SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

As ek nou aan my knie lek

Santa Topham

As ek nou aan my knie lek, sou die bloed na roes proe, dink die dogtertjie wat in die stofpad langs ’n oop plaashek sit. Haar oupa gaan haar kom haal, en terug kar toe dra soos hy altyd maak as sy van die wilde ryery haar greep op die plaashek verloor, en haar half disnis val. Hy kom haal haar altyd.

“Moenie op die hek ry nie,” waarsku hy altyd, en sy kan nooit die versoeking weerstaan om net nog een keer op die hek te ry nie.

“’n Balhorige klein wetterpen!” raas haar Ouma oor die afgedraaide ruit van die geel Zephyr terwyl sy toekyk hoe die oupa die kleindogter terugdra kar toe.

Selfs as kind kon sy aanvoel dat haar ouma reg is as sy dink dat sy ’n balhorige wetterpen is. Wat die woord “wetterpen” ook al beteken. Sy het toe geweet, en weet dit nou - dat wetterpenne terstond ander mense se waarskuwings argeloos oor hulle skouers gooi en voortgalop met balhorige vendusies in hul koppe.

Proe almal se bloed na roes? wonder sy as sy haar neus teen haar oupa se Potter & Moore-wang druk. Haar oupa is die sterkste man in die wêreld en hy hou haar altyd hoog bo die moeilikheid.

As mens oor die spoorlyn Tweeling binnery, is die eerste groot winkel op mens se regterkant die Handelshuis. Die winkel het groot deure, ’n wye stoep, en die binnekant is immer koel. Toe sy ’n klein dogtertjie was, was daardie winkel se deure, toonbanke en die vertoonvensters vir haar meer gewyd as die kerk ’n bietjie verder die dorp in. Eers die stoep opklim, en dan by die eerste deur in saam met Oupa en Ouma om die kruidenierslysie te gaan afgee. Klokslag is daar vir haar ’n klein nagmaal gekoop van rooi koeldrank en Wilsontoffies. Dit was die tyd toe Sunrisetoffies ook nog volop was, en aan die voorkant van die toonbank was daar ’n groot Sunrise-advertensie geskroef. Nie ’n kartonbord nie, maar verf op blik. Terwyl die familie agter die toonbank gegroet is en skinderstories uitgeruil is, het sy gewoonlik met haar duimnael die skroef aan die een kant van die bord probeer loswoel. Maar Ouma se klap op die onnutsige hand was so geniepsig soos ’n voorslag se byt, en moes sy gewoonlik onverrigtersake die groot taak opgee. Balhorige wetterpen.

Met die eerste inkope agter die rug, stap die driemanskap terug uit op winkelstoep. Oupa vooraan, dan ’n dikbek kleindogter, en dan haar Ouma wat haar reeds vergeef het en haar strikke vinnig oorstrik. Ouma voel meer vergewensgesind, want hulle is nou op pad na Handelshuis se klein afdeling vir material, knope, kant, lint, garings, ag, alles waarmee haar ouma haar voortdurend tuis besig gehou het as haar kalkoenboerdery se take afgehandel was. Soos klokslag bevoel Ouma omtrent elke rol lap en besluit dan oplaas, soos die vorige keer, op net ’n kardoes wit hempsknope. Die winkelvrou wat met die inloopslag so hartlik en hoopvol gegroet het, se glimlag het elke keer met die aanhoor van die bestelling soos son agter ’n wolk verdwyn. En dan weer uit na Oupa. Die ouma in haar dienlike donkerblou rok met haar knopekardoes in die hand, en haar kleindogter met ’n groter kardoes vol bont lekkerskerfies.

Die wit strik op die kleindogter se kop is soos twee satynmuisore – kompleet asof Ouma uit satynlint vir haar groter luisterore wou bind. Dit het nie veel gehelp nie, want die kleindogter het ’n gewoonte daarvan gemaak om halleluja’s te loop en brul nes sy in die veiligheid van die breë winkelstoep was waar Ouma nie sou waag om vernynig teenoor haar blyk te wees nie. Ouma was moordend kwaad oor haar gebrul, maar Oupa het dit afgelag met: “Ag Lief, laat die kind God maar prys.” Sy het gedag Oupa is trots op haar toewyding – maak mos nie saak waar en hoe jy aanbid nie, solank jy net aanbid. Sy het sekerlik haar gebrek aan ’n sangstem (soos haar hardkoppigheid en domastrantheid) van Oupa se kant van die familie gekry. Vir haar ouma wat uit ’n minder robuuste en meer musikale familie gekom het, moes die gekrys seker vreeslik wees.

Haar oupa het hulle altyd tegemoet geloop met sy kenmerkende vinnige stappie, nes jy om die draai by die garage gekom het. Die garage het ’n toilet met papier gehad wat vir grootouers en behoeftige kinders ’n noodsaaklikheid was. Van Handelshuis af is hulle verder die dorp in. Dalk na die koöperasie waar daar altyd ’n taai reuk van melasse en die stowwerige reuk van goiingsak gehang het. Of dalk na die rokwinkel om vinnig ’n patroon van ’n onbekostigbare rok af te kyk, of die kafee vir tee en toebroodjies, of die apteek vir ’n klein botteltjie rooipoeier en ’n groot blik perdesalf.

 Elke mens wat hulle teëgekom het in Tweeling se strate was bekend, en is gegroet met ’n soen en/of’n handskud. Haar oupa het die vrouens ge-“double clutch”… Haar ma het later jare vir haar vertel dis wat mens dit noem as iemand jou drie maal agtermekaar piksoen. Die kleindogter moes ook haar deel met die gehate soenery doen, en haar ouma se kwaai kyke het vroeg reeds ’n bewonderenswaardige onbaatsugtigheid by haar gekweek. Waarom die ooms en die tantes se bolippe toe byna almal ewe stekelrig was, weet sy tot vandag nog nie, en moes sy met moeite tot stilte gedwing word as sy die saak sommer self wou opklaar. En die een tante met die moesies het haar telkens ondergekry. Later jare het daardie einste niggie van haar ma wraggies die beste huwelik gedoen. Die mooi niggies het almal met ewe mooi mans getrou, maar hulle het minder goeie bestane gevoer.

Sy was gelukkig om vir die res van die dorpsbesooek, totdat hulle gaan eet by die dorpsfamilie, te knibbel aan die Handelshuis se beelde. Soos soet fluisteringe was die terugdinke, en so, sonder om haar hande taai te maak, het sy die taferele herkou. Die leë kardoes het meestal saggefrummel van die sitplek geval, maar die terugblikke na die Handelshuis se siel het nooit kon wegval nie. Dit was gewaarborgde soetheid.

Vir ses-en-dertig jaar het die dogtertjie, na haar weggaan van Tweeling, keer op keer haar gedagtes in daardie soet kardoes gestoot. Sy het, nieteenstaande waarskuwings die lewe se hek te woes gery, afgeval, en gewag dat haar oupa haar kom optel en wegdra van die kortstondige ellende. Die lekkers het ’n meer politiek-korrekte naam gekry, haar seerkry ander vorme, maar die bloed het roes bly smaak op haar tong. Die balhorige klein wetterpen het net dit gebly, en haar wit hart onvoorwaardelik aangegee na twee Indiër-manshande vir troeteling. Nieteenstaande die feit dat haar hele familie nie eens in ’n doodgewone, daaglikse groet hulle hande vir ’n Indiër sou gee nie.

Toe die vrou met haar motor oor die spoorlyn van Tweeling ry, is dit asof die dorpie kleiner, valer en hartseerder geraak het., en vir ’n stonde is sy verdwaald tussen die tipografie in haar hart en die straat waarmee sy aanry na die Handelshuis. Sy sien hoe die wolke soos vet ouderlinge op kerkbanke saampak. Hoe nader hulle skuif, hoe dreigender hulle grommelsang. Dit gaan reën later.

Handelshuis kyk haar geduldig aan vanuit die wye vensters. Die deure is laer en die stoep is smaller en stowwerig. Was die stoep dan nie vroeër blinker nie? En van wanneer af is daar ’n lang bars in die stoep? Die vrou wil eers omdraai, te bang om die herinneringe van haar kinderjare te skend, maar sy voel die lokking vanuit die binneste van Handelshuis, en stap die groot deure binne. Op die eens onbeplakte deure is nou helderoranje en helderder pienk uitverkoopplakkers, en in die bekende bleskopwinkelier se plek staan ’n smal Indiërman.

“Een of ander wetterpen het toe wraggies die Sunrisetoffiesbord van die toonbank afgekry,” dink sy.

Sy koop ’n louwarm rooi koeldrank by die Indiër agter die bordlose toonbank, en loop uit. Sy weerstaan die Wilsontoffies. Die koeldrank proe anders uit ’n blikkie, en sy gewaar dat die rooi skaal wat altyd op die stoep gestaan het, weg is. In plek daarvan staan daar nou ’n lendelam tafel waarop allerlei, soos dun handdoeke en goedkoop horlosies, uitgestal is. Die Indiërvrou wat oor die droewe kolleksie waghou, kyk verwytend na die vrou se laerige hals, en vee haar hande oor haar knieë toe sy na haar man hande-in-die rug op die stoep uitloop.
 
Haar ouma is jonk dood, en vir ’n ruk het sy en Oupa salig alleen op die plaas gebly. Haar oupa se ge-“double clutchery” het meer gefokus geraak op die naburige weduwees, en sy is koshuis toe toe haar oupa professioneel begin vry het. Die bederweling kon die tweede verloëning minder goed verwerk, en het met mening begin beddens natpie. Van optel en wegvat deur Oupa was daar nou geen sprake nie, en elke oggend se sopnat matras, yskoue, muwwe pajamas, en ongeduldige juffers het haar oupa se afwesigheid net beaam. Oupa is op die plaas met sy nuwe vrou, hulle stap onder die ry bloekombome verby op pad stal toe, en sy, die arme bedremmeling, maak haar bed self onhandig op. Van oorhang witbroodsnye is daar soggens geen sprake nie, en die klein blokkies waatlemoenkonfyt sit onvas op die dun, besproete bruinbroodsnye. Sy sou selfs tevrede gewees het as Oupa self haar nie kom optel uit hierdie ellende nie – hy kon maar ou Liza of ou Swartland ook stuur. Maar hulle het op die plaas gebly, en die dinge gedoen wat sy geglo het niemand anders kon beter as sy doen nie. Eiers optel, room afmaak vir botter, saam met Oupa hallejula’s sing. Die Engelse roos wat haar ouma geword het, het nie Hallejulas geken nie, en kon nie eiers uithaal nie, maar het blykbaar van double-clutch gehou.

Die koshuis het nie meer die vyeboom aan die regterkant, neffens haar eertydse kamervenster nie. Ook die kweperbos is weg. Voor het die vaal grond skielik klein geword, en deur die venster loer vreemdes. Niks troostend meer, soos sy gehoop het met die terugry hiernatoe nie. Sou mens, as jy mooi gaan soek in die eetsaal, die keep kry aan die deur van die keer toe Meneer Lessing al singende daarin vasgeloop het? Hoe verander daardie histeries snaakse insident dan nou na iets byna heiligs? Meneer Lessing se gesis-fluit gedurende studietyd. Sou hy rêrig so gefluit het? Jare nadat sy reeds van Tweeling weg was, het sy gehoor dat Tant Nonna Lessing, die eens koshuismoeder, na haar gevra het, en skielik het net daardie stukkie onopgevolgde groetegedagte haar tot byna-mens laat gedy. Iemand het haar liefgekry sonder dat sy dit geweet het. Sy was daardie tyd al bewus van aalmoesliefde as jou eie skraal voerbak leeggevreet was, en die hongerte in jou binneste nog nie gestil was nie.

Die reën val reguit uit die hemel uit, en daar is geen sin om nou na die motor toe te hardloop wat steeds voor Handelshuis staan nie. Daarom stap die vrou tydsaam terug na haar motor, en neem sy die paadjie by die pastorie verby. Dominee van Niekerk het ’n preek gehad wat hy elke Kindersondag gepreek het. Die preek het gegaan oor ’n seuntjie wat ’n skippie besit het, die skip verloor, dit toe terugkry as ’n geskenk, en dit teen sy bors gedruk het met die kreet: “Nou is jy dubbeld myne!”

“Het sy dalk nou hier kom soek na haar skippie?” wonder die vrou, en trek die nat rok van haar vet bobene af weg. Sy voel weerloos sonder haar bril wat vaalgereën is, koud, en skielik sommer hartlik moeg vir die bedremmelde dorpie.

Die diep slote langs die yl straat raak vol reënwater, en die geel ligte agter die vensters lyk asof hulle oor hul skouers skyn. Die ronde klippe op sommige plekke van die straat is glynat, en sy struikel meer gereeld as wat ’n ander huilende vrou sou struikel. Die vrou stap nie vinniger om die omgewing se ongasvryheid teenoor haar afwagting vir vinnige vergewing te ontkom nie. Sy slaan haar eie arms om haar lyf en stap stadiger. Soos mens gare-biltong eet, pluis sy haar eie onwaardige droefheid uit, en omdat niemand in die straat haar sal herken nie, huil sy met al die inhibisielose hormoonversteurde passie waarmee net ’n 46-jarige vrou kan tjank. Toe sy by die onderste hoek van die handelshuis opstap na haar motor, vang haar oog die Indiër-winkelier se blik. Hy kyk na haar nat rok en haar lyf. Sy vrou roer agter die toonbank in Handelshuis. Sy wonder of haar oupa al hierdie dinge kan sien van Bo af?

“Tweeling, jy is nou dubbeld myne,” dink sy terwyl sy sopnat by haar motor inklim. “Vir die tweede keer in my lewe kom ek met die pad oor die treinspoor Tweeling binne op hoop na antwoorde en nuwe beginne, en vir ’n tweede keer is doodgewone grootword eintlik maar die oplossing,” dink sy, en praat sy hardop met haarself. “Hou op om te vlug van die swere in jou hart! Hou op pa soek! Stop jou blêrrie selfbejammering! Aanvaar verantwoordelikheid vir jou dade. Besef dat jy nie vir ewig ’n bedorwe kleindogter kan bly nie! Maak ’n besluit, en gaan aan met jou lewe!”

Vir lank sit sy agter die stuurwiel, bekyk die dorpie weer straat-op, sien hoe die hemel effe ooptrek vir skerwe na-reën son, en toe ry sy na haar tante se huis om slaapplek vir die nag te soek.

As mens oorkant jou tante sit na ’n afwesigheid van meer as dertig jaar, en jy sien dat haar haarstyl wragtag nog presies dieselfde is, weet jy dat jy nie eerlik durf wees oor die rede van jou besoek aan Tweeling nie. Hoe kan mens in elk geval toestemming vir taboe’s bloot deur ’n herbesoek aan hierdie vaal dorpie anderkant die spoorlyn kry? Buitendien, sulke sappige skindernuus soos jou verknogdheid aan ’n Indiërman vertrou mens ook nie sommer aan elke Jan Rap en sy maat nie. In ’n familie waar skinder ’n Olimpiese sport is, gee jy sulke opspraakwekkende feite aan iemand wat weet hoe om die meeste uit die storie te haal. Dis nou natuurlik as jy dit wil laat publiseer in die familie-ore.

Sy lag en vertel dus soos toentertyd se dogtertjie van allerhande dinge waarmee jy weet sy meer gemaklik sal wees, en jy sien dat sy ook gemakliker raak oor jou onverwagse besoek, want dit lyk asof dinge uitgesorteer is in jou lewe, en jy nie vanaand die matras geel en stink sal pie nie. Maar sou sy weet van die skandalige klad wat jy nou, met jou ontydige liefde oor die kleurgrens heen op die familienaam kon maak, sou sy dalk die piepie verkies het.

“My arme tante, ek betaal erg vir my balhorigheid – maar ek kan maar net dink hoe seer my familie sou wees as hulle moet weet dat ek oor die kleurgrens vir my ’n sielsgenoot gaan loop soek het,” dink die vrou toe die tante die geblomde lakens vir haar niksvermoedend oopvou. En die vrou slaap die nag soos ’n kind met satynore wat onbekommerd is oor bloed wat dikker is as water.

Op pad terug Gauteng toe, net by Benadesbanke verby, trek jy van die growwe pad af, en luister jy na die boodskappe op jou selfoon. Jy luister na jou beminde se stem oor die foon, maak jou oë toe, weet dat jy hom moontlik sal liefhê vir langer as wat jy ooit Tweeling sal liefhê.

Beide ontvlugtings altyd sal besoek, maar nooit sal bewoon nie. En jy sal altyd bloot ’n terugreisiger wees. Selfs al proe ieder se bloed na roes, Oupa.



LitNet: 29 Junie 2006

  • Gaan na die eerste weergawe van hierdie verhaal
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.