SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

'n Blom vir Jessie

Janet Maree

Deur die venster sien Jessie die bleek vaalte van die winter se aanslag soos 'n spook se spoor. Dit laat haar soek na wegkruipplek in haar gedagtewêreld. Maar ook daar verdwaal sy. Haar vorige lewe vol spikkels lig en kleur word nou verdring deur donker kringe.

'n Glimlag trek om Jessie Duvenhage se mondhoeke, maar in haar oë hang die kyk van baie dae wat wag. Sy verlang na die tyd voordat dit nodig was om die huis bont te verf en haar klerekas te laat skreeu van deurmekaar kleur. Kleur is tog deel van die geur van die lewe en al vermuf baie dinge, kan mens sorg vir die opbeuring wat helder geel en rooi en blou vir jou bring. Sy proe die bitter-soet verlange na die tyd toe sy en Roan saam die besigheid van niks af opgebou het en elke sukses met 'n partytjie gevier is.

"Ons gaan nog vir 'Duvenhages' op die map plaas, my pop," het Roan gespog. Dit was voordat sy hom die nuus vertel het.

Die lente en somer van my lewe is verby, dink sy. Die herfs is oorgeslaan, en nou … Nou is Roan soos 'n mier wat skarrel en soek na skeurtjies waarin hy kan verdwyn. Soos 'n prooi vlug hy van 'n jagter, van die werklikheid. En as Roan dit nie wou hoor nie, durf sy niemand anders daarvan laat weet nie.

Êrens moet sy 'n uitlaatklep vind. En toe sy lees hoe 'n persoon van 'n selfmoordpoging gered is deur sy oproep na "Die Bevrienders", weet Jessie dat daar vir haar 'n roeping is. Nou is daar 'n aparte telefoonlyn waar sy na mense se wanhoop luister en op haar kalm manier probeer om weer lig in hul lewens te laat skyn.

Die geskril van die telefoon laat haar omdraai. Uit gewoonte antwoord sy: "Duvenhages, kan ek help?"

"Niemand kan my help nie," hoor sy 'n diep stem.

"Laat my ten minste probeer," kom haar sagte antwoord.

"Kan jy 'n dooie terugbring? Toe, sê my, kan jy!" Dis 'n rou roep of 'n skel teen die hel, dink Jessie ontsteld.

'n Jaar gelede sou Jessie die telefoon vies teruggeplak het, maar nou kan sy identifiseer met die man se woede. Haar eie verwarring maak dat sy die man wil verseker: Ja, ja, ek kan jou help! Maar hoe, as ek myself soveel keer moet soebat om die dag in die oë te kyk.

In die laaste tyd het Roan altyd 'n storie om sy afwesigheid te regverdig. Eers was dit net twee weke saam met ou Piet, vir wie hy glo lank terug belowe het om saam in Namibië te gaan visvang. Daarna was die uitdaging van grootwildjag iets wat 'n man nie elke dag die voorreg het om te doen nie. En nou is my man met sy hoogtevrees iewers besig om 'n berg te klim. Is sy berg net so 'n uitdaging as myne?

Met 'n kraak in haar stem antwoord sy: "Meneer, wat jy vra, kan ek nie doen nie. Maar ek is hier, en ek verstaan jou pyn. Ek het ook iemand verloor."

"Ek's jammer," antwoord die vreemdeling nou sagter.

'n Stilte waarin nie een iets sê nie. Toe hy weer praat, vra sy stem om vergewe te word. "Dis vandag 'n jaar terug dat my Betsie weg is. Ek wou my vennoot skakel in verband met probleme by die werk en moes die verkeerde nommer gedruk het en toe antwoord u. Die uitbarsting was ongevraag. Ek weet nie wat in my gevaar het nie. Ek is jammer."

"Moenie jammer wees nie. Ek's bly. My naam is Jessie."

"Dankie, Jessie. Ek's Conrad, Conrad Botha."

"Glo jy aan toeval, Conrad?" "Miskien. Hoekom vra jy?"

"Jy het Die Bevrienders se nommer geskakel."

Die man lag. "Nie toeval nie, eerder die noodlot. Maar ek sal jou nie langer pla nie. Jessie, tot siens."

Toe sy twee dae later dieselfde stem oor die telefoonlyn hoor, voel Jessie opgewonde sonder dat sy dit kan verklaar.

"Ek het die ander dag vergeet om dankie te sê dat jy geluister het. Jessie ..." Dit klink of Conrad nog iets op die hart het, maar hy praat nie verder nie.

"Conrad, ek weet dit klink dalk vreemd of selfs voorbarig, maar as jy lus het, kan jy saam gaan stap. Saterdae is my stapdag. Vandag wil ek na die botaniese tuin gaan kyk." Haar impulsiewe woorde verbaas Jessie. Sy wil dit terugtrek, maar die dankbaarheid in Conrad se stem toe hy die uitnodiging aanvaar, keer haar.

Tussen die dooie gras en harde klip is die veldblomme enkele soldate wat lewend gebly het ná 'n veldslag. Jessie buk om na 'n blom te kyk, en die son vang haar hare se blink.

"Jou hare lyk mooi so in die helderte van die dag."

Jessie lig haar gesig en kyk lank na Conrad, asof sy alles wat binne hom is, probeer opsom. Haar hand beweeg stadig langs haar gesig op. Met haar vingers wat huiwer langs haar slaap, lyk dit of sy bang is.

Die stil gevoel van geesgenote wat deel, hang nog tussen hulle. Maar Jessie se oë beeld 'n verlore siel. Conrad hurk af sodat sy gesig gelyk met hare is. Hy steek sy hand uit na Jessie, maar sy stamp hom weg en staan vinnig op.

Toe met een pluk, hou sy die pruik in haar hand. Haar oë daag hom, maar Conrad kyk nie weg van haar blinkgeskeerde kopvel soos Roan nie.

Hy glimlag. "Nou lyk jou oë nog mooier en jou gesig is so sag."

Met sy woorde laat die vreemde man 'n blom in Jessie se hart oopgaan. En haar lag maak die dag warm.



LitNet: 16 Mei 2006

  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.