FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Shrek

Coenraad Walters

Met die stemme van Mike Myers (Shrek), Eddy Murphy (die donkie), Cameron Diaz (prinses Fiona), John Lithgow (Lord Farquaard)
Draaiboek: Ted Elliot, gebaseer op ’n boek van William Steig
Regie: Andrew Adamson en Vicky Jenson

Shrek is ’n wonderlike sprokie vir die 21ste eeu. Dis vol ronde karakters waarvan party reeds bekend is en ander spoedig bekendes gaan word, en dit word met humor en verstommende animasie vertel. As jy ’n fliek nodig het om te ontsnap, terwyl jy nie werklik agterkom presies hoe slim jy vermaak word nie, dan is Shrek nommerpas vir jou.

Ek begin doelbewus met die slotparagraaf sodat lesers wat nie dieper rondkrap in lekker flieks nie, kan ophou lees en hul kaartjies gaan bespreek (miskien selfs om vir die tweede keer na Shrek se manewales te gaan kyk). Maar daar is nog ’n paar dinge om oor hierdie prent te sÍ.

Sal jy jou kinders sonder meer toelaat om na ’n postmodernistiese fliek te gaan kyk? Vir sommige mense staan die term postmodernisties op dieselfde lys as vroeŽr dae se kommunisties of Rooms-Katoliek: onhanteerbaar, ingewikkeld en verkeerd. In hierdie geval is dit egter moontlik so dat jou kinders jou soheentoe gaan sleep, as hulle nog nie het nie. En dat jy hierdie animasie (dis mos eintlik vir kinders, nie waar nie?!) werklik gaan geniet. Ek wil graag ’n paar redes aanvoer waarom dit so is.

Die maklike redes sluit in die werklik spitsvondige draaiboek, die knap stemwerk van die akteurs en besonder gevorderde animasie. Daar is net een plek waar ek gedink het die prinses se armbewegings is darem duidelik diť van ’n geanimeerde karakter. Maar kyk na die besonderhede: die donkie se hare, die skadu’s op Shrek se gesig Ö te veel om op te noem.

Verder word hier ’n ou bekende storie vertel. Daar’s ’n meisie in die moeilikheid wat deur ’n dapper man gered word, nie alleen van die draak nie, maar ook van die nare man wat om die verkeerde redes met haar wil trou. Ek verklap geen geheime hiermee nie!

Maar Shrek is postmodernisties soos wat ek die term verstaan. Almal, ook die skeppers van die verhaal, weet dat die verhaal nie werklik oorspronklik is nie, maar dat dit binne ’n nuwe tydperk vertel word. Daarom word daar byvoorbeeld veel meer aandag geskenk aan die psigologiese samestelling van die karakters as wat ’n mens in ’n sprokie gewoond is — hulle is nie meer bloot die byna simboliese tipes wat ons ken nie.

Bowendien is die karakters intens bewus van wat eintlik met hulle moet gebeur. Prinses Fiona is erg geskok wanneer sy uitvind haar redder is nie ’n aantreklike ridder op ’n wit perd nie, maar Shrek, ’n “ogre”. (Het Afrikaans ’n woord vir ogre? Hy is nie werklik ’n reus, soos sprokies dit gewoonlik vertaal nie, en bepaald ook nie ’n monster nie. Lesers kan gerus voorstelle laat inkom!)

Shrek wil natuurlik niks weet van haar verwagtinge nie: sy probleme is groter. Die nare lord Farquaard het al die sprokieskarakters uit sy koninkryk verban en laat hervestig in Shrek se moeras. Shrek wil egter net alleen gelaat word (die pratende donkie, wat sy Sancho Panza word, is vir hom eens te erg!). Die bewuste aanbieding van sprokieskarakters as sprokieskarakters (elkeen met ’n prys op die hoof, soos Wilde Weste-woestelinge!) is net soseer ’n element van die postmodernistiese aard van hierdie fliek as die manier waarop die draak alle verwagtinge omtrent drake deurbreek!

Om die draak te steek (vergewe my!) met Shrek se geanimeerde voorgangers is ’n humoristiese gebruik van die postmodernisme. Soos in die oumagrootjie van vollengte geanimeerde flieks, Snow White and the seven dwarfs (Walt Disney, 1934), sing ook hierdie prinses ’n oggendlied saam met ’n vrolike voŽltjie — die uitkoms is net totaal anders. Die pratende spieŽl is ook daaruit ontleen, en die vlieŽnde gevaarte wat die redders vervoer, herinner aan The rescuers (Walt Disney, 1977). (As postmodernistiese resensent, bewus van my beperkings, erken ek dat Moeder hierdie verwysing raakgesien het.) Selfs die nare lord Farquaard en die parkeerruimte buite sy kasteel dryf die spot met elemente van die huidige Disney-ryk.

Minstens een onlangse trefferprent loop ook deur. Die wyse waarop prinses Fiona klaarspeel met Robin Hood en sy vrolike manne lyk heeltemal te veel na ’n toneel uit Crouching tiger, hidden dragon.

Ook die ongewone keuse van liedjies in die klankbaan werk ironies. Wie sou ooit kon dink dat ’n Leonard Cohen-liedjie diens kan doen in ’n “kinderprent”? Om “Hallelujah” te speel op die vooraand van die groot troue, terwyl die twee hoofkarakters diep ongelukkig is, is onmiddellik wrang, maar is uiteindelik ’n aanduiding van die gelukkige einde.

Kyk ’n mens na die geskiedenis van vollengte geanimeerde rolprente, dan is daar een groot beroemde reus: Walt Disney. Oor dekades heen het hy en sy span animeerders ons vermaak met ’n stroom rolprente: Dumbo, Peter Pan, Robin Hood, The lion king, Pocahontas, The little mermaid, Beauty and the beast, Cinderella, Winnie the Pooh, Alice in Wonderland, en nog vele meer. Eers in die afgelope paar jaar het die Disney-span ernstige kompetisie begin kry, onder meer van Dreamworks, vervaardigers van Shrek. Met prente soos The prince of Egypt, Antz (albei 1998) en Chicken run (2000) is daar wegbeweeg van sekere oudmodiese elemente in die Disney-resep, en is gehore op nuwe maniere vermaak en gewen vir animasie. Disney het wel opnuut baanbrekerswerk gedoen en baie kykers gewen met die twee Toy Story-prente (1995 en 1999): vir die eerste maal is ’n rolprent volledig met rekenaars geskep! Disney (en later die opposisie) het gesorg dat animasie ’n kunsvorm op hoŽ vlak word: wat vir ons op televisie opgedis is as Heidi en Pinocchio en Maja the bee is — so oulikies as wat dit was — darem werklik vrot!

Die tydskrif Newsweek berig onlangs dat daar aanstaande jaar vir die eerste maal ’n Oscar toegeken gaan word vir die beste vollengte geanimeerde rolprent. Tot dusver was daar nog net so ’n beeldjie vir ’n kort stuk animasie (soos die briljante Wallace and Gromit). Baie mense mag voel dat hierdie eerste beeldjie die Disney-nalatenskap toekom, en ’n mens moet erken dat Disney animasie oor baie dekades heen tot ’n kunsvorm ontwikkel het en dus erkenning vir volgehoue prestasie verdien. Die vele goue beeldjies vir Beste Liedjie en Beste Klankbaan (asook die nominasie as Beste Rolprent vir Beauty and the beast) het maar net ten dele vergoed. Wanneer Shrek se vars aanslag in terme van sowel animasie as vertelling egter vergelyk word met onlangse Disney-produkte, is die uitslag van die stemming egter nie so voor die hand liggend nie. Ons weet egter lankal dat sentiment dikwels eerder die bepalende faktor is as meriete wanneer die Akademielede begin stem.
Al kan ons gewone sterflinge nou nie goue beeldjies uitdeel nie, kan ons stem met ons beursies. Ek is seker daarvan dat die vervaardigers net soveel bank toe sal lag as ons op pad huis toe. En die video of DVD van Shrek sal met net soveel gemak op ’n kind se vermaakrak staan as enige Disney-titel.
As jy Shrek nog nie gesien het nie, moes jy lankal. Waarvoor wag jy?!?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.