Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My place
 

Santa Topham was nes Saartjie Botha lank op soek na die regte huis

Santa Topham

Read Saartjie Botha's: Ek soek 'n plek

Saartjie,

Ek was ook huissoekend vir 'n geruime tyd. Na my egskeiding het ek gereken dat ek in 'n meenthuis gaan intrek, die huurgeld maandeliks saam met 'n "To do"-lysie oor die pensioenpaar se breë eetkamertafel sal stoot, en sommer net leer wegleef van huis en haard. Ek het myself ingeprent dat dit die tipe van ding is wat 'n vars-geskeide vrou sonder enige afhanklikes behoort te doen.

Met die intrekslag in die meenthuis het ek die huis ingevul met bleek bekledings en lusteloserige dekor, en as teken van 'n dormante passie vir dolle kleur tog soms my beursie gewaag na bonte blommebosse agter die sjerrie-dekanter. Die dekanter was 'n barometer vir my gelukkigheid oor die omgewing. Elke aand het ek my handsakkie op die versigtige sitkamerstoel gesit, en sommer so twee-drie vinnige sjerries weggesluk - die sanderigheid van die sjerrie moes my gebrek aan 'n oormaattuin verpaai tot inskiklikheid.

Kort nadat ek ingetrek het, het die buurman vir my die stoof op Die Eienaar se rekening gefiks. So ook al die ander kwaaltjies wat die meenthuis deur my jaar se verblyf vitterig kon opkug. Lateraan het midweek-flieks die derde glas sjerrie vervang, en kon ek sawens aanvoel dat die woonvertrek van my meenthuis nie meer arms oophou vir my tuiskoms nie. Die perfekte stort, stoof en muurverf was nou 'n harnas en nie 'n hawe nie. En toe besluit Die Eienaar om te verkoop, en sit ek toe weer op straat.

Aartsnuuskierigheid het my geamuseerd gehou met die golf van huis soek wat gevolg het. Een aand is ek toe na 'n huis genooi wat ek eintlik nie wou had nie. Verkeerde buurt, verkeerde prysklas, huis-en-nie-meenthuis-nie … verkeerde alles - maar die agent (dit het ek nou maar eers gehoor) het die kommissie nodig gehad om Engeland toe te gaan vir sy tweejaar-"Ek-het-oorsee-gewerk" en my oorreed om na die huis te gaan kyk.

Maar toe ek voor Nommer 71 stop, het ek haar herken. Sy was 'n ou hoer - en sy het haarself vir my oopgehou en beskikbaar gestel vir my gebruik. Terwyl ek die fooi betaal.

Met die eerste intrapslag kon ek die rimpels van LEEF aan haar sien. Ek kon die toegepleisterde krake sien, ek kon sien hoe hard sy probeer het om vir laas iemand te verlok en te verlei. Iemand wat vir haar sou liefkoos en die geskenk van nut sou gee. En ek het my oorgegee aan haar, die kontrak opslag geteken en duiselig die volgende dag op kantoor gaan vertel van hierdie verslawing wat ek het aan ou hoer-huise.

Ek weet sy het vroeër soveel passie en soveel ervarings gesmaak - ek kan dit hoor aan die manier waarop die blokkiesvloere onder die dun, bruin mat kraak byna soos die litte van 'n ou vrou wat opstaan om stadig deur skemergange alleen te wals. Daar is 'n bedompigheid van Tyd in haar hoekies en oksels. Om haar buitemure vergader 'n onpas lot bome wat nader en nader aan haar groei - gevoed op en gevuur deur die nattigheid van haar binnekamers - hulle wil haar indring, haar verwring met hulle knoetse en knolle, maar hulle wil nie huis word nie - net bome wat beheer, oorneem en hoereer en verder aangaan met alledaagse boomwees en voelflirtasies. Daar lê vergete drome in haar vensterbanke gekaats en aan haar binnemure is lelike littekens van dekor-keisersneë en verglipdings.

Elke aand as ek tuiskom, trek my huis my na haar uitgesakte boesem met oneweredige arms, en fluister sy vir my van geheime behoeftetjies soos 'n loodglasvenster hier en 'n groter voordeur daar … wat van 'n spieël hierso sodat dit die aandag kan weglei van hierdie bepaalde gebrekkie? ... Ek en sy gesels snags onophoudelik oor die moontlikhede van kleur, en ek sien hoe sy haar ou lyf onder die nuwe begooisels en betooisels wulps rondswaai. My huis neem dankbaar die lig wat ek vir haar toelaat in ligte voile voor vensters, en sy maak haar geute vir my roggelend oop in die eerste reënbui wat ons saam, sonder sjerrie, vier. Sy hou haar kaggelskouers breed vir nuwe kershouers, en sy laat my toe om skottels groen appels die eetkamer in te dra, om riempiestoele, boeke en voëlkoue in haar gange te sit net-net voor 'n duikie in die muur ... en sy gooi gelate 'n geloofwaardigheid oor al die dekor-dinge wat ek pleeg - want sy is 'n gebruiksvrou en sy kan elkere behoefte met haar eie siel verpand. Daarom lig sy haar gordyne snags op die geringste versoek van die aandwind op, en daarom sug sy gelate snags as die reën dreig en die orige bome klop aan haar venster vir die ewige aandrang op oopmaak-oopmaak-oopmaak.

Die wittebrood is reeds verby tussen my en my houvrou. Soms is sy onredelik dikbek, en knyp sy die warm water vir my bad terug, spoeg sy katterig, as ek soggens moet stort vir werk, soos 'n jaloerse ou houvrou net-net water op my gesjampoede hare. Sy skud die matte ongeduldig van die mooi blokkies af: my hoer-huis wil weer jonk en wulps saam met my die man-wat-ek-liefhet met wit kerse onthaal, en nie bekommerd wees oor die uitgawe van nuwe teëls en nuwe ligte nie. Sy het maar net nou die dag eers vir my gewys dat sy 'n hele ingewande vol miere het en dat haar plafonne ondertoe bol van wie-weet-wat - maar sy het die tydsberekening van 'n gesoute mistress, want eers is ek gewys op skewe kosyne, mankoliekige deure en hardnekkige kreune van gangvloere ...

Maar ek het tuisgekom - ek behoort aan hierdie huis waarvan nie een deur en kosyn pasmaats is nie. Ek aard by en vereenselwig my met die mistiek en angs van 'n huis waar niks seker is nie en waar ek en sy alleen verantwoordelik sal wees vir ons lewenstyl. Ek het 'n sielsgenoot gevind wat saans sal sluimer terwyl ek weer skilderye begin maak in die oerou oorvloed van geborgenheid.

Groete van huis tot huis

Santa

<< Back to all authors <<


LitNet: 27 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.