Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My body
Ilse van Staden Ilse van Staden was born in Pretoria (1972) but grew up in the Waterberg. She matriculated at Pro Arte High School, Pretoria, and studied veterinary science at the University of Pretoria. After various locums in South Africa and also working for six months in England, she settled in Cullinan as a vet in 1997. Her poems were published in Nuwe Stemme 2 (Tafelberg, 2001) and in the debut anthology Watervlerk (Tafelberg, 2003). She is currently working towards a BA in Creative Writing through Unisa.
"Na ‘n onlangse fotosessie en onderhoud vir ‘n tydskrif word ek besoek deur ‘n afskuwelike droom. Terwyl ek in die stoel sit en wag om gepoeier en gepaint te word, pak ek my binnegoed stelselmatig op my skoot uit. Ek sorteer daardeur soos deur gekoekte borduurgarings, trek die binnevette los, ryg die derms uit, skeur die organe se aanhegtings los. Dit alles doen ek met die verstandelike afwesigheid van iemand wat ‘n huis uitvee of onkruid uittrek, my gedagtes op ‘n ander plek. "
"After a recent photo shoot and interview for a magazine, I was visited by an awful dream. Sitting in the chair, waiting to be powdered and painted, I systematically unpack my insides onto my lap. I sort through it as through tangled embroidery thread, pull off bits of fat, stretch out the intestines, tear the organs loose from their attachments. I do all this with the mental abstraction of someone sweeping a house or pulling up weeds, my thoughts somewhere else."

Rapunsel in die toring

Ilse van Staden

Also available as: Rapunzel in the tower

Jy groet my asof jy my ken. Ek glimlag, speel saam. Maar jy ken my nie, net soos ek myself nie eintlik ken nie. Ek is Rapunsel hoog in die toring, die toring van my lyf. Hoe ek hier gekom het, het ek lankal vergeet en die ou heks is ook doerietyd al dood. Meestal slaap ek in die droomtyd van ou sprokies, soos my suster Doringrosie, waar ek agter eenhorings of prinse aan draf en probeer om nie giftige appels te eet nie. Maar soms skrik ek wakker om versigtig uit te loer na die kranse en valleie wat van my vensters af ver na ondertoe strek. Dan wonder ek - wie ís die mens wie se lewe ek skynbaar lei? Wie is hierdie lyf, hierdie hande wat vat en voete wat trap? Paniekerig - wat maak ek hier?

Die vraag oor die relatiewe eenheid of gespletenheid van hierdie liggaam-gees-struktuur wat ons "mens" noem, is ouer as die sprokies, al is dit eers in die sewentiende eeu dat Descartes behoorlik die filosofiese soeklig daarop gerig het. Persoonlike en openbare opinie ry steeds wipplank met argumente vir of teen 'n Cartesiaanse skeiding waarin twee duidelik-afgebakende komponente mekaar iewers ontmoet en aanvul, en dan weer verlaat. Soos huweliksmaats wat na jare se saamleef mekaar vaarwel toeroep, nie noodwendig op vriendskaplike voet nie.

Jy kan dit sien as 'n letterlike tot-die-dood-ons-skei verhouding, met die gees altyd ietwat "holier than thou" oor die verwagte verheffing tot 'n hoër status wanneer die liggaam uiteindelik halt roep. Of jy kan 'n suiwer wetenskaplike onderskeid tref tussen 'n liggaam en verstand wat mekaar wel wedersyds beïnvloed, maar onskeibaar is soos … Wel, soos wat? Is daar nog iets wat onskeibaar is? Selfs die atoom het al lankal sy status as onverdeelbare entiteit verloor. Nietemin, die feit bly staan dat die jy wat gees of verstand is, moet saamleef met die jy wat liggaam is, ten goede of ten kwade, tot verdere kennisgewing.

Daar is 'n saamleef wat is soos "twee bome in die veld/ vlak langs mekaar", soos in Elisabeth Eybers se "Bome", en so hoort dit ook tussen kop en lyf, dink ek:

Elkeen kon sprei en sonlig drink en leef,
en saam was hulle 'n suiwere geheel.
Al was hul wortels hoe intiem omsluit,
hul takke het nie verstrengel of gebots
- Vir my was hulle fier en vry en trots
en nogtans nederig in hul hoflikheid.

In so 'n nederige hoflikheid probeer ek dus met my liggaam saamleef. Iewers, op 'n plek wat ek nie kan deurgrond nie, is die wortels van my gees en liggaam verstrengel, maar boontoe en buitentoe kom ek agter hoe los die takke van mekaar raak. Inderwaarheid sukkel die twee bome maar soms om nie ook te probeer losruk by die wortels nie. Rapunsel krap haar vingers stukkend teen die toring se binnemure.

Na 'n onlangse fotosessie en onderhoud vir 'n tydskrif word ek besoek deur 'n afskuwelike droom. Terwyl ek in die stoel sit en wag om gepoeier en gepaint te word, pak ek my binnegoed stelselmatig op my skoot uit. Ek sorteer daardeur soos deur gekoekte borduurgarings, trek die binnevette los, ryg die derms uit, skeur die organe se aanhegtings los. Dit alles doen ek met die verstandelike afwesigheid van iemand wat 'n huis uitvee of onkruid uittrek, my gedagtes op 'n ander plek. Die droomwerklikheid kom egter in volle krag terug toe ek verneem dat ek vir die mooimaaksessie my lewer en milt moet uithaal en prysgee. En ek sal dit nie weer terug kry nie. Doodgaan lê dus voor.

Beteken dit ek kan aan my buitekant aandag gee net ten koste van die verlies van my binneste? Gaan Rapunsel uit die toring stort wanneer iemand die buitemure begin verf? Dit kan tog nie. Maar hoe stel mens jou liggaam ondergeskik aan jou gees sonder om die baba saam met die badwater uit te gooi? Dit is 'n fyn balans wat mens moet handhaaf. Dit vat guts om 'n gebalanseerde koplyf-entiteit te wees.

In hierdie nuwe eeu van vryheid, gelykheid en susterskap probeer almal voorgee dat die liggaam geen verskil meer maak nie - nie wit of swart of bruin nie, nie vet of maer of gestremd nie, nie manlik of vroulik of tussenin nie. Dit is alles goed en mooi en edel. Wie ons regtig is, ons essensiële menswees, bestaan immers apart van ons identiteit as "huiseienaars" van 'n tydelike fisiese vesting. Viva gelyke regte vir man en muis, vir kind en kraai, vir vrou en volstruis! Viva! …

Ek rebelleer. Ek protesteer.

Anderhalf dekade gelede was ek deel van nog 'n groep damestudente wat uiteindelik sonder geslagsvooroordeel tot veeartsenykunde toegelaat word. Ons trap ons spore diep in, vir volk en moederland, in waterstewels en oorpakke (weliswaar met 'n ou T-hempie onderaan ter wille van die kuisheid, dames), deel nonchalant 'n koshuis met die mans, melk koeie en tem kwaai honde. Bind ons hare in poniesterte vas om dit uit die bloed en mis en modder te hou. Geslagloos, gelyk. Soos ons mos wou hê.

So trap ek later met waterstewels en al oor die ewenaar in Engeland in, reg in die bloederige gemors van malkoeisiekte. En tussen getatoeëerde slagters met smalende glimlagte en leep-oë, in abattoirs met poedelnaakte pin-up girls teen die mure van die vleisinspekteur se kantoor en die mure van die enigste kleedkamers, moet ek stadigaan aan myself begin erken wat ek lankal al probeer miskyk het. Dat lywe tog saak maak. Dat mens jou liggaam nie kan wegredeneer of dit konformeer tot identiese, massageproduseerde entiteit nie. Nie net word jy met 'n lyf gebore wat nou maar eenmaal nie teen 'n boom kan piepie nie, jou gees is in jou liggaam gegiet en moet dit noodwendig na die vorm daarvan aanpas.

In die meeste beroepe wat voorheen die man se domein was, floreer vroue deesdae met min probleme. In 'n tradisioneel manlike beroep waarin fisiese werk 'n groot rol speel, is daar egter nie iets soos geslagsgelykheid nie. Daar is party dinge waartoe 'n vrou fisies net nie in staat is nie, al doen jy hoeveel push-ups. Dat dit net soveel krag as intelligensie vat om met 'n moeilike kalwing te help, kom 'n mens al te gou agter. Die vryheid wat jy deur jou gees bekom, word deur jou liggaam onder die tafel deur teruggevat, daardie jassie wat só knus om jou gees pas dat jy al begin dink het dis jou vel.

Is daar iets wat sy kan teruggee, jou liggaam, in ruil vir die beperkinge wat sy op jou gees lê?

Ek moet my verlaat op die menings van ander as dit kom by die biologiese gebeure van swangerskap en geboorte gee. Dit is dalk die enigste gebied waarop vrouens mans fisies een voor is. Miskien is so 'n ervaring (of ervarings - hoeveel keer jy ook al kans sien daarvoor) genoeg om te vergoed vir 'n leeftyd as swakker geslag, maar dit gaan baie oorreding kos voor ek dit glo. Tensy jy swakheid as sodanig as 'n pluspunt wil sien, bly dit my oortuiging dat die Here vrouens se lywe nou maar eenmaal minder gebruikersvriendelik geskep het as mans s'n. Ek het 'n appeltjie met Haar te skil.

As mens die strydbyl van seksisme begrawe, is daar natuurlik 'n wyer hoek waaruit jy na die kwessie kan kyk, want as méns, van watter aard of geslag ook al, word jou gees aan bande gelê deur die limiete van jou lyf. "The heart-ache and the thousand natural shocks that flesh is heir to", volgens Hamlet. Van brood alleen kan 'n mens nie leef nie, maar van versies skryf ongelukkig ook nie. Iemand moet sorg vir die onderhoud van die toring. Soos die towenaar se leerjonge hardloop ons sonder rus rond om die liggaam se bakhand vol te hou. Wat is die towerwoord wat dit alles tot stilstand sal bring, sodat daar genoeg tyd en plek sal wees vir die gees om asem te skep en bene te rek?

'n Mens besit (of beset) jou liggaam net een maal en net op een plek op 'n slag, daarin gegiet sonder wegkomkans. As daar maar 'n pakkietoonbank was waar mens dit tydelik kon afgee terwyl jou gees op ander plekke gaan rondjakker - 'n besoek aan die Louvre voor ontbyt en 'n kuiertjie by 'n vriend in Antarktika teen nege-uur; miskien net 'n dag se loslê onder 'n boom. Jy sou kon inloer by die Bolshoi sonder om jou oor die koue te bekommer, of luister hoe 'n leeu langs jou brul sonder om opgeëet te word. A, maar sou jy kon?

Ons hele ervaringswêreld veronderstel sekere liggaamlike vermoëns soos gesig en gehoor en gevoel. Sou suiwer gees kon skilderye "sien"? Sou dit kon klanke "hoor"? Is dit selfs moontlik om onsself 'n ervaring in te dink wat sonder die voordeel van 'n liggaam geskied? Net soos mens jouself nie kan voorstel hoe dit moet wees om woordeloos en taalloos te dink nie, so kan jy nouliks jou denke skei van 'n sekere liggaamlike verbintenis. Suiwer abstrakte denke soos in matematika is waarskynlik die enigste denke wat lyfloos is.

Vir die prys van inperking is dít dan wat die liggaam die gees bied - die vermoë om die wêreld sintuiglik te kan ervaar. Dikwels is dit juis deur liggaamlike ervarings dat ons siele verryk word. En dié wat grinnikend net aan één lyflikheid kan dink, weet nog niks.

Hoe onnoembaar en ondefinieerbaar dit ook al is, is daar niks wat in en deur die liggaamlike soveel tot die gees spreek as skoonheid nie. Is daar enige ander manier om skoonheid te ervaar as deur die liggaam? Vra maar vir Van Wyk Louw, ons kan nie menslik lewe sonder "al die lieflikheid van oog en oor en sinne menigvoudig" nie. Ek sou die hele "Aan die Skoonheid" hier wou aanhaal:

… die mens
met hoogheid, liefde en sonde so heerlik aangedaan,
sy smart en die ligte bouwerk van sy lyf
wat kamers vir veel skemerende lus en drifte het;
dan word geboorte en dood weer skoon ontwar,
die goue grense om die liggaam en sy krag …

… en dies meer.

Wat skoonheid is, weet ek nie. Dat ek skoonheid kan sien en hoor en voel en ruik en proe, daarvan is ek seker. My oë se lekkerkry ontplof tot agter teen my skedel elke keer wanneer ek die volmaan sien, wanneer ek na 'n Chagall in al sy kleurryke glorie kyk, wanneer my tweejaar-oue nefie sy sjarmantste glimlag uithaal. Die dawering van donderweer maak my tot in my laaste hoekie bly, ook Beethoven se simfoniese weergawe daarvan.

So kan ek lang lysies opnoem van die dinge wat vir my mooi is, wat ek as boodskappe van my sintuie ontvang. Ek en my liggaam is nog lank nie kwaaivriende nie.

Die paradoks van die liggaam se ervarings is dat dit eers teen die agtergrond van vaalheid en droefheid is dat skoonheid ten volle te waardeer is. Sou die maan nog so mooi gewees het as dit elke aand vol was? Sou die stilte so salig gewees het as daar nie geraas was om dit teen te meet nie? Dit is ná die ervaring van uiterste honger dat kos die lekkerste proe. Deur die liggaam se ontberinge snak die gees ook na versadiging en ervaar dit dan saam as vervullend en wonderlik wanneer die honger gestil, die pyn gepaai word. Wat sou daar wees om te ontbeer sonder die liggaam? Wat sou daar wees om af te lê?

Daar is in ontbering ook 'n eie soort skoonheid. Skoon-heid. Wanneer 'n mens tot op die bodem van jou lyf se basiese behoeftes bewus word, val die dik lae kultuurkommer vir 'n slag van jou skouers af. Jou toring kry 'n spring-clean.

Dit verstom my altyd dat mense vir 'n wegkomkans uit die stad veld toe vlug, maar al die bagasie saamsleep - luukse chalets en lugverkoeling en satelliet-TV. Hoe moet jou liggaam-gees-konneksie suiwer bly deur so 'n glaskas van beskawing? Dit is eers met die son op jou vel en die sand tussen jou tone (en tande), die harde grond onder jou lê en die rivierwater teen jou sweetgesig dat jy weer onthou wat 'n lyf is. Iemand het gesê dat 'n mens, om geestelik gesond te bly, minstens een maal 'n jaar onder die sterre moet slaap, agter 'n bossie moet hurk en kaal in 'n rivier moet swem. Vir 'n gesonde gees het jy meer nodig as 'n gesonde liggaam - bewustheid daarvan. Word wakker en ruik die rose.

* * *

Om groot te word, is om op 'n verkenningstog deur jou toring se kamers te sluip, te hardloop, te dans. Tree vir tree leer jy watter venster die beste uitsig het, waar die son die warmste inskyn, waar die reënwater soms inlek. Wanneer 'n storm woed, kan jy terugtrek tot in die diepste kelder of jou vuiste bal teen die weerligstrale. Maar die storms dreig nie net van buite af nie, want wanneer Rapunsel soms uit 'n droom wakker word tussen vier vaal mure, bulder sy om losgelaat te word. Elders moet die matte sagter en die gras groener wees.

Om oud te word, is om jouself te begin voorberei vir daardie loslating, die vaarwel. Nie om te verhuis na 'n ander liggaam nie, maar om die liggaam agter te laat. En die enigste gras wat groener is, is dié waaronder jou lyf gaan lê. Beneath the green, green grass of home.

Jy kan jou liggaam beset met bitterheid oor die limiete wat dit stel en rebels graffiti teen die mure verf. Jy kan daarin bly soos 'n fanatiese binnenshuise versierder wat met elke nuwe modegier die gordyne ruil en die vloere twee maal per dag was. Of jy kan dit 'n tuiste maak om lief te hê en ín lief te hê, 'n toring met wortels soos 'n baie ou boom, waarin die drade van jou siel vasgevleg is. Laat intussen jou hare groei, want eendag sal jy dit moet verlaat en as dit dan 'n hartseer skeiding is, sal dit ook 'n grasievolle vertrek kan wees.

Rapunsel, Rapunsel, laat sak jou hare.

<< Back to all authors <<


LitNet: 08 November 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.