NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Die wenners van die eerste nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie

Papagena

Willemien Brümmer - beste debuut

Sy wens sy kon hul vere een vir een uitpluk. Dat hulle kaal voor haar staan. Al wat hulle sal bedek, is die fyn stippeltjies bloed.

Hetta kan nie onthou hoe lank die duiwe al in haar dak woon nie. Hoe lank hulle nou al koer bo haar bed en met skubberige pote oor die plafon skarrel voordat hulle nesskop en in warm hopies teen mekaar aanvly nie.

Sy't haar al baie verbeel sy hoor hoe hul vlerke teen mekaar skuur.

Soggens vroeg, nog voordat die son deur haar blindings skyn, hoor sy hul gekwetter oor die nuwe dag. Dis dan dat sy wens die son het 'n skakelaar gehad.

Partykeer, as hulle teen middernag nog lawaai, probéér sy nie eens meer slaap nie. Sy trek haar growwe, pienk kamerjas oor haar flennienagrok aan, en haar té groot pantoffels met die hondesnoete.

Sy maak koffie in haar kombuis met die vlekvryestaal-oppervlakke en luister na die gezoem van haar yskas. Sy smeer 'n sny brood vol ryp vyekonfyt en wurg die soetigheid by haar keel af.

Wanneer sy badkamer toe gaan om haar hande te was, vermy sy die spieël. Sy wil nie die fronskepe tussen haar wenkbroue sien, of die harde kyk in haar oë nie. Sy wil nie sien hoe haar borste afgesak het, en hoe haar boude uitstoel nie.

Die laaste keer dat sy gekyk het, kon sy amper nie glo hoe grys haar hare geword het nie.

In die winter dra sy deesdae altyd jasse, selfs in geboue. In die somer dra sy kaftans of 'n Levi-jean met 'n té groot swart T-hemp. Schalk het mos eenkeer gesê: "Toemaar, Levi's is veronderstel om vir almal te pas. Selfs 'n stoof sal goed lyk daarin." Sy't gemaak of sy hom nie hoor nie.

Sy vermy die ronde insak-bad met plek vir twee wat sy in beter dae laat inbou het. Sy en Schalk het seker net twee keer saam daarin gebad en binne gebly totdat die water koud was.

Eenkeer het hy in die bad aan die slaap geraak, en sy't vir hom "Lamtietie Damtietie" gesing. Als aan hom was slap en weerloos. Selfs sy geslagsorgaan: 'n voëltjie wat slaap in sy nes.

Sy onthou nog die nag dat hy weg is asof dit gister was. Hy't nooit eers gebodder om sy goed te kom haal nie.

Na twee weke het sy die een na die ander van sy besittings by die kamervenster uitgegooi en verdiepings ondertoe gehoor hoe dit te pletter val en op die grond neerplof. Sy jeans met die wit plekke by die kniëe, sy stapskoene en sy CD's wat skitterblink die nag ingevlieg het. Sy Southern African Guide to Birdwatching en selfs sy Rolex-horlosie en sy wekker. Die tyd staan nou nog somtyds stil.

Die laaste wat by die venster uit is, was die manuskrip van haar derde roman. Haar Magnum Opus waaraan sy die afgelope vyf jaar gewerk het. Presies so lank as wat sy vir Schalk geken het.

Sy't haar verbeel sy sien haar lewe by haar verbysweef: wit seevoëls wat grond toe neuk.

In plaas van self skryf, het sy daarna by die uitgewers gaan werk as redigeerder en haar van gestand gedoen: Snyman.

Wanneer haar koffie en haar brood met vyekonfyt op is, skakel sy soos gewoonlik haar rekenaar aan. Met haar regterhand op die delete-knoppie maak sy 'n manuskrip oop wat sy aan die redigeer was. Sy vee alle byvoeglike naamwoorde en bywoorde uit.

Net dié waarsonder die storie geheel en al nie sou sin maak nie, bly. Sy belig onnodige beskrywings en delete hulle totdat net 'n bloedlose woordgeraamte oorbly.

Muis in die hand wag sy op die sonsopkoms. Sy't nooit geweet sonsopkomste kan by jou derms invreet nie.

In plaas van dagklere trek sy 'n swart jas oor haar flennienagrok aan en knoop hom toe sodat niks onder uitsteek nie. Sy kam nie haar hare nie, en was nie haar gesig nie.

Haar kneukels is wit om die stuurwiel wanneer sy na die uitgewer in die toringagtige gebou in die middestad ry. Hier lees sy die een na die ander manuskrip van voornemende skrywers en gooi hulle in 'n snippermandjie.

Een windverwaaide, kwetterende nag delete sy 'n hele storie. Een van driehonderd drie-en-dertig bladsye. Sy stuur die kil, wit velle papier aan die skrywer terug.

Sy beantwoord nie die skrywer se telefoonoproepe nie.

Dis eers nadat sy vir 'n week nie geslaap het nie dat sy besef daar's fout. Sy skakel die nommer van die agent wat namens die eienaar haar woonstel uitverhuur en 'n slaperige stem antwoord.

"Die duiwe steel my slaap en fok my sonsopkomste op." Hetta se stem bewe. "As julle nie onmiddellik iemand stuur om hulle te laat verdwyn nie, gaan ek nie my maand se huur betaal nie."

Die agent klink verveeld, asof dit die soort klagte is wat hy elke dag moet aanhoor.

Sy hoor hom gaap. "Ek sal môre die pesbeheermense stuur."

Hy sit die telefoon neer nog voordat hy haar adres gevra het. Sy sit vir lank nog so en luister na die uitgerekte trrrrrrrrrr. Die geluid sus haar aan die slaap.

Dis reeds nag wanneer sy haar oë oopmaak. So diep in die nag dat die tyd koud geword het. Sy strompel na haar kamer om verder te slaap.

Nes haar nagrok oor haar kop gly, hoor sy iets deur haar kamervenster fladder. Saam met die fladdering voel sy 'n nagwind oor haar vel - 'n bedompige wind vol jasmyn wat oor haar kaal maag en bobene vee.

Sy sien 'n vet, grys duif op haar lessenaar net langs haar rekenaar. Teenaan hom, opgepof, is nog 'n voël. 'n Wyfie. Sy is kleiner as hy, met iets tussen 'n pienkerige en 'n perserige skynsel. Uit haar krop styg 'n gemurmel, soms lig soos 'n bergstroom, soms ryker.

Uit die vet duif se keel kom 'n laer gekoer - net voor dié van die wyfie, of net na hare. Op sy eie is sy gekoer krapperig, huiwerig, maar saam met syne kry die wyfievoël se stem diepte.

Die gekoer swel uit, vul haar slaapkamer, word sagter as 'n gefluister. Hul stemme jaag mekaar, sit op mekaar, vleg deur mekaar.

Hetta staan versteend, met haar nagrok vasgeklem bo haar broekie. Sy's bang om die geringste beweging te maak. Die mannetjie draai hom na die wyfie, en hul snawels wil-wil aan mekaar raak.

Opeens kan sy dit nie meer verduur nie. 'n Woede pak haar beet soos dood wat begin by die voete. Dit styg op tot by haar enkels, haar kuite, haar dye.

Hy kom sit in haar kop en skroei haar oë weg. Sy kan niks voor haar sien nie.

Sy steier terug en gryp na die naaste harde voorwerp. In haar handpalm voel sy die lem van 'n skêr. Sy lig die skêr bo haar skouers en hoor hoe die lug sing. Die skerp punt boor deur vere en deur vleis.

Kort na die eerste oggendgekoer strompel sy na haar telefoon en skakel wéér die agent. Dié keer antwoord 'n vrou; meer simpatiek as haar voorganger.

"Ja, mevrou, die duiwe is deesdae 'n vreeslike plaag in die stadskom. 'n Mens sou sweer daar's meer duiwe as mense."

Die vrou het 'n temerige stem - 'n kat wat miaau. Hetta kan hoor hoe sy in 'n boekie rondblaai, hoe 'n lang vingernael 'n naam vind. "Die man wat gewoonlik dié probleme hanteer het nogal 'n vreemde naam. Hy's 'n mnr Robert Papageno, maar hy's die beste voëlvanger in die Kaap."

Die vrou lees vir haar mnr Papageno se nommer en sy skryf Hetta se naam neer. "Ja, natuurlik sal ons betaal," spin sy. "U kan hom maar net bel en 'n afspraak maak."

Net voordat sy die foon neersit, so half as 'n nagedagte, sê die vrou: "U besef natuurlik as mnr Papageno die duiwe uitdryf, is hulle vir ewig vort. Jy sal hulle nooit weer hoor nie."

Sy laat die "nooit" klink soos 'n doodstyding.

Sonder om te dink, skakel Hetta Papageno se nommer. Sy stem is hoog en krakerig.

In die agtergrond hoor sy musiek speel, en 'n fluit wat opgewek boontoe klouter.

Sy sit die telefoon neer, en voel 'n vreemde fladdering in haar maag.

Dié Papageno vir wie sy die voordeur oopmaak, het 'n krom, snawelagtige neus en pikswart kraaloë. Sy spierwit hare staan regop, en sy klere is toiingrig - dié van 'n voëlverskrikker.

In plaas daarvan om sy hand na haar uit te steek, trap hy rond, asof hy gereedmaak om op te styg.

Sy's bang om vir hom iets te sê; sy wonder of sy hom moet inlaat.

Hy laat nie op hom wag nie; wip by haar verby en in die gang af na haar slaapkamer. Hy stap na haar bed, trek sy baadjie uit en drapeer dit oor haar duvet. Hier talm hy, streel met sy oë daaroor asof hy soek na die lyf wat die vorige nag daar gelê het.

Hetta hou hom dop vanaf haar slaapkamerdeur. Sy sien hoedat hy woordeloos na haar rekenaar stap en die masjien met 'n zoeing-geluid aanskakel. Sy wil hom keer, iets aandoen.

Hy maak 'n nuwe dokument oop en tik haar naam bo-aan. Daaronder, in kursief, tik hy: 'n lysie van byvoeglike name wat dalk mag nuttig wees.

Die woorde vloei uit sy vingers soos note uit 'n operasanger se mond: duifgrys, geveerde, tjirpend, hoog, laag, suiwer, melodieus, pynlik en vry.

Dit voel asof hy 'n vinger in 'n seerplek gedruk het, asof hy iets van haar weet wat sy tot die slaaplose nagte in haar slaapkamer wou beperk.

Sy wil skree, nee sê, maar haar lippe kleef aan mekaar vas.

En dan hoor sy dit - die geruis wat sag begin, en al hoe harder word. By "geveerde" is dit 'n gefladder. Hetta hoor hoe duiwe koer in verskillende toonhoogtes - amper oorverdowend hard.

Meteens voel sy asof sy in die middel van 'n duiwehok is by die World of Birds. Asof hulle hier binne-in haar kop koer; maar voordat sy kan asemskep of selfs kan dink, sien sy 'n kwetterende wolk wat bo by haar dak uitdryf.

Sy gryp na haar kop; bang hy dryf saam.

Vir 'n paar sekondes kom die wolk tot stilstand. Die gekwetter hou op en sy sien die buitelyne van miljoene der miljoene vere wat bo haar kop verbysweef. Sy hou haar asem op.

Asof 'n onsigbare dirigent weer sy dirigeerstokkie oplig, word die gekwetter hervat.

Nog lank na hul vertrek, hoor sy die duiwe. Selfs nadat die kleur van die lug teruggekeer het na 'n diep, hartseer blou.

Eers wanneer die skouspel verby is, praat Papageno. Sy stem vat aan haar op plekke waarvan sy al vergeet het.

"Jy sal hulle mis," sê hy. "Maar ek los vir jou die byvoeglike naamwoorde. Hulle sal jy nodig kry."

Sy wil hom vra wat aangaan, wat hy gedoen het, maar net so skielik as wat hy gekom het, verdwyn hy. Sy kan nie onthou of hy sy baadjie van haar bed opgetel het, of vir haar om betaling gevra het vir die duiwe wat hy uitgedryf het nie. Sy kan nie eens onthou dat sy die voordeur vir hom oopgesluit het nie.

Sy vind 'n enkele veer in haar bed, en moet op haar tande kners om nie te huil nie.

Sy't nooit geweet hóé stil dit kan word nie.

Tussen slaap en wakker verbeel sy haar 'n grys voël kom sit by haar voetenent. Hy's groter as enige duif wat sy nog gesien het, sy skaduwee verdonker haar lyf.

Sy vere is yler as dié van ander voëls, met daaronder iets wat lyk soos pienk vel. Sy pote is dik en sy snawel is vlesig. Nie hard soos dié van ander geveerdes nie. In plaas van kraaltjies is sy oë groot en donker.

Sy voel iets swaar op haar bors - asof iemand met 'n gespierde lyf daarop balanseer. 'n Lyf met warm voete.

Die gewig word minder soos wat dit al laer oor haar lyf loop. Die voete loop oor haar diafragma, trap op en af by haar naeltjie.

Sy skuif haar dye uitmekaar.

'n Geritsel dwing haar om haar oë oop te maak. In plaas van die voël, sien sy die koue styl van haar bed. Haar vingers klou om haar duvet.

Al geluid in haar kamer is die gezoem van haar rekenaarskerm. Dis steeds oop by die dokument wat mnr Papageno vir haar geskep het.

Voetjie vir voetjie loop sy na die skerm, asof dit haar kan byt. Haar oë val op die woorde wat hy daar gelos het: veral pynlik en vry.

Sy vind die toetsbord; begin skryf:

Eendag lank, lank gelede was daar 'n mannetjiesvoël en 'n wyfievoël. Die wyfievoël het nie geweet dat sing jou vlerke gee nie.

Sy loop badkamer toe, na die spieël, en kam haar hare. Driftiger en driftiger. Sy tap vir haar 'n bad vol roosblare en smeer geurige olies aan haar lyf.

In haar slaapkamer trek sy 'n spierwit, ragfyn kamerjas aan - die een wat sy laas gedra het toe Schalk nog daar was. Die jas sit styf om haar borste, maar klok ondertoe uit sodat sy soos 'n adellike, 'n heerseres lyk.

Sy maak haar hare in 'n bolla bo-op haar kop vas en steek die veer daardeur. Dit werp 'n vreemde skadu oor haar gesig. Haar neus lyk langer, krommer as gewoonlik.

Sy stap na die venster teenoor haar bed, stoot hom wyd oop en trek die geur van die nag in haar longe in. Iets ruik na jasmyn. Verdiepings ondertoe skitter die stadsliggies soos sterre in die paradys.

Haar voete raak skaars aan die skerp metaal van die raam soos wat sy haar ophys na die venster. Sy vul haar borskas - vanaf haar diafragma tot haar lugpyp - om saam met die voëls te sing. Sy duik vorentoe en ondertoe.

Die kamerjas vlerk bo haar uit.


Willemien Brümmer
het eers drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, waarna sy (uit vrees vir werkloosheid en selfmoordgedagtes) by die US se joernalistiek-departement gaan aanklop het. Nadat sy 'n honneursgraad in joernalistiek voltooi het, werk sy reeds die afgelope vyf jaar by Die Burger - en is tans verantwoordelik vir diepte-artikels en die weeklikse rubriek Oop Kaarte. Sy probeer tans haar M in kreatiewe skryfwerk klaarmaak aan die Universiteit van Kaapstad. Haar studieleier is Etienne van Heerden.
  Willemien Brümmer



  • Klik hier vir die aankondiging van die kortverhaalwenners


    LitNet: 23 Februarie 2005

    Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.