Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My generation
George A Hill Herman Wasserman is the author of the short story collections Verdwaal and Aan die ander kant van die stad. He has also published several stories in collection volumes like Vonkfiksie and Uit die kontreie vandaan. He is the co-editor (together with Sean Jacobs) of the academic essay collection Shifting Selves: Postapartheid Essays on Media, Culture and Identity. He was born in Port Elizabeth on 29th July 1969 and matriculated at Durbanville High School in 1987. He studied literature and journalism at the University of Stellenbosch and obtained the BHons Joern, MA and DLitt degrees. He worked as an art columnist and book editor for Die Burger, and has been a senior lecturer in the Department of Journalism at the University of Stellenbosch since 2002.
"In 1977, terwyl Steve Bantu Biko in dieselfde stad ondervra en geslaan is, kaal en bewusteloos in 'n polisievoertuig gegooi en na Pretoria vervoer is om aan sy beserings te sterf, het ek kommervry in Framesby se strate gespeel en getrou Sondagskool bygewoon. Dalk het ons op een van ons Sondagmiddaguitstappies verby sy sel gery, ek weet nie."
"In 1977, while Steve Bantu Biko was being interrogated and beaten in the same city, thrown naked and unconscious into a police van and transported to Pretoria to die from his injuries, I played without a care in world on Framesby's streets and faithfully attended Sunday School. Perhaps we drove past his cell on one of our Sunday afternoon outings, I don't know."

Braaivleis, sonneskyn en 'n noodtoestand

Herman Wasserman

Also available as: Braaivleis, sunshine and a state of emergency

"The day they jailed Mandela, I first heard John Lennon sing" - aldus David Kramer in sy liedjie "Out of the Blue". Hy behoort tot 'n generasie wat 'n paar jaar ouer as ek is, want toe ek in 1969 die eerste lewenslig aanskou het, het Nelson Mandela al 'n paar jaar gevangenisstraf uitgedien.

In 1976, die jaar waarin die jong swart skolier Hector Petersen deur polisiemanne doodgeskiet is in Soweto, het ek skool toe gegaan. Die ergste geweld waaraan ons wit bloedjies blootgestel was, was lyfstraf deur bombastiese onderwysers. Daar was nooit Casspirs buite ons klaskamers geparkeer nie. Die grootste opwinding daardie jaar het eerder gepaard gegaan met die feit dat ons ons eerste televisiestel gekry het.

In 1977, terwyl Steve Bantu Biko in dieselfde stad ondervra en geslaan is, kaal en bewusteloos in 'n polisievoertuig gegooi en na Pretoria vervoer is om aan sy beserings te sterf, het ek kommervry in Framesby se strate gespeel en getrou Sondagskool bygewoon. Dalk het ons op een van ons Sondagmiddaguitstappies verby sy sel gery, ek weet nie.

In 1978, die jaar toe die kragdadige Pieter Willem Botha bewind oorneem van die apartheidsregering, het ek in die Kragga Kamma-kommando van die Voortrekkers geleer om die Oranje-Blanje-Blou te salueer. Ek het toe nog nie vermoed dat ek elf jaar daarna vir ure in die reën op die Kaapse Parade op aandag sou moes staan sodat die Weermag van sy opperbevelhebber kon afskeid neem nie. Op SAUK TV se nuusuitsendings het ons wel soms name gesien van soldate wat aan die grens gesterf het, maar dit het nie werklik geregistreer nie. Ek en my broers het lekker cowboys en kroeks gespeel in ons ruim tuin.

Op dieselfde dag as my verjaardag in 1981 is prins Charles en lady Di getroud. Ons skoolhoof in Eversdal Laerskool het opdrag gegee dat elke onderwyser 'n televisiestel klaskamer toe bring sodat ons die regstreekse uitsending van die huwelik kan sien. Ek het teen daardie tyd nog nooit die naam Nelson Mandela gehoor of geweet dat hy 'n prokureur was voor hy in die tronk gegooi is nie, maar wel dat lady Di 'n kleuterskoolonderwyseres êrens in Engeland was voor sy die prins ontmoet het.

In 1983 sien ons plakkate teen die lamppale met "Stem Ja" en "Stem Nee" daarop. Ons staan vroeg op om te kyk hoe Gerrie "Seer Handjies" Coetzee oorsee teen swart boksers veg, en ons hou duim vas vir Zola Budd. Ons moet elke Dinsdag kadetklere aantrek en in gelid marsjeer op die rugbyveld. As jy vergeet om die bruin uniform te dra, word jy geslaan met 'n plank gehaal uit die rugleuning van 'n skoolbank. Ons hoor die woorde onluste en necklace, en die koerante praat neerhalend van "klipgooiers" en van kinders wat skole afbrand.

In 1985 het ek en 'n paar maats een aand 'n partytjie gehou op sy ouers se plaas net buite Durbanville. Ons het buite gebraai, 'n ent van die huis af, waar ons af en toe skelm 'n sigaret kon aansteek en 'n paar biere deel wat een van ons in sy rugsak ingesmokkel het. Ons het gedink ons was rof. Op 'n kol gaan een van hulle binnetoe om iets in die huis te gaan haal. Toe hy terugkom, sê hy dat 'n noodtoestand pas op die nuus aangekondig is. Ons is stomgeslaan. Waar ons bly, in die veilige, voorspoedige voorstede, is daar geen nood van enige aard nie. Ons lewe draai om hormone en eksperimenteer met rook en drink (hier en daar 'n waagmoedige een selfs al met dagga). Al opstand wat ons ken, is teen ons ouers en onderwysers. Ons luister na Britse punk, sny ons hare borselkop, ry met 50 cc-motorfietse rond. Met apologie aan David Kramer: "The day they announced an emergency, I first heard The Smiths sing." Ons vertel grappies oor Ethiopiërs nadat Bob Geldof 'n konsert vir hulle hou.

In 1987 skryf ons matriek. Ons voorgeskrewe boek is Van Wyk Louw se Raka ("Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,/ hy wat swart en donker is, van been en spier/ 'n lenige boog, en enkeld dier"), maar ons mag nie die gewone uitgawe lees nie. Ons volg die "skooluitgawe", waaruit frases soos "skaamteloos groot die skaamte" verwyder is, omdat seks liefs van skoolkinders weerhou moes word. Die seuns kry hul oproepinstruksies vir die weermag, en moet besluit of hulle eers army of eers universiteit toe gaan. Ons is onder die indruk ons gaan "ons land verdedig", en dit klink avontuurlik. Sondae sit daar mans in uniform in die kerk, seuns wat teruggekom het huis toe op naweekpas.

In 1988 word ons binne drie maande vinnig volwasse wanneer ons basiese weermagopleiding ontvang, die begin van twee jaar van die paradoksaal-getitelde "diensplig". Terwyl ons in pelotonformaat hardloop met R4's in die "hoog-voor"-posisie, moet ons liedjies sing soos "I want to go into Angola/ I want to kill old Sam Nujoma". Ons leer skiet, daar word op ons geskree, ons moet vroeg opstaan om beddens te stryk, ons kots van uitputting op die hindernisbaan. Ons word geïndoktrineer teen die Kubane en Swapo. Eendag terwyl ons besig is met opleiding, keer 'n groep "oumanne" terug van die grens. Hulle staan en kyk vir ons, lag vir ons onbeholpenheid met wapens en drilbevele. Ons skrik vir hoe hulle lyk - vuil, ongeskeer, met lang hare en wilde oë.

Na basies is party van ons gelukkig om rustige klerkwerk te kry; ander word weggestuur grens toe, party na die berugte 32 Bataljon. Ek doen aansoek om uitgeplaas te word na die Weermagorkes. Dit tel nie veel punte in die macho-afdeling nie, maar dis rustiger en veiliger. Ons werk is om swier te verleen aan parades en militêre begrafnisse. Ek leer om die stadigepas-mars te doen, iets wat ons gereeld in die volgende jaar en 'n half doen wanneer ons die kis, in 'n landsvlag gedrapeer, begelei begraafplaas toe. Ek en 'n paar ander makkers gaan op AWOL om die Voëlvry-konsert in die Drie Kunsteteater in Plumstead by te woon.

In 1990 is ek 'n eerstejaar. Op die eerstejaarkamp gaan iemand dorp toe en kom terug met 'n koerant: die ANC word ontban, Nelson Mandela word vrygelaat.

In 1992 kry ek my eerste graad. Teen die tyd dat Suid-Afrika 'n formele demokrasie word, het ek nog twee verwerf, en ek kry 'n beurs met 'n werksverpligting. My toegang tot 'n professionele beroep is verseker. Ek begin die Nuwe Suid-Afrika op 'n fondament gelê op 'n bevoorregte opvoeding.

Uit bostaande is dit duidelik dat ek tot 'n generasie van wit Afrikaners behoort wat grootgeword het in 'n illusie. Ons het veilig en gemaklik grootgeword, salig onbewus van die realiteite van die land om ons. As ek dus namens "my generasie" wil praat, is daar geen manier waarop ek kan voorgee om 'n greep te hê op die totaliteit van ervaring van Suid-Afrikaners van my ouderdom nie. Om aan te neem dat my individuele ervarings tot 'n mate emblematies kan wees van 'n groter groep wit Suid-Afrikaners van my ouderdom, is reeds 'n waagstuk; om my aan te matig dat ek swart Suid-Afrikaners kan insluit by die verwoording van die ervarings van "my generasie", sou arrogant en oneerlik wees. Wat weet ek van die ervarings van diegene wat nie teen ons mag sport gespeel het tensy ons ouers 'n briefie van toestemming gegee het nie, wat nie aan ons universiteite saam met ons jool gehou het terwyl die land gebrand het nie, wat in die townships soms letterlik in ons gewere se visiere was? As ek dus wil probeer verduidelik hoe lede van my generasie sin maak uit ons hedendaagse omgewing, moet ek besef dat die afsonderlikheid van ons leefwêrelde 'n sentrale rol gespeel het in waar ons vandag is en hoe ons vandag die land en onsself daarbinne sien. Die verlede waarbinne ons generasie tot stand gekom het, was 'n verlede van verdeling. Dit is die paradoks: dit wat van ons 'n generasie maak, naamlik 'n gedeelde verlede, is juis die ervaring van verdeling.

As ek my dus wil aanmatig om namens 'n kohort Suid-Afrikaners te praat wat saamgegroepeer word op grond van hul ouderdom, kan ek dit hoogstens doen ten opsigte van diegene met vergelykbare sosiopolitieke agtergronde as my eie. Selfs dan, weet ek, is 'n gedeelde verlede nie dieselfde as 'n identitiese verlede nie.

Laat ek dan maar skryf namens die laaste generasie van Botha se kinders. Namens die wit Afrikaners wat in die jaar dat Suid-Afrika se demokrasie sy tiende verjaardag gevier het, tussen 35 en 45 jaar oud geword het. Ons was die laastes wat gesegregeerde skole bygewoon het. Onder ons is die laastes wat nog in 'n slegs-wit verkiesing kon stem, die laastes wat opgeroep is vir twee jaar weermagdiens, die laastes wat nog "Die Stem" gesing het.

Kan ons beweer dat ons geen skuld het aan hierdie verlede nie? Ons kan ons medepligtigheid nie ontken nie, nóg kan ons beweer dat ons nie voordeel daaruit getrek het nie. Tog kan baie van ons ook nie ontslae raak van 'n wrok teen diegene wat ons misbruik het in terme van 'n stelsel nie. Ons was oud genoeg om beter te weet as om deel te word van 'n immorele stelsel, maar omdat ons in die skyn van normaliteit grootgeword het, is ons nooit direk gekonfronteer met 'n keuse nie. Ons is 'n groep wat met 'n eenogige blik op die werklikheid ons verstand gekry het en daarom nóú eers begin leer wat dit is om 'n land met ander te deel. Dis 'n groep wat die einde van die era van bevoorregting met ope arms verwelkom het, maar wat nie nodig gehad het om afstand te doen van hul materiële en sosiale voordele nie.

En as ek stilbly oor die ander, ons landgenote wat ewe oud as ons is, maar wat in 'n ander werklikheid grootgeword het, moet dit 'n hoorbare stilte wees. Dit moet 'n stilte wees wat ons herinner dat, hoewel dinge verander het, daar nog oop plekke in ons saamwees is, hier aan die ander kant van 1994. Dit moet ons herinner daaraan dat ons nog baie het om oor te praat. Daardie stilte moet ons ongemaklik laat voel oor die feit dat Suid-Afrika een van die drie mees ongelyke lande ter wêreld is. Die erwe van ons vaad're het, sover dit die ongelykhede in die samelewing betref, tot 'n groot mate vir hul kinders erwe gebly. Die stilte moet ons herinner dat alhoewel ons in ons kop al aangeskuif het uit die verdelings van die verlede, daardie klowe op grondvlak steeds voortbestaan. Dis 'n stilte wat moet tamboer teen ons ingeoefende aannames, ons vertroude omgewings, ons bestaande maniere van dink. Dit moet 'n erkenning wees van die onverkwiklike feit dat ons in hierdie land grootliks nog naas mekaar lewe eerder as saam met mekaar.

As ek dan namens my generasie van wit Afrikaners praat, is dit boonop ironies. Want ons generasie is juis die een wat altyd nog iemand gehad het wat namens hulle gepraat het, en wat dit verpes het. Toe ons kinders was, is daar namens ons besluit dat ons toekoms op die spel was. Daar is namens ons besluit dat ons nie swart kinders langs ons op die skoolbanke wil hê nie. Daar is namens ons besluit dat ons die kommunisme moes gaan verslaan, en ons is opgeroep om ons onskuld te gaan prysgee, ons vir jou Suid-Afrika. In ons skole, in ons kerke, in ons huise is daar namens ons gepraat, en ons is geleer om nie terug te praat met grootmense nie.

Maar dit sou die toppunt van arrogansie wees om onsself as slagoffers te posisioneer. Ondanks die feit dat ons as kinders sielkundig gemolesteer is in landsbelang, en ondanks die feit dat ons nie ongedeerd daarvan afgekom het nie, is ons in 'n baie beter posisie vandag as ons eweknieë, die verlore generasie wat in die townships die rubberkoeëls getrotseer het. Ons bevoorregte opvoeding en bevoordeelde ekonomiese posisie het ons in staat gestel om ons grade te kry en werkservaring op te doen voordat regstellende aksie ingestel is, en ons klou vir 'n vale vas aan wat ons het. Ons het grootliks die frontale lobotomie van wit mans in maatskappye en instellings vrygespring, al het ons ook nie die strandhuise gehad waarin daardie ooms kon gaan aftree nie.

My generasie beny die een wat ná ons gekom het, vir die gewigloosheid waarmee hulle oor grense wip, wat sonder die gewig van vorige dekades om hul skouers kan vliet tussen style, modes, kontinente. Maar ons sien ook 'n soort rigtinglose nostalgie, 'n salvo op soek na 'n teiken, in hul pastiche van 'n era waaraan hulle nie deel gehad het nie - wat hulle noop om name uit te dink soos Abel Kraamsaal of Fokofpolisiekar sonder dat hulle dieselfde risiko's van 'n Koos Kombuis of 'n Johannes Kerkorrel hoef te loop. Die mark is die enigste ideologie ten opsigte waarvan verset vandag gepleeg kan word.

My generasie het grootliks geëmigreer na binne, na die veiligheid van 'n voorstedelike bestaan, na 'n geprivatiseerde kultuur en godsdiens. Ons het wel nie die golf van materiële welvaart enduit strand toe gery soos ons ouers nie, maar ons kan ekonomies gesproke (gesien die groter Suid-Afrikaanse realiteit) grootliks gemaklik ronddryf danksy die hupstootjie wat ons gekry het deur ons bevoorregte agtergrond. Ons onthou waarvandaan ons kom, maar ons het dit onskadelik gestel. Soms sal ons in 'n grappie woorde soos min dae of naafi gebruik as 'n sjibbolet, maar ons is nie van 'n onthou jy? afhanklik vir ons identiteit nie. Ons weet nie altyd hoe om skuld in verantwoordelikheid om te skakel nie, maar ongelukkig bekommer ons ons ook nie te veel daaroor nie. Ons is nie sterk teenwoordig in openbare debatte nie, want ons is nie geleer om krities standpunt in te neem nie, en ons verkies die veiligheid van braaivleisvure en eetpartytjies vir ons menings. Ons weet wel dat ons nie wil deel hê aan die ouer geslag se taaldebatte wat hul bedien van woorde soos stryd en baklei nie, want ons onthou nog hoe dit voel om in iemand anders se oorlog te veg. Ons hoor hoe die ouer geslag ontken dat hulle ooit vir die NP gestem het en luister met 'n effense irritasie wanneer hulle stories opdiep oor hoe hulle saam met swart maatjies op die plaas gespeel het. "There is a traffic jam on the road to Damascus," sê die historikus Albert Grundlingh, en ons stem saam.

Maar laat ons op ons hoede wees vir die nuwe rasieleiers op die markplein wat ons onvoorwaardelik wil laat glo in die vryheid van die individu en die saligheid van vrye, rasionele keuse. Laat ons onthou dat nie almal van ons ouderdom dieselfde keuses en vryhede geërf het as ons nie. Laat ons nie te gou saamsing in die koor van shosolozas en vergeet dat die hede steeds hink oor die ongelykhede van die verlede waarin ons grootgeword het nie. Moenie dat ons onkrities in die wonderwerk van 'n nuwe samelewing glo nie, maar laat ons eerder besef dat ons daaraan moet help bou. En ons kan dit nie doen deur in ons enklaves bly sit nie. As ons nie doelbewus gaan probeer om ons generasiegenote te leer ken van wie ons so min weet, wie se taal ons dikwels nie kan praat nie, wie se armoede ons meesal nie deel nie, wie se kultuur vir ons onbekend is nie, gaan ons die illusie van ons jeug bly voortsit. As ons nie oor ons grense gaan beweeg nie, gaan ons nooit nuwe identiteite kan ontwikkel nie, en gaan ons die verdeeldhede van die verlede voortsit vir die toekoms. Ons moet onsself opnuut uitdink, in gesprek met ons generasiegenote, en leer luister na die stiltes wat rondom ons aannames en veronderstellings lê. Ons verlede van bevoorregting gee aan ons die verantwoordelikheid om die kloof van armoede tussen ons en ons generasiegenote te help verlig. Die nuwe Suid-Afrika is nog nie 'n voldonge feit nie. Die enigste manier waarop ons geslag aan die medepligtigheid van die verlede kan ontsnap, is om bewustelik verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms.

Sodat ons 'n generasie kan wees wat iets nuut skep. 'n Generasie wat regenereer.


Works by the author:

Aan die ander kant van die stad Aan die ander kant van die stad (pictured left)
Verdwaal (not pictured)

<< Back to all authors <<


LitNet: 27 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.