oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Is Le Fleur dalk die Moses waarvan Adam Small geskryf het?

Jason Lloyd

Die ontdekkingsreis na 'n ware Suid-Afrikaanse identiteit om sodoende (ten volle) deel te word van die reënboognasie wat na 1994 gebore is, is tans volstoom aan die gang onder die Khoi-San-volk. Dit blyk egter dat die reis net voltooi sal word (indien ooit?) indien die regering volle selfbeskikking (so word daar gesê) aan die volk gee. Dit beteken dat die Khoi-San se inheemse identiteit - as eerste inwoners van Suid-Afrika - grondwetlik (eers) erken moet word.

En dat dit 'n lang reis vol dorings was en nog steeds is en gaan wees, is gewis, het mnr Cecil Andrew le Fleur, leier van die Griekwas en voorsitter van die Khoi-San-raad, ons onlangs herinner toe hy genooi was as hoofspreker by die laaste Langenhoven-lesing, wat vir dekades 'n jaarlikse instelling by die Universiteit van Port Elizabeth was. Maar dis nie 'n reis met die doel van afstigting van Suid-Afrika nie, het Le Fleur laat val. "Ons soek nie 'n eie geografiese gebied nie. Net selfbeskikking oor ons taal, kultuur en eie gewoontes."

Onder die tema "Die stryd om erkenning van Suid-Afrika se eerste inheemse mense in 'n nuwe demokrasie" het Le Fleur sy gehoor vermaak met 'n lang historiese oorsig oor die stryd van die Khoi-San-mense om hul identiteit "in ere te herstel".

Le Fleur se lesing laat 'n mens onwillekeurig dink aan die stand van bruin mense in die nuwe Suid-Afrika. Veral omdat mens gedurig die woorde "ons was eers te swart om wit te wies, nou te wit om swart te wies" (uit 'n Taliep Petersen-komposisie vir sy TV-drama Ali Barber) onder bruin mense hoor. Of jy nou die debat 'n bruin, kleurling-, Khoi-, San-, Griekwa- of Khoi-San-debat wil noem, maak nie saak nie. Die debat gaan grotendeels oor die politieke status van 'n groep Suid-Afrikaners wat hulle as 't ware tussen wit en swart bevind.

Gepraat van "tussen wit en swart" laat 'n mens dink aan 'n uitlating van eerw Allan Hendrickse toe hy nog leier van die destydse Arbeidersparty was. Die eerwaarde het gesê hy voorsien dat 'n bruin politieke leier vorentoe nog die katalisator gaan wees wat wit en swart in Suid-Afrika by mekaar sal uitbring. Dit is omdat die bruin mense hulle in die land in die unieke posisie bevind dat hul empatie weerskante toe lê; hulle kan hulle dus goed indink in die onderskeie aspirasies en vrese, het Hendrickse gesê.

Gegewe die feit dat die bruin/Khoi-San-debat die afgelope 31 jaar soos 'n dwalende spook in Suid-Afrika rondloop, sou dit miskien heel veilig wees om te vra waar is die bruin leier dan waarvan Hendrickse gepraat het. Die bymekaar bring van wit en swart het in 'n mate goed verloop, maar die soeke na 'n bruin leier maal nog in sommige mense se koppe. Miskien is Le Fleur reeds hierdie Moses (waarvan die digter en filosoof Adam Small destyds in sy skeppende skryfwerk gepraat het) wat die bruin volk na die beloofde land van heuning en melk kan lei. 'n Mens kom tot dié slotsom as jy mooi na Le Fleur se lesing geluister het, want die onderliggende boodskap het gegrens aan die opvlam van 'n Khoi-San etniese nasionalisme. Dit was 'n boodskap wat swaar belaai was met die politiek. En dié boodskap moet, na die uwe se beskeie mening, ernstig opgeneem word.

In Le Fleur se lesing kon 'n mens agterkom dat die soeke na die ware erkenning van die Khoi-San se inheemse identiteit ook 'n saak van emosie is. Hoewel pres Thabo Mbeki in sy "I am an African"- toespraak in 1996 erken het dat die Khoi-San die berge, valleie, riviere en heuwels van Suid-Afrika eerste bewoon het, het hy in dieselfde asem gesê die Khoi-San het alreeds as 'n volk uitgesterf. Die uitspraak het die Khoi-San laat rooi sien en Mbeki het later deur middel van oudminister Valli Moosa erken dat hy 'n fout gemaak het en verskoning aangebied.

Ook het die onlangse bekendmaking van die uitslae van die genetiese DNA-toetse die wêreld se aandag (weer eens) daarop gevestig dat die Khoi-San die beginpunt is van die menslike spesie. Tesame met bogenoemde en die feit dat die Verenigde Nasies (VN) erkenning gee aan inheemse volke, blyk dit op die oog af dat Le Fleur sy kaarte goed speel. Maar of die politieke wil daar is, moet 'n mens maar net wag en sien.

Nog 'n kwessie is die arbitrêre afsnypunt van 1913 vir alle grondeise. Volgens Le Fleur is 99 persent van alle Khoi-San-grond voor 1913 afgeneem en hulle vra dus dat die datum teruggeskuif word sodat die Khoi-San ook voordeel daaruit kan trek. Maar die onlangse uitspraak deur dr Pallo Jordan, minister van kuns en kultuur, dat die Khoi-San steeds daarop kan aandring dat grondeise van voor die 1913-keerdatum deur die regering oorweeg kan word, blyk goeie nuus te wees.

Maar die hele proses om die Khoi-San se identiteit erken te kry gaan 'n lang een wees, want Le Fleur sê daar is feitlik niks oor om te beskerm nie. "Ons identiteit, taal, kultuur en gewoontes moet weer moeisaam opgebou en herstel word. As dit weer opgebou is, dan kan dit beskerm word. Ons het dus 'n aparte proses nodig, en dit word selfbeskikking genoem, sonder om van Suid-Afrika af te stig," het Le Fleur beklemtoon.

Miskien moet die Khoi-San die raad van Jordan soos hy dit aan Rapport gestel het, ernstig opneem en volg: "Ek is seker as die Khoi en die San hulle organiseer en daarop aandring dat die keerdatum vir grondeise teruggeskuif word, sal daar wel na hulle geluister word."

En belangrik: (miskien) moet Jordan se raad in alle aksies van die Khoi-San gebruik word om hulle selfbeskikkingsdoel te bereik. Miskien sal die ontdekkingsreis van die Khoi-San dan - met die ontdekte Le Fleur as leier (?) - eendag voltooi word.

  • Jason Lloyd is 'n voormalige politieke en kunsjoernalis. Hy is tans 'n vryskutskrywer en 'n rubriekskrywer.



    LitNet: 06 Januarie 2005

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.