FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The five senses

Suzette Kotzť

Spelers: Mary-Louise Parker, Philippe Volter, Gabrielle Rose, Molly Parker, Marco Leonardi, Daniel MacIvor, Brendon Fletcher
Regisseur: Jeremy Podeswa

In die afgelope dekade het films oor die “toevallige” vervlegting van verskillende karakters se lewens nogal algemeen geword. Daar was Robert Altman se Short Cuts, en meer onlangs Magnolia, om maar twee van die grotes te noem. Net in vanjaar se fliekaanbod was daar Things you can tell just by looking at her en Code Unknown met hierdie tema.
The five senses, wat van dieselfde struktuur gebruik maak, bied dus geensins iets nuuts nie. Tog gebruik hierdie Kanadese film ’n interessante invalshoek: die mens se vyf sintuie van hoor, sien, proe, ruik en voel/aanraak.
       In ’n tipiese stadsmilieu, ’n groot woonstelblok waarin wonings sowel as werksplekke ingerig is, ontmoet ’n aantal uiteenlopende karakters. Daar is die jong vrou, Rona, wat kunstige verjaardagkoeke skep — maar hulle smaak nie so waffers nie. Tydens ’n vakansie in ItaliŽ het sy ’n vuurwarm romanse aangeknoop, maar nou wil die Italianer, Roberto, kom kuier (moontlik met ’n eenrigting-vliegkaartjie) en sy weet nie wat om te doen nie. Haar gay vriend, Robert, wat ’n skoonmaakdiens aan superrykes lewer, het ’n obsessie met reuk (hy glo mens kan liefde aan ’n ander ruik) en is verlief op sy getroude werkgewer wat parfuum bemark. Langs Rona praktiseer dr. Jacob, ’n Franse oogkundige wat versot is op musiek, maar hy is besig om doof te word.
       Aan die ander kant van dr. Jacob se kantoor het die weduwee Ruth, ’n aromaterapeut, haar huispraktyk. Haar tienerdogter, Rachel, moet ’n kliŽnt se driejarige dogtertjie na die park aan die oorkant neem, en wanneer sy die kind, Amy Lee, laat wegraak, blyk dit hoe al die karakters tot ’n mindere of meerdere mate aan mekaar verbind is.
Deur van die kyker te weerhou wat van Amy Lee geword het, skep die regisseur op ’n vernuftige wyse spanning: die ander karakters se stories word tydens die drie dae van die soektog broksgewyse bo-oor en rondom haar vertel, en hul paaie kruis ook letterlik met die plek waar Amy Lee laaste gesien is, maar die kyker word deurentyd aan die raai gehou: lewe sy nog, of is sy dood?
       Die tema van ouer en kind, veral ma en dogter, is dan ook ’n belangrike een: Amy Lee en haar ma, ’n onderwyseres; Rona en haar ma, wat sterwend is aan kanker; Ruth en haar “probleemkind” Rachel; die geskeide dr. Jacob se verlange na sy dogtertjie in Frankryk; die prostituut wat hom besoek se verwysing na haar eie dogter.
       Simboliek word slim gebruik in die film, en parallelle ťn teenstellings is oral teenwoordig: dr. Jacob en Robert het beide ’n lys persoonlike take wat hulle wil afhandel; die uitbundige Roberto aan die kook in Rona se woonstel is heeltemal die teenoorgestelde van die kliniese ontwerperswoonstel van Robert se ryk werkgewers, om maar enkeles te noem.
       Ook ironie word ingespan: hoewel Rona en Roberto al hul sintuie tot hul beskikking het, is hul kommunikasie uiteindelik die gebrekkigste en gaan hulle heeltemal by mekaar verby. Die suiwer sopraanstem wat gereeld uit die woonstel onder dr. Jacob opklink, is ten slotte nie wat die kyker verwag het nie.
       Die film is sensitief en ryk aan suggestie, en wat mens uiteindelik bybly, is die warmte daarvan. Die pragtige klankbaan dra aansienlik hiertoe by, en saam met die visuele sintuig word die gehoorsintuig gepas bekoor.
       The five senses word van harte aanbeveel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.