Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Vroukoors

Die harde klop aan my deur kom so twee maande gelede. “Bessie! Maak oop!”
    Dis die oujongkêrel wat hier onder in die straat bly. Ek maak die deur haastig oop, want ek dag hy’t iets oorgekom, so benoud skree hy.
    Die deur is skaars oop, of hy spring my amper onderstebo en waai die koerant wat hy in sy hand het, deur my gesig. “Dis in die koerant! My brief is in die koerant!” skree hy en dans opgewonde rond.
    My lyf is nog vol skrik en ek skel hom sommer. “Hete, Stukkie! Is dit dan nou norag om so tekere te gaan? Ek dag jy word helder oordag voor my deur vermoor! En van watse brief praat jy?”
    Hy druk die koerant in my hand en sê met ’n breë glimlag: “Dè, lees self. Hier staan dit op bladsy tien.”
    Ek gaan sit op die rusbank, tel my leesbril van die koffietafel af op en soek op bladsy tien na die brief. Hy leun oor my skouer en druk sy bruin wysvinger op ’n beriggie wat hy met ’n rooi pen omkring het. Toe ek die berig lees, val my mond oop. Eers dag ek dat ek verkeerd verstaan het, en ek lees die paar sinne weer:

’n Een-en-vyftig-jarige lewenslustige en vurige man soek na ’n sielsgenoot. Haar ouderdom maak nie saak nie, want haar gees is tydloos.

Stukkie se telefoonnommer staan in vetskrif onder die twee sinne.
    “Stukkie?” sê ek verbaas. “Die skande! En dit op jou oudag! Wat gaan die mense sê? Het jy dan skoon kens geword? Was dit dan nou norag om koerant toe te gaan terwyl die hele straat vol weduwees en geskeide vrouens is? Die skande!”
    Hy kom sit voor my op die punt van die koffietafel en druk albei hande op sy kniëe. Toe sy mond oopgaan, wip sy bokbaardjie eintlik op en af so verontwaardig is hy. “Bessie, jy kan hier sit en my lekker veroordeel, want jy het man gehad al is hy nou al vir jare ses-voet-ses. En jou kinders is uitgegroei met kinders van hul eie. Ek het niks! Ek staan al graf se kant toe en het nog nooit eens ’n vrou reg gesoen nie!”
    My kop ruk vanself agtertoe en ek wurm my lyf dieper die stoel in. Hy sien wat ek doen, gee ’n onbeskofte snork, en spring op. “Jirre, ek wil toggie vir jou soen nie!” Hy haal sy sakdoek uit sy broeksak en vryf vinnig oor sy lippe asof hy my klaar gesoen het. Terwyl hy sy sakdoek weer mooi opvou en platstryk, sê hy: “Al die jare wat jy en die straat se vrouens en my oorle’ ma my altyd op my verjaardae en Kerstye gesoen het, het julle lippe altyd soos ysblokke op myne gevoel.”
    Noudat ek weet dat hy my nie gaan soen nie, is ek sarkasties. “O, baie dankie!”
    Maar hy luister nie eens na my nie. “Ek wil ’n vrou soen nes die manne dit op die Tiewie doen! Iewers in die wêreld is daar ’n vrou wat net vir my wag, en ek gaan haar kry. Die koerant gaan my help.”
    Ek kyk hom verbaas aan. Hy is wragtag ernstig. “Stukkie, staan jy nou hier bo-op my en sê dat jy nog nooit ’n vrou gesoen het nie? Hoe het jy dan gevry?”
    Hy kom sit skuins op die tafel langs my en kyk my vas in die oë. “Jy weet hoe oorle’ Ma was.”
    Ek weet goed, maar skud my kop ontkennend sodat hy dit self moet erken wat ons al die jare vir hom gesê het toe sy ma nog gelewe het.
    “Bessie, daar het al ’n klomp mooi, ordentlike en kerklike klimeide deur my lewe geloop van wie ek regtig gehou het. En hulle het van my gehou. Maar elke slag as dit by vrytyd gekom het, het Ma dit uitgeruik en hartaanvalle gekry. En dan moes ek die klimeide maar los om agter haar te kyk. Sy wou nie dat iemand anders agter haar kyk nie, en ek kon haar mos nie so sieklik alleen los nie. Die dokter het haar eendag voor my facing gesê dat sy niks makeer nie en uit die kooi uit moet opstaan. Maar toe hy weg is, toe klou Ma my hande vas en vertel hoe swaar sy my in die lewe gebring het, en hoe dit my skuld is dat sy nie eens ’n dogter ná my in die wêreld kon bring nie.”
    Ek laat hom praat, wat ons almal hier in die buurt het gesien hoe sy oorle’ ma soos ’n neet aan hom geklou het. Sy’t altyd met ’n sterwende gekerm na hom geroep sodra sy ’n vrou se stem by hom gehoor het.
    “Jy weet, Bessie, noudat ek vrou soek, kan ek verstaan hoekom oorle’ Pa net die huis uitgestap het en soos ’n groot speld verdwyn het. Oor hy dit nie meer met Ma kon uithou nie. Maar hy het darem op sy sterfbed aan my gedink en my al sy geld laat erf. Daarom dat ek nie meer hoef te werk nie. As ek maar destyds na jou oorle’ Paul geluister het en vrou gevat het, sou dit nie vandag nodig gewees het om deur die koerant vir ’n vrou te soek nie.”
    Hy vee sy pikswart gladde hare met albei hande nog platter op sy kop en staan op. “Maar, Bessie, daai dae is verby!” Hy klink vasberade. “Ek gaan ’n vrou soek en haar gelukkig maak, al moet ek ook my pens vol Viagra suip om dit te doen!”

Ek was jare laas so geesdriftig soos in die tyd dat Stukkie vrou soek. Ek is elke oggend vroeg op en wag op hom om verslag te kom gee van al die vrouens wat op sy berig gereageer het. En hy kom lê vir my als uit oor al die oproepe wat hy kry en al die afsprake wat hy al nagekom het. Die vrouens bel uit die hele Wes-Kaap en hy gaan ontmoet der laaste een. Per bus, want sy oorle’ ma het so aan hom geklou dat hy nog nooit geleer het om kar te bestuur nie.
    Maar nadat hy al die afsprake nagekom het, wonder ek of my ou vriend nie maar liewer enkel moet bly nie. Daar is altyd iets met die vrouens verkeerd. As hulle nie te uitspattig lag nie, vloek hulle te veel. As hulle rokke nie te kort is nie, dra hulle broek nes ’n man. As hulle nie aan sy kerk hoort nie, het hulle nog nooit die binnekant van ’n kerk gesien nie. As hulle nie ouer as sy oorle’ ma is nie, hoort hulle nog in ’n babawiegie. Hy’s met niemand tevrede nie, maar hy soek nog steeds knaend.
    En toe kry hy ’n oproep uit die Vrystaat, en hy is net daar smoorverlief. “’n Sagte, beskaafde stemmetjie,” sê hy, “wat ook van swaarkry en weemoed ken.” Hy is só verlief dat hy plek op die vliegtuig bespreek en die Vrydag Bloemfontein toe is. Hy gaan vir ’n week daar kuier, en as sy hom geval, bring hy haar sommer saam, weet hy te vertel.
    Tot my groot verbasing is hy na twee dae weer terug. In trane. “Bessie, daai koerant lieg. Hulle help glad nie ’n mens nie. En sy is so ’n mooi dingetjie!”
    Ek kan van nuuskierigheid sterf, maar moet wag tot hy self op sy eie tyd vertel wat gebeur het. Hy doen dit na ’n lang ruk terwyl die trane oor sy wange rol en in sy bokbaard verdwyn. “Gawe mense, sê ek jou, Bessie. En sy is mooi en ordentlik. Of so het ek eers gedink. Vrydagaand kom haar hele groot familie mos toe bymekaar om my te ontmoet. Sy vra geld by my om vir my ’n partytjie te rëel. En ek gee haar die geld, want niemand het nog ooit vir my ’n partytjie gerëel nie. Toe die partytjie lekker aan die gang is, begin sy eers te proe-proe aan ’n glas wyn. Nes iemand wat vir die eerste keer drink. Ek drink maar die koeldrank — hemel, Ma sal dubbel en dwars in haar graf omdraai as ek die dag ’n druppel wyn oor my lippe sit! Maar, Bessie, toe ek my oë weer uitvee, toe suip die vrou asof sy wyn ontdek het, en ek besef net daar dat sy nie die vrou vir my is nie. Maar ek bly sit maar, want ek en sy het gereël dat ek vir die week in ’n agterkamer by hulle sal bly. En, Bessie, toe almal dronk is, toe begin die dansery, en almal wil met my dans. En jy weet mos dat ek nog nooit in my lewe gedans het nie. Die vrou pluk aan my om my aan die dans te kry, maar ek weier om ’n bespotting van myself te maak. En met die geplukkery aan my, pluk sy my pruik skoon van my kop af. Die gelag en bespotting, Bessie! Die vernedering! En ... en sy ... sy sit my net daar uit. Ek moes in die vreemde na ’n hotel gaan soek. O, B-e-s-s-ie!”
    Hy huil weer van voor af snot en trane. Ek troos hom tot hy tot bedaring kom en sê toe: “Stukkie, miskien is dit goed dat dit gebeur het. Ek meen, kan jy jouself voorstel wat sou gebeur het as julle die dag getroud is en sy sien dat jy jou bles snags in jou oorle’ ma se kopdoek in toedraai?”
    Maar dit was klaarblyklik die verkeerde troos, want hy vervies hom bloediglik en storm met sy tas die deur uit. Vir die hele week sien ek hom nie met ’n oog nie. Tot vandag toe, toe hy opgewonde sommer by die agterdeur inbars en by my kom staan waar ek met die kospotte besig is.
    “Bessie,” sê hy selfvoldaan, “dié koerantgesoekery na vrou is nie vir my bedoel nie. Ek gaan my vrou nes Markus van Eerste Rivier by die begraafplaas kry. Van Saterdag af gaan ek na elke begrafnis toe gaan sodat ek byderhand kan wees om al die weduwees in hulle tye van smart te kan vertroos!”

Sterkte

Dido

boontoe

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.