oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Geweld is nie ‘n opsie nie

Jason Lloyd

Die fliek Underworld Evolution van die regisseur Len Wiseman is as ’t ware ‘n beeld wat jou op ‘n gewelddadige en bloeddorstige toer neem. Dit neem jou van toeka se dae, deur ‘n hoëtegnologie-era tot by die hede – wat deurspek is met bloed en genadelose gevegte, waar dood aan die orde van die dag is. Dit laat jou gril en somtyds verbeel jy jou jy bevind jou binne so ‘n werklikheid. Dit is reeds daarom dat ek nie dié fliek vir die sensitiewe fliekganger aanbeveel nie.

En as ek ‘n resensie oor bogenoemde fliek moes skryf, sou ek dieselfde mening gehuldig het. Dit is immers my reg as resensent om ‘n mening uit te spreek en dit dan aan die lesers oor te laat om te besluit of hulle dit gaan kyk al dan nie. Maar ek sou ook gebalanseerd wees deur te skryf dat die bepaalde genre nie in my smaak val nie. Want miskien sterk die afkeer van die genre my mening aan en nie soseer die inhoud van die fliek nie. Dit is maar ‘n geval van gaan kyk die fliek en besluit daarna of jy daarvan hou of nie.

En indien iemand – insluitend Wiseman – met my verskil, sou ek dit respekteer. Elkeen van ons is immers op ‘n eie mening geregtig. In dieselfde asem wil ek net noem dat “‘n eie mening” met verantwoordelikheid gepaard moet gaan. Om opsetlik kwaad te stook moet verhoed word.

Maar die episode op die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn, waar die skrywer Jaco Botha deur lyfwagte beskerm moes word nadat hy ‘n mening oor ‘n vertoning in die feeskoerant Krit geskryf het, beperk die reg op ‘n eie mening. Dit dui ook daarop dat kunstenaars nie gewoond kan raak aan kritiek nie. Of miskien moet ‘n mens dit nie eens kritiek noem nie – hulle kan nie aanvaar dat ander mense, in dié geval ‘n resensent, ‘n ander mening huldig en nie van hul vertonings hou nie. “Nie van hul vertonings hou nie” met die verstane dat al die maatstawwe ingespan is om die gehalte van die vertoning te bepaal. En indien die vertoning nie aan die maatstawwe voldoen nie, moet die resensent dit uitwys en dit dan oorlaat aan die lesers om te besluit of hulle die vertoning wil sien al dan nie.

Dit blyk egter die KKNK het sedert 2002 in ‘n slagveld ontaard waar die magsverhouding tussen resensent en kunstenaar bepaal word.

Die eerste sarsie is in 2002 deur die sanger Steve Hofmeyr geskiet toe hy die joernalis Jan-Jan Joubert (toe redakteur van Krit) te lyf gegaan het en bo-op ‘n tafel gegooi het omdat ‘n Krit-resensent onder meer melding gemaak het van sy k*k skoene wat hy gedra het vir sy show Engele om ons nie.

In 2003 was die uwe amper deur Jacques de Coning gebliksem omdat hy nie tevrede was oor my Krit-resensie oor sy vertoning Afrikaans met trots kaniklani nie. In ‘n woedende bui het hy my by die feeskoerant gesoek om te doen met my soos Steve met Jan-Jan. Maar ek was gelukkig (of miskien ongelukkig) nie daar nie. In sy show het hy onder meer die stem en liedjies uit vervloë dae gesing. Die show het eerder in ‘n politieke sirkus ontaard met oproepe vir die vrylating van Eugène Terre’Blanche (toe nog op daardie stadium veilig agter tralies). Sonder die politiek het daar dus niks noemenswaardig van die show oorgebly nie. Oorspronklikheid ook nie; net ou liedjies soos “Sproetjies” (van Sias Reyneke).

Feit is kunstenaars moet liewer die openbare oog vermy as hulle te sensitief is vir kritiek. Kunstenaars het natuurlik wel die reg om te sê hulle is ontevrede oor die manier waarop hulle werk geresenseer word. Maar dan moet hulle dit nie op ‘n gewelddadige manier doen nie. Geweld is nie ‘n opsie nie.

Die probleem is dat die KKNK elke jaar misbruik word deur sommige kunstenaars om die onafhanklikheid en kwaliteit van gerespekteerde resensente te bevraagteken. En om hul eie (politieke) agendas te bevorder deur onder meer resensente se eie menings te onderdruk. Dit het nou in ‘n sirkus ontaard. Dit moet stop.

Jason Lloyd is ‘n joernalis, rubriekskrywer en mediawoordvoerder vir die Oos-Kaapse ministerie van Openbare Werke.



LitNet: 16 Mei 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.