Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My generation
Clive E Smith Clive E Smith: I'm 34 and live in Woodstock. All I ever wanted to be was a writer. I've been published for about 12 years. Adult literature, columns, novellas in both English and Afrikaans, agony columns, internet fantasy series writer and creator, and short stories in both languages, are amongst a few things I've done. I dabble in carpentry, building my own furniture from waste wood, gardening, bass guitar playing, weekend mechanic and my great love, cooking. I have no formal education. Everything I know I taught myself. I love books and read a lot and also buy lots of research and reference books for my library at home. I love music and still listen to and collect vinyl. I'm probably the only country music DJ in Africa, but I love it (it's massive at the moment).
"Dit is moelik vir ons almal om ons plek in hierdie wêreld te vind. Ons dink en wonder elke dag waar daardie plek mag wees. Ons verhard en verslap ons menings elke dag, ons verruil skuldgevoelens vir geld, en geld word gemoedsrus. Ons verruil liefde en haat vir 'n mooi kar of 'n dak oor ons kop vir 'n aand. Skulduitruiling is 'n konstante herinnering dat ons in 'n wêreld lewe saam met ander mense. Langs ander, bo en onder ander mense en selfs in konflik met ander mense, en ook op 'n groot verskeidenheid ingewikkelde sosiale vlakke."
"It is difficult, for all of us, to find the place in the world that we fit into. We think and ponder where that place might be all the time. We assert and relax our opinions daily. We trade guilt with money, money for peace of mind. Love and hate nice car or shelter for the night. Guilt trading is a constant reminder that we are living in a world with other people. Next to other people. Above and below other people and often in conflict with other people, on a varying array of complex social levels."

Skuldgevoelens, die barometer

Clive E Smith

Also available as: Guilt, the barometer

Oorgang, die huidige stand van die demokrasie, kulturele beweging, besoedeling van klas, kruisklas-bestuiwing en diversiteitsvoorbereiding, is almal realiteite van 'n verhaaste groei in die afgelope tien jaar van die Suid-Afrikaner. Vir elke Suid-Afrikaner was die afgelope tien jaar so individueel en uniek soos 'n vingerafdruk. Dié wat daarna uitgesien het, ervaar dit aansienlik verskillend as die jeugdiges wat geen idee gehad het dat daar so iets aan die broei was in die vroeë negentigerjare nie. So groei ons dan definitief vanuit verskillende plekke na die dieselfde bron van lig toe. Soos sekere voorheen benadeeldes 'n snelle groei ondergaan het, het sekere bevoordeeldes eenkant toe getrek en die proses op verskillende maniere ervaar. Sommiges het geëmigreer, ander het gebly bloot net om te kyk hoe dit misluk. Sommiges was gelukkig en ander het skuldgevoelens ontwikkel. My doel hiermee is om 'n venster oor hierdie wêreld te open waar ons saam verken en bespreek, veral oor die onstabiele klas/ras/ekonomiese heinings. Ons kyk na die nagevolge van dié wat het en dié wat nie het nie en raak ligtelik aan 'n paar ander onderwerpe en opinies.

Ek wil veral lig werp op die geheime taal van die skuldgevoel. Deesdae is daar soveel afhanklikheid van demokratiese neigings. Ons konsentreer veral op hoe ons dit doen en of ons dit reg doen. Dis vir ons belangrik om te sien waar en hoe hierdie boublokke val en inpas by mekaar. Daar is geen geskiedenis vir die Suid-Afrikaner vir en oor 'n Suid-Afrikaanse demokrasie nie. Ons probeer nog die demokrasieë van Tanzanië, Namibië, Mosambiek en selfs Zimbabwe verstaan en analiseer. Ons ontdek later dat demokrasie vele bestanddele het waarvan net een skuldgevoelens is wat sy aan sy met waarheid en versoening loop; want sodra ons onsself instel op laasgenoemde, sal ons voel en luister na die fluister van die stem wat niemand hoor nie. Die stem waarmee niemand praat nie. Die gevoelens wat niemand kan vind in die note van die melodie in die hart van die Suid-Afrikaner nie. Ek probeer insig bring in hoe ons skuldgevoelens ervaar, hoe ons skuldgevoelens oes en die manier waarop ons sterflikheid daarmee meet. Om niks te doen nie maar die emosie te omhels wat ons so baie probeer wys, maar wat ons uiteindelik so min van sien.

Demokrasie, die voor- en nageboorte, die bevrugting, die bevrugtingstydperk, die kraampyne, die politieke-opposisie-kraamkrampe, en die brawe beweging vanaf die baarmoeder deur die geboortekanaal totdat sy sagte kop vir die eerste keer die wêreld aanskou. Van tussen die bene van Moeder Afrika. Met sy eerste long vol asem, met die eerste skreeu vol lewenslus en dan direk afgestuur op die bors vir 'n mond vol warm melk gekweek uit die grond van Afrika. Die perspektief natuurlik geleë in en op ons daaglikse groei en samesmelting van teenswoordige en vroeëre emosies ervaar. Hiermee lei ek met die voorbeeld van "Jane", een van 'n hele paar karakters wat ek gekies het om die verduideliking te vergemaklik ten opsigte van elke karakter se agtergrond. Ek self neem deel as 'n karakter en verwys na myself as "ek", "my", ens. Die name is maar net name, die stellings en opinies van die laasgenoemdes is eenvoudig en nie geforseer nie.

Jane kom uit 'n blanke middelklasgesin in Rondebosch in die Kaap. Sy is Katoliek en het nog albei haar ouers. Sy het haar graad by Rhodes-universiteit verwerf. Sy't ook twee broers en een suster jonger as sy. Haar twee broers is ouer as sy en sy is 30 jaar oud. Ons twee is al omtrent nege jaar lank goeie vriende en ons praat gereeld oor dinge wat ons lewens, saam en afsonderlik, affekteer. Nou laas het ons oor skuldgevoelens gepraat. Sy vergelyk meestal hoe ons onderskeidelik grootgemaak is. Ek het ook twee broers ouer as ek en 'n suster jonger as ek. Ek kom van 'n enkelouer-huis, normale staatskool en 'n werkersklasinkomste. Ek het ontsettend baie van haar en haar gesin geleer. Sy het intussen baie van my en my familie geleer ten opsigte van "die siel" soos sy dit beskryf. Alhoewel sy sukkel met die feit dat ek dit selfs tot hier gemaak het. Ek het vreeslik baie van al hul boeke in die huis gehou. Hulle was nooit ryk nie, maar was gemaklik. Ons gesin was nie so gelukkig om self gemaklik te wees nie. Daar was natuurlik bruin mense in haar skool, maar hulle was almal ryker as haar gesin. Weens die swak voorbeelde van bruin mense in haar jeug vermoed ek dis waar haar nuuskierigheid oor my lewe ontwikkel het. Sy glo dat as sy in my skoene groot geword het, sy glad nie so ver as ek sou gekom het nie. Sy kan nie die einde van so 'n lewe van begin tot einde deursien nie. Vir my was dit maar altyd net: lewe. Ek het dit nooit met ander s'n vergelyk nie.

Jane worstel elke dag meer en meer met die skuldgevoelens wat sy ervaar. Sy vergelyk haar eenslaapkamerwoonstel met dié van 'n pondok in Langa. Die skuldgevoelens wat sy saamdra omdat sy elektrisiteit, warm water, ens het. Die pondok in Langa het skaars 'n dak wat die winterreën uithou. Geen elektrisiteit, geen toilet of badkamer en geen lopende water nie. Sy voel skuldig oor die elektrisiteitskoord wat van die bure af loop, sy voel skuldig oor die vloede in die winter.

Ek stel "Tabi" bekend. Tabi woon in die pondok waarvan Jane praat. Sy woon daar saam met haar ouma, haar suster en haar suster se baba. Jane is met die ouma bevriend en sy wonder hoe Tabi op haar salaris vir hulle kan sorg. Tabi het 'n paar gemeenskapsontwikkelingskursusse gedoen en daarmee 'n goeie werk losgeslaan. Sy onderhou almal. Ouma help ook finansieel uit met haar deeltydse werk. Tabi is ook dieselfde ouderdom as Jane en voel 'n sterk band tussen hulle. Jane voel nog steeds skuldig wanneer sy kla dat die loodgieter twee dae laat is wanneer sy dink aan die feit dat Tabi nie eens 'n badkamer of toilet het nie. Jane dink aan haar privaatheid as vrou. Sy glo ook vas dat die rede hoekom Tabi nie kla oor haar omstandighede nie, is dat sy dankbaar is om 'n vaste inkomste te hê. Wanneer Jane en haar vriende 'n maaltyd in 'n restaurant geniet, voel sy skuldig omdat Tabi nie dit kan beskostig nie. Sy vermoed dat Tabi die restaurante vermy omdat sy verkies om 'n paar kledingstukke vir haar niggie te koop. Tabi dink Jane se woonstel is baie mooi en wens dat sy ook eendag op haar eie kan woon. Sy weet sy sal haar familie mis en dat dit onregverdig sal wees. Sy weet sy hoef nie die broodwinner te wees nie, maar sy verkies dit. Sy sal skuldig voel en haar gemeenskap, familie en vriende mis. Tabi sê ook sy verkies om 'n kledingstuk vir haar niggie te koop omdat dit haar meer genot verskaf as 'n ete in 'n restaurant.

Hiermee kan ons ook die verskillende vlakke van skuldgevoelens sien. Die skuldgevoelens van Jane jeens Tabi en dan van Clive jeens Tabi, byvoorbeeld. Ek dink glad nie aan die Tabi's van Langa nie, die situasie is meer tersiêr as primêr. Ek dink aan die ware haweloses, veral as dit reën. Ook vir die mense met geen beskutting nie, soos straatkinders en bergies. Ek voel skuldig om warm te slaap, veral na 'n groot maaltyd met wyn en nagereg.

Ek stel die bergie "Johannes" bekend as ons voorbeeld van 'n hawelose. Jane het nog nooit hawelose mense in ons gesprekke genoem nie; ek het nog nooit skuldgevoelens vir die Tabi's van Langa gehad nie, omdat dit my nie onmiddellik aangaan nie. Ek kan nie die swaarkry van Tabi bo dié van Johannes van die straat stel nie. Ek dink ook aan my eie gemeenskap met die bendes, dwaalkoeël-kindersterftes, babverkragtings en ander sulke wreedaardighede wat oor ons daaglikse koerante geverf word. Net gister het Hamida se dogtertjie 'n bal in my tuin geskop, vandag is sy op die voorblad van die Argus, dood. Ek sien die Tabi's as my gelykes en ek het nie skuldgevoelens vir haar nie. Tabi voel vir die mense in haar gemeenskap wat onder kartonne en onder plastiekseile slaap. Jane voel vir die Tabi's en vir die Clives van ons wêreld. Wie voel dan skuldig vir die Janes van die wêreld? Is daar mense in ons gemeenskap wat verby Jane ry terwyl sy haar tuin natmaak en dink: "Siestog, daai meisie lyk so slim, dis 'n jammerte dat haar jong lewe hier in die vervalle Rondebosch verder moet verrot." Sekerlik kan mens baie humor uit hierdie situasie put, maar is dit moontlik? Dit is moeilik om jou dit voor te stel. Verby wie stap Johannes elke dag? Vir wie het Johannes skuldgevoelens? Is daar iemand wat minder het as Johannes? Johannes woon in 'n goedbeskutte stegie saam met sy vrou, hy werk hard, doen tuinwerk en maak karton bymekaar. Hy geniet die meeste aande 'n warm pot kos van hul klein vuurtjie. Hy gee nou en dan 'n bord kos vir "Tokkie". Tokkie slaap onder 'n klomp bosse onder 'n plastiekseil. Hy het al lankal die luukse van ouers en persoonlike higiëne en klere vergeet, daardie elemente wat 'n kind 'n kind maak - speelgoed, familie, deelsaamheid, 'n huis en skool. Al wat hy ken, is oorlewing. Dit verg al sy tyd en energie. Elke dag. Hy het minder as Johannes en Johannes voel vir hom.

Ek stel "Simon" bekend. Simon is besturende direkteur van sy eie maatskappy. Toe ek hom vra, was hy baie onseker. Hy het aangeneem dat ek weet dat hy vir my, Jane, Tabi, Johannes en Tokkie omgee. Die lyne tussen ons het nie vir hom bestaan nie. Hy kon maklik vir Jane identifiseer en my verseker dat hy nie skuldgevoelens oor Jane het nie. Hy sê verder dat hy net soos sy was en dat hy hard gewerk het vir wat hy vandag het. Oorlewing, kos en beskutting laat nie juis baie tyd vir Johannes om rykdom te maak nie. Voorsiening kom outomaties in Simon se wêreld van kos en beskutting. Wanneer beskutting gedefinieer word deur ligging en niks te doen het met die struktuur of die dak oor jou kop wat jou droog hou nie, skep ons konfrontasie, nie eerbied nie.

Ek voel dat vier jaar se kommunisme (voor demokrasie, natuurlik) die verskille tussen Suid-Afrikaners sou verminder het. Kommunisme sou ons uit die staanspoor op dieselfde vlak laat groei het. Ons sou almal gelyk begin het. Ons huidige omstandighede laat baie vrae ontstaan en laat ons wonder oor skuldgevoelens en hoe ons ander sien en wat die verskille tussen ons is. Dink ons aksie, of dink ons emosie?

Ons word nou gelaat met die ongedefinieerde skuld van Simon en ons onvermoë om 'n verband tussen Simon en Tokkie te lê. Dit is amper onmoontlik om te glo dat die twee in dieselfde stad woon. As 'n mens daaraan begin dink om minderbevoorregte mense te help, is dit moeilik om te weet waar om te begin. Byvoorbeeld om 'n tiende van jou salaris vir die kerk te gee. Hiermee is jy dan vrygespreek van alle skuldgevoelens. Die kerk absorbeer jou skuld en stuur die geld na hul liefdadigheidsorganisasies. Sommige mense voel dat dit beter is om klein hoeveelhede geld, kos en klere aan 'n groot aantal mense te verskaf. Alhoewel die resultate meestal vaag is. Hierdie metode verhoed dat 'n mens 'n verandering sien, teenoor die metode om direk vir Johannes en sy vrou te gee. Die verbetering van die persoon sal op laasgenoemde manier beter gesien kan word. Hoe meer jy 'n verbetering oplet in dié wat jy help, hoe minder sal jy skuldig voel en hoe meer sal jy gee.

So ook: as Johannes en sy vrou beter voel, help hulle vir Tokkie meer uit sy wêreld uit. Tokkie kry meer in kwaliteit en volume deur Johannes as medium (wat ons almal verteenwoordig). Tokkie se situasie verbeter, en sy selfbeeld en sy sienswyse van die gemeenskap om hom verbeter ook. Hierdie sienswyse is belangrik, omdat hy voel dat die gemeenskap hom vergeet het, hom teleurgestel het. As gevolg daarvan bevind hy homself in 'n situasie waar hy iets geskuld word. Hy voel niks vir enigiemand nie, en misdaad, selfbejammering en geweld kom maklik vir hom. Hy word genadeloos, omdat hy niks het om te verloor nie. As hy ten minste 'n voog of 'n ouer of 'n paar jaar op skool gehad het, sou hy deel gevoel het van sy lewe ten opsigte van die res van die wêreldgemeenskap. Tans het hy niks om in te glo nie, nie 'n sagte woord van 'n ouer of enigiets wat hom sou laat glo dat sy lewe die kosbaarste ding in die wêreld is nie, dat dit vir ons almal saak maak nie.

Solank as wat ons die skuldgevoelbarometer aktief in ons daaglikse lewens hou, sal ons kinders soos Tokkie weerhou daarvan om verder weg te gly in 'n wêreld van misdaad en geweld, selfs om van die honger om te kom.

Dit is moelik vir ons almal om ons plek in hierdie wêreld te vind. Ons dink en wonder elke dag waar daardie plek mag wees. Ons verhard en verslap ons menings elke dag, ons verruil skuldgevoelens vir geld, en geld word gemoedsrus. Ons verruil liefde en haat vir 'n mooi kar of 'n dak oor ons kop vir 'n aand. Skulduitruiling is 'n konstante herinnering dat ons in 'n wêreld lewe saam met ander mense. Langs ander, bo en onder ander mense en selfs in konflik met ander mense, en ook op 'n groot verskeidenheid ingewikkelde sosiale vlakke.

Hiermee keer ek dan terug na die man op straat wat verkies om 'n betreklik alledaagse maar suksesvolle lewe te lei. As ons almal ons skuldgevoelens aflê of uitruil, hoe gaan ons ons plek in hierde wêreld vind? Hoe sal ons weet wanneer enigiets te veel of te min is? Hoe sal ons weet of ons lewend of dood is en selfs vir hoe lank? Deur te probeer om 'n goeie en nederige lewe te lei, word ons geseën met die wonder van 'n grootse emosie, 'n gevoel, om ons lanklewendheid, menslikheid en sterflikheid aan te meet. Skuldgevoel.

<< Back to all authors <<


LitNet: 25 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.