RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor spoke, pluime, poësie en meer ...

’n Dramaturg, ’n nuwe Marius Weyers (bedoel as ’n kompliment), goeie ou Klippies, ’n rockster en plaaslike voggies. Saam kan dié kombinasie ’n aand heel bedonnerd lekker maak. Saartjie Botha, Neels van Jaarsveld, Klipdrift, Karen Zoid en Kango Wyne was van die wenners van vanjaar se KKNK Kanna-toekennings. Ander toekennings het gegaan aan Michelle Breedt, John Jacobs, Hein Willemse en PG du Plessis. Ook Sandra Prinsloo pronk met ’n veer in haar hoed. Sy het die Sarie-Pronkpluimkanna gewen.

****

Die spook van Ingrid Jonker kry net nie rus nie. Dié keer is dit darem nie eks-minnaars se middeljarige seuns wat kerm en kla, of ’n tas vol briewe wat tot almal se ontsteltenis in Portugal sit nie. Die jaarlikse Ingrid Jonker-debuutpoësieprys is pas toegeken aan Kobus Moolman. Moolman, ’n boorling van Pietermaritzburg, het vir sy werk Time like Stone (University of Natal Press) met die louere weggestap. Sy prys behels ’n herdenkingsmedalje deur die beeldhouer Bill Davis en R2 000. Die beoordelaars was Prof Joan Hambidge en Peter Clark.

****

Wehrmacht-skoene en buite-egtelike kinders. Nou ook grappe oor Robert Mugabe — lewend of dood. Die woord “persvryheid” moet maar nie te breed geïnterpreteer word nie. Vra maar vir Goeie Hoop FM-platejoggie, Nigel Pierce. ’n Aprilgek-grap oor Mugabe se “sluipmoord” het hom sy werk gekos. Tel jou seëninge, Riekie.

****

Vir 60 jaar lank al wonder die Noorweërs wat van hulle geliefde skrywer Nordahl Grieg geword het. Grieg, ’n nefie van die komponis Edvard Grieg, het tydens die Tweede Wêreldoorlog in ’n bomaanval in Duitsland gesterf. Die jarelange misterie is pas opgelos: die Norweegse buitelandse diens het bekend gemaak dat hulle die gebied gevind het waar Grieg se oorskot begrawe lê. Of hulle toegelaat gaan word om die oorskot terug Noorde toe te neem, is ’n ander vraag. Die Duitsers sal eers moet instem om die Autobahn wat oor die gebied gebou is, op te kap …

****

Homer, Marge, Bart, Lisa en Maggie Simpson gaan binnekort die rustigheid van Springfield verruil vir die beskuldigdebank van ’n hof. Die stad Rio de Janeiro dagvaar die televisienetwerk Fox vir ’n episode, “Blame it on Lisa” wat in Rio afspeel. Bart word deur ’n slang opgevreet, ’n huurmotorbestuurder ontvoer vir Homer en Marge word seksueel geteister in ’n polisiekantoor. Rio voel dat die episode die stad in ’n slegte lig plaas. Dalk was die Simpsons maar net effens te vroeg vir die karnaval.

****

Die meesterbreine op die Afrikaanse toneelscene, Saartjie Botha, Jaco Bouwer en Marthinus Basson, het ’n produksiemaatskappy gestig met die naam “Vleis, Rys en Aartappels”. ’n Mens wonder of dit ’n indikasie is van die lywige produksies wat in die toekoms opgedis gaan word?

****

Kenny is dood. En welkom aan Butters. Die skeppers van die gewilde en omstrede South Park-reeks het aangekondig dat Kenny nou finaal dood is (hy het tot dusver nog in elke reeks omgekap net om ’n Bobby-van-Dallas te doen en uit die dode te verrys). Hy sal vervang word met ’n nuwe moeilikheidmaker, Butters.

****

Elizabeth Hurley, eens die gesig van Estée Lauder en skynbaar ook aktrise, het in Londen ’n babaseun, Damain, ryker geword. Die moontlikheid bestaan dat die filmvervaardiger Stephan Bing die pa is, maar haar eks, Hugh Grant, het intussen aangebied om pa te speel tot tyd en wyl die geheues verfris word.


****

Ian McEwan se topverkoper, Atonement, het uiteindelik die erkenning gekry wat dit toekom. Dit het pas die WH Smith literêre prys in Brittanje ontvang. ’n Verligte McEwan, wat die Whitbread- en Bookerpryse vaarwel moes wuif, het gesê die prys is “a marvellous public affirmation of what a writer does”. Die bevestiging kom net betyds — die WH Smith literêre prys is die laaste van die Britse pryse vanjaar. Die kinderboekprys is toegeken aan Eoin Colfer se Artemis Fowl.


****

Juliette Binoch, beeldskone Oscar-bekroonde Franse aktrise, gaan glo die rol van Antjie Krog vertolk in die film-weergawe van Country of My Skull. Antjie die glamour-girl. Wil jy nou meer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.