Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My generation
Tom Dreyer Tom Dreyer was born in Cape Town in 1972. He studied at the University of Stellenbosch (BA and BA Hons in English) and at the University of Cape Town (MA in Creative Writing). In addition to short stories and poetry, his publications include the novels Erdvarkfontein and Stinkafrikaners. Stinkafrikaners was awarded the Eugène Marais Prize in 2001. Tom lives in Somerset West and works as a business analyst.
" 'n Man lê agter in 'n Land Rover en bloei, terwyl die bestuurder en sy maat gesels oor rugby of oor laas naweek se polisiebraai. Dan skiet nog 'n Casspir om 'n draai en mense koes weg agter sinkplaat-barrikades. En ek, ek lê op die mat voor die televisie en kyk hoe Cassimir, die vriendelike oranje drakie, laggend in die rondte tol."
"A man lies bleeding in the back of a Landrover, while the driver and his chum talk about rugby or last Sunday's polisiebraai. Then another Casspir screams around a corner and people dive in behind barricades of corrugated iron. And all the while I am lying on the carpet in front of the TV, watching Cassimir, the friendly orange dragon, frolicking in his strange orange world."

Die mond het klaar gelag

Tom Dreyer

Also available as: Strange orange world

Gun my om myself aan u voor te stel. My naam is Tom Dreyer. Ek is in 1972 in Kaapstad gebore, en het grootgeword in 'n lang dun driehoek tussen Melkbos, Johannesburg en Stellenbosch.

Ek staan op 'n sementtafeltjie naby Victoria-Wes en kyk na lugspieëlings bo die teer. Ek drink koffie uit 'n termosfles, skil 'n hardgekookte eier en gooi die doppe in 'n drom met die woorde Zip dit in 'n zibbie blik. Ek hardloop saam met my broer deur 'n veld vol Namakwaland-daisies, tot ons tussen die stingels neerval om na die blou lug te lê en kyk. Ek staan in 'n motorhuis, met die wieldop van 'n Variant in my hand, terwyl my pa al hoe dieper onder die onderstel inkruip. Ek dobber in 'n portapool, terwyl my suster soos 'n flamink op een been balanseer, en die son rondom ons op die water skitter.

Iewers brand daar shacks. Casspirs bars deur padversperrings, terwyl 'n waas van traangas en rook die son versluier. 'n Rubberkoeël tref 'n kind in die gesig. 'n Man lê agter in 'n Land Rover en bloei, terwyl die bestuurder en sy maat gesels oor rugby of oor laas naweek se polisiebraai. Dan skiet nog 'n Casspir om 'n draai en mense koes weg agter sinkplaat-barrikades. En ek, ek lê op die mat voor die televisie en kyk hoe Cassimir, die vriendelike oranje drakie, laggend in die rondte tol.

In sy roman The Good Soldier vertel Ford Maddox Ford die verhaal van twee paartjies wat jare lank dieselfde spa in die Duitse platteland besoek. Vir die verteller was dit wonderlike jare, tot sy oogklappe afgeruk word en hy besef dat sy vrou en die ander man nog heeltyd 'n affair gehad het. Hy is van aangesig tot aangesig met 'n dilemma: Wat gebeur met goeie herinneringe as jy agterkom dat hulle op leuens gebou was, op fondamente van sand? Kan plesier wat in onkunde ervaar is, terugwerkend ongedaan gemaak word? Kan 'n mens die heerlike smaak van 'n bottel wyn op die terras van 'n spa, of van 'n glas Oros in die koel water van 'n portapool, terugtrek, soos jy 'n vis uit die water kan terugtrek?

Op 'n sekere vlak is dit tog onmoontlik. Die verlede - met al sy oomblikke van vreugde en verdriet - is verby, en niks wat ons doen of sê kan meer enigiets daaraan verander nie. Die mond het klaar gelag, die hart het klaar gebons en 'n vloed van ekstase het onherroeplik deur die bloed gebruis. "If for nine years I have possessed a goodly apple that is rotten at the core and discover its rottenness only in nine years and six months and four days, isn't it true to say that for nine years I possessed a goodly apple?" vra Ford se verteller.

Maar dít is ook nie die volle prentjie nie, want wie kan daardie hol gevoel ontken, daardie mengsel van woede en skaamte wanneer jy besef dat 'n doek oor jou oë getrek is en die wêreld eintlik glad nie lyk soos jy gedink het dit lyk nie? Vir Ford se verteller voel dit asof al die lewe en sonlig uit sy herinneringe gesuig is. Sy droom het 'n nagmerrie geword: sy herinneringe word omraam deur die skaduwee van wat eintlik aan die gang was, en hy verwyt homself dat hy ooit so blind, kortsigtig en selfbehep kon gewees het.

Die verlede mag verby wees, maar dit beteken juis dat die woorde en beelde in ons gedagtes al is waar dit nog bestaan - en in die wêreld van die gedagtes is enigiets moontlik. Daar kán voëls agteruit vlieg, en kán wynbottels hul wyn uit ons monde terugtrek om dit weer agter lood en kurk te verseël.

Ek, en ander jongmense van my generasie, kén die dilemma van Ford se verteller. Ek bevind my in die eienaardige posisie dat ek 'n gelukkige kindertyd beleef het in 'n Suid-Afrika wat vir die meeste Suid-Afrikaners allesbehalwe gelukkig was. Skool, familie, vriende en televisie was 'n veilige klein dop waarbinne dit moontlik was om te glo dat Suid-Afrika maar 'n land is nes enige ander, en dat die meeste mense se lewens maar op 'n manier soos my eie was. Eers later, nadat die blindelingse dae van die tjokker plek gemaak het vir die soekende dae van adolessensie, sou ek, woedend en verslae, besef wat eintlik aan die gang is.

Maar wat doen ek nou met my herinneringe aan daardie vroeër tyd? Wat doen ek met die feit dat ek eens gelukkig was in die valse wêreldjie binne die dop? Is dit enigsins toelaatbaar om nostalgies te raak daaroor? Want is dit nie die ergste van taboes nie, om - soos Simson eens 'n heuningkoek uit 'n verrotte leeukarkas gelig het - iets goeds te haal uit 'n tyd toe soveel ander swaargekry het? Hoe kon ons gelag het terwyl miljoene mense rondom ons huil? Hoe kon ons in portapools gespeel het terwyl die sirenes van Sharpeville en Boipatong rondom ons loei?

'n Algemene reaksie is om jou van jou eie herinneringe te probeer distansieer en te probeer om slegs in die hede te leef. Maar so 'n skuif is, veral vir die skrywer, baie problematies.

Skryf behels vir my twee uiteenlopende prosesse. Die een proses is rasioneel en berekend, die koel opweeg van woorde en frases, die oor en oor skaaf van sinsnedes totdat hulle nie meer 'n enkele oorbodige bultjie of duikie bevat nie. Die ander proses is rouer en het met rasionaliteit maar min te make: dit is die skeppingsproses self, daardie geheimsinnige alchemie wat plaasvind as jy jou kritiese vaardighede vir 'n oomblik opsy skuif en jou oorgee aan die suiwer wêreld van beelde, argetipes en herinnering.

Ons kinderdae is een van die belangrikste voedingsare van dié wêreld. Telkens as ek myself oorgee aan die stroom waaruit woorde ontspring, proe ek weer die smaak van Oros, sien ek weer die son soos 'n stralekrans op 'n portapool skitter, of soek ek weer skilpaaie iewers in 'n vergete agterplaas.

Dit is so dat ons baie lae van herinnering het; baie dinge gebeur met ons ná ons kinderdae, en ook hierdie dinge vind uiting in ons skryfwerk. Dit is na alles die taak van die skrywer om aan die ingewikkelde knope van mense se emosies en motiverings te torring - en insig in hierdie dinge kom op slegs een manier en dit is deur lewenservaring. Maar ek voel dat 'n skrywer altyd ook besig is met 'n selfs meer basiese projek: om die blote toestand van "lewend wees" te ondersoek, om die fundamentele werklikheid van dinge te probeer peil, daardie ding wat van 'n klip 'n klip maak, van 'n nartjie 'n nartjie, of van 'n mens 'n mens. Hierdie greep op die wêreld, en hoe dit voel om deel daarvan te wees, word vroeg reeds vasgelê.

Daar is iets magies aan jeugherinneringe; hulle is uit fokus en tog gebaai in lig. Miskien omdat hulle neergelê word in 'n tyd van vryheid, behou hulle iets van daai vryheid, soos water die smaak behou van die klipbanke waardeur dit vloei. Miskien omdat hulle gevorm word voor die vooroordele en vooropstellings wat latere ervaringe sal kleur, ervaar ons hulle as groter en meer universeel, soos argetipes ongebonde aan ruimte of tyd.

Dalk moet ek nou eers 'n vraag aanspreek wat in die leser se gedagtes mag draai: Hoe is dit moontlik dat enigiemand so beskut kon grootword? Hoe kon iemand in die Suid-Afrika van die 1970's dit regkry om te dink dat alles hunky dory is, of ten minste okay genoeg om skilpaaie te vang eerder as om te betoog of bomskuilings te bou?

In antwoord hierop sou ek die leser herinner dat die ganse samelewing destyds ingerig was om die illusie van normaliteit in stand te hou. Skool, kerk en staat het saamgewerk om te keer dat enigiets ons snoesige klein eierdop bedreig. Ja, daar was korrektiewe - snarse van grootmensgesprekke, flitsberigte van soldate of betogers wat iewers gesterf het, en natuurlik ook die basiese bewussyn van mense wat op die periferie van ons eie wêreld leef, maar van wie ons eintlik bitter min geweet het. Daar wás suggesties dat alles nie pluis is nie, maar vir ons was die illusie meer werklik as los leidrade dat daar iewers agter ons wêreld ook 'n ander wêreld bestaan.

Dit sou verkeerd wees om die politieke bewustheid van die gemiddelde elfjarige te oorskat. Alexander die Grote kon kleintyd geween het oor daar maar net soveel lande was vir hom om te verower, en Hector Peterson was op dertien al mans genoeg om die koeëls van die SAP aan te durf, maar die meeste van ons word nie só gou groot nie. Ons hoef ons ook nie hieroor te verwyt of te verknies nie. Wanneer jy eers groot is, is daar oorgenoeg tyd vir die kwellinge en verantwoordelikhede van volwassenheid. Sorgeloosheid en verwondering was nog altyd 'n kind se geboortereg.

Tog is dit seker onafwendbaar dat ons inisiasie hier in Suid-Afrika 'n bietjie vroeër as elders sou kom. Ek onthou nog die dag - dit moes 1983 of '84 gewees het - toe ons op skool die Franse rewolusie behandel het: 'n volk wat sê genoeg is genoeg, 'n tronk se mure wat val en sonlig wat terugkaats teen die lem van 'n guillotine. Die onderwyser het seker maar gebid ons sien nie die parallelle met ons eie situasie hier aan die suidpunt van Afrika nie, maar 'n paar van ons het, en dit sou 'n periode word wat nie ons of hy gou sou vergeet nie. Ek onthou nog hoe ek gevoel het toe ek na die tyd op die skoolgronde uitstap. Ek kon in my geestesoog reeds die mure van Louw Geldenhuys-laerskool sien val, 'n vooruitsig wat my 'n bietjie bang, maar tog ook opgewonde gemaak het. Kinderagtig? Gewis, maar as jy elf jaar oud is, mag jy maar kinderagtig wees.

Al was niks daarna weer heeltemal dieselfde nie, het die lewe tog teruggeglip in die ou ritme van fietse, skateboards en kreepy kraulys, ook 'n groeiende bewustheid van die meisies in hul maroen skoolrompe. Werklike woede en ontnugtering oor wat in ons land, ons stad en ons koppe aan die gang was, sou eers oor 'n jaar of twee op ons inbreek - tot dan toe sou ons nog blindelings leef soos kinders in alle eeue.

Laat ons dit maar teenoor mekaar erken: 'n soort skisofrenie loop soos 'n rif deur ons generasie se gedagtes, ons wat grootgeword het onder 'n sekere stel reëls en nou leef in 'n wêreld waar ander reëls geld. Dat die veranderinge ten goede was, en ook lank agterstallig, beteken nie ons het nie aanpassings om te maak nie. Ek stoei met my skuldgevoel oor 'n gelukkige kindertyd in die dae van apartheid. Maar is die jong swart skrywer met 'n gelukkige verlede nie maar in 'n ewe eienaardige situasie nie? Sy ervarings klop ewe min met die aanvaarde weergawe van die geskiedenis. (En wat van die wit skrywer met 'n ongelukkige verlede?)

Ons herinneringe maak ons wie ons is; hulle bou 'n gevoel van identiteit en gesitueerdheid, maak van ons burgers eerder as verbygangers. Om ons uiteenlopende verledes te probeer vergeet of onderdruk, is sleg vir die psige, en kan vir skryfwerk die doodskoot wees.

Miskien is dit juis ons generasie skrywers - ons wat óór die rif staan - se verantwoordelikheid om die verhale van ons jeug saam te voeg en hulle met mekaar en met die werklikhede om ons te probeer versoen. Eers dan sal ons stories uit die papier opstaan, sal ons begin om 'n beeld te kry van hoe dit voel, en wat dit beteken, om vandag 'n Suid-Afrikaner te wees.

<< Back to all authors <<


LitNet: 03 November 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.