SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Voete van klei

Johann H Crafford

“Nog ‘n dubbel-Bell’s, asseblief. Met ys en water.” Dis sy tweede van die aand en hy weet hy moet hierna ophou en huis toe gaan waar sy vrou en twee kinders op hom wag. Dis reeds na sewe en hulle sal binnekort bekommerd begin raak. Hy’s in die week selde later as halfsewe by die huis.

Madeleen sal nou die horlosie begin dophou en haar en die tweeling se ore sal gespits wees vir die klanke van die elektriese garagedeur en sy motor. En Boesman, sy getroue labrador, sal in die kombuis voor die deur wat na die garage lei, lê en wag op sy oubaas.

Maar hy sien nie kans vir die huis nie. Nie nou al nie. Jaco van Jaarsveld is gefrustreerd. En gatvol. Vir die saaiheid van sy lewe. Werk, slaap, werk, slaap, vyf dae aanmekaar. En dan tuin en kerk die ander twee dae. Dis soos sy lewe verloop. Al baie jare al. Hy mis ‘n bietjie opwinding.

Die frustrasie het so ‘n paar jaar na die kinders se geboorte begin. En stadigaan het dit erger geword. By tye wil hy ontplof daarvan en dan haal hy dit op die arme Madeleen en die tweeling uit. Ander tye aanvaar hy dit maar gelate en gaan met sy saai lewe aan.

Hy weet hy moet hieroor praat met iemand. Met Madeleen, hul predikant, ‘n sielkundige. Maar hy kom nooit sover nie.

Madeleen is eintlik ‘n wonderlike vrou, dink Jaco by homself toe hy die eerste sluk van die tweede whisky neem. Hulle het net ‘n gewoonte geword. Soos so baie ander paartjies. Daar’s niks opwindends, romanties meer in hul huwelik nie. Ander vrouens het al hoe meer begeerlik begin lyk. En hy’t begin fantaseer.

Hy kyk om hom rond in die kroeg met sy sagte beligting. Oral is mans en vroue besig om te sosialiseer. Hy wonder hoeveel van hulle is getroud. Hoeveel se eggenotes, se gesinne, sit soos syne alleen by die huis en wag.

Hy het Madeleen nog nooit verneuk nie. Dit was al ‘n slag of wat so hittete. Maar vanaand is ‘n ander aand. As ‘n vroumens hom vanaand ‘n halwe kans gee, is daar moeilikheid!

Jaco vat nog ‘n sluk whisky en kyk weer ‘n slag om hom rond. Dan vang sy oog ‘n donkerkopvrou heel aan die ander kant van die kroegtoonbank. Sy glimlag vir hom en hy glimlag terug.

Hy vat weer ‘n sluk whisky en loer dan so onder sy wimpers deur in haar rigting. Ja, sy kyk steeds vir hom. Lyk ook glad nie sleg nie. Hy wonder of sy alleen is of miskien vir iemand wag.

Nog ‘n sluk whisky en nog ‘n onder-die-wimpers-deur-loer. Sy hou hom steeds dop. Jaco weet hy is redelik aantreklik vir vroue. Hy word dit gereeld vertel. En hy trek netjies en smaakvol aan. Vrouens hou van ‘n man wat suksesvol lyk, sê Madeleen gereeld vir hom.

Hy gooi die laaste mondvol in sy keel af, loer weer ‘n slag na die donkerkop en bestel sy derde whisky. Dan, op die ingewing van die oomblik, sê hy vir die kroegman: “Sien jy daai donkerkopvrou aan die ander kant van die kroeg?” en hy wink met sy kop in die donkerkop se rigting.

“Ja,” sê die kroegman.

“Gee vir haar waarvan sy drink en sê dit kom van my af. Met komplimente.”

Die kroegman doen so en tot Jaco se verbasing, en vreugde, staan die donkerkop op en stap om die kroegtoonbank na hom toe met haar glas in die hand. Hy haal vinnig sy trouring af en steek dit in sy baadjie se binnesak.

“Hallo en dankie vir die drankie,” sê sy glimlaggend toe sy reg langs hom stop. “Ek is Danielle. Gee jy om as ek by jou aansluit?”

“Glad nie. Ek is Jaco.”

Hulle skud blad en hy voel die eerste gefladder in sy binneste toe sy sy hand langer as nodig vashou. Dan gaan sit sy op die hoë kroegstoeltjie langs hom. Haar kort rompie ontbloot haar lang, pragtige bene en sy laat haar regterknie nonchalant teen sy linkerbeen druk. Die aanraking verdriedubbel die gefladder en toe sy nie haar been wegtrek nie, begin die eerste tintelings van opgewondenheid en afwagting teen sy ruggraat afloop. Vanaand is die aand!

Danielle is baie aantreklik, in haar middel-dertigerjare, reken Jaco, en dra ‘n grys bloese met die boonste knope los, die swart rompie en oop hoëhakskoene. En sy’s absoluut perfek versorg, van haar hande en naels tot haar pragtige voete. En Jaco het ‘n fetish oor voete!

Pragtige gesig, sexy lyf, lang, atletiese bene en voete wat sy hormone oor hulself laat struikel! Sy borrel behoorlik van seksualiteit en sensualiteit. Die gefladder in sy maag maak vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde plek vir so ‘n hol gevoel toe sy gewete hom op die skouer tik, maar dan keer die skoenlapper terug, met al sy vriende en familie.

“Is jy van Kaapstad?” vra hy.

“Nee, Johannesburg. Ek’s hier op besigheid en om ‘n paar ou skool- en varsity-vriende te verras. En jy?”

“So local soos jy kan kry. Hier gebore en getoë.”

Dan die logiese opvolgvraag: “Wat doen jy?”

“Ek’s in eiendomsbestuur. Ons, dis nou die maatskappy waarvoor ek werk, het kommersiële en nywerheidseiendomme regoor die land en ek is verantwoordelik vir hul bestuur. En jy?”

“Nee wat, niks so fênsie nie. Ek’s ‘n chemiese ingenieur by ‘n oliemaatskappy.”

“O, maar dit klink baie interessant,” antwoord sy. “Dan’s jy seker ook ‘n slimkop.”

Hy bloos effe en vat vinnig ‘n sluk van sy drankie om sy effense verleentheid weg te steek.

“Nee wat. Maar dis nou genoeg van my.” En dan: “Is jou man tevrede dat jy so op jou eie die land vol reis?”

“Ek’s geskei. Al drie jaar. En jy?”

“Ook so,” lieg Jaco, en terwyl sy gewete aan hom begin knaag, verander hy weer vinnig die onderwerp. Hulle praat oor koeitjies en kalfies, vra uit oor mekaar se agtergronde, deel in mekaar se liefde vir sport en oefen, stem saam oor ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede, maar verskil vriendelik en beleefd van mekaar oor die politiek.

Danielle het intussen subtiel nog ‘n knoop van die pakkie se bostuk losgemaak, glo omdat dit warm begin word het in die kroeg, en Jaco kan nie anders nie as om baie bewus te wees van wat die swart pakkie bolangs nie heeltemal kan, of wil, wegsteek nie.

Op sy beurt het Jaco een van die vele kere wat hy oorgeleun het om sy glas op die toonbank op te tel sy linkerknie so nonchalant moontlik tussen haar knieë ingedruk. Sy het dit aanvaar sonder om te blik of te bloos en die voorspel het voortgegaan.

Die glase word vir die soveelste keer gevul en vir die hoeveelste keer loer Jaco skalks om hom rond in die hoop dat hy niemand bekend sien nie. Elke keer as ‘n nuwe persoon die kroeg binnestap, slaan koue vingers om sy hart, totdat hy sien dis niemand wat hom ken nie. Dan slaak hy stilweg ‘n sug van verligting.

Die alkohol het intussen die skerp hoeke van sy gewete begin afstomp en hoewel hy steeds elke nuweling uitkyk, begin die skuldgevoelens te vervaag.

Die gesprek raak al hoe intiemer en begin gepaard gaan met ‘n ligte, fisieke flirtasie – ‘n speelse oor-en-weer-aanrakery wat mettertyd oorgaan in ‘n meer doelgerigte aanraking. Hy sit sy hand op haar kaal been en gee dit ‘n drukkie. Sy vat aan sy arm, aan sy hand, langer as wat nodig is. Heelwat langer.

“Danielle, verskoon my gou vir ‘n minuut. Ek wil gou ‘n draaitjie loop,” lieg hy vir die soveelste keer.

“Oukei, maar maak gou. Ek verlang al klaar,” sê sy speels.

Hy glimlag van oor tot oor. Die glimlag van ‘n tienerseun wat pas sy eerste rêrige soen gekry het, so ‘n nat oopmondeen.

In die badkamer skakel hy sy huis.

“Hallo, Pa, waar’s jy?” vra sy dogter en skielik oorweldig die skuldgevoelens hom. Vir ‘n oomblik wonder hy of hy nie eerder die pad moet vat huis toe nie. Sommer nou. Sonder om te gaan tot siens sê.

Maar dan dink hy aan wat wag, en die opwindende belofte wat die nag inhou, is sterker as sy gewete. Dis tog sy heel eerste oortreding en daar’s nie liefde by betrokke nie. En niemand sal tog ooit uitvind nie, vertel hy homself. Dit sal nie weer gebeur nie. Net hierdie keer.

“Prinses, roep gou jou ma, asseblief.”

“Maar waar’s jy?” vra sy en hy kan die kommer in haar stem hoor. Weer eens wil die skuldgevoelens hom oorweldig. En weer eens oorwin die belofte van die nag. Weer eens oortuig hy homself dat hy niemand seermaak nie. Solank niemand uitvind nie …

“Ag, jong, ek het vasgeval met ‘n paar kollegas van die werk en sal laat by die huis wees. Moenie bekommerd wees nie. Roep gou jou ma.”

“Sy’s in die bad, Pa. Ek sal vir haar sê. Ry versigtig, hoor.”

“Ek’s lief vir julle,” sê hy en druk die selfoon se rooi knoppie.

Vir ‘n paar sekondes weet hy nie wat om te doen nie. Hy is geskeur deur sy gewete wat hom sê om die pad te vat en die oorweldigende drange wat in sy binneste woed. Die gedagte aan ‘n beeldskone, nakende Danielle swaai die skaal en Jaco stap terug na die kroeg. Hy het pas gaan sit toe sy afhaak: “Kom ons gaan gesels verder in my kamer. Ek het ‘n minikroeg. Dis een van die voordele van die werk – vyfsterverblyf.”

“Klink na ‘n goeie idee,” en Jaco volg haar tot in die hysbak. Toe die deur agter hulle toegly, gooi sy haar arms onverwags om sy nek en soen hom met al die opgekropte seksuele energie tot haar beskikking terwyl sy haar liggaam styf teen hom druk. Hy herstel blitsvinnig van die aanvanklike skok en soen met volle oorgawe terug.

Sy hande gly teen haar rug af, oor haar ferm boude en onder die kort romp in. Sy het ‘n deurtrekkertjie aan en hy laat sy gretige hande oor haar kaal boude swerf.

Nes sy regterhand om haar heup vorentoe wil gly, lui die hysbak se klokkie vir die sewende verdieping. Soos twee stout tieners wat pas uitgevang is, tree hulle van mekaar af terug en trek deurmekaar klere reg. Dan vat sy sy hand en stap met hom na haar kamer.

Die plaende gewete het nou heeltemal plek gemaak vir die jag. Die bok is gewond en is nou syne om mee te maak net wat hy wil.

In die weelderige kamer op die sewende verdieping met sy pragtige uitsig oor Tafelbaai word alle gedagtes aan ‘n drankie in die kiem gesmoor die oomblik dat die voordeur toeswaai. Jaco trek vir Danielle nader. Sy gooi haar arms om sy nek en hulle soen mekaar dat hul lippe brand. Met hartstog gebore uit verlange.

“Kom,” sê sy hees toe hy haar pragtige, slanke nek begin soen en lei hom na die slaapkamer. By die bed stop sy met haar rug na hom. Hy trek haar baadjie uit en maak die twee knippies van die bra los. Stadig, sensueel trek hy die kledingstuk oor haar skouers en teen haar arms af.

Dan vat hy haar twee ferm borste in sy hande. Saggies streel hy hulle terwyl sy skuins agteroor kyk, haar pragtige, vol lippe smekend. Hy soen haar, eers sag en teer, dan al hoe meer hartstogtelik.

Sy trek die ritssluiter van die romp af en die romp gly teen haar lang bene af tot op haar voete op die sagte mat. Dan skop sy haar skoene uit, klim uit die romp en draai om na hom. Sy gee ‘n tree agteruit tot teenaan die bed en trek die deurtrekkertjie stadig maar doelbewus uit terwyl sy hom vas in die oë kyk.

“Waarvoor wag jy?” vra sy sag.

Terwyl sy oë vasgenael is op haar beeldskone, naakte liggaam trek hy vinnig sy klere uit. Voordat hy klaar is, draai sy om en klim onder die komberse in.

Toe hy regop kom nadat hy sy onderbroek uitgetrek en by die ander klere op die mat neergegooi het, sien hy hoe goedkeurend sy na hom kyk en hy klim langs haar in die bed.

Niks rondom Jaco bestaan meer nie. In hierdie oomblik is sy wêreld beperk tot Danielle en homself, en dit wat wag. ‘n Ekstatiese reis van sensuele en seksuele fantasie. Sy vrou en kinders is vergete.

Danielle skuif op haar rug half onder Jaco in en hulle begin mekaar te soen, eers weer sag en teer en dan al hoe meer hartstogtelik. Hulle naakte, klam liggame word ‘n verstrengeling van bene en arms en hande. Sy voel sy harde manwees teen haar kaal liggaam, sy hande sag en strelend oor haar borste en sy lippe brandend op hare.

Hy begin teen haar nek af te soen, en dan bereik sy klam lippe haar ferm borste. Hy soen haar nipples en laat sy tong al om die verhewe bruin knoppies dartel. Sy maak haar rug hol en stoot haar borste verder uit na hom. ‘n Sug van volslae genoegdoening en oorgawe ontsnap uit haar oop mond.

Toe sy regterhand teen die sagte, klam binnekant van haar regterbeen opgly, glip ‘n kreun oor haar lippe. En toe sy hand tussen haar bene beland en sy middelvinger die sagte, klam heiligdom vind, snak sy na haar asem, haar bene wawyd oopgevlek.

Nadat sy met ‘n rou kreet en ‘n gekners van tande geklimaks het, lê sy vir ‘n paar sekondes in die fetale posisie voordat sy weer op haar rug draai, sy gesig in albei hande vat en sê: “Ek wil jou binne my hê.”

Sy trek haar bene op en hy gaan lê tussen hulle. Dan help sy hom binne-in haar in. Met sy brein benewel deur die afgelope paar minute se seks en die belofte van veel meer wat op hom wag, begin hy stadig met die seksdaad. Danielle gryp hom krampagtig teen haar naakte liggaam vas en hulle soen mekaar met oorgawe.

“Kom in my,” pleit sy by hom. Soos ‘n skakelaar wat aangeskakel word, klimaks die twee van hulle gelyktydig enkele minute later.

Nadat hulle teruggekeer het van die kruin van hul seksuele fantasie, lê hulle ‘n paar minute stil in mekaar se arms. Dan wikkel Danielle haar liggies los uit sy greep en stap badkamer toe.

Jaco staan op en begin aantrek. Toe sy terugkeer, is sy in ‘n japon toegedraai. Sy buk af, soen hom liggies op sy mond en sê: “Dankie. Ek het dit baie nodig gehad.”

“Ek ook,” erken hy. “Ek bel jou môre.” Hy soen haar op die mond waar sy op die bed sit en sonder om ‘n woord verder te sê, stap hy die kamer uit. Sonder haar telefoonnommer.

Noudat die ekstase verby is, begin die werklikheid stadig maar seker insink, en sy gewete begin hom pla. Sy gedagtes begin na Madeleen, Sandra en Dieter dwaal.

Die hele pad terug huis toe stoei sy hart en verstand met mekaar oor die aand se dinge. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Hy kan nie onthou of hy en Madeleen al ooit sulke passievolle seks gehad het nie. Maar dit was verkeerd. Hulle verdien dit nie. Nie een van hulle nie.

Maar die warm gevoel in sy mik laat hom terugdink en verlang na die afgelope paar uur.

Jaco voel skuldig. En ekstaties. In die diepste, donkerste vallei. En in die sewende hemel.

Dis eers na drie die volgende oggend dat hy soos ‘n skelm by sy eie huis insluip. ‘n Stertswaaiende Boesman wag hom in die kombuis in. Nadat hy sy getroue hond se kop gevryf het, sluip hy kamer toe. Op pad loer hy by die tweeling se kamers in. Sy gewete straf hom met mening toe hy hulle so rustig en salig onbewus van sy sonde sien slaap.

Op pad kamer toe begin hy al uittrek. Madeleen is vas aan die slaap. Hy gooi sy klere sommer op die vloer neer, lig die duvet versigtig op en seil soos ‘n slang in sy warm bed in, versigtig om sy vrou nie wakker te maak nie. Sy uiter slegs ‘n ligte, half geïrriteerde kreungeluid en slaap dan voort. Dit vat ook nie lank vir hom om in droomland te wees nie.

“Opstaan, laatslaper. Dis al byna nege-uur en die tuin wag,” sê Madeleen en gee hom ‘n soen op die voorkop. “Oe, jy stink soos ‘n brouery! Ek hoop die kopseer is die moeite werd. Ek sien jy’t sommer jou klere op die vloer neergegooi!”

Dis ‘n uur later en Jaco is besig in die tuin. ‘n Koppie sterk koffie hou hom en sy kloppende kop geselskap. Dan lui die voordeurklokkie. ‘n Paar minute later kom Madeleen by die agterdeur uitgestap en sê opgewonde: “Jaco, jy sal dit nooit glo nie. Iemand wat ek laas op universiteit gesien het, het kom kuier. Kom dat ek jou voorstel.”

Dan kyk hy op van waar hy in die blombedding besig is … vas in Danielle. Hy word yskoud toe hy sien dat sy hom herken agter die donkerbril. Voordat hy egter iets kan doen, stap sy nader met haar hand uitgesteek en sê oor haar skouer aan Madeleen: “Ek het gewonder hoe jou man sal lyk. Jy’t mos altyd goeie smaak gehad.”

Aan hom, met ‘n knip van die oog: “Aangename kennis. Ek’s Danielle du Plessis. Ek en jou vrou was saam op varsity. Gaan gerus voort waarmee jy besig is. Ons het baie om in te haal.”

Dan draai sy terug na Madeleen en sê: “Mads, gaan maak vir ons koffie. Ek wil alles weet wat met jou gebeur het die afgelope agtien jaar. Ek het self baie om te vertel en nie baie tyd nie. Ek vlieg laat vanmiddag terug Johannesburg toe.”

Die twee vroumense stap die huis binne en Jaco sak stadig terug in die blombedding. Nou soek ek ‘n sterk dop, dink hy by homself. En nie net een nie.

Maar dan tref dit hom soos ‘n weerligstraal. Verlede nag in daai hotelkamer het iets gebeur wat hom nie gaan los nie. Iets wat hom gaan jag. Miskien vir die res van sy lewe.





LitNet: 30 Augustus 2006

  • Lees die eerste weergawe van hierdie verhaal
  • Lees die tweede weergawe van hierdie verhaal
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.