FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The dangerous lives of Altar Boys

Coenraad Walters

Met: Emile Hirsch; Kieran Culkin; Vincent D’Onofrio; Jena Malone; Jake Richardson; Tyler Long; Jodie Foster.
Draaiboek: Jeff Stockwell, gebaseer op Chris Fuhrman se roman.
Regie: Peter Care.

Kollega Kathy (ons hou skool) vertel onlangs ’n argument wat so reaksionêr is dat dit sekerlik vele mense die harnas sal injaag. Seuns word - aldus dié teorie - verkeerd grootgemaak. Hulle word allerhande dinge geleer wat teen hulle natuur is. Ons leer hulle geweld is verkeerd, ons hok hulle in, en ons ontneem hulle die kans om deur middel van fisieke aktiwiteit van hul frustrasies en kreatiwiteit ontslae te raak. Sport is nou goed en wel, maar tog ook té beheerd en beperk. Seuns behoort in die veld te speel, diere te jag en ’n oorlog te hê om na uit te sien. (Het pres Bush dié argument dalk ter harte geneem?!) Hulle moet ook toegelaat word om hul onderonsies uit te werk op hul eie manier, selfs al is stoei en boks dan nodig. Hierdie teorie lewer negatiewe kommentaar op die ontwikkeling van ons beskawing.

Hoe ’n mens nou ook al reageer op dié argument, The dangerous lives of Altar Boys lyk asof dit dié teorie gelyk gee. Die groep seuns wat ons leer ken, met Francis Doyle (Hirsch) en Tim Sullivan (Culkin) as die fokuskarakters, en Wade Scalisi (Richardson) en Joey Anderson (Long) as hul maats, kom in opstand teen die streng dissipline van die Katolieke skool waarheen hulle gaan. Veral die ingeperkte visie van suster Assumpta (Foster) lok sterk reaksie by hulle uit. Dit lyk asof vader Casey (d’Onofrio) hulle beter begryp, maar die vrome suster hou hom ook maar in toom.

Die seuns reageer veral op twee maniere op die gesag. Enersyds werk hulle saam ’n super hero cartoon uit waarin hulle vier saam met Margie Flynn (Malone) die superhelde is wat die wêreld moet red van die bose nonne op motorfietse. Hierdie cartoon word in die rolprent aangebied as stukkies animasie, en die manier waarop die seuns se sielkundige interpretasie van gebeure daarin uitgebeeld word, is ontroerend.

Andersyds, deels weens hul opstand, deels weens hul verveling, bedink hulle projekte wat neerkom op kattekwaad. Die openingstoneel beeld ’n hoogs oorspronklike en baie gevaarlike driehoeksmetingoefening uit. Hulle bedink ook twee diefstalle, die een ’n soort kleedrepetisie vir die ander. Die tweede diefstal lei tot die groot tragedie van die verhaal.

Hierdie prent het my herinner aan die Spaanse Krampak en die Mexikaanse Y tu mamá también wat verlede jaar hier gedraai het: albei prente handel oor pare seunsmaats wat saam die aanslae van grootword moet hanteer. Francis en Tim is heelwat jonger as Nico en Dani van Krampak, en nog jonger as Tenoch en Julio van Mama, en daarom is die seksuele aspek van hul lewens nog nie so ontwikkel nie. Francis ervaar egter iets daarvan in sy belangstelling in Margie en die ontstellende geheim wat sy met hom deel. Hierdie geheim plaas druk op hom wat hy nie werklik behoort te dra nie - of móét hy, volgens bostaande teorie oor seuns grootmaak? Probeer óns nie ook baie angstig (en tevergeefs!) om ons kinders teen die Feite van die Lewe te beskerm nie?

Let op na hoe Blake se visuele kuns die seuns beïnvloed (hou Red dragon in gedagte!).

Nog iets wat my aan ander prente laat dink het, is die voorlesing van ’n Blake-gedig. Dit herinner aan die Auden-vers in Four weddings and a funeral en die komplekse voorlesing van ’n gedig in Love and death on Long Island.

Ek het The dangerous lives of Altar Boys onderhoudend en interessant gevind, veral as ’n soort Amerikaanse “aanvulling” van die twee genoemde Spaanstalige prente. Ander kommentators was teleurgesteld daarin: daar word beweer dat dit nie voldoen aan die verwagtinge wat dit skep nie. Ek voel egter dat die uitbeelding van rebellie en kreatiwiteit oortuigend is. Dit maak ook ’n belangrike stelling oor hoe volwassenes daarin misluk om hul besorgdheid oor die leerlinge waarvoor hulle verantwoordelik is, as deernis oor te dra. Ook die rol wat ouers speel in die grootword van hul seuns word terloops bekyk: dit lyk asof hulle geensins betrokke is nie! Die prent bied dus baie ouers en onderwysers stof tot nadenke. Sou hierdie seuns se optrede verkeerd gewees het as dit nie tot ’n tragedie gelei het nie?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.