Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My memory
Nini Bennett Nini Bennett was born in Pretoria in 1972. She obtained a BA (Honours) (cum laude) in Literary Studies (Algemene Literatuurwetenskap) from the University of Pretoria. In 2002 she obtained a Masters degree in Creative Writing (also cum laude) under the supervision of Etienne van Heerden. Her short story collection Stoornis was published by Tafelberg Publishers in 2002 and was awarded the RAU Mardene Marais Prize for the best debut publication in Afrikaans (2003).
"Gesonde droefheid is sonder skuld en skande. Abnormale droefheid, soos in die geval van die 'tweede slagoffer' s'n, word deur die volgende gekenmerk: die persoon verleng die tydperk van smart met 'n skuldgevoel; die droefheid word onderdruk of vertraag, of 'n relikwie word van die afgestorwene gemaak as 'n simbool van die onvermoë om die trauma te verwerk."
"Healthy sorrow is devoid of guilt or shame. Abnormal sorrow, as in the case of that of the 'second victim', is characterised by the following: the person extends the period of sadness with a feeling of guilt; the sorrow is suppressed or delayed, or the dead person becomes a relic as a symbol of one's inability to work through the trauma."

Die rol van die "tweede slagoffer": aborsie en trauma

Nini Bennett

Also available as: The role of the "second victim": abortion and trauma
Traumatiese reaksies jeens aborsie word dikwels nie herken nie, veral omdat menige gesondheidswerkers verwag dat aborsie "verligting" bied aan 'n ongewenste of ontydige swangerskap. Aangesien aborsie wettig is volgens die Wet op die Keuse van die Beëindiging van Swangerskap 92 van 96, word die mensheid van die fetus nie erken nie, en word daar maklik aangeneem dat die vrou niks het om oor te treur nie. Lewe begin volgens die reg by geboorte en nie by die wetenskaplike begin van lewe, bevrugting, nie. As die lewe van die fetus in die Suid-Afrikaanse reg erken was, sou aborsie moord beteken. En terwyl aborsie steeds openbare debat van die kerk, prolewe- en pro-aborsie-groepe ontlok, skiet beradingsdienste vir die "tweede slagoffers" (Ross 1992), die moeders wat aborsies op aanvraag laat ondergaan, ver te kort.

Studies het aangetoon dat mans, vroue, gesinne en selfs gesondheidswerkers in die negatiewe psigososiale reaksies wat spruit uit aborsie, kan deel (Speckhard & Rue 1992).

Aborsie kan onder die nuwe wetgewing inderdaad as verligting van stres vir menige ongewenste swangerskappe funksioneer, terwyl dit tegelyk en daaropvolgend as psigososiale stressor deur sommige mense ervaar mag word. Dit is laasgenoemde "dubbelmag-problematiek" wat die gemeenskap onsimpatiek en selfs veroordelend teenoor die vrou laat: indien sy simptome van trauma na 'n aborsie ondervind, dan "doen sy boete" vir haar "sonde". Ook die ontkenning van die samelewing dat aborsie 'n traumatiese stressor is, veroorsaak dat die postaborsie-sindroom ongesiens verbygaan en dikwels verkeerd gediagnoseer word.

A. Posttraumatiese stresversteuring

Volgens Louw (1989:144) omvat die traumas wat tot ernstige posttraumatiese stresversteuring lei, 'n ernstige bedreiging ten opsigte van die persoon se lewe of fisieke integritieit; 'n ernstige bedreiging rakende die persoon se kinders, gade of ander noue familielede of vriende; die skielike verwoesting van die persoon se huis of gemeenskap; of die aanskouing van 'n ander persoon wat ernstig beseer of dood is as gevolg van 'n ongeluk of fisieke geweld. In sekere gevalle kan die trauma sentreer rondom 'n ernstige dreigement of leed wat 'n goeie vriend of familielid aangedoen is (byvoorbeeld dat die persoon se kind ontvoer, gemartel of gedood is).

Die essensiële kenmerk van hierdie versteuring is die ontwikkeling van kenmerkende simptome wat volg op 'n traumatiese gebeurtenis wat buite die gewone menslike ervaring val (byvoorbeeld huwelikskonflik en finansiële verliese). Slagoffers van oorloë, misdaad soos kaping en verkragting, en persone wat gyselaar gehou word, is klassieke voorbeelde van lyers van PTS.

Wilmoth et al (1991) is van mening dat postaborsie-sindroom nie 'n tipe posttraumatiese stresversteuring is nie, omdat aborsie uit willekeur gedoen word en die daaropvolgenede trauma dus nie aan "omstandighede buite die slagoffer se beheer" toegeskryf kan word nie.

Volgens Speckhard & Rue (1992) is dit egter juis die willekeurige aard van, en "vrywillige deelname" aan, die aborsie-besluitneming wat verantwoordelik is vir die mate van traumatisasie wat ervaar word. Sommige "tweede slagofffers" voel ook dat hulle aborsies nie totaal vrywillig was nie, maar dat hulle as gevolg van sosio-ekonomiese faktore, ensovoorts, daartoe gedwing was en dat dit die enigste "opsie" was wat besksibaar was. Ander voel weer dat hulle nie behoorlik voor die tyd ingelig was nie.

Die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Geesteswetenskappe (4de uitgawe) het nie die afdeling vir postaborsie-sindroom ingesluit nie, maar volgens Van der Spuy (1997:33) kom posttraumatiese stresversteuring die naaste aan postaborsie-sindroom. Hy beweer voorts dat vroeë navorsers oor postaborsie-sindroom 'n opvallende ooreenkoms opgemerk het tussen die simptome van 'n aborsieslagoffer en Viëtnamese veterane wat aan PTS ly.

Die postaborsie-sindroom kan volgens Speckhard & Rue (1992) gedefinieer word as die langtermyn, chroniese en disfunksionele versteurde aanpassings wat die resultaat is van:

  • die onvermoë om emosionele reaksies van 'n traumatiese gebeurtenis te verwerk;
  • 'n gevoel van verlies na 'n aborsie en die daaropvolgende onvermoë om daaroor te rou;
  • die onvermoë om vrede in hulself, ander en God te kry so lank as die gevoelens wat betrekking het op die aborsie, onderdruk en ontken word (Van der Spuy 1997:28).

Die gevolge van aborsie is nie 'n oppervlakkige skuldgevoel of hartseer of twyfel oor die morele implikasies van die daad nie. Volgens Collins (1988:429) behels dit 'n diepe rou, selfvernietigende dade, verbreekte verhoudings, seksuele versteurings, 'n lae selfbeeld, toename in kindermishandeling, selfmoord, alkoholisme, dwelmmisbruik en ook 'n uitroep na God wat hulle dalk nooit sal kan vergewe nie omdat hulle hulle eie kinders "vermoor" het. Dit is insiggewend dat vroue met postaborsie-sindroom die aborsie dikwels as die dood (moord) van die fetale kind beleef, wat myns insiens 'n prolewe-argument is.

Die volgende simptome word ook gemeld:

  1. Herinneringe, byvoorbeeld nagmerries, terugblikke, die herdenkingsdag van die aborsie, en die sien van ander swanger vrouens, babas, stofsuiers en dokters se spreekkamers.
  2. Vertraagde reaksies: verminderde belangstelling in betekenisvolle aktiwiteite, vervreemding van ander en 'n afgestompte gemoed.
  3. Meegaande simptome soos byvoorbeeld woede, skuldgevoelens, stres, depressie, middelmisbruik, slaapversteurings en 'n preokkupasie met die geaborteerde kind.
  4. Interpersoonlike probleme met mans. Volgens navorsing word 70 persent van verhoudings verbreek binne 'n maand na die aborsie (Ross 1992). Toekomstige intimiteit word ook verminder.
  5. Geskende vertroue. As die verhouding die aborsie oorleef, word die verlies óf geminimaliseer óf gemaksimaliseer.
  6. Die effek op die volgende kinders. Die moeder kan enersyds 'n onvermoë hê om te bind, want sy is bang iets ernstigs sal met hulle gebeur, of sy kan oorbeskermend raak en die kind(ers) as substituut vir die geaborteerde kind sien.
  7. Die verhouding met die vrou se familie. Soms word die aborsie gesien as 'n "familiegeheim" waaroor niemand praat nie, en loop dit op verdeeldheid of afstand tussen die vrou en die familie uit.
  8. 'n Geestelike bestaanskrisis. 'n Gevoel van intense skuld en vervreemding teenoor God word ervaar.

Die simptoombeeld moet die oorsaak wees van 'n klinies beduidende smart of inperking van sosiale, arbeids- of ander belangrike gebiede van funksionering, en moet vir langer as een maand teenwoordig wees alvorens 'n diagnose van PTS gemaak kan word.

B. Akute stresversteuring

Die ontwikkeling van angs en dissosiasie wat binne een maand na die blootstelling aan 'n erge traumatiese stressor voorkom, kenmerk dié versteuring. Volgens Van der Spuy (1997:35) kan die aborsie- of post-aborsietydperk as erge traumatiese stressor ervaar word. In reaksie op die aborsie ontwikkel die moeder simptome wat afstand skep, byvoorbeeld:

  • 'n gevoel van afwesigheid van emosionele reaksies;
  • die gevoel dat sy "in 'n waas leef";
  • dissosiatiewe geheueverlies (byvoorbeeld psigogene geheueverlies) - sommige vroue kan nie die mees traumatiese aspekte van die aborsie onthou nie;
  • die verlies van realiteit en eiewaarde van die persoon.

Die simptome van die Akute stresversteuring duur vir minstens twee dae, en verbeter binne vier weke, anders verander die diagnose na Posttraumatiese stresversteuring (Van der Spuy 1997:36).

C. Aanpassingsversteuring

Die aanpassingsversteuring is 'n matige versteuring en word gekenmerk deur swak prestasie by die werk of skool en tydelike veranderinge in sosiale verhoudings. Die aanvang van hierdie versteuring is onmiddellik of kort ná die stressor (aborsie), en word gekenmerk deur 'n verhoogde risiko vir selfmoord.

D. Ontneming

Die proses van ontneming word essensieel gekenmerk deur rou, 'n tydperk van hartseer na die verlies van die dood of belangrike skeiding, byvoorbeeld 'n persoon of selfs 'n liggaamsdeel. Persone wat treur se simptome mag oorvleuel met dié van 'n sg Major Depressive Episode (soos 'n knellende sielkundige pyn en 'n gevoel van hulpeloosheid). Die proses van droefheid volg dikwels die stadia wat Kubler-Ross (1969) voorgestel het, naamlik: ontkenning en afsondering, woede, onderhandeling, neerslagtigheid en aanvaarding.

Gesonde droefheid is sonder skuld en skande. Abnormale droefheid, soos in die geval van die "tweede slagoffer" s'n, word deur die volgende gekenmerk: die persoon verleng die tydperk van smart met 'n skuldgevoel; die droefheid word onderdruk of vertraag, of 'n relikwie word van die afgestorwene gemaak as 'n simbool van die onvermoë om die trauma te verwerk. Die persoon wat ontneem is, sien die neerslagtigheid en tydperk van smagting as "normaal" en soek gewoonlik nie hulp nie.

Terapie

Ons Grondwet beskerm nie die fetus nie, maar die reg van die vrou om te kies of sy 'n aborsie wil hê of nie. Dit bly 'n ope vraag of vroue dikwels 'n ingeligte besluit neem. Keuses vereis verantwoordelikheid, en die verantwoordelikheid lê by sowel die vrou as die berader om die implikasies van die aborsie in te sien en te verstaan alvorens 'n besluit geneem word.

Die oordeelgesinde houding van die kerk wat die smartproses onderdruk, en die ontkenning van die samelewing dat aborsie 'n traumatiese stressor is, lei daartoe dat postaborsie-sindroom ongesiens verbygaan of verkeerdelik gediagnoseer word. Dit is insiggewend dat vroue wat hulle by 'n meer behoudende kerk geskaar het, die vatbaarheid vir postaborsie-sindroom vermeerder (Van der Spuy 197:41).

Volgens Ross (1992) moet terapie vir postaborsie-sindroom-pasiënte die volgende insluit: daar moet gebreek word met ontkenning; die woede moet aangespreek word (jeens haarself en ander); sy moet berusting, vergifnis en losmaking vind; en sy moet toegelaat word om te treur en 'n strategie te beplan hoe om toekomstige snellers wat herinneringe oproep, te hanteer.

Die aantal vroue wat van hul aborsies vertel, is na verwagting onderverteenwoordig in aborsiestatistiek. Dikwels word aborsie ook nie as hoofrede aangevoer wanneer hulp gesoek word nie. Dit is noodsaaklik dat terapeute wat met vroue werk, die simptome van postaborsie-sindroom moet kan herken. Sekondêre probleme, byvoorbeeld selfmoordneigings, middelmisbruik, ensovoorts, word maklik verkeerdelik gediagnoseer as primêre simptome sonder om aandag aan die onopgeloste trauma van aborsie te gee. Terapeute moet ook in gedagte hou dat inkennigheid en verbergde emosies by postaborsie-vrouens op die voorgrond is.

Om die verbrokkelde dele van 'n fetus te aanskou, is 'n ernstige stressor, nie net vir die moeder nie, maar ook vir die verpleegpersoneel. Dit is duidelik dat die sielkundige, maatskaplike en geestelike impak wat aborsietrauma op die samelewing het, verreikende gevolge het wat dringend heelwat aandag vereis. Beraders en terapeute se dikwels sterkgekleurde prolewe- of pro-aborsie-sieninge kelder die behandeling tot nadeel van die "tweede slagoffer", wat reeds getraumatiseerd is. Sonder doeltreffende beradingsdienste, postaborsie-herstelprogramme, opvoedkundige seminare, werkswinkels en ondersteuningsgroepe kan die besluit om aborsie op aanvraag toe te laat nie net 'n eerste of tweede slagoffer eis nie - dit kan eskaleer tot die psigososiale ellende van 'n hele samelewing.

Bronnelys
     Collins, GR (red). 1988. Christian Counseling: a comprehensive guide. Dallas: Word.
     Du Rand, MC (red). 1997. Verrigtinge van die simposium oor aborsie gehou op 15 Maart 1997 aan UP (Stigting van Etiese Medisyne) (pp 26-53).
     Kubler-Ross, E. 1969. On death and dying. New York: Macmillan.
     Louw, DA. 1989. Suid-Afrikaanse Handboek vir Abnormale Gedrag (p 144). Johannesburg: Southern Book Uitgewers (Edms) Bpk.
     Ross, L. 1992. Post-Abortion Counseling: treating the victims of "choice". Lesing gelewer tydens die Second International Congress on Christian Counseling. Atlanta: Georgia.
     Schoeman, V. 2004. Gewurg en geskel. Die Son, 3 September 2004 (p 4). City Deep: Media 24.
     Speckhard, AC & VM Rue. 1992. Postabortion Syndrome: an emerging public health concern. Journal of Social Issues. Vol 48, nr 3, pp 95-119.
     Wilmoth, G, D Russell & B Wilcox. 1991. Abortion and family policy: a mental health perspective. In EA Anderson & RC Hirla (reds). The reconstruction of family policy &(pp 111-127). New York: Greenwood.


Works by the author:

Stoornis Stoornis (pictured left)

<< Back to all authors <<


LitNet: 12 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.