Alles boeke!Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Werkswinkels in kreatiewe skryfwerk vir jongmense en mense wat betrokke is by jongmense

Persverklaring

Upington, 22-26 Augustus 2006

Aangebied deur die Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur, Universiteit van Suid-Afrika en vyf bekroonde Vlaamse jeugboekskrywers

I. Werkswinkel in kreatiewe skryfwerk vir jongmense

Dinsdag 22 tot Donderdag 24 Augustus 2006, Upington (Hoërskool Upington)

Kursusgangers kies vantevore een genre (prosa, poësie, toneel of joernalistiek) en volg vir drie dae ’n werkswinkel in die betrokke genre by dieselfde kursusleier. Marita de Sterck is verantwoordelik vir prosa, Els Beerten vir toneel, Daniel Billiet doen poësie en Kolet Jansen joernalistiek. Daar sal dus vier groepe wees waarin verskillende genres ter sprake kom.
Die werkswinkel vind in drie sessies plaas: van 14:00 tot 16:00, van 16:15 tot 18:15 en dan is daar van 18:30 tot 19:00 ’n halfuur waartydens kursusgangers op hulle eie skryf en die kursusleiers teenwoordig is om te help en vrae te beantwoord.
Koste: R250.00 (middagete ingesluit)

II. Werkswinkel vir mense wat opleiding wil gee in kreatiewe skryfwerk. Die kursus is gemik op onderwysers, bibliotekarisse, mense wat met jongmense werk … mense wat self skryfkursusse wil aanbied…

Vrydag 25 en Saterdag 26 Augustus 2006, Upington (Hoërskool Upington)

Deelnemers aan hierdie kursus maak met alle genres en alle kursusleiers kennis. Deelnemers word in 4 groepe verdeel en ontvang afwisselend opleiding by Kolet Janssen (joernalistiek), Daniel Billiet (poësie), Els Beerten (toneel) en Marita de Sterck (prosa).

Vrydag: van 14:00 tot 16:00, van 16:15 tot 18:15.
Saterdag: van 09:00 tot 11:00 en van 11:30 tot 13:30
Koste: R200 (middagete ingesluit)
Navrae: Thomas van der Walt (vdwaltb@unisa.ac.za) of Felicité Fairer-Wessels (012 4203955; 0845104844 of ffairer-wessels@up.ac.za of Faks: 012 4203349)
Inskrywingsvorm beskikbaar by: http://www.childlit.org.za/Creatief2006Reg.html
Of vra aan by Felicité Fairer-Wessels

Aanbieders:

Els Beerten
Els Beerten het Nederlands en Engels studeer aan die Koninklijke Universiteit van Leuven (1977-1981). Sy het terselfdertyd onderwysopleiding aan dieselfde universiteit gevolg en van 1981 tot 1983 woon sy die Toneelacademie in Maastricht, Nederland, by. Sedert 1985 is Els onderwyseres in Nederlands en Engels en gee sy opleiding in kreatiewe skryfwerk en teater aan die Sint-Jozefscollege van Aarschot. Van 2004 af gee sy ook les in kreatiewe skryfwerk (prosa) aan de Schrijversacademie van Antwerpen.

Haar eerste boek, Scènes (1987) het die Kannunik Michielsprijs ontvang as beste jeugboek. Haar nuutste boek, Lopen voor je leven, het in Augustus 2003 verskyn. Net soos in al haar vorige boeke staan die temas van geborgenheid, eerlikheid en vertroue hierin sentraal. Daarnaas behandel die boek ook die tema van erfskuld, ’n tema wat Beerten in haar volgende boek verder uitdiep.

Skryf is vir haar ’n manier om die wêreld te beheers, om begrip daarvan te probeer kry. “Ek lees wat ek skryf en ek dink: ‘Aha. So sit ek dus inmekaar.” Sy bly op soek na die regte woord vir die regte beeld. “Dit is veral ’n kwessie om geduld te hê.”

Lopen voor je leven is bekroon met die volgende pryse: Gouden Zoen 2004, De Kleine Cervantesprijs 2005, De Jeugdjuryprijs Vlaanderen 2005, De Kannunik Michielsprijs 2005. Die vertaling in Duits, Lauf um dein Leben (2005) het die vermelding “Buch des Monats, Mai 2005”, ontvang.

Werkswinkel in die skryf van toneel vir jongmense (22-24 Augustus 2006)

Die teater is een van die veilgste plekke op aarde. Jy mag daar lag, huil, soen, baklei, fluister, skreeu ... en niemand kyk skeef na jou nie. Inteendeel.

As deel van die kursus gaan ons In hierdie veilige ruimte eksperimenteer met alles om en in ons: ons liggame as instrumente, die ruimte om ons en die moontlikhede en grense daarvan. Geleidelik gaan ons dan begin om verhale te vertel van ’n verhoog af - aan ’n publiek. Watter gesigsuitdrukking, watter gebare, watter klanke, watter woorde gebruik ons? Hoe bou ons spanning op, hoe hou ons die spanning, hoe hou ons die publiek vasgenael op hulle stoele?

Ons improviseer en probeer, ons skryf en probeer.

In hierdie kursus is jy die akteur, skrywer, publiek en regisseur. Waarom moet jy hierdie kursus bywoon? Omdat jy baie dinge kan en wil doen ... of omdat jy dalk skaam is om alleen te probeer. Of omdat jy graag toneel speel. Of gewoon omdat die verhoog een van die lekkerste plekke op die aarde is.

Werkswinkel in die skryf van toneel vir onderwysers of volwassenes wat met kinders werk (25-26 Augustus 2006)

Dit is baie interessant om die teater aan jongmense aan te bied as ’n plek waar hulle hul eie en ander mense se verhale kan vertel. Els Beerten put in hierdie kursus uit haar eie ervaring. Eers word ’n oorsig gegee van die opleiding wat aan jongmense aangebied word en daarna word inleidende oefeninge gedoen ter bewusmaking van die medium waar alle ekspressie begin: ons eie liggaam. Ons eksperimenteer met die liggaam as medium van ekspressie en met die ruimte om ons en die moontlikhede en grense daarvan.

Die kursus word afgerond met ’n oefening waarin temas soos spanning, konflik en humor op die verhoog aan die bod kom.

Daniel Billiet

Daniel is gebore in Gent (hy glo dit is die mooiste stad in die wêreld) as een van ses kinders. Hy het daarvan gedroom om ’n professionele basketbalspeler te word, maar hoewel hy vinnig was, het Daantje te klein gebly om op die hoogste vlak te speel. Op papier speel lengte egter nie ’n rol nie, en hy het vinnig goed presteer in die “naelloopgenre van die literatuur’, die poësie.  

Hy het  jare lank entoesiasties gewerk as onderwyser in Nederlands en die laaste 10 jaar is hy voltydse outeur en dosent in kreatiewe skryfwerk. 

Hy wil die graagste op pad iewers heen wees – die doel is die reis. Hy het as vrywilliger gewerk in Nicaragua, ’n jaar lank deur Namibië geswerf, gereis in Rwanda, Indonesië, die Verenigde State, Suid-Afrika, Indië, Sri Lanka … Hierdie reiservarings sypel deur in sy gedigte en verhale, soos in Moenie worry nie (1999) en Een wereldkaart op ware grootte (2002).  

Daniel is veral bekend as (jeug)digter met 12 publikasies en sy gesigte is wyd opgeneem in bloemlesings. Hy skryf ook literêre kritiek, hoorspele, prenteboeke, kortverhale, ’n jeugroman, toneel … ook ’n dokumentêre televisieprogram, “Drie Vrouwen”, indringende portrette van drie langtermyn-vrouegevangenes van Gent.

Hy stel bloemlesings van poësie en prosa saam oor kinderregte, moderne kuns, diereregte en kinders van asielsoekers en lei sosiaal-artistieke skryfprojekte onder gevangenes, jongmense sonder geleenthede, slagoffers van ernstige misdade, asielsoekers en bejaardes. 

In 2006 verskyn ’n nuwe digbundel Wat van de liefde niet gezegd kan worden (Afijn) en ’n jeugverhaal Dit is mijn huis, zei het water

Werkswinkel in die skryf van poësie vir jongmense (22-24 Augustus 2006)

Die skryfopdragte van hierdie kursus begin elke keer met ’n plakkaat of ’n strokiesprent of iets verrassends. Daar is boeiende en leersame ooreenkomste tussen strokiesprente en gedigte. In beide genres word gepoog om met ’n minimum “materiaal” ’n maksimum suggestie te skep.

Kursusgangers skryf ’n eie weergawe of vervolg of ’n teenoorgestelde of ’n eie interpretasie van Daniel Billiet se gedigte wat in Afrikaans vertaal is. Dit gaan nie net ’n nabootsing wees nie - ons gaan stap vir stap soek na en werk aan ’n eie gedig – een waar die oorspronklike gedig nie meer ter sake is nie.

Werkswinkel in die skryf van poësie vir onderwysers of volwassenes wat met kinders werk (25-26 Augustus 2006)

Poësie is eintlik die mees dankbare stukkie literatuur vir ’n taalonderwyser om in klasverband te gebruik. En die keuse is oorrompelend ryk. Met baie fantasie, waagmoed en ’n bietjie oefening kan heel uiteenlopende boeiende poësielesse gegee word – en dit is nie eers nodig dat die onderwyser oor moderne tegnologie hoef te beskik nie.

In hierdie kursus word ’n aantal moontlikhede van hoe daar in die klas op ’n kleurryke en verrassende manier met poësie gewerk kan word, gewys en daarmee gespeel.

Kolet Janssen

Kolet Janssen (°1955) het Godsdienswetenskappe aan die Koninklijke Universiteit Leuven studeer en is deeltydse onderwyser. Sy het sedert 1988 meer as 40 boeke geskryf - fiksie en niefiksie. Sommige van haar titels is Het duivelskind (1991), Mijn broer is een orkaan (1994), Eiland (1996), Ik geloof dat ik geloof (1997, prijs religieuze boek), Wisselkind (2000), Seks, hoe voelt dat? (2003), De vlecht (2005), Onweerstaanbaar (2006). Sy is ’n vryskut medewerker van die tydskrifte van Averbode Zonnestraal, iD, Samuel en Simon. Sy gee ook werkswinkels in kreatiewe skryfwerk en joernalistiek (oa ’n literêre projek van die Stad Leuven in gemeenskapsentra in 2005-2006).

Tipies aan die styl van Kolet Janssen is die helder, eenvoudige taal. In haar fiksiewerke kom temas soos gesinsverhoudings, aanneming en outisme aan bod. Haar niefiksiewerk handel meestal oor temas soos seksualiteit en verhoudings, geloof en familie.

Werkswinkel in die skryf van niefiksie vir jongmense (22-24 Augustus 2006)

’n Fiktiewe verhaal hou dikwels die aandag van die leser vas omdat hy wil weet hoe die verhaal afloop. Die skrywer van niefiksie het nie dié voordeel nie. Tog is dit vir hom ook baie belangrik om die leser tot aan die einde geboei te hou. Watter verleidingstegnieke kan die skrywer daarvoor gebruik? Hoe kan die leser se aandag getrek word. Hoe kan die skrywer die leser aan die nek gryp sodat hy nie kan help om verder te wil lees nie? Hoe kan die teks gestruktureer word? Op watter manier kan voorbeelde gebruik word? Hoe word begin en wat word tot laaste gelos? Hoe word inligting uit bronne verwerk? Wat kan gedoen word met aanhalings? Hoe kan inligting geselekteer word?

Hoe kan ’n nuusberig geskryf word op ’n manier dat die leser nie ophou lees na die eerste sin nie? Hoe kan ’n sprankelende opskrif vir ’n artikel uitgedink word? Hoe kan ’n saai onderwerp interessant voorgestel word? Hoe kan ’n boeiende onderhoud geskryf word?

In die kursus word met nuusberigte (dag 1); informatiewe tekste (dag 2) en onderhoude (dag 3) geëksperimenteer. Kursusgangers gaan leer hoe om boeiende tekste te skryf wat die leser uitasem laat na die lees daarvan.

Werkswinkel in die skryf van niefiksie vir onderwysers of volwassenes wat met kinders werk (25-26 Augustus 2006)

’n Fiktiewe verhaal hou dikwels die aandag van die leser vas omdat hy wil weet hoe die verhaal afloop. Die skrywer van niefiksie het nie dié voordeel nie. Tog is dit vir hom ook baie belangrik om die leser tot aan die einde geboei te hou. Watter verleidingstegnieke kan die skrywer daarvoor gebruik? Hoe kan die leser se aandag getrek word. Hoe kan die skrywer die leser aan die nek gryp sodat hy verder kan lees? Hoe kan die teks gestruktureer word? Op watter manier kan voorbeelde gebruik word? Hoe word begin en wat word tot laaste gelos? Hoe word inligting uit bronne verwerk? Wat kan gedoen word met aanhalings? Hoe kan inligting geselekteer word?

Kolet Janssen beskryf in die kursus hoe ’n mens hierdie uitdaging met jongmense kan aangaan. ’n Oorsig word gegee van die oefeninge wat vir die verskillende stappe in die proses gedoen kan word. Daar word geëindig met kort praktykoefeninge.

Marita de Sterck
Marita de Sterck het literatuur en perswetenskap aan die Rijks Universteit Gent en antropologie aan die Koninklijke Universiteit Leuven studeer. Sy doseer leeskultuur aan die Bibliotheekschool van Gent en gee werkswinkels in die skryf van verhale. Sy het prenteboeke, boekies vir beginnende lesers, inligtingsboeke oor ander kulture, maklike-lees-verhale, jeugromans en boeke oor jeugliteratuur gepubliseer. Daar loop ’n lyn van die groeirituele en die inwydingsverhale wat sy as antropoloog bestudeer en versamel het, na haar jeugromans. ’n Terugkerende tema in haar werk is hoe jy kan leer liefhê sonder om jouself te verloor. Ook die krag van vertel en die verhoudings tussen die generasies duik dikwels in haar werk op. Splinters, wat in 2000 bekroon is deur die Jeugjurie van Vlaandere, vertel hoe Anton en Jutta meegesleur word in ’n lastige liefde waarin die verlede kort-kort weer kop uitsteek. Wild vlees, wat in 2001 bekroon is met die “Gouden Zoen”, handel oor verlies en gemis, maar ook oor die beste teenhanger - die liefde. In Op kot (Jeugdjury Vlaanderen, 2004) gooi nagmerries vir Nina terug in die tyd. Hoe ver kan die geheue teruggaan? In Met huid en haar (Zilveren Zoen, 2005), wil Joppe uitvind wat sy sterwende oupagrootjie verswyg, maar hy ervaar dat nog die dood, nog die liefde hulle laat stuur. In 2006 verskyn Kwaad bloed, ’n roman wat handel oor vrou word in die jare ’50. Wat vertel die liggaam as die volwassenes hulle dom hou?

’n Bundel met inisiasieverhale uit verskillende kontinente word tans voorberei.

Werkswinkel in die skryf van prosa vir jongmense (22-24 Augustus 2006)
Elke mens is ’n drom vol verhale. Verhale van voorouers, familie, vriende … hulle gons deur ons koppe en liggame. Watter verhale bly ons by? Watter verhale vra om opgeskryf te word? Hoe word dit gedoen met die nodige respek vir die oorspronklike verteller ... n sonder om jou eie oorspronklikheid uit te skakel? Afrika weerklink van verhale, sowel tradisionele vertellings as moderne “urban legends”. Ons probeer om hulle op te vang op papier. Daar is wins, en daar is verlies. Daar moet gekies word - voor ons skryf, terwyl ons skryf. Keuses hou ook verlies in … maar is ook ’n leerproses.
In die kursus word met riller-elemente gespeel wat die lesers op die punte van hulle stoele sal laat sit. Marita de Sterck en die kursusgangers gaan hulle in hul eie en ander mense se angste verdiep. Hoe misterieus kan ’n raaiselverhaal (mystery) wees? Hoe sleg mag ’n boef wees? Daar gaan probeer word om spannende karakters op papier te kry ... karakters wat die lesers aan die keel sal gryp. 

Daar sal gepoog word om spanning op te bou in die skryfoefeninge. Marita en die kursusgangers gaan oefen en kyk na goeie voorbeelde uit die literatuur en die filmwêreld.

Werkswinkel in die skryf van prosa vir onderwysers of volwassenes wat met kinders werk (25-26 Augustus 2006)
Elke jongmens het een of ander tyd na ’n mondelinge verhaal geluister – van oupas of oupas, ouers, bekendes, of wie ook al. Mondelinge literatuur het baie wat interessant is om aan te bied vir slypskole in kreatiewe skryfwerk. Marita de Sterck illustreer in hierdie kursus hoe sy met groepe jongmense werk rondom die tema “mondelinge verhale”. Sy sal haalbare metodiek en oefeninge voorstel wat jongmense sover kan kry om die oraliteit in hulle omgewings in hulle eie skeppingswerk in te skryf.

Ook hier gaan Marita en kursusgangers speel met riller-elemente en hulle in hul eie en ander mense se angste verdiep. Hoe misterieus kan ’n raaiselverhaal (mystery) wees? Hoe sleg mag ’n boef wees? Daar gaan probeer word om spannende karakters op papier te kry ... karakters wat die lesers aan die keel sal gryp.  Daar sal gepoog word om spanning op te bou in die skryfoefeninge. Marita en die kursusgangers gaan oefen en kyk na goeie voorbeelde uit die literatuur en die filmwêreld.



LitNet: 7 Augustus 2006

to the top / boontoe

Send us your comments. Write to webvoet@litnet.co.za and join our interactive opinion page! The letters page can be found here

© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.