Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My generation
Jo Prins Jo Prins was first published under the name Johannes Prins in 2001, together with 15 other poets, in Tafelberg's Nuwe Stemme 2. In 2002 he contributed to Protea Boekehuis's As die son kom oogknip and the poetry journal Karapaks. He works as a journalist for Beeld in Johannesburg and is a regular member of the editorial committee of Krit, the festival publication of KKNK.
"En daar, net omdat ek 'n 'whitey' is en waarskynlik Afrikaanssprekend, is dit okei wanneer een van die manne begin om van 'hotnots' te praat wanneer hy 'n storie vertel. 'Hulle' wat sus of so is. Die 'us and them'-ding word 'n natuurlike proses met my kamp duidelik, want hei man, ek's mos wit, manlik en Afrikaans. En nog 'n sin begin met: 'Ek's nie 'n rassis nie, maar ...' "
"And then, probably just because I'm a whitey, and probably because I'm Afrikaans-speaking, it's apparently okay when one of the guys starts talking about "hotnots" when he's telling a story. "They" that do this or that. The "us and them" thing becomes a natural process, and it's clear which camp I fall into, because hey man, I'm white, male and Afrikaans. And another sentence starts with: "I'm not a racist, but …"

O

Jo Prins

Also available as: Oh

Toe ek 'n kind was, het die chemiese samestelling van suiker my gefassineer. Die gewone wit kristalle wat ek so moeiteloos lepel vir lepel in my koffie gegooi het, was in der waarheid niks meer (en niks minder) nie as spesifieke verbindings van koolstof, waterstof en suurstof (C12H22O11). Wanneer my pa dit verduidelik het, het ek "O" gesê. Die sê van "O, so werk dit" was vir my 'n belangrike skakel. Die "O"-uitroep van "O, okei, dis hoe dinge inmekaar steek" en die "O" wat suurstof op die periodieke tabel verteenwoordig, het dit vir my moontlik gemaak om asem te haal.

Dieselfde oomblikke van helderheid oor my generasie met sy gepaardgaande suurstof, of "breathing space", is egter nie iets wat ek al ooit ervaar het nie.

'n Groot vriend van my (en ek bedóél "groot" - die ou is oor die ses voet lank en weeg seker omtrent 120 kg) het die gewoonte om altyd ná 'n groot rooiwyn-en-rooivleis-aand al sy klere uit te trek wanneer hy - soos hy dit gestel het - sy "kringspier" (toevallig nog 'n "O") gaan oefen. Hy het kaalgat in Bachelors (Wilgenhofmanskoshuis se anneks vir seniors) se lang gang afgeloop en soos die denker met 'n vuis teen die kop die porseleintroon bestyg. Are het in sy nek gebult soos hy gedruk het om van al die gemors ontslae te raak waarmee hy sy lyf vergiftig het. Sy verduideliking oor die kaalkakkery was dat hy nie die reuk in sy klere kan uitstaan nie.

Soos Douw wil ek mý klere uittrek wanneer ek stoel toe moet gaan, want die reuk van my generasie sit daarin en ek kan dit nie fokken vat nie. Want, my generasie - soos ek hóm ken - is (met die uitsonderings "few and far between") 'n spul rassiste.

Broers

gebed
met apologie aan Koos du Plessis

laat my nooit 'n bmw bestuur nie,
laat my nooit 'n taalstryd betree nie

behoed my van mense
wie se beste vriende swart of gay is

beskerm my teen die openbare uitsaaier
en 'n generasie wat nog nooit van uhuru gehoor het nie

hou 'n moederlike hand oor broers wie
se skoonpa's voor ete bid maar net langs wit sal sit

lei my ver van bruisende waters waar joernaliste
jou vang en weer met 'n lyfband ophang

maak, dit heer, die laaste maal.

My een broer se skoonpa is 'n "goeie Christenmens". Die tipe ou wat met vaderlike sagtheid jou sal raad gee en jou "in Jesus se naam" voor "die Here jou God" sal opdra. Hy's 'n goeie man vir sy vrou en 'n goeie pa vir sy kinders. Hy's ook 'n aartsrassis wat nie skroom - pas nadat hy sy vrome handjies voor die ete saamgevou het om die Here vir spys en drank te dank - om die woord kaffer die heeltyd in 'n mens se teenwoordigheid te gebruik nie.

My generasie, vermoed ek, het "hook, line and sinker" vir die hele idee van respek vir ouer mense geval. Ouderdom veronderstel dat iemand geleef het, dat iemand insig en wysheid het. Dat 'n mens dáárvoor respek moet hê, is myns insiens 'n gegewe. Maar om respek voor die voet vir die een of ander "ass" te gee wat deur sy gat praat oor die werklikhede van die land en wat net op sy ouderdom staat maak dat "die kinders" kan luister, is soos om na 'n Pommy in 'n pub te luister wat die wêreld se probleme oor sy "pint" oplos terwyl hy in sy lewe nog nooit 'n voet uit sy borough (ook "burrow") versit het nie.

Hiermee saam dink ek is daar 'n denkfout in Afrikaans (en hoe mis ek dan nou vir oorle prof Johan Combrink) wanneer mense sê: "Hy/sy dwing respek af." Wanneer iets gedwonge is, is dit net dít. Wanneer iemand iets werklik ongeloofliks doen, dan is dit die waarnemer se besluit om sy of haar respek vir daardie persoon te gee.

Bachelors
Goeie, gawe vriende van my en die vrou in my lewe besluit om die knoop in Franschhoek deur te haak. Hy is 'n inligtingsoffisier in die vloot en sy 'n Bolandse meisie van Slent ('n baie belangrike n daardie) naby die Paarl wat vir 'n NGO in Pretoria werk.

'n Maand of wat voor die troue hoor ons daar is 'n bachelor's en 'n bachelorette's. Die manne ruk op na 'n wildsplaas êrens in Noordwes en die vroue na die een of ander "lodge" in Magalies. Nie ek of my vrou is "into" strippers wat uit koeke spring of sekstips oor hoe om jou man gelukkig te hou sodat hy nie rondkyk nie, maar ons hou regtig baie van die "couple" en besluit teen wil en dank om maar die "flippen bachelor's" mee te maak. Beide geleenthede is gereël vir oorslaap.

Dis 'n mooi stuk pad om te ry. Uit Jozi uit voel mens hoe jy die stad agter jou los soos jy die veld invaar. Ekself 'n Bolander wat baie daarvan bewus is dat heelwat Bolanders en Kapenaars reken "Donker Afrika" lê noord van die Du Toitskloofberge, is altyd verbaas wanneer ek agterkom ek dink dié geelgras en die veld en die rantjies is vir my mooi (en dis so ver van die Boland met sy maklik verteerbare soetgevreetskoonheid!). Net oor die Gautenggrens in Noordwes in en 'n kilo of wat grondpad, ry ek die "lodge" binne.

Die manne staan klaar om die vuur - soos manne seker maar maak. Elkeen met 'n bier in die hand en loer-loer so. Benewens die voornemende bruidegom ken ek nie werklik enigiemand anders nie. 'n Paar biere later en rum en coke vir die arme bachelor, gesels almal goed met 'n potjie wat boordens toe vol met sampioene prut. Al wat die potjieman elke nou en dan tussen sy lippe uitkry terwyl hy aan nog 'n bier suig is die woord ballas.

En daar, net omdat ek 'n "whitey" is en waarskynlik Afrikaanssprekend, is dit okei wanneer een van die manne begin om van "hotnots" te praat wanneer hy 'n storie vertel. "Hulle" wat sus of so is. Die "us and them"-ding word 'n natuurlike proses met my kamp duidelik, want hei man, ek's mos wit, manlik en Afrikaans. En nog 'n sin begin met: "Ek's nie 'n rassis nie, maar ..."

En in die donker nag agter ons kom een van daardie onrustige, sluimerende luiergromme wat diep uit 'n leeu se keel kom en die hare in jou nek laat regop staan ...

Kanker

Die oorsaak van kanker is onverteerde drome.
      - Sting

What if nothing means anything? What if nothing really matters? Or suppose everything matters. Which will be worse?
      - Calvin & Hobbes

Vir al die manne wat poep-poep om die vuur staan en praat oor "lekker" vroue; vir al die manne (wit en swart) wat met 'n rugbytoets in hul boktruie skreeuend voor hul kinders en die TV staan en meen Breyton is 'n goeie Bokvleuel vir "'n boy van Ceres"; vir alle Christene wat nog nooit "close reading" van Efesiërs gedoen het nie - vir julle en mense soos julle wens ek kanker toe. Nie kanker as 'n metafoor nie, maar die donkerding self wat aan jou lyf kom vreet totdat jou skouerbene deur jou vel steek en jou hare begin uitval na nóg 'n sessie chemo. Totdat jy kleurblind word en die geslag van die hande wat jou voer, nie meer saak maak nie.

Op die plaas Helderrant net buite Stellenbosch en later in die huis Nogtans (na Habakuk 3: 18) in Somerset-Wes, het kanker my lewe ingrypend verander. My ma, Elize, het lewerkanker gehad. Waar die geslagsrolle en -dinamika tussen my pa en ma, ons drie broers en een suster die normale wanaangepaste situasie was waarmee die meeste Afrikaners grootgeword het, en waarskynlik vandag steeds mee grootword, het kanker dit doodeenvoudig tot op die been gesny en alles (soos sy algaande agteruitgegaan het) - en ek bedoel álles - geherdefinieer.

Wanneer my pa - 'n geliefde man en dosent, 'n WP-skeidsregter en self nogal 'n boytjie op sy dag - in die aande by die huis gekom het, het hy agter die kospotte gaan staan. Hy't aanvanklik net eers met bredies geëksperimenteer, maar soos maande in jare verander het, het hy geleer om 'n "full on" hoenderdis in die oond te maak en om 'n "mean" groentesop te maak wat hare op jou bors gesit het. In die dag was hy die gerespekteerde akademikus en kortgat met 'n vurige humeur. Op sy lessenaar kon jy die motto lees: "Wees kort. Wees saaklik. Wees weg." In die aande en die lang nag was hy 'n ma, 'n vertrooster, 'n verpleër, en eenvoudig net 'n hartseer eggenoot wat kort na my ma se dood - net omdat hy verlang het - agter haar aan is.

Maar geslag- en rasrolle sou vir my nooit weer dieselfde wees nie. Dinge wat huisvroue tradisioneel gedoen het (soos kosmaak, wasgoed was, toebroodjies vir skool maak, sorg dat die tuindienste opdaag, ens), was vir my as kind glad nie in 'n geslag of "gender" vasgevang nie. En wanneer die "kleurling"-huishulp nie opgedaag het nie, het die man van die huis met die "hoover" in sy hande in 'n huishulp verander.

'n Terloopse nota oor geslag
Binne die antropologie is daar vier sogenaamde onveranderlikes wat tussen die geslagte (van veral "tradisionele samelewings") waargeneem word: manlikes bevrug vroulikes; vroulikes baar kinders; die setel van gesag lê by manlikes; en kroosgroepe paar nie met mekaar nie. Die eerste twee is uiteraard (vir my in elk geval) 'n "given", en afhangend van jou ingesteldheid, en as jy nie 'n koninklike is nie, maak die laaste een ook sin. Maar "die setel van gesag", en dit wat daarmee gepaardgaan, het vir goed - dank Vader - verander. Die "remote" is nou nie meer net jou domein nie, my broer!

"Another country"

I'm getting as bored with dying as everything else, he thought.
      - Uit Ernest Hemingway se The Snows of Kilimanjaro

Is dit dieselfe ou geykte tema van 'n generasie se soeke na identiteit? 'n Sogenaamde "outsider"-skap want ons weet waar ons was maar die toekoms is 'n ander land? Word taal maar net taal en die gewalste woorde al hoe meer 'n spel van Russiese roulette (apologie aan Breyten B en Johann Johl)?

In 'n Beeld-deurloop1 vroeër vanjaar skryf ek die volgende:

Malaria.

Óf soos mense wat al dié parasiet koorsig deur hul are voel bruis het soms sê: mal-aria.

'n Paar jaar gelede sit ek in Kampala (die hoofstad van Uganda) en stry met twee plaaslike studente.

"Jy kan nie 'n Afrikaan wees nie, jy's dan wit," sê een en sluk diep aan sy Port Bell-bier.

Benewens my wit vel, my sonbril en dat ek geen van die plaaslike tale kan praat nie, is die feit dat ek nog nie blootgestel is aan 'n siekte soos malaria nie klaarblyklik deel van die probleem.

"Hoekom," vra ek. "Moet ek dan die een of ander siekte onder lede hê om myself as Afrikaan te verklaar?"

Ek probeer verduidelik dat dit nie 'n misdaad is om in 'n land te bly met relatiewe goeie mediese sorg nie. Dat malaria nie iets is waaroor ek elke dag hoef te dink nie.

'n Vrou sluit by ons aan. Haar vel en dié van die 3-jarige kind in haar arms glinster van die koors. Bo ons sweef Marabou-ooievaars ...

"Ons probleme is eenvoudig net nie jul probleme nie," sê een student en wys na die vrou. "Julle maak medisyne vir siektes wat julle raak, vir die wat daarvoor kan betaal."

Gewapen met Larium teen malaria reis ek en 18 ander reisgenote in ons omgeboude 13/13 Mercedes-vragmotor langsaam terug deur Afrika na Suid-Afrika.

Met die intrapslag word elkeen vir bilharzia en malaria getoets. Die Larium het klaarblyklik gewerk.

Drie maande later in Stellenbosch droom ek een aand dat die plafon bo my vloeibaar word - dat geelhoutdruppels op my val.

Ek staan moeg op, maar voel goed. Die nag se drome is weg en die daglig is op 'n manier skerper as voorheen.

Op pad straat se kant toe dink ek: "Dis vreemd, ek kan dan elke blaar hoor ritsel." Die bome praat met my. Druppels reën word fyn vallende gilletjies en ek hoor my eie hartklop en die asemhaling van 'n vrou op 'n fiets.

Twee dae later en die drome verander in demone wat aan my rugbiltonge knaag. Iets skeur my ander spiere - net kepies op 'n slag.

My vel is nat, maar voel soos vuur. Met net 'n rooi Masaikleed om my lyf en 'n Xhosa-kierie gaan jag ek snags geeste in die strate. 'n Besorgde vriend vra of al's reg is. Ek lyk glo vreeslik wit. Nee, sê ek, ek's "fine" - die dag bring in elk geval nuwe hoop.

Maar elke aand, wanneer die donker my kom haal, is daar 'n oorlog in my kop. Donker gedrogte wedywer om die vog in my brein. Koorshiënas vreet lustig aan my lyf.

En dan ... breek iemand my kamer se deur af en gooi my oor 'n skouer.

Twee dae later word ek met 'n bekende hospitaalreuk in my neus wakker. Iemand sê hulle't my die malariamiddel kinine ingejaag. Dankbaar drink ek louwarm rooibostee en dink terug aan die skaduwee van 'n ooievaar oor 'n 3-jarige kind in haar ma se arms. Die eenvoud van dit alles tref my: waar twee jong Ugandese nie tot my kon deurdring nie, het 'n muskiet in 'n oomblik daarin geslaag om die nood van 'n kontinent te kommunikeer.

Eers wanneer ons koorsig raak oor dié land en dié kontinent sal ons verstaan dat rassisme in watter vorm ook al 'n septiese gangreenbeen is wat van dié generasie afgesny moet word.

En wanneer die een karakter vir die skrywer in The Snows of Kilimanjaro vra: "If you have to go away, is it absolutely necessary to kill off everything you leave behind?" wil ek sê: "If this (racism) is what you leave behind, kill off everything!"



1  'n Rubriek in Beeld (6 Januarie 2004)

<< Back to all authors <<


LitNet: 02 November 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.