FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Elizabethtown

Andrť Crous

Hierdie film word op 23 Desember vrygestel.
Regisseur: Cameron Crowe
Draaiboek geskryf deur: Cameron Crowe
Looptyd: 123 min
Ouerbegeleiding-13
Rolverdeling: Orlando Bloom, Kirsten Dunst, Susan Sarandon, Alec Baldwin.

Ons kan nog flieks toe gaan om ons te geniet. Cameron Crowe, wat die wonderlike Almost Famous geregisseer het, is terug met nog 'n wenner.

Elizabethtown is die naam van die nuwe fliek en die naam van die dorpie in Kentucky waar die grootste gedeelte van die fliek afspeel. Die hoofrol word vertolk deur Orlando Bloom. Vir Bloom is die rol 'n belangrike stap: dit is die eerste keer dat hy 'n Amerikaanse karakter vertolk, en dus 'n Amerikaanse aksent moet aanleer; dit is ook sy eerste film wat in die hede afspeel.

Sy karakter, Drew Baylor, is verantwoordelik vir 'n verlies van $972 miljoen nadat die skoen wat hy ontwerp het (die Spasmodica), op skouspelagtige wyse flop. Die besonderhede is duister, maar ons word ingetrek deur die absurde enormiteit, en simpatiseer byna van die eerste oomblik af met Drew.

Hy word afgedank, en wanneer hy op die punt staan om selfmoord te pleeg, bel sy suster met die nuus dat sy pa dood is terwyl hy familie in Kentucky besoek. Dis nie 'n goeie dag nie. Drew vlieg na Kentucky om reŽlings te tref vir die begrafnis, en ontmoet Claire (Kirsten Dunst), 'n lugwaardin, op die vlug.

Terwyl Dunst se karakter in haar eerste toneel onnodig aggressief en irriterend oorkom, raak 'n telefoongesprek die volgende aand uiteindelik "diť" gesprek wat alles verander. Dit begin as chaos, volg 'n sterk, interessante lyn, en eindig in salige kalmte.

Die film is 'n mengsel van begrafnisreŽlings, familiefiasko's en darem ook die ongedefinieerde verhouding tussen Drew en Claire. Ek het gevoel die romanse is die beste deel van die fliek en moes 'n veel groter rol gespeel het. Selfs al is dit by tye melodramaties en voorspelbaar, is dit tog opwindend om jou die moontlikheid daarvan in te dink.

Op die ou end staan die storie met die skoen en die $1 miljard-verlies en die pa se begrafnis en die familie-reŁnie en die huwelikspaartjie "Chuck & Cindy" in Drew se vyfsterhotel alles sekondÍr tot die romanse, en kan dit eintlik weggesny word sonder groot reperkussies.

Drew se aankoms in Elizabethtown is 'n verbasend goeie toneel, realisties of te nie: hy word ingewag deur die hele dorp en om elke draai die pad aangewys na die familiehuis.

Ek moet erken dat Orlando Bloom my verras het. Ek het hom as akteur afgeskryf na sy verskyning in Troy, maar as 'n hedendaagse yuppie kry hy nogal heelwat gevoel oor. Sy aksent is ver van perfek, maar dit is duidelik dat hy ten minste die betekenis agter die woorde begryp. En dit is wonderlik om hom vir 'n verandering te sien lag.

Soos 'n goeie vriendin tereg uitgewys het, trek Orlando Bloom se flieks twee groot groepe kykers - tienermeisies en gay mans - en Elizabethtown sal sekerlik geen uitsondering wees nie. Maar anders as in die onlangse historiese pogings Troy en Kingdom of heaven, verdwyn Bloom nie tussen die welige dekor nie, en sy gesig verander dikwels genoeg van uitdrukking om ons geÔnteresseerd te hou.

Kirsten Dunst was nie 'n vanselfsprekende keuse vir die fliek nie (sy steek maar sleg af teen 'n akteur so mooi soos Orlando Bloom), maar haar energie en selfvertroue wen ons en Drew se harte, ten spyte van daardie lastige eerste verskyning van haar.

Susan Sarandon, as Drew se ma, neem die film op horings en lewer 'n bydrae wat positief ťn negatief beskou kan word. Sy oorheers elke toneel waarin sy verskyn, en haar toespraak by die gedenkdiens is een van die hoogtepunte van die film. Sarandon se dramatiese gewig is egter so swaar dat die res van die rolverdeling wegkwyn in haar teenwoordigheid.

Crowe, wat in sy jonger dae 'n verslaggewer vir Rolling Stone was, haak heeltemal uit met die klankbaan. Hy moes waarskynlik die helfte van sy begroting op musiekregte spandeer het, want ons kry elke dertig sekondes 'n ander snit. Dit is asof die klankbaan op 'n trip is en die rare oomblikke sonder musiek skreeu in hul stilswye - dit behoort nie die geval te wees nie.

Die laaste deel van die fliek, wat bestaan uit 'n road trip, is nog 'n uiters geslaagde sekwens. Emosionele katarsis word bereik sonder melodrama, en intussen word Drew nader getrek aan die twee belangrikste figure in sy lewe.

'n Verdere rede vir die sukses van hierdie gedeelte is die wonderwerk van die liefde: die idee dat iemand sy/haar alles gee om iemand anders 'n unieke ervaring te gee, iemand wat hierdie moeite raaksien en waardeer. As jy daardie persoon kan vind wat jou ernstig opneem, jou respekteer, nie deur jou quirks afgesit word nie, en oplet dat jy opofferings met 'n glimlag op jou gesig maak, dan is jy werklik gelukkig.

Crowe se film is nie vreeslik ernstig oor enigiets nie. Ernstige gesprekke word vermy, en enige ongemaklikhede word weggeskryf met toneelveranderings. Die tonele is egter propvol kreatiwiteit en energie wat ons deurgaans laat glimlag. 'n Toneel waar Orlando Bloom op sy eie in die woud dans, is 'n absolute thrill.

Hierdie is een van die beste romantiese komedies van die jaar, want die romanse is wonderlik optimisties en die komedie is diť keer regtig snaaks.



LitNet: 13 Desember 2005

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.