Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Eisj vir die brandewynman!

Foto's: Hannes van der Merwe

Saartjie Botha het vir die jongste uitgawe van INSIG gaan praat met die gasvrye boertjie wat sy Klippies met ‘eisj’ drink in die TV-advertensie. Neels van Jaarsveld is 26 jaar oud, talentvol, onstuitbaar – en op sy gevaarlikste ooit. Hy droom van baie geld, baie roem en ’n (baie mooi) vrou, want – let wel – hy’s beskikbaar, baie beskikbaar … Hier’s ‘n lusmaker.

Daar was ’n oulike blondekop met die naam Martsó en sy het in ’n hangende oliekonka gelê waarvan die bo- en onderkant afgesaag was. Hy en ’n knaap genaamd Thinus het dan resies gehardloop tot by Martsó en die een wat eerste kom, kon haar soen. Thinus was groter en het altyd gewen. Toe besluit hy nee my magtig, en oortuig sy maters om voor Thinus in te stap of hom tydens die wedloop te pootjie. Met ’n bietjie hulp van sy vriende smaak hy toe die soete lippies van oorwinning op ouderdom vyf.

“Dis darem die een ding wat ek het, baie vriende. Ek ken niemand wat so baie vriende het soos ek nie. Wow, dis awesome, al die vriende!”

Behaaglik spoeg Neels van Jaarsveld die woorde uit – whaaow, magggtig, Mmmmartsó. Sy kuif staan regop, sy stoppelbaard is versorg, stylgewys is hy meer retro as metro, maar man, nietemin, en veel daarvan. James Deanerig. Patrick Swayzerig. Colin Farrellrig. Eiesoortige aantreklikheid, eiesoortige spraakritmes en woordgebruik, ambisieus eerder as arrogant, joviaal, sjarmant, ondeund, oer. Hy is die goue seun van teater, hy’s Rocky in Hard Copy, Eisj die brandewynman. Neels van Jaarsveld is 26 jaar oud, uiters talentvol, onstuitbaar en volgens hom op sy gevaarlikste ooit.

Ons eet ontbyt. Ek ken hom amper agt jaar, het saam met hom aan sewe teaterproduksies gewerk, die land deurkruis agter feeste aan, in plattelandse koffiewinkels rondgehang en tyd verwyl, saam partytjie gehou, al skandes beleef. Ek ken sy prosesse as akteur, glo ek het begrip vir die enigma, maar wil weer en meer vra. Om na Neels se praatjies te luister, kan hoogs vermaaklik wees, en van hom sal jy nooit alles weet nie.

Mmmmartsó sê hy weer. “In standerd vyf het ek vir tien maande ’n meisie gehad, maar ek het nie met haar gepraat nie, nie ’n enkele woord nie, sy was Engels. Ek het niks met haar gedoen nie, ek het haar net gehad. Ek móés, genugtig, ek was immers hoofseun.” Na Martsó was die volgende soen eers tydens sy matriekvakansie. Hot Lips noem hy haar, sy was van Wellington. “Dit was goeie tye, maar ons het nie meer kontak nie.”

Sy oë soek, jag. Neels is deesdae ’n vry man nadat ’n verhouding van twee jaar onlangs beëindig is. Sy hart is nog seer, maar hy is beskikbaar en ek moet dit skryf. Hy soek ’n vrou wat uitgesorteer is, gelukkig in haarself, eerlik en sonder te veel verwagtinge. Sy vorige meisies was almal besonder aantreklik – ’n besliste voordeel vir voornemende kandidate, maar nie ’n vereiste nie. Hy wil graag trou, want dit bied rede om ’n reusemakietie te hou en al sy baie vriende te nooi.

Om ons staar minstens drie vroue van verskillende ouderdomme na Neels. Die ouer vroue wat so oor hom swymel? “Hulle dink seker maar ek is ietsie lekkers,” lag hy. Hy het iets, die klong het beslis iets aan hom, dis nie altemit nie. Hy het geen probleem om ’n sekssimbool te wees nie, laat blyk hy skamerig maar ’n klein bietjie selfvoldaan. ’n Middeljarige man by die tafel oorkant ons kom vra of sy blom van ’n dogter saam met Neels afgeneem kan word. Neels sê natuurlik, dis ’n eer. Ek neem die foto, Neels blom, die blom blom, die pa kyk trots toe. ’n Mens moet jou bekendheid benut, dit vir jou laat werk, jou televisie-aanhang gebruik om mense in die teater te kry, glo hy. Hy hou van aandag, daaroor is hy doodeerlik, hy wil bekend wees, dis heerlik as mense hom herken. “Faam” noem hy dit. Watter akteur sal nie daarvan hou om op ’n billboard te wees nie? vra hy tereg.

Cornelius Johannes Frederik is in Kuilsrivier gebore, onder die sterreteken Tweeling, die jongste ná ’n suster en ’n broer. Hy dra met trots die name van sy oupa, die ekonoom Kerneels Human, destyds voorsitter van Federale Volksbeleggings. In sy vierde lewensjaar verhuis die familie van Jaarsveld na Johannesburg waar sy pa as radioloog praktiseer. “Ons was ’n modelgesin, toe,” sê hy. Die koekiekas was altyd vol, dit het goed gegaan. “Toe my broer in my standerd agt-jaar gaan medies swot op Stellenbosch, is ek Paul Roos toe. Ek wou nie die enigste kind in die huis wees nie. Kan jy dit glo, hoe belaglik is dit nie!”

Sy jaar op Paul Roos was lewensveranderend. Veral die eerste ses maande was absolute hel, alleen in ’n koshuiskamertjie met stink sokkies, die grootste boelie in die skool wat nie van hom gehou het nie – en Neelsie was ’n klein outjie. Toe ontdek hy en sy bodyboard Pringlebaai en vandaar gaan dinge beter. Standerd nege was hy terug in die Hoërskool Linden. “Dit was gunstig vir my; ek was nie onbekend nie, maar ek was ’n nuwe flavour. En wat ’n bonus: gange vol meisies wat lekker ruik en my ma se kos!” Hy het nie van skool gehou nie en wiskunde glad nie verstaan nie. Bokant die wiskundebord het gestaan: “Wie nie beplan nie, misluk.” Daarvan het hy wel iets begryp en dis vandag vir hom ’n lewensleuse. In matriek was hy nie hoofseun nie, want “daar was ’n langafstandatleet met beter leierseienskappe”.

Sy pa was skepties oor sy planne om drama te studeer en het slegs ingestem op voorwaarde dat hy eers regte studeer en daarna drama. Neels bewerk dit toe so dat drama eerste aan die beurt kom en regte uiteindelik glad nie. Hy het nie eens sy graad behoorlik gehad nie, toe is hy al in TV-advertensies en professionele teaterproduksies. Die Stellenbosch-tyd in die koshuis Wilgenhof was die goue jare; baie nuwe vriende, sy ou groen Cressida genaamd John The Breeze Gomez waarin hy sy baie vriende kon rondkarwei, die see, meisies en so ’n bietjie studeer.

“Wilgenhof het wêrelde vir my oopgemaak, my gedwing om te dink oor dinge.” Om doopkaptein te wees was sy lekkerste rol nog. Wilgenhof doop nie regtig nie, niks sinnelose en skadelike aktiwiteite nie, hulle braai net en drink rooi koeldrank, sê hy beslis om die onderwerp af te sluit.

Sy ouers is in dié tyd geskei. Dit was vir hom ’n skok en hy was die laaste een wat daarvan te hore gekom het. Nie eens vermoed daar is fout nie. “Hulle was seker maar net te goeie toneelspelers.” Hy dink sy ma is wonderlik, sy is sy grootste bewonderaar, sy eerste groupie. Vir sy pa is hy ’n bietjie kwaad. Hy het wel vir Neels ’n nuwe motor gekoop en sy selfoonrekening ’n tyd lank betaal; die dankbaarheid daaroor versag die kwaad in ’n mate.

“Toe hulle die huis opgepak het ná die egskeiding en voordat hy na Londen verhuis het, het hy my surf magazines weggegooi. Ek het die goed versamel, dammit. Op skool het ek elke middag net een bladsy verder geblaai sodat die tydskrif die hele maand kan nuut wees, elke dag net een foto verder gekyk.”

’n Oefening in dissipline, die afwesigheid van gulsigheid, die nakoming van ’n private ooreenkoms met homself, probeer ek die stukkie inligting interpreteer. Dalk omdat dit vir hom heilig en vol bekoring is, die blou waters. Die see, die see, dis waar hy, op sy bodyboard, tot homself kom. Die lê en wag vir die regte oomblik, die skoonheid en opwinding van ’n brander wat breek, daardie momente van ekstase as jy die uitskot van die oseaan tem. Dis wanneer hy beplan en dink, in afsondering tussen die dreigende elemente.

  • Lees meer in die Julie-uitgawe van INSIG wat vanaf Maandag 27 Julie beskikbaar is!







    LitNet: 24 Junie 2005

    boontoe / to the top


  • NOT FOUND