FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Chuck and Buck (2000)

Coenraad Walters

Met: Mike White (Buck); Chris Weitz (Chuck); Lupe Ontiveros (Beverly Franco)
Draaiboek: Mike White
Regie: Miguel Arteta

Chuck en Buck was in hul kinderjare beste maats. Béste maats. Maar, toe hulle elf was, het Chuck se gesin verhuis, en hulle het kontak verloor. Chuck het intussen Charlie geword, die loopbaan van ’n belangrike musiekprodusent opgebou en is verloof aan ’n pragtige vrou.

Buck het by sy ma gebly na sy pa se dood, en haar versorg tot sy ook gesterf het. Hoeveel hy vir haar kon sorg, weet ons nie werklik nie, want Buck se ontwikkeling het min of meer vasgesteek toe Chuck weg is.

By die begrafnis sien hulle mekaar weer, en Chuck/Charlie maak vae beloftes van ’n kuier by sy huis in Los Angeles. Buck neem hom ernstig op, verkoop alles wat hy nie in sy ou stasiewa kan pas nie, en ry na die groot stad toe waar hy in ’n motelkamer intrek.

Sy pogings om die vriendskap met Chuck te hervat loop egter op die een teleurstelling en mislukking na die ander uit. Die kyker kom agter dat Charlie van iets af wegvlug, terwyl Buck na iets toe probeer beweeg. Albei se “reise” word egter belemmer, en ’n vorm van “closure” of afsluiting is nodig voordat albei werklik sal kan aanbeweeg.

Charlie se bruuske pogings om Buck te ignoreer en van hom ontslae te raak is ongemaklik om te aanskou. ’n Mens kry die arme, naïewe Buck jammer, want hy kry in sy diepste wese seer. Hy probeer uiting gee aan sy gevoelens oor die situasie deur ’n toneelstuk te skryf (dit alleen is effens vergesog) en dit dan vir een aand opgevoer te kry in die teater reg oorkant Charlie se kantoorblok (“Only in Los Angeles…”) Die eenvoudige manier waarop hy die repetisieproses benader blyk veral duidelik as hy aandring op ’n besonder vrot akteur om die Chuck rol in die stuk te speel. Die vrou wat as regisseur optree, Beverly Franco, word voorgestel as een van die engele waarna die stad vernoem is: sy hanteer die teks met groot piëteit en probeer die beste daaruit, asook uit die akteurs, haal, terwyl sy die krisisse ook moet hanteer. (Lupe Ontiveros het by ’n Amerikaanse rolprentfees ’n toekenning vir haar spel ontvang — deeglik verdiend!)

Buck slaag daarin om Charlie en sy verloofde na die stuk toe te laat kom, maar die aard daarvan dryf Charlie net verder weg. Sy verloofde voel al hoe sterker sy weersin in Buck aan en probeer verstaan waarom dit so is. Eers wanneer Buck een aand ongenooid by hulle huis opdaag en hy direk vir Chuck sê na watter kinderspeletjies hy verlang, begryp die kyker werklik waarvoor Charlie vlug.

Charlie se “closure” kom wanneer hy ophou om Buck te vermy en een aand saam met hom deurbring. Buck se “closure” kom eers heelwat later, wanneer hy kan aanvaar dat Charlie se lewe verander het, dat daar ander mense in Buck se lewe kan wees wat ’n rol speel, en dat hy die sosiale spel korrek moet (kan) speel om nie mense weg te dryf nie.

Hoewel die verhaal soms effens seurderig word, wek dit heelwat deernis vir die karakters, veral vir Buck. Draaiboekskrywer White skitter as die “onskuldige” kind-man wat volwassenheid noodgedwonge moet verwerf; daarenteen is Weitz as Charlie/Chuck feitlik net so houterig as die akteur wat hom op die verhoog voorstel.

Ten spyte van hierdie voorbehoude vertel Chuck and Buck ’n boeiende verhaal. Hierdie prent word ook na afloop van die Gay en Lesbiese filmfees in kunsteaters vrygestel, en kan weens die andersoortigheid daarvan aanbeveel word.

* Lesers wat meer wil weet omtrent die Gay en Lesbiese Filmfees, veral oor hoe om die voortbestaan daarvan te verseker, kan gerus die organiseerders Out in Africa se webblad (www.oia.co.za) besoek.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.