NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Die wenners van die eerste nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie

Swiets in Rhodesië

Rachelle Greeff - algehele wenner

Die joernalis hou die boek oop bo die stuurwiel. Sy oë spring tussen die woorde en die motor voor hom: The "boys'' even kill local witchdoctors on the grounds that they are spoiling their magic. They say they're not against God, but this Jesus, they'd shoot him if they could.

The boys, steeds die boys.

People ask the "boys'': when you come to power, shall we still be confined to these patches of soil where nothing grows well and no water flows? Spitstyd, leestyd, hy beweeg wiel vir wiel: The "boys" tell them, no, the big white estates will be divided up, you shall have the fertile land.

Die joernalis kom van die stadsbiblioteek, waar hy agtergrond-inligting gesoek het. Hy moet 'n onderhoud doen met 'n Britse skrywer, Wendy Wheeler, wat vir die eerste paar jaar van haar lewe in die destydse Rhodesië gewoon het. Haar roman lê ongelees by sy huis. Die boek wat hy hier het, is heelwat ouer: Under the skin - the death of white Rhodesia deur David Caute, uitgegee 1983, Britse politieke joernalis wat nooit self in Rhodesië gewoon het nie. Die biblioteekstelsel het min titels uitgespoeg, altyd jammer vir die joernalis wat boeke doen eerder as die internet met al die kak. Biblioteke koop ook min nuwe boeke aan, maar God, mense lees ook nie, as hy kyk na die nege, tien keer wat Caute se boek in tien jaar uitgeneem is.

Voor in Caute se boek is 'n ou kaart van Rhodesië. Hy soek - nee dankie vir die rose by die ruit - na die streek waar die Wheelers se plaas was, maar voor hy dit kry, val sy oog op die groot dorp naby die grens met Mosambiek, Umtali. Ses millimeters, noordwes van Umtali, is die kleiner Rusape.

Hy sit Caute se boek op die passasiersitplek.

Natuurlik, Rusape.

Rusape en die boys. Hy was pas vyf toe hy saam met sy ma en pa van Bellville-stasie tot in Umtali met die trein gery het. Hulle het by vriende van sy ouers, Alta en John Russel, op hul tabakplaas gaan kuier. Die ouers het 'n keer of wat in Bellville kom kuier, maar alleen. Hy het die kinders nooit weer gesien nie.

Boy en girl was van die min Engelse woorde wat hy toe geken het. Eers het hy nie verstaan nie. Tannie Alta klap haar hande en roep, "Boys! Girls!'' Nou gaan daar kinders kom, dink hy, maar dan kom daar grootmense.

Tot met Rhodesië het hy nog nooit ooit sulke mense gesien nie. Hulle was amper swart. Anna, hulle bediende in Bellville, was ligbruin. Sy was 'n "hotnot''. Die "hotnots'' in Rhodesië was "kaffers''. Soos hy geweet het mens glo in Liewe Jesus en jy praat Afrikaans het hy geweet dis erger om 'n "kaffer" te wees as 'n "hotnot". (Dit sou hy eers heelwat later bevraagteken.) Maar die "kaffers'' in Rhodesië was baie mooier as die "hotnots'' van Bellville. Hulle stemme was ook nie so dun en plat nie. Hulle was ook regtig gaaf, al het hy eers geskrik vir die wit wit van hulle oë. Tog, wit is makliker. Want wit is net wit. Die houseboys van die tabakplaas het voete gehad, maar nie voetstappe nie. Hulle was so meteens daar. Dit was ook snaaks dat die mans in die huis gewerk het en die vroue in die tuin. Daar was vroue binne, maar min. En die kok in die kombuis was ook 'n man.

Die joernalis is nou langs Nuweland-bos waar dit sag begin reën. Hy draai sy ruit af om te ruik.

Daai naam, Rusape, was vir jare uit sy kop. Sou dit 'n Sjona-woord wees? Hy moet vir George vra. George het in Rhodesië grootgeword, maar woon nou in Amerika. Sy ouma was 'n Sjona, die res Britse afstammelinge. George skryf onder die naam George Makana Clark. Die eerste keer toe hy George gesien het, het die woord albino in sy gedagte opgeduik. Maar George is nie 'n albino nie. Hy is net 'n ronde, besproete pienk en wit Amerikaanse skrywer wat patologies baie praat. Wonder altyd waar George nog woorde kry vir skryf.

Die kaart, met Umtali en Rusape, ry in sy kop.

Hulle het drie nagte op die trein Rhodesië toe geslaap. Miskien was dit vier, hy sal nie weet nie. Sal nooit weet nie. Nie vir 'n feit nie. Sedert sy ouers albei dood is, is daar heelparty goed wat hy nooit vir 'n feit sal weet nie. But does it matter? Feite is vir die joernalistiek, wat sou sy ouers hom daarmee kon help? Dit wat hy die graagste doen, kortverhale skryf, het tog nie feite nodig nie. En terwyl hy dit dink, weet hy hy lieg. Hy neuk maar altyd feite toe, selfs in fiksie. Dié dat hy nooit 'n groot skrywer sal wees nie. Te vas aan feite. Kan nie met oorgawe vry val nie.

Omdat hy met Rhodesië vyf was, was dit 1961. Maklik genoeg om dit uit te werk. Sy pa was op langverlof. Die Russels het tussen Rusape en Umtali op een van hulle tabakplase gewoon. Daar was ook teeplase. Hy onthou hoe vreemd dit was, die groen teeplantasies. Hy't gedink tee is bruin.

Hy ontdek massiewe stywe wit treinservette en swaar silwer soplepels en rolle beddegoed gebind in leerbande. Hy sien benerige kinders langs die spoor. Wanneer die trein stadiger ry, skuif sy ma die ruit tot heel bo oop. Sy ma gooi lemoene vir die kinders langs die spoor. Sy pa lees 'n boek. Die kinders langs die spoor waai en kwetter in onverstaanbare klanke. Hy en sy ma lag en waai terug.

By die grens tussen Suid-Afrika en Rhodesië klim hulle op 'n ander trein. In Bulawayo klim hulle weer oor. Dis 'n lang stop. Sy pa gaan na die mansbadkamer op die stasie. Hy gaan saam met sy ma na die vrouebadkamer. Die badkamer is groot soos hulle sitkamer, die vloere blink en donkergroen. Hy het nog nooit sulke diep baddens gesien nie. Sy ma moet hom oor die rand tel. Sy vryf sy ore hard. Roet, sê sy. Sy vee met 'n vinger oor die klein, wit teëltjies. "Dis baie, baie skoon, Boetie.''

In Muizenberg stop die joernalis by die Chinese takeaway. Toe hy instap, roep die klein vroutjie agter die toonbank na die kombuis: "One chicken chow mein, large, one Coke.'' Nou eers groet sy hom. Hy drink die Coke in die ry woonstel toe. Hier gooi hy 'n dop en gaan sit op sy stoel met die uitsig. Hy woon op die vyftiende verdieping van 'n woonstelblok in die waai van Valsbaai. Nie waffers van buite nie, but on a clear day … Van Hangklip tot Simonstad. Sy ma het die plek net een keer gesien, kort nadat hy dit gekoop het, kort voor haar dood. "As jy dan hier wil bly, is dit goed dat jy hoog bly. Ver van die straat en naby die wolke.'' Hy sal nooit weet of sy verwys het na die afskilferende Muizenberg, wat sy in sy Joodse glorie geken het, of na Suid-Afrika nie. Sy jonger broers het teen daardie tyd lankal padgegee.

Hy tel Wendy Wheeler se roman op. Hy kyk altyd na die skrywersfoto, as daar een is, om te kyk of hy iets van belang daarin kan lees. Skrywers raak toenemend glamorous, veral die vroue, maar dalk is dit net hy wat verouder, vervaal. Dié een met 'n pith helmet, ystervarkpenne om die nek, wit katoen (linne?); God help hom, al wat kort is die G&T. Etnies à la Noord-Londen.

Ná die eerste hoofstuk los hy die boek: te mooi. Okay, miskien nie, miskien is dit hy, rusteloos.

Skink nog 'n dop en stap rekenaar toe. Begin google: Grass was placed around the horses and on top of them and then set alight … the group of men opened all the pig sties and forced all the pigs out of their sties into the hot sun with no water or food … many of the tiny babies died from stress. Epos-briewe vir die wêreld van 'n Meryl Harrison, Zimbabwe. Three of our five pedigree boars fought to the death … I hear of another family in the Doma farming area who have just had to euthanize 28 pets. We are living in the killing fields.

Toe die joernalis die volgende oggend wakker word, sit hy sy koffiemaker aan. Skuif die venster in sy werkplek wyd oop. Staan en rook terwyl die koffie brou. Weet nie wat hy sien nie. Weet net, tussen al die stemme van Rhodesië en Zimbabwe in dié huis ver van die straat, is daar nog een.

Hy sit die beker koffie tussen die toetsbord en die skerm. Trek die muis nader.

* * *

Destyds in Rhodesië loop tannie Alta se houseboys op kaal voete op die stoepe wat blink soos pasgeverfde poskantoorposbusse en geen geluid val weg of styg op van hul naakte naaswit houseboy-voetsole nie. Op die stoep sien jy hulle sole elke dag soos hulle kruip en poets en kruip en poets al agter doeke aan. Jy sien ook hulle sole as hulle wydsbeen sit met kopergoed en silwerware tussen hulle bene.

Die kind lê in die koel en skemer gastekamer van die tabakplaas met die hoë plafonne alleen. Hy hoor die bediendes - daar is so baie, hy ken so iets nie - ver weg praat in 'n ronde taal en dit sus hom, hierdie klank wat hy nie ken nie. Hulle praat nie hard nie, nie in die beddings of die opritte nie. Ook nie in die lang gang of die dwarsgang of op die stoepe nie. Soms lag hulle onder die boom wat groot is soos 'n wolk en waar 'n boy wit blommetjies, wat stadig reën van die wolkboom in negentien-een-en-sestig, met 'n besem vee en vee. Hy vee in lang gladde hale soos die kind se ma swem in Bellville se openbare swembad.

Hy het tandpyn. Tannie Alta en haar ma sit 'n stukkie nat watte wat sleg proe in sy mond en sê byt hard. Sy kaak is al lam.

"Swiets! Swiets!'' roep Elizabeth, die enigste dogter.

Die kind draai sy gesig na die muur.

As Elizabeth "swiets, swiets" roep moet dit teetyd wees, want elke middag as die houseboy die trollie teegoed na die sonkamer stoot, laat kom Elizabeth die kinders en deel lekkers uit. Sy kies ook een vir die houseboy wat die tee gebring het. Dan spring hy met sy kaalvoete en knieë by mekaar en knak sy bene vinnig op en af nes 'n jack-in-the-box.

Tannie Alta en haar man praat soms Engels met mekaar en met hulle kinders. Afrikaans is die knope in sy ma se Queen Victoria-knopeblik. Engels is die koel gange van die hoë huis. Hy hou hiervan.

Maar van Elizabeth hou hy nie. Gelukkig is sy soggens in die skool, maar wanneer sy by die huis is, praat sy hard en sy tjip in as grootmense praat en sy rol saam met haar pa op die gras en lag. Mens rol en lag nie saam met mens se pa op die gras nie.

Elizabeth se pa kom van Engeland en ken baie mense wat die koningin ken en daarom sal sy eendag met 'n lôd trou.

Die kind is skaam vir Elizabeth se ouer broer, Andrew, met die donker vel en die snaakse groen oë. Hy drink bier saam met die mans en rook as sy ma nie sien nie. Maar van die kleiner boetie, Robbie, hou hy baie, al is hy jonger. Hy is 'n peetjisenkreem-kind, sê tannie Alta as sy hom vasdruk en soen. Hy hardloop nooit weg nie. Hy kom altyd vir nog.

Robbie kom na die kamer waar die kind lê en wag vir die tandarts môre op Umtali. Hy bring 'n speel-speel bobbejaan van hout met regte egte bobbejaanhare. Hy sit dit op die bed. Hy sê die kind kan daarmee speel, maar die hare is te styf en die hout te hard, so hy kyk net daarna. Van naby lyk Robbie bietjie soos 'n pop. Eers wag hy langs die kind se bed, maar klim later op die ander bed. Nes die een waarop die kind lê, het dit 'n sprei met pienk satyndiamante. Hy sit kruisbeen op die bed en suig aan sy stukkende dummy. Hy wil weet of hulle ook vyf boerboele by hulle huis het. Nee, sê die kind, hulle het net een foksterriër. Later die middag bring hy ook 'n Dinky-toy. Hy klim weer op die satyndiamantbed en sug en wag.

Lank nadat die kind 'n man geword het, nie meer die Rusape-mense se van kon onthou nie en die oorlogveterane honderde Zimbabwiese boere van hul plase verdryf het, bring die koerant een oggend 'n foto: die hoek van 'n gehawende draadhek en 'n stuk strooiheining raam die Zimbabwiër en die hond. In die volgende paar dae sien hy daardie foto, en variasies daarvan, in verskillende koerante en op televisie. Van onder sy bottelgroen bofbalpet met die nylonglans en die swart bril soos 'n hek op sy neus sê die president hy het nou genoeg gehad van die witch-hunts en druk nuwe mediawetgewing deur die parlement.

Maar die foto reis soos 'n komeet al om die aarde.

Die kind wat 'n man geword het, knip dit uit. Dis 'n ligte turkoois beddeken - Pep Stores, dink hy. Dis bo-oor die boer gegooi waar hy lê. Die grond onder hom is donker nes die grond op Rusape was en die bloed op die grond nóg donkerder. Op die kombers langs die boer, wat in negentien-een-en-sestig in die gastekamer geduldig met sy dummy op die pienk diamantsprei gewag het dat die kind uit die Kaap beter word, sit 'n Jack Russell. Sy terriërgesiggie onbewoë gespits. Op 'n ander foto, glo ure later geneem, is hy moeg gewag en krul hom op op die kombers langs sy baas en as jy google sal jy sien hy wou van die doodskis ook nie weggaan nie.

Robert Russel is die tiende Zimbabwiese boer wat deur oorlogveterane vermoor is.

Russel, natuurlik, dit was hulle van, Russel.

En die man onthou hoe die ouer broer vir Robbie op die grasperk op die rug van een van die boerboele tel en hom vashou om te ry op die rug van die hond. Die grootmense met bier op die stoep lag. Robbie hou aan die hond se halsband en toe hy lag, val sy dummy uit sy mond en hy kraai nou soos hy lag en tannie Alta roep oor haar skouer terwyl sy binnetoe hardloop. "Wag, Andy, hiervan moet ek 'n foto kry!"

Dié foto het tannie Alta kort ná die vakansie saam met ander vir sy ma gestuur. Sy ma het dié een vir 'n tyd op haar spieël geplak gehou en die kind het soms met die laggende peetjisenkreem-seuntjie op die boerboel se rug gepraat en gesê, eendag sien ek jou weer.


Rachelle Greeff
Vryskutjoernalis en bekroonde kortverhaalskrywer met een oorweldigende behoefte: eerder tien treffende woorde as 'n duisend middelmatiges. Te skryf én te lees. Behaal 'n MA in skeppende skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad. Na 'n kwarteeu in die joernalistiek ly ek aan (my eie) woordversadiging. Hoe ouer ek word, hoe meer wens ek ek was 'n digter.
  Rachelle Greef


  • Klik hier vir die aankondiging van die kortverhaalwenners


    LitNet: 23 Februarie 2005

    Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.