|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
The ABSA/LitNet
Chain Interview
|
|
Die Ketting
|
|
Eben Venter (geb 1954) word op 'n skaapplaas in die Oos-Kaap groot. Na skool doen hy 'n jaar diensplig in die Suid-Afrikaanse Lugmag en veg in die Angolese oorlog. Hy spesialiseer in Filosofie op universiteit en in 1986, die Jaar van die Noodtoestand, emigreer hy na Australië. Daar verdien hy vir 17 jaar sy brood en botter as 'n sjef. Hy het onlangs na Suid-Afrika teruggekeer en woon in Prince Albert saam met sy lewensmaat, Gerard Dunlop.
Venter het twee kortverhaalbundels en vier romans gepubliseer. Hy het al drie maal die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse roman van die jaar verower. Talle van sy kortverhale is in versamelbundels opgeneem, onlangs in The New Century of South African Short Stories. Sy romans is in Nederlands en Duits vertaal. Hy het die afgelope April en Mei kursusse in skeppende skryfwerk by universiteite in Pole en die Tsjeggiese Republiek aangebied. |
|
Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon gebore. Sy het in Riviersonderend en Stellenbosch skoolgegaan. Sy het tale en filosofie aan US studeer.
Na universiteit is sy na Duitsland,
waar sy teater bestudeer het, en daarna Nederland toe, waar sy haar
drs behaal. Sy het aan verskillende universiteite doseer en is tans
professor by die Universiteit van Stellenbosch. Benewens dramas en
poësie skryf sy romans soos die veelbekroonde en -vertaalde Triomf.
Toekennings:
1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch
1995: M-Net-prys, CAN-prys en Noma-prys vir Triomf
2005: Die UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat. |
|
Eben Venter gesels met Marlene van Niekerk
|
- Ek het die eerste keer kennis gemaak met jou skryfkuns in
Sprokkelster. Hoe staan jy teenoor jou digkuns en/of
sal jy weer gedigte publiseer?
Ek was baie jonk en onnosel toe ek daardie versies geskryf het waarvan jy praat. Miskien is "onnoselheid", in die Nederlandse sin van die woord, wel 'n voorwaarde vir die skryf van poësie. Ek verlustig my deesdae in die prille en bevloge werk, in die vreesloosheid van jong digters wat ek begelei in die skeppendeskryfkunde-kursusse van ons departement - Loftus Marais, Servaas van den Berg, Annie Klopper, Marius Swart, om maar 'n paar te noem. Hou hulle dop! Ek moet sê, die werk met die jong mense inspireer my op besondere maniere. Ek word gereeld verlei om self die oefeninge te doen wat ek vir hulle voorskryf, om te kyk of dit effektief kan wees, en ook omdat ek deur die jong digters se werk weer nuuskierig geraak het oor myself as "digter". Dit gee dan gekke eksperimente af soos om nuwe woorde te skryf op bestaande klassieke liedermelodieë - geen beter manier, trouens, om die jong digter - of énige digter, for that matter - te maak oefen met metrum, ritme en fokus van emosie in 'n gebonde liriese vers nie - en dit lei tot 'n herontdekte gevoeligheid vir die minuskule weerlose dinge en die vlugtige gewaarwording wat die speelplek is van die liriese poësie; en dan volg verdere eksperimente. Dus alweer 'n lang antwoord wat kort kan wees: ek dink mens raak weer al hoe "onnoseler" hoe ouer jy raak. Daar is geen beter horison as dié van eindigheid om die wêreld te bemin nie. So wish me luck!
- Wat ontroer jou ?
Die moed en nood van mense om aan te hou lewe onder omstandighede van fisieke lyding en siekte en ouderdom; die moed van mense om die hart oop te wil hou in 'n ontsettend brutale en siniese wêreld; en die moed van voëls om mekaar te bly roep, om hulle nes te bou en te beskerm, al word die bome afgesaag, al waai die gif in die wingerd, al krimp die vlei …
- Wat skok jou tot in jou diepste wese?
As ek dit gaan beantwoord, word dit in hierdie stadium 'n trilogie van 5 000 bladsye oor die dorp Ritselrivier!
- Gestel jy aanvaar die volgende stelling van 'n Guardian
Weekly-resensent as geldig: "one good working rule of art
is that great worlds fit best into small spaces", is jy in staat
om te sê wat jy in 'n roman wil sê binne die bestek van 200 bladsye
of minder?
As 'n mens oor die tegniek van hewige evokasie deur "beperkte" middele beskik, soos JM Coetzee, is jy natuurlik werklik 'n groot skrywer. Ek bewonder daardie vermoë oral waar ek dit teëkom en vir my studente sê ek altyd: skryf sewe woorde en skrap ses, dan lag hulle natuurlik baie lekker vir my. Dan is daar natuurlik die perversie om 'n "klein wêreld" soos dié van 'n tuberkulose-sanatorium in 'n bergreservaat in 'n lang formaat te ontwikkel (met natuurlik die kans om die sisteem van die detail te laai met 'n min of meer allegoriese sisteem van wyer kulturele en politieke betekenisse). Ek herlees elke paar jaar The Magic Mountain van Thomas Mann. Bloot ter wille van my rug dink ek ek sal volgende keer 'n korter boek probeer skryf. So gee my nog 'n kans!
- Jou teks oor die werk van Adriaan van Zyl was fassinerend. Wat is dit aan jou en wat is dit aan sy werk wat sulke wisselwerking meebring?
Wel daar het jy dit nou. Wat my fassineer, is sy vermoë om in relatief klein formaat 'n groot landskap in uiters "realistiese" detail te skilder en, omgekeerd, om in min of meer dieselfde formaat 'n veel kleiner gegewe ook in ekstreme detail te skilder. En dan altyd met groot soberheid, ingehoudenheid, understatement. En verder natuurlik sy seleksie van onderwerpe: dit gaan oor tyd en eindigheid, oor verlies, oor die melankolie van 'n skone dag, oor die reis wat altyd 'n reis na binne is … Sy jongste werk, tans te sien in die VVA-galery in Kaapstad, ondersoek op onverbiddelike wyse die ruimtelikheid van 'n hospitaal, die betekenis van 'n bed, 'n kassie, 'n tafeltjie, 'n lig, die betekenis van 'n ingang, 'n deur, 'n venster, 'n kamer, 'n teater in daardie "operasionele" konteks. Rondom hierdie spesifieke skilderye is daar 'n gesamentlike projek met teks en beelde in die pyplyn.
- Die Laaste Afrikaanse Boek verskyn in 2002. Gedoem!
is die eerste implikasie wat ek uit daardie titel afgelees het.
Toe, twee jaar later, verskyn Agaat en daar is weer lig.
Kan jy asseblief hierop kommentaar lewer?
Ek is verlig dat jy dink dit bring "lig"; volgens sommige van die nuwe Afrikanerpropagandiste is dit die volledigste "pleidooi" tot op hede vir die "selfopheffing van die Afrikaner". Mens wonder hoe hierdie liede deesdae onder die druk van hulle repeating (lees sooibranderige) nasionalistiese agenda sal oordeel oor Verkenning, Verliesfontein en Hierdie Lewe van Schoeman … oor sy liriese en soms défaitistiese koestering van verval en verganklikheid; oor Stockenström en Krog se kritiese en satiriese verse; oor Koos Prinsloo, oor Jeanne Goosen. Mens wil liewer nie dink wat met Peter Blum sou gebeur het as hy vandag op Ritselrivier sou gewoon het nie, om nie te praat van Uys Krige nie … Maar van hulle is reeds dood en onbereikbaar en kan nie so maklik met onmiddellike effek gebruik word deur ideologiese opportuniste wat wil piggyback nie. Tja, miskien sien ons binnekort 'n groot nuwe geskiedenisboek met 'n herwaardering van die Afrikaanse letterkunde uit die tans so verwoede penne van die "kultuurfilosowe", met perdalks etikette van "entartete Kunst" op sommige romans en digbundels geplak … En 'n nuwe kanon met Oemkontoe vir die nasie as voorbeeld van uitnemendheid … Ze mind boggles …
Intussen is daar 'n groot nuwe roman van Van Heerden en 'n postume massablitsverkoper van Matthee en 'n Miskruier van Jaco Botha; en Deon Meyer is weer aan die gang na sy sukses in 2004 met Infanta. In ons MA-skeppendeskryfkunde-klas sit jong skrywers en werk aan hulle eerste romans/biografieë oor die geskiedenis van Afrikanerbeestelers, oor die goedkoop materialisme en beeldmakelary van 'n nouveau riche Afrikaanse mediamagnaat en sy groupies, oor die seksistiese en rassistiese Afrikaanse moreleweerbaarheidstraktate en etiketboeke van die sestiger- en sewentigerjare, oor ID du Plessis, uitvoerende digterlike amptenaar van die eertydse Departement "Kleurlingsake" en sy vreemde liefde vir dansende "Maleier"-jongens, oor die lewe en werk van die komponis Arnold van Wyk … Afrikaans is ons oester! Werk, want die koring staan wit op die lande! Ek is nuuskierig oor waarmee jy self volgende vorendag gaan kom!
|
|
<< Back to the main chain
<<
LitNet: 08 November 2005
Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.
boontoe / to the top
|
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
|