FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Paradiso: Sieben Tage mit sieben Frauen (Paradise: Seven days with seven women, 1999)

Milton Webber

Met: Hanns Zischler, Cora Frost, Adriana Altaras
Draaiboek en regie: Rudolf Thomé
Looptyd: 103 min

Hierdie paradys, geleë aan die Noordkus van Duitsland, en met sy sewe vroue in sewe dae, is geen gewone plek nie. Hier word die verlede en hede op ’n skertsende manier saamgesmelt om ’n gelukkige toekoms te verseker. Ja, hier word selfs die slang een van die mens se vriende.

Die hoofkarakters in die paradys is Adam (Hans Zischler) en — jy’t reg geraai — Eva (Cora Frost). Adam is benewens ’n komponis ook ’n bedrewe tuinier en ’n bobaas-kok. Hy poog om in sy musiek die verlede, hede en toekoms saam te voeg, maar slaag nie heeltemal daarin nie. Hy besluit om vir sy sestigste verjaardag die sewe belangrikste vroue in sy lewe na sy verjaardagfeesvieringe (wat sewe dae lank duur) uit te nooi. Nodeloos om te sê, die meeste van die vroue was skelmpies. En soos verwag, moes een van hulle sekerlik Lilith heet. En die meeste van hulle dra ook die wonde van ’n liefde wat nie wou uitwerk nie — sy eerste vrou besluit om haar tot ’n klooster te wend om haar bitterheid te verwerk.

Die buitengewone samekoms van vorige liefdes wat vanselfsprekend aanvanklik ietwat ongemaklik is, word verder vererger toe Adam se seun, Billy (die seun van die non) opdaag en sy pa vir die eerste keer in 30 jaar weer sien en hom as verjaardaggeskenk ’n hou oor die kop gee. Deur die loop van die sewe dae word almal, insluitend Billy, egter met Adam versoen. Almal werk saam om hierdie paar dae so aangenaam as moontlik te maak: van die kosmaak tot die konsertbesoek, van die plant van 60 populiere — ’n geskenk van een van Adam se vorige liefdes — tot die vang van ’n niegiftige slang en rotte om die reptiel mee te voer.

Met die vraag, “Adam, jy leef in ’n paradys. Hoe het jy dit reggekry?” stel een van die vroeëre liefdes die sentrale vraag van die rolprent. Dit druk die weemoed, maar ook die afguns, uit wat die gaste onder mekaar bespeur. Maar wat eintlik ook deur hierdie vraag geïmpliseer word, is: Hoe/waar vind ’n mens ware geluk? Thomé het ’n relatief eenvoudige antwoord op die vraag: die grootste bron van geluk is in die familie te vinde. In Adam se geval is dit sy vrou en sy kinders, maar later blyk dit ook dat al die ander vroue en sy seun by hierdie groot, gelukkige familie ingesluit word.

Maar die vraag is egter ook nie heeltemal so eenvoudig nie, want soos Adam self weet, moet ’n mens eers die verlede met die hede verenig om ’n gelukkige toekoms te verseker. En dit is dan wat juis hier gebeur. Met taamlike ongemak word die verlede keer op keer met leedvermaak opgehaal, maar deur vergifnis word die seerplekke van die verlede gesalf. En wanneer die gas met sekerlik die meeste bitterheid aanvanklik, ’n heildronk instel op die paradys en hoop dat die familie binnekort weer saam kan wees, word die toekoms verseker.

Die rolprent is deurspek van Christelike simboliek. God het die wêreld in sewe dae geskep. Adam se paradys word ook in sewe dae voltooi. Hierdie familiebyeenkoms is inderdaad ook ’n skepping, maar nie ’n skepping van ’n nuwe wêreld nie, eerder een van nuutgevonde geluk. Ten spyte van die godsdienstige ondertone is hierdie rolprent geen sedeles nie. Thomé probeer egter wel om op ’n spitsvondige manier oor te dra hoe belangrik die gesin is en dat dit nooit te laat is vir mense om hulle verskille uit te pluis om die toekoms gelukkig in te gaan nie.

Milton Webber is ’n taalpraktisyn, kopieskrywer en vertaler.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.