Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Moenie siek word nie

So met die koms van die herfs hier in Washington D.C., begin die gras minder groen lyk op dié kontinent aan die ander kant van die oseaan. Letterlik minder groen, omdat die herfs koue en kaal bome bring, maar ook omdat die ou spreekwoordelike cliché toe tog soms ’n tikkie waarheid het. Ons almal dink mos die Amerikaners het die suksesvolle resep vir geld, wêreldmag en goue geleenthede ontwikkel.

Maar omdat hulle nie honderdduisende plakkerskampe en Vigs-epidemies en stygende misdaad en werkloosheid het nie, beteken dit nog lank nie alles is dooddollies in the land of opportunity nie.

Met jou dollars kan jy baie dinge doen, maar sekere dinge is net vir die rykes.

Al is hul “people” nie sonder water en elektrisiteit nie, is selfs oom en tannie Middelklas in ’n stryd gewikkel om mediese dekking te kry. Sien dit is hoe dit werk: alles is mos in besigheid en kompetisie om soveel geld as moontlik te maak.

Ook hul siekefondse is ingestel op wins: hulle noem dit nie “medical aid” soos ons in Suid-Afrika nie, maar “health insurance”. Health insurance is VIR dié met geld DEUR dié met geld.

Ek vermoed die rede daaragter: “Aid” beteken in Suid-Afrika, by implikasie, dat jy gehelp kan word as jy gelukkig genoeg is om jouself nie in die heel laagste ekonomiese klas in ’n hut of ’n plakkerskamp te bevind nie. Health insurance of gesondheidsversekering in Amerika, beteken jy moet verseker dat jy gesond bly, anders gaan jy sukkel.

En almal sukkel.

Honderde middelklas- en net-onder-die laerklas-oompies en -tannies kan nie ophou werk ná aftree-ouderdom nie, want anders gaan hulle nooit hul mediese koste kan bybring nie.

Amerikaners met genoeg geld om ’n redelik gemaklike, maar ietwat aan-die-knyp-kant-lewe te lei, gaan ook nie noodwendig dokter toe as hulle siek is nie, want dit is skrikwekkend duur.

Gesondheidversekering, soos ek sê, is vir die rykes.

“Health Insurance” is juis een van ene George W. Bush en Al Gore se Belangrike Items op Hul Verskuilde Agendas vir die Opkomende Presidensiële Verkiesing.

As jy al in jou lewe gedink het die politiek is ’n spektakel, moet jy D.C. beleef om dit te kan glo. Soggens klim ek uit die subway, net om my vas te loop in die een of ander ywerige kandidaat wat pamflette uitdeel en BOONOP kan jy sy hand skud en hom vrae vra.

Of Oprah neem die kandidate onder kruisverhoor: Wat is jou gunsteling skoolvak? wil sy by Gore weet.

Wetenskap, sê Gore, en ’n paar honderd huisvroue besluit om vir Gore te stem en nie vir Bush nie, want Bush vertel vir Oprah sy Texas ranch is sy gunsteling besitting.

Wat ’n materialis! sug al die undercover materialiste. En boonop is Bush deel van ’n oliefamilie, so ’n tipe Dallas monopolie ...

In Amerika word vir kandidate gestem op grond van hul persoonlikhede, vir die regop rug en reguit kyk in die oë — ’n charismatiese, eerlike man met familiewaardes ...

Amerikaners stem vir die ideale kandidaat, en nie vir die partypolitiek nie. Bush het glo ’n sagter uiterlike as Gore en is daarom gewilder by vroue ... Ons sal nou nie ingaan op Clinton se karakterflaters nie: heel duidelik het die Amerikaners hulle liederlik misgis met Clinton se familiewaardes en sy eerlikheid ...

Die ergste is die geld wat op verkiesingsveldtogte geblaas word. Dit is so buitensporig dat dit genoeg is om jou so siek te maak dat jy nie ’n dokter kan bekostig nie.

Daarom tref ons hier in Amerika voorsorg teen alles — law suits en siektes en ongewenste elemente in ons gemeenskappe.

Almal is besonder kiembewus. Hulle maak selfs die deurknoppe in publieke badkamers met tissues oop. Dit grens aan ’n soort paranoia, dié kiemoorbewustheid.

Elke tweede persoon is ’n health freak, en nog verklaar dit nie hoekom die helfte van almal oorgewig is nie ...

Jy probeer eerder voorsorg tref teen siektes en kieme deur jou flu-shots by die plaaslike Spar (wat die Giant genoem word) vir tien dollar te kry. Of jy drink nie kraanwater nie; ’n filterwaterdiens lewer gereeld massiewe kanne water by jou huis af.

Verder probeer jy oorgeprosesseerde kos uit jou dieet sny en koop al jou vrugte by die plaaslike “Freshfields” — dit is soos Woolworths minus die klere. Alles van die beste kan jy teen duurder pryse daar koop. Ek leef saam met sulke health freaks in ’n huis. Hulle drink nie vrugtesap met preserveermiddels in nie, maar die “healthy vitamin cocktail”-soort wat jy by spesialiteitswinkels koop.

Hulle skrop en skuur gereeld om kieme te verwyder en elke naweek het ons “spring cleaning”-veldtogte.

My baas noem hulle die nouveau yuppiesoort: te “groen” en undercover om vir regte yuppies aangesien te word. Hulle is laidback en smooth, en luister na ondergrondse dubmusiek om aanklank by die natuur te vind en in voeling te bly met hul sosiale gewete.

Hulle het so pas ’n nuwe reeks skoonmaakmiddels ontdek, en die yskas, toilet, wasbak, wasgoed, matte, tafels en alle oppervlaktes word ge-Oxyclean.

Hulle ry fiets en surf en maak tuin en gaan na fringe-kunsuitstallings in warehouses en hulle kook. Nooit sal jy hulle vang met ’n pakkie two minute noodles nie, want dit het geen Nutritional Value nie.

Hulle weet niks van die Amerikaanse politiek af nie, want dit is net ’n klomp bullocks vir die rykes, sê my housemates. Maar hulle gaan stem, want almal moet stem, sodat jy ’n goeie landsburger kan wees.

Hulle koop splinternuwe selfoonpakkette om die kleinste, slickste selfoontjies rond te dra.

Hulle gee hul dollars uit op vitamiene en ongewaksde appels by Freshfields waarvoor jy ’n plaas se prys betaal. Die gewaksde en blinkgepoetste soort van die Giant is netnou net in ’n kweekhuis ontwikkel, of dalk ingevoer van ’n onbekende derdewêreldse land af.

So, my digsmates word ál groener. En ek begin besef: ek mis my apteker van Kuilsrivier. Ek mis die “sagte” water van Grahamstad en die “harder” water van die Wes-Kaap. Daai groen gras in die VSA, dit het definitief meer filterwater nodig.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.