SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Bloed, Sweet, Speeksel

Carina Stander

“Hoekom is die kind so stil?” wil die tannie weet.

Dadelik is jy beneuk omdat hulle van jou praat asof jy nie hier is nie. Jou ouma se kop is skeef toe sy glimlag. Sy glimlag net-net, sonder om valstande te wys. Sy vat-los senuweeagtig aan jou hare, dan jou skouer en soek jou oë voordat sy antwoord.

“My kind verlang … na haar vriend.”

Jy staan op. Stap verby die koeksisters, teepot en fronsende voorkoppe. Tussen die eetkamer en kombuis steek jy vas: waarheen nou? As elke hoek en draai herinnering is, waarheen hol mens? Besluitloos foeter jy in die rigting van die spaarkamer.

Jy is onrustig, want jy weet iets skort. Iemand skort. Jy bewe so erg dat jy albei hande moet gebruik om die CD se omhulsel oop te maak. Jy druk play en plons op die bed. Toe-oog wag jy op die vloeiende klavierklanke van Blood.

Bloed

“Daar’s bloed op jou voet.”

Jou vriend trek ‘n goedige gesig en verskuif die stapsak waarteen hy leun. Dit laat die houtvloer effens kraak.

“Moenie komkommer nie. Dis sommer niks,” sê hy braaf.

Jy bekyk die vertrek waar julle netnou gaan oornag. Dit is ‘n tipiese Mpumalanga-mynershuisie uit 'n vorige eeu. Die deurleefde stoel in die hoek se rugleuning is 'n gekerfde olifant. Die gordynkap is gekartelde hout en selfs die kerskandelaar wat vasgespyker is teen die muur, is van hout. Op gister se staproete was dit juis die denneplantasies se houtreuk wat jou opgeval het.

“Dink jy die bome is gelukkig hier?” het hy gevra.

Jy het gekyk na die varings wat rooibruin om die bome krul – die kleur van bloed. Ou bloed. Die varings het die omgevalle bome sagter laat lyk. Toe het jy geknik.

Jy staan op om die res van die mynershuisie te verken. ‘n Ou rooi mat hang oor die rand van die bad en onder die kraan lê 'n dooie muis met fyn aartjies in deursigtige ore. Die blerts van 'n geklapte muskiet is steeds teen die muur.

Jy tap water in 'n skottel en stap terug na die slaapkamer. Jou vriend se voet lê die skottel vol. Klein watervalle vloei deur jou hande. Jy streel die blou riviere van sy voetbrug, erosiebarste by die hakskeen. Sy voet is klam van die stoom – ‘n mistige Laeveld voor sonsopkoms. Asemwarm, soos wanneer die wind soggens gaan lê en die kranse oortrek is met mis.

Toe jou vingers in die vier spasies tussen sy tone gly, weet jy skielik waar die bloed vandaan kom. Daar, waar jy met ‘n oogopslag nie kon droom dit sal wees nie, dáár voel hy verrassend vliesig. Sag, soos die onkruidblom in jou stapstewel se veter.

Met die reuk van vars bloed, hout en kruiemengsels aan sy voet en aan jou hand, weet jy dat dit ‘n geheime ontdekking is.

Sweet

Dit is ‘n moegmaakwarm middag. Jy ry saam met jou skrander vriend met die bril. In Noordwes is die lug nog blou. Dit is 'n brose blou soos jou ouma se beaarde ooglede.

Julle ry verby Safas, oor ‘n treinspoor met ‘n stopkruis, verby ‘n stofgeel mielieplaas. Julle ry dwarsdeur Goewermentstraat met sy oorvol appelkoosbome en afrikaners wat oranje blom in elke voortuin.

Dit is klam onder jou arms. Jy bekyk weer die lug en is verbaas om te sien dat daar vanuit die niet 'n wolk verskyn het.

“Daai een lyk nes ‘n druppel,” sê jy en vee jou sweterige hande oor jou broekspyp.

Die wind begin waai en die wolk verbrokkel. Die druppel van ‘n paar oomblikke tevore is nou net wit krummelpap in 'n blou bord.

“Wolke verander,” sê jou vriend en draai die karruit oop. “Mense verander nes wolke.”

Julle kyk hoe ‘n vuilbruin stofwolk al hoe nader kruip, grond opsnuif en uitnies oor 'n donkiekar wat oor die sinkplaatpad sukkel. Die warm wind karwats die drywer.

“Hierdie gotverlate stuk aarde darem,” spotlag jou vriend en beduie na die Twanas wat op leë koffieblikke rus. Klippe keer dat die sinkdakke wegwaai, maar dit lyk of die stof deur al wat 'n skrefie is, kruip. Die hutte gloei van die hitte.

Aan 'n wasgoeddraad wat tussen doringbome gespan is, wapper vodde. Die bome is verkrom van wind, maar die blare klou halsstarrig. ‘n Hond hardloop stertswaaiend nader en wys ribbebeen. Stowwerige kinders speel met klippies en draadkarre. Uit ‘n stuk blik en ’n paar snare toor iemand 'n bietjie musiek. Hier en daar sitlê ‘n tiener met ‘n sonbril, toiingtekkies en moulose uithanghemp.

“Nuutste modegiere?” sê-vra jou vriend op ‘n byna arrogante manier.

Hy sê niks oor die kralewerk voor 'n sjebeeningang en die kleipotte vol drinkwater nie.

Net voordat julle by die mankolieke plaashek inry, skakel hy sy tjor af. Hy bêre sy bril in sy hempsak. Hy kyk na die eenvlerkwindpomp langs die plaashuis. Die vier mure is skaars bewoonbaar. Sy oë vat aan die lendelam voordeur. Tollende sade teen 'n stoeptrap. Die starre skoonheid van ‘n geroeste tuinstoel.

“Welkom by my grootwordplek,” fluister jou skrander vriend.

Langs die plaashuis is ‘n boom wat volryp vrugte dra. ‘n Appelkoosboom wat ontkiem het uit ‘n pit wat hy jare gelede uitgespoeg het. Dit is eers toe hy sy oë toemaak dat jy wonder oor die druppels sweet op sy wang wat hy met sy vuiste keer.

Speeksel

Laatskemer sit jy en jou vriend met die welige wenkbroue op ‘n heuwel in Limpopo.

Jy skommel 'n maroelapit in jou kies. Die sagte vesels meng met jou speeksel en jy sluk die mengsel. Jy spoeg die pit met 'n boog deur die lug.

Jou vriend sit wydsbeen. Sy elmboë rus op sy knieë. Hy is kaalvoet, soos jy, en het ‘n leeukleur veldhoed op sy kop. Hy breek ‘n kremetartvrug in twee en lek die poeier versigtig uit sy palm. Die vesels skiet hy met ‘n streep deur die gaping tussen sy tande.

“Dit raak laat,” sê hy toe die son al ver anderkant die horison lê.

Terwyl julle aanstap, gesels hy ewe veldgeleerd oor slange wat kruip en slange wat klim. Party byt of pik, maar in hierdie geweste is die spoegslang die gevaarlikste.

Skielik tref 'n pyn jou in die voet. Met moeite balanseer jy jouself op een been. Hy vat jou aan die hand. “Kom sit,” sê hy. Sy vingers voel-voel aan die doring. “Mag ek maar?”

“Wag. Dit gaan te seer wees,” keer jy.

Hy los jou voet en jou greep om sy pols verslap.

“Laat my net een keer toe om jou doring vir jou uit te trek,” vra hy dan, sy stem skaars hoorbaar.

Jy kyk op. In die donker is sy wenkbroue een swart vlek. Sy oë lyk soos dié van ‘n slang.

“Trek maar,” mompel jy bang.

Toe die doring uit is, verdof die brandpyn. Jou vriend lek sy duim. Ingedagte vryf hy mondwater oor jou seer.

* * * * * * *

Jy lê steeds op die bed in die spaarkamer. Die CD is stil. Jou keel is hees gehuil. In die badkamer drink jy water uit jou hand. Boorgatwater wat proe na grond.

Jy stap verby die voorkamergeklets waar die soetheid van koeksisters steeds hang. Asof vir die eerste keer sien jy die stapeltjie dennebolle in die gang, ‘n geelkopervaas vol appelkoosbloeisels, 'n veldhoed gesny uit die nekvel van 'n leeu.

En skielik verlang jy. Skielik dink jy aan die vaagbekende vriende waarmee jy eens gereis het deur die vreemde streke van jou land.



LitNet: 30 Augustus 2006

  • Gaan na die eerste weergawe van hierdie verhaal
  • Gaan na die tweede weergawe van hierdie verhaal
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.