Die heel eerste poësievoorlesing waar ek self iets voorgelees het, was in Oldenburg in die noorde van Duitsland êrens in 1997 of '98. Dr Roth, die dosent by wie ek destyds 'n kursus oor die didaktiek van poësie geloop het, het 'n paar studente uitgenooi om by haar huis te kom gedigte lees, saam met kaas en wyn. Almal was veronderstel om 'n paar persoonlike gunstelinge saam te neem, en iets om te eet of drink.
Ek het kort na ek senuweeagtig die klokkie van haar swierige ou herehuis gelui
het, begin wonder wat my besiel het. Met die eerste stywe groet
was dit duidelik dat ek my liederlik misgis het. Ek was daai ou
wat gedog het die stranddiens is 'n "beach party". Dit was die soort
geselskap wat my dadelik lus gemaak het om te poep of 'n vuil grap
te vertel en 'n sigaret op te steek. Niemand daar het gelyk of hulle
met Kafka sou saamstem "[that] literature must serve as an axe for
the frozen sea inside" nie.
Na die eerste paar pynlik korrekte bydraes en geoefende reaksies daarop was dit duidelik dat my intuïsie reg was. Dr Roth en haar gaste wou informeel eisteddfod hou in lomerige kerslig. Ek was omring deur die soort geaffekteerde liefhebbers van skadelose woordrangskikkings wat my laat wonder het of my eie effe piromaniese beheptheid met woorde nie dalk nader aan 'n geslagsiekte as 'n gekultiveerde stokperdjie is nie. Ek het weer onthou dat daar mense is wat graag lees wat hulle reeds weet en van gedigte hou op dieselfde manier as wat hulle van sierskrif of tradisie en uniforms hou.
Toe dit my beurt was om voor te lees - of liewer: toe mense begin vra of "der Südafrikaner" nie ook iets gaan lees nie en nie "nein" vir 'n antwoord wou neem nie, het ek gevoel soos 'n springhaas in iemand se kopligte. Ek het ingewillig soos ek by die tandarts instem om my mond oop te maak. My hande het gesweet om die tweetalige Duits-Afrikaanse uitgawe van Breyten se gedigte wat ek 'n week tevore verbaas in die biblioteek opgespoor het. 'n Paar mense het gevra dat ek eers 'n gedig in Afrikaans lees sodat hulle kan hoor hoe die taal klink.
Ek het begin met "Vlerkbrand":
wanneer jy dink aan jou land
sien jy
vlegsels en 'n bril; 'n ou hond vol bloed;
en 'n perd versuip in die rivier; 'n berg met vuur;
'n ruimte met twee mense sonder tande in die bed;
donker vyge teen die sand; 'n pad, populiere,
huis, blou, wolkskepe;
riete; 'n telefoon;
sien jy
Die eerste strofe was uit soos 'n skuldbekentenis voor ek dit kon keer. Dit het vinnig gebeur, want dit was 'n ongeluk. Breyten se vasgekeerde Afrikaanse woorde het verward gefladder en vasgevlieg teen die mure, die stylvolle gordyne en die mooi ou komvensters. Ek het gevoel of ek stemme hoor en spoke sien. Die afstand tussen my, die plek waar ek vandaan kom en die Duitse mense om my was nog nooit so groot nie. My moed het my byna begewe. Ek wou weghardloop soos iemand wat voor die hele klas sy broek natgemaak het.
Maar toe kry ek skielik my ritme. Dit was asof iemand deur my buikspreek. Ek was buite beheer en dit was soos nostalgie - intens onaangenaam en eufories bedwelmend tegelyk. Bart Simpson moes so gevoel het in die episode waar hy by die skoolkonsert besef hy hou daarvan om ballet te dans, maar terselfdertyd vrees dat sy masker gaan afglip en Nelson en die ander boelies gaan agterkom dat dit hy is wat pirouettes doen.
Ek het daardie aand begryp dat die plek waar ek vandaan kom, die plek waar ek hoort en van weggevlug het en na terugverlang het, nie 'n plek op 'n kaart was nie. Dit was nie 'n plek wat jy kon afneem of besoek nie, maar 'n onthoude plek, 'n verbeelde plek verstrengel met taal en rou emosie. Ek kon dit oproep soos 'n gees of deel met ou vriende, soos herinneringe en verlies, maar ek kon dit nie bewoon of terugwen nie. Dit was 'n plek wat veral vanuit Duitsland baie na nêrens gelyk het, 'n plek vol bekrompenheid, misdaad, zeffers, Bybelversies, geweld en Apartheid. Dit was baie dinge: onvoorwaardelike ouerliefde en begrip, my eerste soen, erfskuld en skoolsokkies, wrewel, misverstande en vakansies by die see. Maar dit was in 1998 bowenal vir my 'n noue ontkoming. Ek het oor Suid-Afrika gevoel soos Ben Folds oor die girlfriend in sy song "Brick":
She's a brick and I'm drowning
slowly
off the coast and I'm headed
nowhere.
Maar om die baksteen te laat los sou beteken om myself te verloor. James Lee Burke beskryf die band tussen die "ek" en sy verlede soos volg in sy roman The Neon Rain:
… I reflected upon the ambiguous importance of the past in our lives. In order to free ourselves from it, […] we treat it as decaying memory. At the same time, it's the only measure of identity we have. There is no mystery to the self; we are what we do and where we have been. So we have to resurrect the past constantly, erect monuments to it, and keep it alive in order to remember who we are.
Die "ek" of die "self" soos Burke dit sien, is nie 'n plek waarin 'n mens hom- of haarself gemaklik kan inrig nie. Dis veel meer soos 'n brandende huis of 'n sinkende skip. Jy keer weer en weer teen jou beterwete terug daarheen om iets te probeer red uit die vlamme, om jou foto-albums, oumense, kinders en aandenkings van 'n watergraf te bewaar. Vir wit Suid-Afrikaners is die brandende huis van hulle vaders egter besmet met 'n verlede waaroor 'n progressiewe mens nie veronderstel is om nostalgies te voel nie. Wanneer jy gekonfronteer word met die verslae van die Waarheids- en Versoeningskommissie buite die wit gemeenskap waarin jy groot geword het, lyk dit onwaarskynlik, of byna pervers, dat jou persoonlike belewenisse van skoonheid en onskuld kon plaasvind in so 'n plek en tyd. Dit voel verkeerd om terug te hunker na enige iets, veral wanneer jy dink aan die skaamtelose idealisering van die "goeie ou dae" deur baie ander wit landgenote. Elke destydse piekniek, romanse en mooi herinnering lyk uit 'n polities-bewuste hoek na 'n produk van roekelose wit apatie. As die verlede 'n stasiewa op pad see toe was, was skuldgevoelens en Apartheid soos 'n Ventertjie agterna. Daar is dus diegene wat verkies, of ten minste probeer, om die verlede met sy mense, woorde en plekke te laat sink - veral wanneer hulle boonop met die vervreemding van emigrasie gekonfronteer word.
Kundera formuleer dit mooi in Testaments Betrayed:
Emigration is hard from the purely personal standpoint […]: people generally think of the pain of nostalgia; but what is worse is the pain of estrangement: the process whereby what was intimate becomes foreign. […] The shocking, stupefying form of strangeness occurs not with an unknown woman we are trying to pick up but with a woman who used to belong to us. Only returning to the native land after a long absence can reveal the substantial strangeness of the world and of existence.
Ek het nie daarin geslaag om die plek waar ek vandaan kom te laat los nie, maar het teen wil en dank gekleef aan my verlede soos 'n tong aan droë ys. My verlede en ek en Afrikaans en ek was aanmekaar soos ek en my Duitse eksvrou. Dit was 'n alledaagse krisis en uiteindelik ou nuus soos die Israeli's en die Palestyne. Ek kon nie so aangaan nie, maar ek was te bang om terug te gaan - 'n slagoffer van die negatiewe propaganda wat ek myself oor jare gevoer het om uit te hou in Duitsland. Suid-Afrika het vir my 'n vyandige planeet geword waarop mense nie kon asemhaal of oorleef nie. Ek het probeer om myself los te skryf, maar het daarmee die teenoorgestelde vermag. Hoe meer briewe en gedigte ek geskryf het, hoe meer het Afrikaans die tuiste geword waarna ek gesoek het. Die Poolse digter Czeslaw Milosz het tydens sy ballingskap in Amerika 'n soortgelyke ervaring verwoord ("My Faithful Mother Tongue"):
Faithful mother tongue,
[…] You were my native land; I lacked any other.
Terwyl ek probeer het om estetiese waardigheid aan my gewaarwording van magteloosheid en verlies te verleen, het my woorde en gedagtes aanhou terugverdwaal na die deur en deur Afrikaanse plekke van my kinderdae. Dit was uiteindelik my doodgewoon gelukkige kinderdae wat dit vir my onmoontlik gemaak het om die plekke van die verlede aan hulle lot oor te laat. Na byna ses jaar in Duitsland het Milosz se woorde in "A Portrait With A Cat" vir my dadelik sin gemaak:
… Our true encounter
Is in the zones of childhood. Amazement called love,
A thought of touching, a cat in velvet.
Die plekke, mense en woorde wat my kinderdae aangeraak en heilig gespreek het, wou nie opskuif vir die sinisme en ironie waarmee ek as volwassene probeer het om in beheer van sake te bly nie. Dit was nie moontlik om Kimberley, Kaapstad en Pretoria se beautiful woorde te verlaat nie - nie as ek wou aanhou skryf nie, en ek het nie geweet hoe om op te hou nie. My hede was 'n gemors en ek het begin om in vertelde tyd te leef.
Kundera diagnoseer die emigrante kunstenaar se probleem in Testaments Betrayed:
… the numerically equal blocks of a lifetime are unequal in weight, depending on whether they comprise youth or adult years. The adult years may be richer and more important for life and for creative activity both, but the subconscious, memory, language, all the understructure of creativity, are formed very early; for a doctor, that won't make problems, but for a novelist or a composer, leaving the place to which his imagination, his obsessions and thus his themes are bound could make for a ripping apart.
Die plekke en mense van die verlede is egter nie bloot 'n bron van inspirasie of artistieke obsessie nie. Dis 'n noodsaaklike komponent van enige lewensverhaal of kunswerk. Elke drama moet êrens afspeel en elke geloofwaardige handeling of karakter is deel van 'n spesifieke tyd en plek. Om literêre sin te maak van 'n lewe is dit noodsaaklik om 'n plek en tyd te eien:
… we apprehend the human condition with pity and terror not in the abstract but always in relation to a given place and time, in one particular province, one particular country. (Czeslaw Milosz - The Witness of Poetry)
Sekere plekke en tye is egter makliker om te besing of noukeurig te verpes as ander. Dit lyk of 'n skrywer, skilder of komponis 'n groter kans op sukses sou hê wanneer hy probeer om die "human condition" in Londen, New York of Parys tromp-op te loop. Om te gaan doodbloei of aan selfvernietigende liefde te ly in Pretoria of Beaufort-Wes in 'n veragte en bedreigde taal lyk na 'n baie dwars, ondergrondse aktiwiteit. Daar is, soos Milosz sê, op die literêre wêreldkaart altyd 'n paar leë kolle, "blank spots", waaroor 'n mens net so wel "Ubi Leones" ("waar die leeus is") sou kon skryf. Milosz, wat van so 'n "blank spot" gekom het, beskryf in "Bypassing Rue Descartes" hoe hy as jong digter oortuig was dat hy na Parys moes gaan om te leer van die sg "universele" idees van die tyd:
I descended toward the Seine, shy, a traveler,
A young barbarian just come to the capital of the world.
We were many, from Jassy and Koloshvar, Wilno and
Bucharest
Saigon and Marakesh.
Ashamed to remember the customs of our homes,
About which nobody here should ever be told:
The clapping for servants, barefoot girls hurry in,
Dividing food with incantations,
Choral prayers recited by masters and household together.
I had left the cloudy provinces behind,
I entered the universal, dazzled and desiring.
Na die deeglike postkoloniale, postmoderne en poststrukturalistiese kritiek van Platonisme en essensialisme is daar natuurlik nie meer baie geleerde mense oor wat sal wil beweer dat universaliteit 'n kenmerk van 'n beduidende literêre teks is nie. Die groot tale en kulture van die Weste het egter 'n plaasvervanger gevind - "authenticity". Wanneer besluit moet word of 'n kultuurproduk uit 'n "blank spot" van waarde is, word gevra of dit "outentiek" is. Maar om te beoordeel of iets "outentiek" is, moet 'n mens vertroud wees met die plek waar dit vandaan kom. Aangesien dit selde die geval is, het Westerse oordele oor dit wat die "real South Africa" of "truly African" is, dikwels tot gevolg dat alle kunstenaars en skrywers uit Afrika onderwerp word aan die beperkende dwingelandy van sg "African music" of "African art", maw maskers, dromme en naïewe tekste oor onderdrukking, armoede en die natuur. Dit is ironies hoeveel waarde binne 'n land soos Suid-Afrika aan "grensverskuiwende" werk geheg word, wanneer dit juis dikwels die teenoorgestelde is waarin Westerse gehore geïnteresseerd is.
Ek het in 2002 gehelp om 'n Bitterkomix-uitstalling in Berlyn te organiseer en was soms verstom oor sommige vanselfsprekend neerbuigende reaksies. Die feit dat sekere besoekers kon vasstel dat stilistiese invloede uit Europa en die Amerikaanse "underground" in die kunstenaars se werk herkenbaar is, het hulle blykbaar laat besluit dat Bitterkomix dus wel "cool" is, maar nie outentiek nie, "not really African". Ek het nog nooit gehoor dat Paul Simon se Graceland gekritiseer word omdat die musiekstyl op die album nie eg-Amerikaans genoeg is nie. Om te leen uit die sg Derde Wêreld en style kreatief te verwerk vir 'n oorgestimuleerde, verveelde Westerse gehoor verdien dus 'n Grammy, maar die "scatterlings of Africa" mag slegs teer op hulle eie tradisies om "outentiek" te bly.
Derek Walcott se Karibiese matroos sê dit raak in "The Schooner Flight":
I met History once
But he ain't recognize me.
[…]
I confront him and shout, "Sir, is Shabine!
They say I'se your grandson. You remember Grandma
your black cook, at all?" The bitch hawk and spat.
A spit like that worth any numbers of words.
But that's all them bastards have left us: words.
Shabine bevind hom in die posisie van alle verlooptes en weeskinders van die geskiedenis wêreldwyd, maw in 'n soortgelyke posisie as die Indiaan in Jim Jarmusch se film Dead Man wat homself "Nobody" noem (Gary Farmer). Nadat Nobody deur die sirkus ontvoer is en in Engeland leer lees en skryf het, het hy verlief geraak op die poësie van William Blake. Met sy tuiskoms het sy eie mense hom "He-who-talks-much-says-nothing" genoem en daarom het hy homself liewer "Nobody" gedoop. Wanneer die hoofkarakter, 'n Amerikaanse boekhouer wat "toevallig" ook William Blake heet (Johnny Depp), 'n groepie bandiete om 'n vuur bekruip en sy vrees aan "Nobody" beken, stel "Nobody" hom gerus: "Nobody will observe."
Soos Shabine sê in Walcott se "The Schooner Flight":
I'm just a red nigger who love the sea,
I had a sound colonial education,
I have Dutch, nigger, and English in me.
And either I'm nobody, or I'm a nation.
Hoe wil 'n Westerse gehoor bepaal of "Nobody" "outentiek" is? Nobody kan nie bloot outentiek Europees, Afrikaan of Asiaat wees nie, want hy of sy is sy of haar eie outentieke bastervorm oftewel nasie. Vir 'n kunswerk van 'n Westerse Nêrens om "outentiek" te wees uit die oogpunt van die betrokke Niemand-kunstenaar, mag daar dus nie primêr vir 'n buitelandse gehoor gespeel word nie. So 'n gehoor gaan waarskynlik juis nie in staat wees om Niemand en Nêrens na waarde te skat nie; sal nie weet of Niemand en Nêrens getrou aan hulself is nie. Die realiteite van Niemand en Nêrens kan nie van buite betrag word nie. Ek voel oor die Niemande en Nêrens van my herkoms soos Walcott voel oor sy kreoolse heimat, die Karibiese eilande (The Antilles: Fragments of Epic Memory):
Its proportions are not to be measured by the traveller or the exile, but by its own citizenry and architecture. To be told you are not yet a city or a culture requires this response. I am not your city or your culture.
Niemand van Nêrens het uiteindelik 'n eenvoudige keuse tussen koppige trots en selfrespek en die polities-korrekte Westerse sirkus van Anthologies of Native American Poetry, "outsider art" en die bemagtiging van minderheidsgroepe.
Na agt jaar en agt maande in Duitsland is ek hoopvol en verlig terug huis toe soos die karakter in Kris Kristofferson se "Just the other side of nowhere":
I come from just the other side of nowhere
To this big time lonesome town
[…]
I've seen about enough
To know where I'll be bound
[…]
Give my best to anyone who's ever done me
Any loving way but wrong
And tell them that the pride
Of just the other side of nowhere's going home.
Nêrens was 'n warmer, opwindender plek as die een wat ek onthou het. Suid-Afrika is kulturele niemandsland net wanneer gesien deur moeë Westerse oë. Vir Niemand is Nêrens die één plek waar hy 'n kans staan om te hoort en iets te beteken.
|