Ek het 'n belydenis om te doen. Ek is
verslaaf aan boeke uitgee. En dis nie soseer vanweë die bedompige
geur van die binneblaaie van 'n pas verskene boek, of die beklemmende
angs wat jou hart omvou telkens wanneer jy digitale proewe afteken
nie. Dit gaan oor 'n redelose liefde vir dobbel.1
Want 'n mens weet nooit of dit miskien die volgende manuskrip, of
dalk die volgende een is, wat uiteindelik die jackpot gaan slaan nie.
Hiermee impliseer ek geensins 'n oordrewe (stereotipiese uitgewers-) geldlus nie. Jackpot het in hierdie konteks 'n meer veeldoelige betekenis. En my eie, selfsugtige assosiasie met die woord jackpot is bowenal na waar 'n manuskrip 'n onwillekeurige oorgawe by die leser oproep - dus 'n behae/vreugde in die boek wat sy/hy lees en miskien selfs 'n verlange om dit 'n tweede of 'n derde keer te ervaar. Magic, om dit te oorvereenvoudig. En enige uitgewer wat sy/haar sout werd is, weet dít kom 'n mens nie aldag teë nie.
As uitgewer van populêre fiksie, en meer spesifiek, Afrikaanse liefdesverhale, bevind ek my dus in 'n eienaardige posisie. Oënskynlik is die onvoorspelbaarheid rakende dié dobbelspel my ontneem. Ons weet tog vooraf 'n sekere aantal lesers is verseker vir elke Jasmyn/Mirre/Melodie/Satyn/Hartklop2 wat op die rak verskyn; dat elke liefdesverhaal wat ons uitgee, vanselfsprekend die leser meesleur na 'n wêreld waar die karakters helderder in haar gedagtes figureer as enige hooffiguur in haar werklikheid.
En tog - om 'n liefdesverhaal te skryf waarin die karakters veel helderder opklink as die rou werklikheid, is geensins kinderspeletjies nie. Ek dink altyd Samuel Taylor Coleridge se woorde "A willing suspension of disbelief" is die ideale titel vir 'n gids tot die skryf van 'n liefdesverhaal. Want om 'n liefdesverhaal te lewer wat deurgaans oortuig, verg 'n sekere gebrek aan ontnugtering in die skrywer se psige (al is dit tydelik ...). Daar kan nie die geringste fluistering van sinisme opklink in die vertellerstem nie. En ten spyte van die hoofkarakter se emosionele trauma tot en met die oomblik wanneer sy besef liefde is haar beskore, is sy andersyds 'n goedgebalanseerde wese in die samelewing. Sonder vrae oor haar plek in 'n verwikkelde landskap en sonder enige vertwyfeling wat so deel uitmaak van 'n mens se alledaagse bestaan.
'n Gevestigde Jasmyn-skrywer verwys dikwels na die "white screen angst" wat haar beetpak wanneer sy soggens voor haar rekenaar plaasneem. Want om die nodige "willing suspension" te bewerkstellig vereis 'n gawe om toneel te kan speel. Nie verrassend nie dat van die liefdesverhaalskrywers in die Jasmyn-stal vroeër jare toneelspelers was. Daar is myns insiens 'n noue verwantskap tussen teater en die skryf van 'n roman: beide vereis 'n flirtasie met illusie. En die seepbel kan so maklik bars.
Naas die Coleridge-leuse - die strewe om nooit die illusie te verbreek nie - is skrywers van liefdesverhale ook genoop om altyd die "leser" in gedagte te hou. En hier verwys ek nie noodwendig na die implisiete leser nie, maar eerder na die konkrete, ware boekaankoper wat tussen rakke blaai op soek na 'n paar uur se vermaak.
'n Liefdesverhaalleser is 'n veel meer komplekse wese as wat 'n mens geneig sou wees om te dink. Noord-Amerikaanse navorsing het onlangs nog bewys die tipiese leser is vroulik, sy was op universiteit, sy is tussen 25 en 39, sy is getroud en sy lees wyd.3 In 'n poging om die plaaslike profiel van die hedendaagse liefdesverhaalleser te peil, het ons sowat twee jaar terug ons eie marknavorsing gedoen. Dit was gemik op aankopers van Jasmyn-liefdesverhale gedurende die laaste kwartaal van 2002: ons het sowat 10 000 lesers bereik en 'n verstommende 13,9 persent-reaksie gehad.4
So hoe lyk die leser van Afrikaanse liefdesverhale in die eerste dekade van die nuwe millennium?
- Sy is getroud.
- Sy is tussen 25 en 39 jaar oud.
- Sy woon in die metropool.5
- Sy lees die Huisgenoot, Sarie, rooi rose, Vrouekeur, maar ook Finesse, Cosmopolitan en Insig (en Finansies en Tegniek).
- Sy lees een of meer liefdesverhaal per week.
- Haar geliefkoosde skrywer is en bly steeds Ena Murray.6
- Die keuse van aankope hang veel meer af van die skrywer as die omslag of verkoopprys.
Minder opvallende feite het ook aan die lig gekom. Lesers is onder meer ook gek na ander Afrikaanse skrywers soos Dalene Matthee, Annelie Botes, Etienne van Heerden, Deon Meyer en Etienne Leroux. Soos aangedui in die grafiek hieronder, beskou slegs 29 persent van lesers hulself as tuisteskeppers. Tien persent is pensioenarisse en die res volg 'n voltydse beroep of is studente.
Nog 'n brokkie fassinerende statistiek wat van die data afgelei is, is die verspreiding van lesers oor die land heen.
Tot ons verbasing is daar 'n groter persentastie Jasmyn-lesers in Mpumalanga as in die Wes-Kaap - iets wat ons nooit sou kon raai het nie.
Dit was na aanleiding van bogenoemde resultate en ook die inisiatief en deurlopende ondersteuning van die boekklub Leserskring dat ons vroeër vanjaar naas Jasmyn, wat reeds vier jaar lank as 'n algemene liefdesverhaalimprint bedryf word, vier bykomende imprints begin het. Dit was veral 'n poging om die nis-lesersgroepe binne hierdie meer gedefinieerde profiel te bereik. Ouer lesers verkies miskien eerder Melodie, waarbinne skrywers soos Schalkie van Wyk en Elza Rademeyer gehuisves word. Die verpakking van dié produkte is vervolgens meer gerig op ouer lesers, na aanleiding van terugvoer dat hulle steeds geïllustreerde omslae verkies. Ook die slagspreuk vir Melodie impliseer 'n meer onskuldige aanslag: "Liefde vir jonk, vir oud, vir altyd" - met ander woorde, leesmateriaal wat geskik is vir tweens sowel as ouer lesers wat moontlik wegskram van 'n meer kontemporêre benadering tot romanse.
Hierteenoor suggereer die sensuele (maar altyd speelse) foto-omslae van Satyn-boeke dadelik aan lesers dat dié storieboeke effe meer eksplisiet is (sien byvoorbeeld Chanette Paul se Fynbos vir 'n feeks en Jaybee Roux se Die hartebreker). En die slagspreuk "Want die hart het ook begeertes" ondersteep die omslagboodskap. Liefdesverhaallesers is inderdaad wêreldwyd vertroud met dié onuitgesproke reël: hoe meer eksplisiet die foto op die omslag, hoe meer gewaagd die liefdestonele.
Hartklop is weer geskoei op sy Amerikaanse eweknie by Harlequin:
dié liefdesverhale het altyd 'n hospitaalmilieu as agtergrond (let
op die groen-blou omslagkleur wat dié tema suggereer), en 'n goeie
teks word veral gekenmerk aan die skrywer se deeglike mediese navorsing.7
Daarnaas is Mirre, ons nuwe Christelike liefdesverhaalimprint, die
ideale platform vir bekende skrywers soos Helene de Kock en Maretha
Maartens. Veral De Kock se liefdesverhale spreek tot 'n unieke groep
lesers wat nie noodwendig ander liefdesverhale lees nie - hulle
is dikwels liefhebbers van Francine Rivers se werk. So, hoewel die
liefdesverhaaltema nog steeds voorop staan, is 'n onderliggende
geloofswêreld 'n belangrike prioriteit vir dié teikenmark.8
*
Bogenoemde geteikende strategieë om verskillende segmente van lesers te bereik bring my uiteraard by die ekonomiese grondslag waarop die boekbedryf deesdae berus. In die algemene uitgewersbedryf is 'n mens wêreldwyd toenemend bewus van die eksplisiete leser oftewel die potensiële koper met geld in sy/haar gatsak. En dat dit 'n verskeidenheid faktore is wat die koper motiveer om 'n spesifieke produk aan te koop, al dan nie. Onder meer:
- Soms die omslag
- Soms die verkoopprys
- Heel dikwels die hoeveelheid rakruimte afgestaan aan 'n spesifieke titel
- Die bemarkingsbegroting en algemene publisiteit
- Minder dikwels positiewe (of negatiewe) resensies
- Dikwels (so wil ek graag glo) die kwaliteit-inhoud
- ens ens ens.
En dit is presies dít wat die verslawing aan die uitgewersbedryf verder in my aanvuur. Want 'n mens weet nooit watter van die faktore dié keer 'n deurslaggewende rol in die verkope gaan speel nie. Soms dink ek die dobbelspel neig na Russiese roulette: ons nimmereindigende gesprekke in die gange/per e-pos/tydens vergaderings oor wat 'n boek laat verkoop. Soms werk iets, soms nie. Dit is soos 'n wiskundesom waar net te veel veranderlikes by betrokke is. Dit is eenvoudig nie moontlik om altyd te bepaal wat een boek laat verkoop en 'n ander nie.
In 'n poging om die aantal veranderlikes wat die sukses van 'n boek bepaal, te verminder - veral wanneer ons weet hoe lyk die lesersprofiel - kan die uitgewer dan vir 'n skrywer voorskryf wat die inhoud behels? En boonop van die skrywer verwag om byvoorbeeld jaarliks so 'n gedefinieerde manuskrip te lewer? (Let wel, hier verwys ek na die fiksie-uitgewersbedryf en nie na niefiksie of ander segmente in die bedryf nie.)
Ek kan goed glo 'n instinktiewe reaksie vanuit die plaaslike bedryf is nee, nee, nee en nogmaals nee. (Oh, imagine the horror of it ...) So miskien moet ek my vraag weer eens kwantifiseer: dat gesien vanuit die perspektief van 'n meer populêre fiksielys, dit deesdae wel die geval is dat 'n kontrak jaarliks met boekaankopers gesluit word vir die lewering van 'n aantal titels, nog lank voor die skrywer eers sy/haar manuskrip geskryf het. Dis hier waar die verhouding tussen skrywer en uitgewer op 'n wedersydse vertroue berus: indien die skrywer toestem tot so 'n verstandhouding, is hy/sy verseker van 'n semivoorspelbare inkomste in die nabye toekoms en die uitgewer, weer, kan staatmaak op 'n meesal uitgeebare manuskrip.
Die meeste liefdesverhale in die Jasmyn-stal word op dié manier uitgegee. 'n Ooreenkoms word met 'n skrywer gesluit rakende die spesifieke imprint waarvoor hy/sy skryf, die verwagte woordlengte van so 'n manuskrip, en vanselfsprekend die beplande leweringsdatum. Soms lê die skrywer 'n eerste paar hoofstukke voor om seker te maak die verhaal voldoen aan die genrevereistes, maar dit is ook nie altyd die geval nie. En ja, daar is telkemale groot risiko's aan verbonde - die dobbelspel duur voort. Soms het die skrywer writer's block, soms is daar onvoorsiene omstandighede wat nie omseil kan word nie, dikwels is daar probleme met sperdatums. Maar dit is danksy dié skrywers dat beide uitgewer en boekhandelaar ver vooruit kan beplan. En op dié manier is alle partye verseker van 'n tevrede teikenmark in die nabye toekoms.9
*
'n Minder verklaarbare aspek van my verslawing aan die bedryf is 'n voortdurende bewustheid van die manuskrip (en dus boek) as teks - as 'n mediaproduk wat altyd 'n onderliggende ideologie perpetueer. En hier verwys ek nie na net die omslag of die flapteks nie. In die verhaal self skep en herskep die skrywer deur middel van die verteller altyd 'n spesifieke werklikheid oftewel lewensfilosofie waarmee die leser implisiet sal identifiseer (of nie?).
Miskien is ek juis oorbewus hiervan as uitgewer van liefdesverhale. Ons almal ken die argument dat 'n liefdesverhaal in die eerste plek 'n herbevestiging word van 'n streng patriargale stelsel waarbinne die vrou as heldin altyd ten slotte haar eie wil opoffer ter wille van die gemeenskap se eise. Dat verwikkelde sosiale kwessies eenvoudig nooit aangeraak word nie, byvoorbeeld vigs, verkragting, mishandeling, die dood. Ek was hoeka betrokke by 'n paneelgesprek 'n paar maande gelede waar daar na liefdesverhale verwys is as die gemorskos van letterkunde, juis omdat dit as teks nie krities en ondersoekend handel nie, en behoede my, omdat dit natuurlik "ontvlugtingslektuur" is.
Dit is om dié rede dat ek so 'n groot bewondering het vir Janice Radway, kenner op die gebied van populêre kultuur, en meer spesifiek die lees van liefdesverhale. Reeds in die tagtigerjare het sy na aanleiding van 'n gevallestudie met 'n groepie lesers op die plattelandse dorp Smithton in die Noord-Amerikaanse midweste probeer aantoon dat lesers meen hulle ondermyn eerder die patriargale stelsel danksy die lees van liefdesverhale:
It is combative in the sense that it enables them to refuse the other-directed social rôle prescribed for them by their position within the institution of marriage. In picking up a book ... they refuse temporarily their family's otherwise constant demand that they attend to the wants of others even as they act deliberately to do something for their own private pleasure. Their activity is compensatory ... in that it permits them to focus on themselves and to carve out a solitary space within an arena where their self-interest is usually identified with the interests of others and where they are defined as a public resource to be mined at will by the family.10
Dit is dus juis in die leesproses self dat lesers die bestaande hegemonie ondermyn. Die lees van 'n liefdesverhaal word 'n manier om hul onafhanklikheid te verklaar, al is daar skuldgevoelens by betrokke. Dit is dan ook een van die redes waarom dié lesers juis liefdesverhale lees - omdat hulle as vroue voel hul eie behoeftes is ondergeskik aan dié van hul gesinslede, en al is dit tydelik, verskaf die teks 'n fantasiewêreld waar die held en ook newekarakters oneindige begrip toon vir die heldin se behoeftes.
Daarmee saam het Radway tydens haar Smithton-ondersoek aangetoon lesers verkies 'n heldin wat arrogant, onafhanklik en rebels is. Al het sy gedurende die tagtigerjare miskien steeds haar loopbaan eindelik opgeoffer ter wille van haar nuutgevonde geliefde se verwagtinge. Die leser kon haar eie, moontlik onderdrukte identiteit, uitleef in dié van die hardegat heldin wat die manlike hoofkarakter knaend op sy plek sit.
Interessant genoeg het daar wel 'n verskuiwing plaasgevind die afgelope dekade of wat, en dit is ook opmerklik in die plaaslike liefdesverhaalgenres. In die werk van Jaybee Roux, Chanette Paul en ander skrywers in die Jasmyn-stal, word die heldinne uitgebeeld as hoogs suksesvolle besigheidsvroue wat bitter selde bereid is om 'n kompromie aan te gaan waar dit hul loopbane raak. En dus nie net aandring op onafhanklikheid tot en met die oomblik wanneer liefde seëvier nie.
Jennifer Enderlin, hoof van die uitgewery St Martin's in Noord-Amerika, het in die Publishers Weekly twee jaar gelede 'n geldige punt geopper rakende dié aanpasbaarheid van liefdesverhale - dus in watter mate dit die prioriteite van 'n veranderende samelewing weerspieël: "The greatest challenge facing romance publishers today," skryf sy, "is to walk the tightrope between what you know will sell ... and taking a chance on something riskier."11 En elders sê sy: "The genre will die if writers don't take risks."12
Die risiko's waarna Enderlin verwys, handel nie net oor meer ooglopende verskuiwings soos heldinne met 'n eie loopbaan nie. Wat van kwessies wat tien jaar terug nog taboes in ons gemeeskap was? Byvoorbeeld geskeide enkel-ouers? Of ongetroude heldinne met 'n kind? En wat van die teenwoordigheid van gay karakters?
Ons het laas jaar byvoorbeeld 'n liefdesverhaal uitgegee waar die heldin van haar vorige man geskei het omdat dié besef het hy is gay. Ek en die skrywer het 'n lang gesprek hieroor gevoer: sal 'n mens dit waag? Is lesers gereed vir 'n newekarakter wat nie straight is nie? Interessant genoeg voer oorsese uitgewers dieselfde debat. Medallion Press gee Desembermaand 'n liefdesverhaal uit getiteld Charmed deur Beth Ciotta, waar die twee newekarakters 'n gay paartjie is. En die uitgewer verwoord duidelik in 'n onlangse uitgawe van Publishers Weekly haar vrees dat sy nie seker is of hulle dalk 'n fout maak om so 'n kans te waag nie.13 Is homoseksualiteit al hoofstroom genoeg vir die meerderheid liefdesverhaallesers?
Op 'n ligter trant: Het die skrywer/uitgewer ook 'n verantwoordelikheid om veilige seks aan te moedig? (Veral in 'n era waar vigs 'n wesentlike faktor is?) Ek weet in van die meer stomende Mills&Boon-verhale is daar dikwels 'n diskrete oomblik waar die held vanuit die niet 'n kondoom te voorskyn bring. Ek moet bieg, dié bykomstigheid ontbreek ongelukkig meesal nog in ons Satyn-verhale. (En dit is inderdaad moontlik 'n aspek waaraan ons moet aandag gee.)
Daar is egter ook tydlose morele kodes wat altyd deel uitmaak van 'n geslaagde liefdesverhaal. Die verteller sal onder meer nooit ontrouheid aanmoedig nie (die heldin sal slegs 'n seksuele verhouding met die held aanknoop, en boonop slegs wanneer sy finaal oortuig is van haar opregte gevoelens vir hom), lojaliteit en vriendskap word altyd vooropgestel, en liefde is vir ewig belangriker as finansiële sukses.
Maar ja, dat 'n mens as uitgewer van liefdesverhale bedag moet wees op ideologiese slaggate, is 'n feit. Soveel te meer in 'n plaaslike konteks waar rasseverhoudinge steeds 'n moeras van kompleksiteite inhou. Hoe hanteer 'n mens dít in 'n liefdesverhaal? Word dit eenvoudig weggelaat en skep 'n mens die indruk die verhaalruimte bevat slegs wit karakters? Of laat 'n mens steeds toe dat 'n huishulp die heldin met 'n breë glimlag (en spierwit tande) toekyk, sonder dat sy enigsins 'n spreekbeurt kry? Moeilik inderdaad.
*
Om terug te kom na die dobbelspel.
Om uitgewer te wees raak 'n lewenswyse, vermoed ek. Soms verlang ek na die dae toe ek 'n e-pos kon skryf sonder om obsessioneel die teks oor en oor deur te lees op soek na spelfoute. Ditto spyskaarte in 'n restaurant. (Selfs sms-skrywery word aan dié foutsoekery blootgestel.) En ek kan ure lank in 'n boekwinkel bestee sonder om 'n enkele woord te lees. Want om 'n boek in my hand te hou - kraakvars met 'n rug wat oopknak, hou altyd vir my 'n buitengewone bekoring in. Wat het die uitgewers op dié omslag laat besluit? En hoekom juis dié lettertipe - dis dan sans serif? En impliseer die bedanking voorin aan die skrywer se agent dat daar bitter baie skaafwerk was aan die teks?
Daar is niks wat ek sal verruil vir 'n stil oggend op kantoor waar ek deur 'n stapel manuskripte werk - die meeste gedigte deur digters wat nog nooit 'n bundel verse aangekoop of selfs gelees het nie - en ek skielik afkom op flikkeringe van talent nie. Of wanneer 'n mens 'n positiewe keurverslag ontvang wat jou gut-instink bevestig nie. Ten spyte van die bloedsweet hou ek aan hoop, soos 'n junkie op sy volgende fix, dat daar miskien in die volgende hopie manuskripte dalk nog 'n jackpot lê en wag. Dat ons die brug weer kan oor, tussen skrywer en uitgewer, en uiteindelik van uitgewer na boekhandelaar, na 'n gretige leser in die niet.
Wat hopelik geïnspireer word om sy/haar nuwe boek 'n tweede of selfs 'n derde
keer te lees. Voor die seepbel weer bars.
Jasmyn: Romanse vir vandag |
Satyn: Want die hart het ook begeertes
|
Mirre: Lafenis vir hart en siel
|
Melodie: Liefde vir jonk, vir oud,
vir altyd |
Hartklop: Vir romantiese harte, die
regte medisyne |
1 Sien die eerste paragrawe van Rayda Jacobs
se Confessions of a gambler, Kwela Books (2004).
2 Vyf uiteenlopende liefdesverhaalimprints
by Tafelberg-Uitgewers - sien verder vir meer detail.
3 http://www.rwanational.org/statistics.cfm
4 Die data is statisties verwerk en geverifieer
deur die Universiteit van Pretoria, onder leiding van Rudi MR Venter
van die Departement Inligtingkunde.
5 Dus verskeie ooreenkomste met die Amerikaanse
profiel, maar daar is ook verskille, veral wat betref die klant
se aankooppatrone.
6 Ena Murray word beskou as die mees gelese skrywer
in Afrikaans. Van haar omnibusse alleen is daar reeds meer as 370
000 eksemplare verkoop.
7 Ons leuse vir Hartklop is: "Vir romantiese
harte, die regte medisyne."
8 Met dié slagspreuk het ons lank gewik en
geweeg, en uiteindelik vorendag gekom met: "Lafenis vir hart en
siel."
9 Ons het selfs al gevalle gehad waar 'n omslag
finaal goedgekeur word lank voor die manuskrip geskryf is. Dis slegs
in uitsonderlike omstandighede natuurlik, maar van die liefdesverhaalskrywers
het al genoem hulle skryf makliker sodra die voorbladfoto uitgesoek
en goedgekeur is.
10 Radway, J (1987), Reading the Romance:
Women, Patriarchy and Popular Literature. Londen: Verso: 211.
11 Publishers Weekly: 1 Julie 2002:39.
12 Ibid:39.
13 Publishers Weekly: 5 Julie 2004:23.
|