteurs (veral Ulrich Thomsen as die verskeurde Christian wat uiteindelik die waarheid openbaar maak en sy lewe in orde probeer kry) vind baat by die onopgesmukte filmtegniek. Daar is slegs enkele skote waarin die kyker verwar kan word, omdat die akteurs so naby aan die kamera beweeg dat dit nie duidelik is wat gesien moet word nie. Daar is wel enkele skote wat ek nie in ’n Dogme prent verwag het nie: die stukkie stadige aksie wanneer Helene haar oorlede suster aanvoel in die kamer waar sy dood is; die blik vanuit die binnekant van die pilhouer waarin Helene die selfmoordbrief wegsteek. ’n Mens is egter dankbaar dat jy (en kinderakteurs wat gekies sou kon word) realistiese terugflitse gespaar bly. Dis in elk geval onnodig: die wonderlik subtiele uitbeelding van die interaksie tussen die familielede spreek boekdele en geen voorhamerhoue word vereis nie.

Tereg staan hierdie prent tans op nr. 94 van die Internet Movie Database (www.imdb.com) se top 250 rolprente. Die kyker het hare op die tande nodig om te kyk na hierdie “tuisvideo” van ’n grondig ongelukkige gesin. Maar vir die ernstige rolprentganger is en bly Festen ’n fees.

boontoe


NOT FOUND