oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Wat van 'n Turksvydag in Suid-Afrika?

Jason Lloyd

'n (Wille) vrug met dorings!

So, what is so special omtrent hierdie vrug? En die ergste: dit groei so wraggies in die bos - ver verwyderd van mens se tjint. Die vrug: die stekelrige turksvy, wat eens as 'n onkruid beskou is en vandag die inspirasie vir verskeie feeste oor kontinente heen is.

Glo my, alles is gewis nie net 'n grap nie, soos Eugène Marais se "Skoppensboer" te kenne gee. Dit is ook nie net in Mexiko waar turksvyfeeste hoogty vier nie. Hier op eie bodem doen die doringvrug ook sy ding. En nogal hier in my valley - die Oos-Kaap.

Op my tuisdorp, Uitenhage, trek die jaarlikse en alombekende Turksvyfees in die eerste helfte van elke jaar meer as 20 000 mense. Dit is amper trippel so veel mense as wat die sukkelende Olifante op Telkom Park in meer as 'n seisoen kan bymekaar kry.

En as jy jou windgat hou en Gauteng bo die "ekonomies bankrot Oos-Kaap" verkies, kan jy ook daar makietie met die doringvrug hou. Doer in die Jakarandastad is daar elke jaar in Februarie ook 'n Turksvyfees. By die Rooihuiskraal-feesterrein, nogal.

En gepraat van "rooi". Gaan die ouens se gevrete nou nie rooi wees na hierdie feeste nie? Want kyk, ou broer of suster, as jy 'n drinker is, dan kan jy sommer jou kantien byderhand hou. Turksvybier en turksvywitblits gaan sorg dat jy die woord skaam sommer net so vergeet. Of sal ek sê 'n ander betekenis aan die woord gee. En glo my, die skade sal eers Sondag bereken kan word. Wat ook al te laat gaan wees. Want spyt kom mos altyd agterna.

Maar wie worry dan? As die babelas knyp, dan is Sondae mos vir laat slaap, om in te haal wat jy die vorige aand verloor het, behalwe as jy met 'n trein of taxi werk toe moet gaan, moet regmaak vir die oggenddiens, of die kos vir middagete moet opsit.

Dronk maak - dit is darem nie al wat die turksvy kan vermag nie. Ja, net soos in die mens se geval het die turksvy darem ook 'n goeie en 'n slegte kant. Daai's maa' al.

Met die meer as 40 seleksies kan daar glo wondere verrig word. Van die verskillende soorte is Morado, Gymno Carpo, Algerian en Skinners Court glo die gewildste.

Gedink lakseermiddels is duur? Dan moet jy weer 'n slag nadink. In 'n sekere land maak vroue reeds eeue lank 'n aftreksel van turksvye se gedroogde blomme om as lakseermiddel te dien. So, jy hoef nie Laxador of kasterolie te koop as hardlywigheid of 'n vuilmaag of 'n goormaag jou moeilikheid gee nie. Soek net turksvyblomme. En onthou tog: as dit werk, dan gaan 'n gewone toiletrol nie die stryd kan weerstaan nie. Neem verkieslik 'n deel van 'n aartappelsak of 'n hele koerant (as jy dit klaar gelees het, asseblief tog) om die afrondingswerk in die toilet of agter die bos te doen. En kyk, na die sessie gaan jy beslis ook water nodig hê.

Met die Oos-Kaapse gesondheidsdienste wat in 'n posisie van ineenstorting is, help die turksvy, God dank, om die geneeshere op 'n afstand te hou deur hartsiektes te voorkom. Navorsing het onomwonde bewys dat die doringvrug die cholesterolvlak in die bloed laag hou en so hartsiektes voorkom.

In Mexiko word 'n geneesmiddel vir die behandeling van diabetes van turksvye vervaardig. Verder bevat die vrug belangrike minerale soos kalsium, magnesium en kalsium sowel as vitamien C. En dan kan jy nog die turksvy omskakel in nagereg, turksvypons, turksbrood en so meer.

En sedert 1914 steun die boere in die Karoo swaar op die turksvy as droogtevoer vir vee. Die skep van 'n megareservaat in die Baviaanskloof is ook van groot belang vir die bewaring van die turksvy in die substreek. Dit is ongetwyfeld goeie nuus vir die landbou, wat een van die steunpilare is van die Oos-Kaapse ekonomie.

Nou die slegte nuus. Gerugte dat turksvye hardlywigheid veroorsaak, kon nog nooit deur wetenskaplikes ontken of erken word nie.

So, as die hardlywigheid jou pak - dan moet jy tog na die Laxador of kasterolie en ook na 'n aartappelsak of 'n koerant gryp. Indien nie, dan sal 'n motorpomp vol water jou van die pitte moet verlos.

En as die historici dit reg het, dan het die turksvy sy opwagting in Suid-Afrika so om en by 1652 gemaak - saam met die broer (Jan van Riebeeck) van die Lae Lande. Regverdig dit dan nie 'n Turksvydag nie?



LitNet: 07 Januarie 2004

 

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.