|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Fok voor die wind Dan Sleigh trotseer ons paneel
Deborah Steinmair
Dan
Sleigh se roman Eilande
is onlangs met die gesogte M-Net-boekprys bekroon. Hy het met die volgende voorbehoud
ingestem om op ons paneel se vrae te reageer:
"Dankie vir u uitnodiging om deel te neem aan die LitNet-webwerf. Neem in
ag, ek het geen opleiding in die teorie of in die praktyk van Afrikaanse taalkunde
of letterkunde nie. Ek sê dit voor lesers dit self agterkom. Ek is 'n tydelike
besoeker, en kom nie terug nie."
Willie Burger
Willie Burger is sedert 1998 professor in letterkunde aan die Randse Afrikaanse
Universiteit en is tans voorsitter van die Departement Afrikaans.
1. Jy beskou jouself
eintlik in die eerste plek as 'n historikus. Waarom het jy besluit om die 17de-eeuse
geskiedenis van die Kaap, die VOC-geskiedenis, nie in 'n "geskiedenisboek"
te beskryf nie, maar om jou te wend tot fiksie?
DS: Waarom fiksie en nie ‘n “geskiedenisboek” nie? “Geskiedenisboeke”
oor dié tydperk is al geskryf, deur my en deur ander. Waarom fiksie?
Dit betaal beter.
2. 'n Opvolgvraag: In Eilande word onder andere ook nagedink
oor die aard en die nut van geskiedskrywing. Is die roman vir jou ook 'n manier
om oor jou vak te besin?
DS: Nie vir my nie, maar vir De Grevenbroek. Hy wou ‘n “geskiedenis”
skryf, uit sy verbitterde hart, om sy wrok en sy “waarheid” bekend
te maak. Dit sou vanselfsprekend eensydig, polemies en propagandisties word,
onsmaaklik om te lees en nutteloos vir navorsing. Toe hy die formule van die
onderstebo driehoek (omgekeerde ekonomiese piramide) ontdek, (bv pp 703, 731)
het hy ware geskiedenis, die ontleding en vertolking van dokumente, begin verstaan.
3. Teen die agtergrond van 'n byna almagtige VOC beskryf jy die lewens
van gewone mense wat nie oor hulle eie lot kan beskik nie, ten spyte van talle
pogings daartoe. Dit bied natuurlik 'n aangrypende beeld van die 17de-eeuse
lewe van gewone mense. Sien jy dit ook as 'n kommentaar op die menslike kondisie
– 'n uitgelewerdheid van mense aan 'n bestaan waaroor ons nie beheer het
nie – "al is jou hand op die kolderstok" bepaal die strome en
die wind jou lot?
DS: As ek jou vraag reg vertolk, het jy die situasie presies reg gelees.
4. Karel Schoeman skryf in verskeie romans (veral in die Stemme-drieluik)
dat hy as 't ware gedryf word om die "stemme uit die verlede" op te
teken. Op soortgelyke wyse merk De Grevenbroek in Eilande op dat "hier
stories roep om gehoor te word, soos die hand van 'n drenkeling uit die see
kom en 'n stem sê: help my" (687). Is dit vir jou ook so dat jou
werk in die argiewe, die voortdurende omgaan met artefakte en dokumente uit
die verlede, later soos stemme by jou aandring om hulle te laat hoor?
DS: Nee. Dit is natuurlik nie fisies moontlik om “stemme” te hoor
nie. Maar De Grevenbroek, ‘n wit ridder met die taak om ‘n dame
van die draak Tyd te red, het ‘n emosionele verpligting, die soort ding
wat mense op kruistogte laat gaan. Hy moes dit doen. Ek is ‘n eerlike
materialis – vir my het dit gelyk na ‘n kans om ‘n paar rand
te verdien, daarom het ek dit gedoen. Onder vraag 9 wil ek nog iets oor hierdie
saak sê.
5. Plek-plek in Eilande wil dit lyk asof die geskiedenis nie
van veel nut vir ons is nie. Uiteindelik stel De Grevenbroek dit ondubbelsinnig
soos volg: “Maar ongetwyfeld sal die gekiedenis hom herhaal, en wat was,
sal weer wees. En as iets soos 'n einde verlang word waar geen einde is nie,
as daar inligting moet wees wat 'n einde voorstel, goed dan. Maar jy kan nooit
vertel sodat iemand ten volle begryp nie, want die hoorder sit in sy eie droom
gevang. Werklike begrip en 'n werklike einde sal daar nooit wees nie, omdat
'n sirkel voortgaan sonder einde” (734). Hiermee word tog ook iets te
kenne gegee van die hopeloosheid van geskiedenis? Al is daar die hoopvol interpreteerbare
grafskrif van De Grevenbroek – "wagtend op herrysing" –
is ook daarin die idee van blote herhaling? Waarom dan hoegenaamd met die geskiedenis
bemoei?
DS: “Geskiedenis is nie van veel nut in die menslike kondisie nie …
ens.” Korrek, brei die stelling uit met “omdat die mens gedomineer
word deur gode en politici wat nie geskiedenis doen nie.” Het jy opgelet
hoe pedanties De Grevenbroek is? Vir die grap sit hy jou antwoord in boere-humoris
Tas se mond: “Die geskiedenis moet hom herhaal want die dom donders wil
nie leer nie.” In De Grevenbroek se woorde word dit “Hoop is medisyne
teen Wanhoop.” Hy sê dit in sy (bekende) epigram (p 687) en in die
grafskrif (p 756), wat hy voor sy vertrek op klip laat graveer: “Wagtend
op herrysing.” Daarmee begin hy die aftelling, 10 ... 9 ... 8 ..., van
‘n reis na iets beter. Wat anders kon hy doen?
6. Uiteindelik is die klem op gewone mense, op klein mensies, die
magteloses, as eilande, maar tog ook as ark: “'n Mens word 'n skip, skepe
mense. 'n Mens word 'n eiland, eilande word mense. 'n Mens word 'n ark, 'n toevlug
in die wye ruim" (755– 6). Sou jy sê dat dit die enigste troos
in 'n troostelose heelal is, dat mense tog vir mekaar – al is hulle eilande,
al word hulle rondgeslinger soos skepe – ook tuiskoms kan wees, reddend
kan wees in die vorm van 'n ark?
DS: Jy het dit presies reg gelees. Ons lot is wat ons bind. En jy raak daarmee
aan die betekenis van die woord en die titel Eilande. De Grevenbroek
se gevoel was teen sy amper-tydgenoot Donne se romantiese veralgemening, populêr,
mooiklinkend en pretensieus, oor mense en eilande. De Grevenbroek se reaksie
is ook nie nuut nie, byvoorbeeld Conrad: “We live as we dream, alone.”
En Marais of Totius: “Eenling is die mens ...” Terug na die begin:
ons lot is al wat ons bind. Ons van is MENS, ons adres is AARDE. Daarteen is
geen medisyne nie. Ek dink, terloops, die mens as biologiese spesie het sy skyfies
gehad, tensy hy hierdie planeet betyds verlaat en ‘n ander eiland soek.
In Islands is ‘n reël: “For the time of man will pass,
and darkness return to the deep”, wat nie in die Afrikaanse teks gebruik
is nie.
Die Statebybel se “afgrond” belig nie die aaklige waarheid duidelik
genoeg nie. De Grevenbroek kon nie die begrippe see en ruimte in een woord kombineer,
soos in die King James Authorised Version nie, en ek het die gedagte weggelaat.
Maar hy het ‘n vermoede van die konsep gehad. Die enigste troos in ‘n
troostelose heelal, soos jy dit stel, is myns insiens medemenslikheid, want
daar is geen medisyne vir ons kondisie nie.
7. Baie mense het al gewys op die manier waarop jy taal ontgin. Dit
is nie alleen 'n vertelling oor 'n era nie, die taal weerspieël daardie
era, dra iets oor van die ontwikkeling van Afrikaans uit 17de-eeuse Nederlands
(selfs op subtiele maniere soos om Peter se naam "Peter" te spel maar
in dialoog as Pieter). Het jy dit van die begin af so beoog, of het hierdie
ontginning van taal eers later bygekom?
DS: Nee, dit moes van die begin af, en deurgaans. Dit verteenwoordig die kwaliteit
van die verf waarmee geskilder word. Reg? Die geskiedskrywing is ‘n wetenskap
en ‘n kuns. Die wetenskap lê in die ontleding en vertolking van
bronne, die kuns is in die skryf. In geskiedskrywing word die sogenaamde “feit”
net gebruik om ‘n stelling te illustreer, maar in storievorm kan dit baie
wyer gebruik word, soos houdings, karaktertrekke, situasies, ens. Soms manifesteer
vaardighede tov die tweede, soos in verfynde woordkuns, sterker as tov die eerste,
byvoorbeeld by Lawrence (Seven Pillars ...), De Madariaga
(Hernán Cortes ...), Gibbon (Decline and Fall ...), ens. Maar
wat ‘n “roman” is of behoort te wees, weet ek nie. Ek kan
nie die twee vorme vergelyk nie, behalwe dat laasgenoemde eindelose geleenthede
het vir fiksie, en eersgenoemde, geen. As hierdie verhaal suksesvol was tov
taal en styl, moet dank, vermoed ek, gaan aan Kalliope, Melpomene, en veral
Kleio.
8. Hoe voel jy oor die vertalings van jou roman? Het jy nou met die
vertalers saamgewerk, en hoe voel jy oor die eindprodukte?
DS: Vertalings: Jou eerste vraag was nie: “Hoekom het jy dit nie self
vertaal nie?” Maar hier is die antwoord daarop: omdat ek toe pas aan ‘n
tweejarige transkripsiekontrak vir die Nederlandse regering begin het, en die
Engelse uitgewer, Random House, nie twee jaar op ‘n vertaling wou wag
nie. Natuurlik wou ek dit die graagste self gedoen het. Dit was maklik om met
‘n vertaler soos André Brink saam te werk, en ek sien dit as ‘n
leersame ervaring, klasse by ‘n egte meester. Sy kennis van taal, sy ondervinding
as skrywer, sy begrip van die menslike situasie, en die seëning van sy
eie skeppende genie het, glo ek, die Engelse vertaling verryk.
Wat die Nederlandse vertaling betref, van Afrikaans tot Moderne Nederlands,
het ek geleer oor die verskille tussen 17de-eeuse en 21ste-eeuse Nederlands,
hoeveel woorde reeds uitgesterf of van betekenis verander het. Maritieme terminologie
is ‘n voorbeeld: Afrikaans het nooit ‘n seetaal gehad nie. Dit het
hier van Hollands direk tot Engels gegaan, maar ek was verbaas dat Nederlands
sy seetaal so gou kwytgeraak het. In so ‘n mate dat die nuwe Van Dale
self nie meer weet wat laarsen beteken nie. Daar is individue wat die ou taal
ken (Henk Vos, skeepsbouer) maar hulle leer dit uit 17de- en 18de-eeuse dokumente.
Vroeër vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch het ek voorbeelde genoem
van taalreëls wat ‘n letterkundige teks verarm. Daar is byvoorbeeld
‘n fossielreël in amptelike (akademiese?) Nederlands (en moontlik
ook in Afrikaans) dat skeepsname die lidwoord de voor moet kry: De Gecroonde
Leeuw. Die besluit is, vermoed ek, geneem deur ‘n komitee, op ‘n
vergadering waar matrose in die minderheid was. Hoe anders kon so iets gebeur
het? Ek het honderde voorbeelde uit tydgenootlike manuskripte wat wys dat matrose
dit nie gebruik het nie. Matrose het familiêr van hul skip gepraat, soos
van ‘n hond. Hy was Wagter, nie De Wagter nie. So reik langgestorwe akademici
hulle verrotte ledemate uit grafte om skrywers te verwurg.
Daar was ander voorbeelde waar ek nie met die vertaler se keuse saamstem nie,
omdat dit myns insiens die teks verarm. Dit kan ook gebeur dat ‘n skrywer
te doen kry met ‘n beroepsvertaler, met die Beste Woordeboeke in een hand
en ‘n Nuwe Woordelys en Spelreëls in die ander. Dan word “goeie
taal” as maatstaf voorgehou. My antwoord op Stellenbosch op dié
hindernis was: “Een wet vir die Leeu én die Os is onderdrukking”
(Blake); byvoorbeeld, “Smee die yster terwyl dit heet is” is Afrikaans,
maar “Smee die yster terwyl dit op heet is,” is goeie Afrikaans.
My advies aan fiksieskrywers: Sorteer sulke sake uit voor jy kontrakte teken.
9. In Eilande is daar ses "stemme uit die see" wat
deur 'n sewende opgeteken word. Jy slaag myns insiens daarin om hulle elkeen
anders te laat klink, te laat dink (skrynwerker, matroos, soldaat, "regsgeleerde").
Hoe kry 'n skrywer dit reg om te voorkom dat al sy karakters dieselfde klink?
En met watter van die karakters identifiseer jy die meeste? Beskou jy jouself
as 'n De Grevenbroek?
DS: Met elkeen van daardie figure, behalwe met Saayman die kuiper, deel ek
‘n bietjie bruikbare beroepskennis en ervaring. Moontlik het dit gehelp
met die uitbeelding van persoonlikhede. Maar elke karakter moet sy mond oopmaak
en vir homself praat as hy wil oorleef. Identifiseer? Nee, ek speel geen rol
in hierdie storie nie, dink ek. Hou De Grevenbroek dop. Hy het die sleutel.
Hoe kan dit wees, sê jy? As ek, soos hy en ander (sien jou vraag 4), stemme
kon hoor roep, sou dit waarskynlik só gebeur het: Ek loop verby ‘n
grafsteen en hoor klop en roep, daar binne. Ek maak oop. De Grevenbroek klim
uit, slaan stof af, sê: “Waar is die naaste tikmasjien?” Ek
bied hom myne aan. Net so. Hy wil self praat. Hy ontneem jou dadelik die kans
om te identifiseer.
JP Smuts
JP Smuts het afgetree nadat hy as hoogleraar aan die universiteit van Stellenbosch
aan die departement Afrikaans en Nederlands verbonde was. Hy is bekend as ’n
kenner van veral die Afrikaanse roman en ’n liefhebber van Italië.
1.
Ek het Eilande gelees kort nadat ek Karel Schoeman se Armosyn van
die Kaap gelees het, wat gedeeltelik oor dieselfde periode strek wat in
Eilande behandel word. In die geval van Schoeman het jy die skrywer
van fiksie wat as geskiedskrywer opereer op so 'n wyse dat die leser daarvan
bewus bly dat hy 'n ervare romanskrywer is. En in jou geval het jy iemand wat
primêr historikus is wat 'n roman skryf waarin die leser daarvan bewus
bly dat hy 'n ervare geskiedkundige is. Dit is geen kritiek teen Eilande
nie, want ek beskou dit as 'n besonder indrukwekkende werk: nie net die beste
historiese roman wat nog in Afrikaans geskryf is nie, maar trouens een van die
sterkste Afrikaanse romans nog. My eerste vraag is dan dit:
Jy maak die oorgang van geskiedskrywing na die wêreld van die roman baie
oortuigend, maar was dit vir jou moeilik om dié oorgang te maak? Indien
wel, wat was van die grootste probleme wat jy ondervind het?
DS: Dankie vir u opmerkings insake die verhaal. Blykbaar was daar geen probleme
met die oorgang nie. Ongelukkig het resensente (met min uitsonderings) van die
begin af ‘n geskiedenis-etiket aan die boek gehang, waarverby hulle nie
kon sien nie. Dit bly by “vroeë Kaapse geskiedenis ...”, “the
terrible colonial history ...”, ens. Dít wou ek nie hê nie,
en ek glo dit was ‘n fout om herkenbare kronologie te gebruik. Ek moes
dit nie gedoen het nie en dit sal nie weer gebeur nie.
2. Ek vind die totale herskepping van die historiese periode besonder
oortuigend. Een van die faktore wat 'n belangrike bydrae hiertoe lewer, is wat
ek wil noem die periode-woordeskat wat in die roman gebruik word. Dit word baie
geloofwaardig en funksioneel benut, sonder enige vertonerigheid. Hoe op dees
aarde het jy daarin geslaag om so in beheer van hierdie aspek te kom? Ek dink
byvoorbeeld aan jou verbluffende kennis van die skeepvaartsterme van die tyd.
DS: “Ervaring” (omtrent 35 jaar daarvan) moet die antwoord op u
vraag wees. En onthou, die oorspronklike manuskripte was byderhand. Die VOC-argief
is ‘n besonder ryk bron aan inligting oor omtrent alle aspekte van die
17de- en 18de-eeuse lewe en die taal waarin dit beskryf is. ‘n Goeie kultuurhistorikus
(dr HM Scheffler) het my oor die daaglikse lewe geadviseer.
3. Eilande is in werklikheid 'n roman wat uit verskillende
verhale bestaan. Daar is telkens 'n nuwe begin en 'n nuwe verhaal, en uiteindelik
het ons te make met 'n geheel wat nie in Aristoteliaanse terme 'n begin, middel
en einde het nie. Het jy dit moeilik gevind om jou verhale tot 'n eenheid saam
te snoer en ook om die geheel tot 'n afrondende slot te bring? Indien wel, wat
was van die belangrikste probleme wat jy ondervind het en wat was jou strategieë
om van hierdie kwessies te oorkom?
DS: Dit het wel tyd geneem, maar ek vertrou ek kon al die los draadjies bymekaar
bring. Wat strategieë betref: die vraag was altyd, doen ek reg aan die
leser? Dit was my eerste verantwoordelikheid. Die tweede, en enigste ander,
was teenoor myself. Dus: (1) sal die leser hiervan hou? (2) Is ek tevrede hiermee?
4. Twee sake wat vandag baie sentraal staan in Suid-Afrika, en trouens
ook elders, is die posisie van die vrou en die benadeling wat anderskleuriges
aan die hand van blankes ervaar het. In Eilande word twee vroue, Eva
en Pieternella, baie sentraal geplaas, en die benadeling van die inheemse bevolking
deur die Kompanjie figureer ook prominent. Het jy dit doelbewus gedoen om 'n
parallel met die eietydse situasie te suggereer, of het jy maar net die gang
van die geskiedenis geskets en moet lesers self besluit of daar 'n "boodskap
vir ons tyd" in die roman teenwoordig is?
DS: Eerstens: De Grevenbroek het die lewe (1) aan die Kaap onder Europeërs
en inboorlinge en (2) buite die Kaap onder mense van Europese oorsprong en van
nie-Europese oorsprong probeer beskryf. Wat “nie-ontdekte” dele
in Amerika, Asië ens betref kon hy niks sê nie. Dus, waar hy nie
self iets beleef het nie, het hy sy boekekennis krities aangewend. U sal onthou
sy jeug is eenkant deurgebring, met lees.
Tweedens, die posisie van “die vrou”. Ek is persoonlik effens gekant
teen die gedagte van “die vrou sentraal”, asof ‘n subspesie
bespreek word. Dit voel vir my modies, kunsmatig en ongebalanseerd. Die vrou
het ‘n spesiale status in die natuur, dit weet ek, dit weet my hond. In
die begrip die mens pas die vrou. Die mens alleen is sentraal in hierdie storie.
Dit is hoe De Grevenbroek, ‘n bejaarde oujongkêrel met ‘n
Middeleeuse gevoel vir vrouediens (waaroor lesers miskien Lewis: The Allegory
of Love interessant sal vind), daaroor voel.
Omtrent alle resensente het bekendgemaak Pieternella is die sentrale figuur
in die boek. Ek was jammer om dit te verneem. Hou net vir De Grevenbroek dop:
hy trek die toutjies. Hy gebruik haar oa as katalisator in die verhaal, die
“draad wat die gegewens verbind” wat hy nodig gehad het. Of as ‘n
meer vulgêre beeld nodig is: hy gebruik haar, soos ‘n bal wat van
speler tot speler gegee word. Elke speler hou sy oë op die bal, maar die
toeskouer (lees leser) hou sy oë op die speler met die bal om te sien hoe
hy die noodlot uitdaag, en hoe die noodlot hom dan behandel. Let op dat De Grevenbroek
nie vir Pieternel voor op die verhoog nie, maar op die kante en in die hoeke
laat speel. Net één maal, twintig jaar na haar dood, haal hy haar
uit die poppekas om ‘n hele toneel solo voor op die verhoog te speel (Die
waterskilpaaie, pp 719–723). Waarom? Om haar te gebruik om die mens se
weerloosheid teen die noodlot te illustreer. Hy gebruik daarvoor drie voorbeelde
van moord op onskuldiges, almal ivm die Pase “wanneer die blom sy rooi
beker oopmaak”: (1) dood van die eersgeborenes; (2) kruisiging van Jesus;
(3) slagting van die ongeborenes. Wie is die moordenaars? Dit is (1) gode, (2)
politici, (3) die gewone man (haar eie man daarby). Hy beskryf haar as swanger,
instinktief bekommerd en daarom bedroef. Daar is vir die kinders van Eva duidelik
geen skuilplek teen die noodlot nie. Daarom huil sy. Sien u, sy is maar net
marionet De Grevenbroek se mondstuk. Hy gebruik haar. Speel sy getrou aan die
natuur? Dan mag sy namens die vroulike mens op die verhoog praat. Maar sy is
een van ons, en geen hooffiguur, ideologiese heldin of protofeminis nie.
Insake die behandeling van “die vrou” en “anderskleuriges
aan die hand van blankes”, waarna u verwys: daaroor het De Grevenbroek
hopelik sy gedagtes duidelik uitgedruk. Maar dit is wat hy voel. Persoonlik
sal ek nie deelneem aan romantiese veralgemening, of die sentimentele verheerliking
van stereotipes en twyfelagtige gevalle, omdat hulle vroue of “anderskleurig”
was, nie. Dikwels is die onkunde en vooroordeel al wat vir my duidelik is, soms
is daar ‘n politieke motief; die ergste is die voorspelbaarheid en die
verveling. Dit bly by Krotoa, Krotoa, Krotoa met Sarah Baartman as afwisseling.
Wanneer gaan dit, byvoorbeeld, uitbrei? Een Woordfees op Stellenbosch toe dit
weer sulke tyd was, het ek probeer met “Maki Skozana het vir julle sondes
gesterf.” Maar geen reaksie nie. Dood.
5. Die roman staan besonder sterk as 'n studie oor buitestaanderskap.
Dit gaan telkens oor grensfigure en groepe wat uitgeslotenes en uitgestotenes
is of word. Die blankes is buitestaanders deurdat hulle pionne is van die Here
XVII wat hardvogtig teenoor hulle optree en hulle feitlik verslaaf en ook deurdat
hulle in gebiede weg van die vaderland 'n bestaan moet maak. Die inheemse bevolking
word van hulle grond verdryf en raak verstrooi en word sodoende in 'n groot
mate vreemdelinge in hulle eie land. Van die anderskleuriges, veral Eva en haar
kroos, raak ook buitestaanders deurdat hulle oor die grens tree en van een bestaanswyse
beweeg na 'n totaal ander kultuurmilieu. Moet 'n mens hiervan aflei dat jy besonder
geïnteresseerd is in die buitestaander as romankarakter, en indien wel,
wat in die buitestaander boei jou as jy in terme van moontlike romanpersonasies
dink?
DS: Buitestaander as romankarakter: Nee. In die skrywer (De Grevenbroek) se
begrip is hulle nie romankarakters nie, net mense. En u weet reeds wat hy dink
van mense: arme drenkelinge wat hamer aan deure en vensters van ‘n ark,
of wat geen ark kan sien nie.
Lianne Barnard
Lianne Barnard is ’n Suid-Afrikaner wat Nederlandse letterkunde,
literatuurwetenskap en Afrikaans in Olomouc, in die Tsjeggiese Republiek, doseer.
1.
Die leser van geskiedenis soek bronverwysings, dispute, beredenerings en ook
meer agtergrond. Die onderskeidende kenmerke van letterkunde is die uitbeelding
van subjektiewe gevoelens (die innerlike van die karakter), die raak verwoording
van die menslike kondisie en die oorheersing van die eie stem van 'n verteller.
Stem jy saam met my onderskeid tussen geskiedenis en roman, en waarom het jy
gekies om 'n roman en nie 'n geskiedenisboek nie te skryf?
DS: (a) Onderskeid tussen “geskiedenis” en “roman”:
u sal verstaan, ek kan nie ‘n uitspraak waag nie. (b) Waarom ‘n
“roman” geskryf en nie ’n “geskiedenisboek” nie?
Eerstens, soos vir Willie: dit betaal beter. Die vryheid om verbeelding te gebruik,
was ‘n ongekende bonus, ‘n gevoel soos van ‘n hond wat losgelaat
word om in ‘n park te speel.
2. Watter romans met 'n historiese tema vind jy uitstekend en waarom?
DS: Ek gaan maak asof ek presies weet wat u met “historiese” tema
bedoel, en antwoord op ‘n mengsel van drie basiese vermoedens: (a) Die
kronologiese grense is deur politici bepaal. (b) Die skrywer het argivale bronne
gebruik. (c) Die kronologiese gegewens is herkenbaar. (Of het letterkundiges
‘n ander definisie?) Daar was meesterstukke. Uit my geheue: Wat van Orwell:
1984. (Ja, ek weet dit is toekoms en nie “geskiedenis”
nie. Is daar dan ‘n verskil, per definisie?); Remarque: Im Westen
Nichts Neues; Conrad: Nostromo (100 persent fiktief tot by die
lande, stede, mense, elke bos en klip); De Pillecijn: De Soldaat Johan.
Wat dan van A Tale of Two Cities, War and Peace, Ivan Denisovich? Wonderwerke.
Daar is meer. Wat van historiese drama (Lear), dagboek (Pepys), joernaal
(Defoe: A journal of the Plague Year), filmteks (Europe, Europe).
Hulle tel nie as “romans” nie, maar die menslike verhale en briljantheid
van styl, dink ek, verenig alle soorte.
3. As iemand oor 400 jaar 'n historiese roman oor die twintigste eeu
in Suid-Afrika sou skryf (hopelik bestaan Suid-Afrika en skryf nog), wie sou
die verteenwoordigende sewe stemme dan wees of behoort te wees?
DS: Goeie en moeilike vraag. Moontlik ‘n verpleegster, ‘n konstabel,
‘n weervoorspeller, ‘n onderwyser, ‘n amptenaar van die Kaapse
stadsraad, ‘n kafee-eienaar. Hulle behoort die ding te kan doen. Wie is
daar nog? Nee. Interessant, maar te moeilik sonder ‘n basiese storie.
4. As ek een van my studente kan oorreed om 'n gedeelte van Eilande
in Tsjeggies te vertaal vir 'n literêre tydskrif, watter gedeelte dink
jy is die beste?
DS: My ondervinding van die vertaling van letterkundige tekste was voorheen
uit “gestorwe” tale soos Anglo-Saksies en Middelengels, en my gidse
was liberale (in die oorspronklike sin) kunstenaars, wat meer vir digkuns as
grammatika omgegee het. Wat u vraag betref: daar by “literêre tydskrif”
word die ys ondervoets dun, maar ek sal probeer. Tsjeggies? Ek ken nie die taal
nie. Is Tsjeggies klankryk, vol vokale soos Spaans en Zoeloe? Gee die student
dan Boerneef of van Petra Müller se Strandveld-gedigte. Andersins, miskien
p 733 (laaste paragraaf) as ‘n algemene inleiding tot die storie. Het
Tsjeggies ‘n kuslyn en ‘n maritieme tradisie? Nie? Kies liewer ‘n
student in Portugees, Grieks, Oudnoors, of ‘n ander taal met ‘n
seeletterkunde. Of wat van p 6, enige van die drie paragrawe? As u vraag beteken
watter deel beskou ek as internasionaal herkenbaar, dan moet ek u vra om my
van die vermetelheid te verskoon. My vak is Geskiedenis. Het u nie makliker
vrae nie? Ek help graag as ek kan.
5. ‘n Jaar nadat ek die roman gelees het, is die gedeelte wat
ek die helderste onthou, die episode waar Bart gered word ten koste van ‘n
Moor net omdat Bart die drinkebroer van die roerganger was. Die Moor spook by
my, miskien omdat hierdie naamlose man simbolies is van die geringskatting van
swart lewens in daardie stigtingstyd. Kan ek hierdie episode lees as simbolies
van die stigting van die Kaap, maw swartes was oorboord gegooi om die lewe van
‘n groep blankes te red? Of is my lesing en ook dié van Christopher
Hope in The Guardian ‘n vereenvoudiging van die geskiedenis?
DS: Die Moor. As u belangstel in wat in Aernhem se boot gebeur het, lees A
Stokram: Beschrijvinge van het Schip Aernhem.
Oor die Moor dan, as die buitengewoon sterk (maw geseënde/begenadigde)
swemmer wat ten spyte van groteske onreg aanhou veg om sy lewe – in die
see, waar Leviathan in sy element is – tot selfs die son ook van hom weggeneem
word, kan u seker De Grevenbroek se gevoel lees.
Dan vra u oor “geringskatting van swart lewens in daardie stigtingstyd”
en “simbolies van die stigting van die Kaap”. Kyk nou hoe gebruik
De Grevenbroek die gegewens: die skipper veroordeel mense en gooi hul oorboord.
Dan veroordeel hy homself en gooi homself oorboord. Maar wanneer die noodlot
of die politici, in dié verhaal soos in die lewe, onskuldige mense by
honderde en duisende veroordeel, sien ons nooit dat hulle uit berou ‘n
einde aan hulleself maak nie. Dit is een van ‘n paar redes waarom De Grevenbroek
die aaklige toneel beskryf. U sou opgemerk het dat in die beskrywing van die
Moor-insident, tientalle blankes oorboord gegooi is, en een Moor. (En dit gaan
oor godsdiens, nie velkleur nie. “More” was Moslems – Arabiere
uit Noord-Afrika.) U stellings, of die houding of persepsie wat sulke stellings
reflekteer, kan vertolk word as vooroordeel, asof De Grevenbroek voorgee dat
hy nie weet hoe dit elders in die wêreld gaan nie. Sou sulke optrede destyds
anders gewees het in China, Rusland, Afrika, Japan, Engeland, elders?
Net enkele voorbeelde: In ‘n puriteinse gemeenskap (Boston, Mass) dertig
jaar later het ‘n staatsregbank vyftien mense oor heksery ter dood veroordeel.
Of lees Brown, Bury my heart ..., oor hoe dit met Rooihuide gegaan
het. Of dat, in die Deense Maagde-eilande en Britse Wes-Indiese eilande, slawe-eienaars
wat slawe vermoor, nie vervolg is nie. (Meer oor dieselfde byvoorbeeld in Heese:
Reg en Onreg ...) Of as ons net praat oor noodmaatreëls ter wille
van oorlewing op see, dink aan die verhaal van die walvisskip Essex. Nee, dit
het wêreldwyd gebeur, gebeur nog wêreldwyd en sal waarskynlik weer
wêreldwyd gebeur, ongeag ras. Daar lê nuwe “stigtingstye”
voor op ander planete, en hoe sal die mens hom daar gedra?
Dit is tog moontlik dat die situasie ten opsigte van nasionale, rasse- en godsdiensverskil
(en -verdraagsaamheid) gedurende die afgelope drie eeue effens verbeter het.
Is dit so? Daar is kronologie beskikbaar om ‘n goeie antwoord daarop te
kry. Die saak het ‘n duisternis vensters en deure.
Byvoorbeeld: De Grevenbroek sê die geskiedenis herhaal hom, dit is ‘n
sirkel sonder einde, en wat was sal weer wees, ens. Terug dan na die persepsie,
of houding: “geringskatting van swart lewens in daardie stigtingstyd”
en “simbolies van die stigting van die Kaap”. Soos die onvoltooide
skepping gaan die sirkel voort van kolonialisering, en ‘n nuwe stigting,
van die Kaap. (Wat is die simptome? Hoe manifesteer dit? Groot getalle vreemde
intrekkers, grond word beset, hulle kry politieke beheer, nuwe vlag, nuwe taal
verdring oue, begunstiging deur nuwe regering, nuwe wette om hulleself te bevoordeel,
nuwe vorme van geweld, ontevrede inwoners trek land-uit, ens.) Hierdie persepsie
of houding kon vroeër as anti-Imperialisties gesien word, later as rassisties.
Dus, “die Kaapse stigtingstyd” en “simbolies van die stigting
van die Kaap” is myns insiens nie by die Moor-insident ter sprake nie,
tensy dit allegories ook op toekomstige situasies van toepassing gemaak word.
Maar De Grevenbroek het nog nie, soos ons, oor dié inligting beskik nie.
Hy gebruik die stigting van die Kaap net as simbolies van die Skepping –
“die rooidag”, noem hy dit (pp 381, 509). Die leser beleef in die
storie ‘n fraksietjie van die onvoltooide Skepping. ‘n Sirkel begin
by die oerknal, baie later in die kurwe kom mense op aarde, ‘n fraksie
dáárvan bevat die vyftig jaar waaroor Eilande gaan. Wat
vir De Grevenbroek bekommer, is dat die Skepping ‘n nadelige gedoente
is vir alle mense, veral armes.
U noem Christopher Hope, en “‘n vereenvoudiging van die geskiedenis”
(The Guardian”). Datum? Ek neem aan die berig, artikel of resensie
gaan oor hierdie storie, maar weet nie wat bedoel word nie, en kan nie raai
nie. Vraag staan oor, tot ek dit gelees het.
6. “En dit is die hiernamaals: om ewig in ‘n leë see
te dryf in die hoop op ‘n eiland.” Is die eiland van die titel ‘n
plek van redding, die lewe self? Dink jy mense is eensame eilande of is almal
met almal verbonde?
DS: As ek u vraag korrek vertolk, kan ek u verwys na my antwoord op Willie
Burger se Vraag 6.
Chris van der Merwe
Chris van der Merwe is verbonde aan die departement Afrikaans en Neerlandistiek
aan die Universiteit van Kaapstad.
1.
U is die skrywer van 'n hele aantal literêre en historiese publikasies.
Vertel ons daarvan, onder ander andere van u navorsing oor die vroeë buiteposte
aan die Kaap. Hoe sien u die verband tussen u historiese en u kreatiewe skryfwerk?
DS: Die VOC se buiteposte onder Kaapse bestuur was die onderwerp van my MA-
en DPhil-studies, gepubliseer as Die Buiteposte. Dit was 30–35
jaar gelede. In dié proses het ek die produksiestelsels en -metodes van
die Kaapse maritieme aanvullingstasie ontdek. Alles was, soos ek verwag het,
betrokke: landbou, klimaat, vervoer, brandstof, godsdiens, inboorlinge, koloniste,
veeteelt, arbeid, regspraak, medisyne, militêr, plantegroei, ens. Alles.
En pragtig gedokumenteer. Ek kon ‘n goeie algemene beeld van die Kaapse
situasie kry, en volop gegewens insake die mense en die regering.
2. U het die historiese navorsing gedoen wat die agtergrond vorm vir
Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap. Het hierdie navorsing 'n
rol gespeel by die skryf van Eilande?
DS: Eilande is ‘n baie ouer teks as dié van Dalene. Ek
het die navorsing gedoen vir my geskiedenisstudies, interessante dinge opgelet
wat dalk ‘n storie kon word, en hulle aangeteken. Benewens inligting,
het ‘n begrip van die merkwaardige verstrengelde kronologie begin. Die
storie het ek geskryf, maar kon dit nie afrond nie. Toe ek en Dalene begin saamwerk,
het ek het die meeste van die inligting gehad. Oor sommige aspekte het sy daarna
spesifiek meer inligting gevra, byvoorbeeld uit kerkrekords, wat ek nie tevore
ondersoek het nie.
3. Eilande gee 'n taamlik kritiese blik op die VOC se kolonisering
van die Kaap – meen u dit is nodig om die konvensionele geskiedskrywing
oor hierdie periode te hersien?
DS: Nee. Moenie tyd mors op herskryf nie. Vermy net alle sekondêre bronne.
Doen jou eie navorsing.
4. Soms skemer daar 'n taamlik somber siening van die menslike geskiedenis
deur in Eilande – die mens is oorgelewer aan noodlot en ongeluk.
Is dit 'n korrekte interpretasie van die boek?
DS: Ja.
5. Teenoor die somber prentjie van ongeluk en egoïsme is daar
ook die uitbeelding van menslikheid, "meer werd as die wêreld se
goud". In watter mate neem u hierdie teenoorgestelde pole in die menslike
geskiedenis waar?
DS: In die teks gee De Grevenbroek ‘n paar stewige voorbeelde wat hy
teengekom het. Barbertje Geens is een, die volwasse Hans Michiel is een. Daar
is ander – die slaaf Jan Vos, Margarethe d’Egmont, ander. En onthou,
dit is die verhaal van ‘n reddingspoging (hoe die ridder die dame van
die draak gered het). In die Islands-teks (laaste bladsy, finale paragraaf)
kon ek dit uitspel: “Thus was slain the dragon Time, the damsel delivered,
his quest at last at an end. There remains for the clerk ..., ens. In die Afrikaans
het ek die ridder-en-draak-beeld minder prominent gemaak, in die vermoede dat
dit vir die algemene leser vreemd sou wees. En reddings is hoopvolle aktiwiteite.
Op daardie hoop het De Grevenbroek sy hele verhaal gebou.
6. Wat is vir u die belangrikste eenheidskeppende faktore in die sewe
verhale wat u in die boek vertel? Die karakters van Pieternella en/of De Grevenbroeck?
Die Kaap van die 17e eeu as eenheidskeppende ruimte? Die motief van die eilande?
Of dalk iets anders?
Jy het dit reg gelees. By jou voorbeelde kan ek nog voeg: die see, “die
groen vrugwater waarin ons dryf, en gedryf het” (p 2), waarin ons én
Leviathan altyd was. Dit was ons ware oermoeder, veel ouer as mooi Eva. Conrad
het geskryf: “In ons verhouding met die see was daar van die begin af
meer haat as liefde.” ‘n Ander, benewens die siellose see, was grootliks
die boosheid van “regering”.
LitNet: 19 Julie 2004
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe
|