oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sarah Bartmann is vergete

Jason Lloyd

Dit sou ’n mens agterna herinner aan amper tien jaar gelede toe Suid-Afrikaners in hul miljoene aan die land se eerste demokratiese verkiesing deelgeneem het. Net: hierdie was toe nagenoeg 10 000 mense, insluitend pres Thabo Mbeki, op Nasionale Vrouedag verlede jaar saamgekom het in Hankey. Die geleentheid: om die Khoi-ikon Sarah Bartmann (wat eers Saartjie Baartman genoem was) se skelet, brein en geslagsorgane finaal tot ruste te lê.

En dit was waarskynlik ook ’n dag waarop die ontslape digter HA Fagan hom soos volg sou uitgelaat het: “Ek kyk en sien die skare voor my staan, / Zoeloe en Xhosa, Sotho en Shangaan en ek, ’n / Blanke / vele volkere ja, almal verenigd om Gods seën te vra / op net een tuiste, net een vaderland, / want die Alwyse het ons saam geplant / en saam laat wortel in Suid-Afrika.”

En die woorde van Mbeki, “… die dag is veronderstel om ’n dag van feesviering en blydskap te wees”, uit sy toespraak sou sekerlik goed daarby aansluit.

Maar dit was ’n dag wat voorafgegaan is toe die Franse senaat vroeg verlede jaar besluit het om Bartmann se oorskot na 187 jaar in Frankryk na Suid-Afrika terug te stuur. In Parys was sy in ’n pakkamer van die Museum van die Mensdom gehou nadat sy as ’n frats in die museum ten toon gestel was.

Volgens navorsers is sy in 1789 in die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap gebore. Daarna het sy na die Kaapse Skiereiland gemigreer, waar haar uitstaande agterstewe gou die aandag van koloniste getrek het. Sy is toe deur die koloniste oorreed — of gedwing? — om saam na Europa te gaan waar sy ’n fortuin sou verdien deur haar liggaam ten toon te stel.

Maar nou, ’n jaar later, na ’n luisterryke begrafnis, word daar ’n demper op die goeie herinneringe geplaas wat op die walle van die Gamtoosvallei opgewek is. En uit talle oorde word gesê: “Die Sarah Bartmann-gesprek is verby en vergete. Haar graf is verlate en op die N2-pad tussen Kaapstad en Port Elizabeth is daar geen rigtingwysers wat wys waar die graf is nie.”

En dan is daar nog die Khoi-volk se gespook met die regering om hul leiers as tradisionele leiers erken te kry.

Volgens mnr Sam Ngwenya, woordvoerder van die Inkwastam, is die eintlike probleem die regering se gesloer om Bartmann se graf tot ’n nasionale gedenkwaardigheid te verklaar. “Ons het reeds verskeie vergaderings met die Kouga-munisipaliteit en die regering gevoer om die probleme op te los. Daar was toe vir ons gesê dat die Sarah Bartmann raadgewende forum getaak was om al die uitstaande kwessies rondom Sarah af te handel. Maar nou is die forum ontbind. So, ons is nou aan ons eie lot oorgelaat en moet dus self voortploeter.”

Van die kwessies wat die raadgewende forum moes afhandel, sluit die aanbring van rigtingwysers op die N2-pad in, asook ’n naambordjie wat die graf moet identifiseer.

En dan is daar nog die gedenksteen wat nog nie oor besluit is nie, “al het ons as Khoi-volk aangedui hoe ons dit wil hê,’’ sê Ngwenya.

Volgens Ngwenya het Mbeki Bartmann se graf as nasionale gedenkwaardigheid geproklameer, “maar dit is nog nie gewettig nie, omdat dit nog nie in die staatskoerant gepubliseer was nie.”

Die proses word glo vertraag deur radio- en TV-senders wat naby die graf opgerig is, “omdat die Kouga-munisipaliteit ’n kontrak het met die SABC. En solank daardie kontrak bestaan, kan niemand eienaarskap van die graf bekom nie.”

Volgens die Nasionale Erfenis-wet word alle nasionale gedenkwaardighede deur die staat besit en deur die wet beskerm.

“En dit beteken dat Sarah se graf nie deur die wet beskerm word nie. So, daar kan nie fondse vir die instandhouding en beveiliging van die graf beskikbaar gestel word nie,’’ sê Ngwenya.

En mnr Phumzile Oliphant, skakelbeampte van Kouga-munisipaliteit, sluit aan by Ngwenya deur te sê dat die woorde van Mbeki — “… dit is vir my ’n eer om aan te kondig dat Sarah se graf geoormerk is as ’n nasionale gedenkwaardigheid” — nog nie in die praktyk neerslag gevind het nie.

“Ons stem saam dat dit ’n skande is dat daar nog geen tekens langs die pad aangebring is nie, maar dit is in die hande van die nasionale regering. Terwyl die graf nog nie tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is nie, is ons hande afgekap,’’ sê Oliphant.

En die gerugte dat niemand na Bartmann se graf omsien nie, word ontken deur Oliphant, wat sê: “Die munisipaliteit stuur nou en dan mense om die graf skoon te maak.”

En in dieselfde asem gee hy toe dat die respek vir Bartmann se graf maar dun gesaai is.

“Toe ek eendag die graf besoek het, was daar twee Suid-Afrikaners en twee buitelanders by die graf. Een van die Suid-Afrikaners het op die graf geürineer. Daaroor was ek baie ontsteld.”

En dit blyk dat die diep lyne van verdeeldheid onder die Khoi-volk wat verlede jaar geheers het oor waar Bartmann se beendere begrawe moes word, nog springlewendig is, want uit die Kaap is daar gerugte dat die Oos-Kaapse Khoi-gemeenskap moet omsien na die graf van Bartmann.

Die digter en Khoi-aktivis me Diana Ferrus, wat die roerende gedig oor Bartmann geskryf het, stel dit so: “Dit is die Oos-Kaap se plig en eer om te kyk na Sarah se graf, omdat hulle haar daar wou begrawe het.” En in dieselfde asem sluit me Yvette Abrahams, projekbestuurder van die Instituut van Historiese Navorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland, by Ferrus aan deur te sê: “Dit is nie net die regering se plig om na Sarah se graf om te sien nie. Dit is ons almal se plig. En veral die Oos-Kaapse Khoi-volk se plig.”

En die gespook van die Khoi-volk om as inheemse volk ’n bestaansreg te kry blyk voort te gaan as jy na stamhoof Margaret Coetzee, van die Inkwastam, luister. En sy herinner ’n mens aan wyle Jan Rabie se roman Die groot-andersmaak, wat handel oor die uitsterf van die Khoi-tradisies in die middel agtiende eeu.

En Coetzee is vasbeslote om die tradisies te laat herleef, “want ons wil ook die nodige erkenning kry wat die Nguni-stamme het. Ons wil die reg hê tot selfbeskikking om ons mense in ons eie geografiese gebiede te lei.”

En Coetzee sê ten spyte van al die probleme sing die Khoi-volk nog steeds — met apologie aan Ferrus: “Ons is Khoisan, ons is slaaf / ons is lig / ons is donker / ons is arm, ons is ryk / ons is vet, ons is maer / ons is alles wat ons kan wees ... en ons is Afrikaan.”

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.