oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die bruin debat

Jason Lloyd

Liewe LitNetters, my eerste aflewering van hierdie rubriek is oorspronklik geskryf as ’n brief en bevat nie ’n volledige motivering vir hoekom ek sê dat die bruin debat nodig is nie. Hier dan my redes/oorwegings.

maar ’n onsekerheid
hang soos ’n swaar reis-etiket om my nek,
waarop duidelik geskrywe staan:
“Kleurling” … nasionaliteit geskend
bestemming onbekend …
        - Noël-David Adams

I had run away from a sense of belonging …
But my roots are in the Western Cape.
When I am there it utterly defines me as a coloured.
And I will always carry the seeds of colouredness within me.
It doesn’t matter who I marry or where I go, my yet-to-be-born children will be coloured, and their children, too.
        - Phylicia Oppelt

Dit is die jaar 1929. Bruckner de Villiers van die Nasionale Party seëvier in ’n tussenverkiesing in Stellenbosch nadat hy, met die hulp van dr DF Malan, die bruin stem aktief gewerf het. De Villiers se bruin kiesers dra hom skouerhoog tot bo op die trappies van die Senaat. In 1930 besluit die Kaaplandse NP om hom vir die verwydering van die bruin mense van die gemeenskaplike kieserslys te beywer. En in 1956 word die bruines uiteindelik van die kieserslys verwyder. Die begin van ’n marginaliseringsproses vir bruin mense. Bruin mense word uit die sogenaamde wit woonbuurte verjaag en weggesmyt op die Kaapse Vlakte soos uitlanders.

Maar die vernedering van bruin mense strek verder terug as 1948 - toe die bekendste Afrikaanse woord, APARTHEID, gewettig was.

Nou, in 2003, nege jaar na die wetlike dood van apartheid, is bruin mense nog steeds die stiefkinders van Suid-Afrika - eers in die periode voor apartheid; en gedurende apartheid; en ook van die nuwe orde. Dit is ongetwyfeld ’n verdoemende refleksie op die nuwe orde en veral op die politieke partye wat voorgee dat die bruin stem ook vir hulle belangrik is, want dit wil vir my voorkom of hulle niks doen om die griewe van bruin mense aan te spreek nie.

Dus is die opbloeiende debat wat opgevlam het by die Burger-lesingsreeks oor bruin identiteit by die KKNK die direkte gevolg van jare se vervreemding en marginalisering. Alle deelnemers, van die podium en uit die gehoor, het dit as ’n gegewe aanvaar dat bruin mense wel gemarginaliseer word - dat hul belange opnuut deur die regering gering geag word, dat hulle eens te swart was en nou te wit is.

En toe kom die skrywer en digter Clinton V du Plessis en vra ’n gespreksforum - iets soortgelyks aan die Groep van 63 - om bruin kwessies aan die bod te bring. En Du Plessis volg dit op met ’n kragtoer - ’n ope brief aan Allan Boesak. ’n Noodkreet om hulp: ’n Moses in die persoon van Boesak gevra.

Die groot vraag is, waarheen nou? Gaan ons Du Plessis se oproep ernstig opneem of nie? Sommige mense - soos baie bruin intellektuele - sal sê, “Nee, ons wil nie ’n gespreksforum stig nie. Dit neig te veel na die Groep van 63 se taktiek. Ons sien ons eerder deel van ’n groter swart geheel.”

Dit is juis hier waar die knoop lê. Ideaal gesproke sou ek dit ook wil glo, maar realisme moet teenoor wensdenkery gestel word. Op ’n hoër vlak word bruin intellektuele gesien as deel van die swart geheel, maar op grondvlak is dit die teenoorgestelde, soos byvoorbeeld: “Dit maak nie saak wat ek hier in die gemeenskap doen nie, jy is net ama-coloured. Non-racialism se maai, vir die comrades bly ek net ama-coloured. Ek het myself bruikbaar gemaak, want ek’t die skills, selfs die access, maar op die lange duur kry jy tog die gevoel dat jy net geduld geword.”

En wanneer die auntie in Rosedale (Uitenhage se histories bruin buurt) kla dat sy nie die Ingelse (soos my oorle ouma sou sê) waterrekening kan lees nie, hoor sy in ’n Xhosa-aksent: “Sorry, but I do not understand you. I think you should rather get a relative to translate it for you.”

En die auntie in Blikkiesdorp (’n historiese plakkerskamp op Uitenhage) kry dan ’n brief (weer in Engels) van die munisipaliteit … ná jare se wag op haar HOP-huisie: “We are sorry … but you have to wait for your RDP house. Preference is being given to the people of Langa.” (En die mense verstaan dit nie, want sedert toeka se dae bly bruin en swart langs mekaar in Blikkiesdorp. En hulle kry ewe swaar.) En nou in die nuwe bedeling klink sulke briewe baie erger as toe die mense van Distrik Ses verskuif is met briewe van die apartheidsregering wat sê - soos Adam Small gedig het - “briek af djulle hys, briek af djulle hys.”

En wanneer van my vriende by my voormalige (bruin) skool - die Sekondêre Skool Gamble Straat (waar Jakes Gerwel ook op die skoolbanke gesit het) - hulle wil aansluit om gesprek te voer met hul Xhosa-skoolgenote, dan word daar skielik oorgeslaan na hulle lingua. En dan is die outjies met die amper wit en amper swart velle totaal uit. En dit word ook nie verstaan nie. So wie is die Moses wat asseblief wil please and explain?

Hierdie soort uitlatings hoor ek gereeld op grondvlak en dit sal totaal onverantwoordelik wees om dit nie ernstig op te neem nie.

So, ’n mens kan tereg vra wat het geword van pres Thabo Mbeki se aansprake dat “Africanness” nie gedefinieer word deur ras, kleur, geslag of historiese herkoms nie? En hoe rym dit met die soeke na “real Africans”? Dié uitlatings moet ’n mens ook laat vra hoe nou gemaak om bruin mense deel te maak van die politieke, sosiale en ekonomiese stroom?

’n Begin sal wees om eerstens ondersoek in te stel na hoekom bruin mense - veral op die platteland - hulle nie as deel van die groter swart geheel eien nie. Ek sou sê ’n deel daarvan is omdat sommige swart mense voel dat bruin mense beter daaraan toe was onder apartheid - veral omdat bruines in die driekamerparlement verteenwoordig was.

Gedeeltelik mag dit miskien waar wees, maar wat verkeerd was in die verlede, moet nie gestalte gehou word om ’n gesamentlike Suid-Afrikaanse toekoms - vir al sy mense - te vertroebel nie. Veral ook gesien dat ’n minderheid van bruin mense aan beide die 1984- en 1989-verkiesings vir die destydse driekamerstelsel deelgeneem het. Groot getalle bruin mense het hulle eerder by die UDF aangesluit en sodoende teen apartheid gemobiliseer.

Die diepe gevoel van verontregting by bruin mense word nie net as gevolg van swart en wit handeling ervaar nie, maar ook deur die doen en late van ons broers en susters - wat hulle soos Judasse gedra. Vrae soos “O, waar waar waar is Moses?” val dus op dooie ore.

Dit laat mens dink aan die destydse Arbeidersparty onder die Hendrickse-kliek wat nie ’n vinger verroer het by die Kempton Park-onderhandelings om die saak van die bruin man daar te bevorder nie. Nee, hulle was net daar as lakeie van die ANC. ’n Mens sou dus sê dat die afwesigheid van die bruin stem tydens die onderhandelings (of in die oorgangstydperk) verder bygedra het tot die isolering van bruin mense uit die hoofstroom. Die graad van hierdie isolering kon dus veel laer gewees het indien bruin leiers hul mense se belange daar verteenwoordig het, soos die IVP (Zoeloes) en die Vryheidsfront (Afrikaners). En so tussen hakies: Buthelezi word glad nie van rassisme beskuldig as hy KwaZulu-Natal (of selfbeskikking) onbeskaamd vir die Zoeloes opeis nie. Maar jy kry dit wel as ander groepe dit doen.

So, wat sal dan die ideale opsie wees om bruin mense se griewe op die nasionale agenda binne hoorafstand van die regering te plaas, om hulle dan so deel van die hoofstroom te maak?

’n Politieke party - soos Peter Marais se Nuwe Arbeidersparty - sou ’n opsie wees. Dan skreeu ons weer lekke’, “Vote Labour … Vote Labour” soos in die ou dae van Allan Hendrickse. (Gelukkig kan ons hierdie keer met gemak op Koningstrand gaan swem sonder dat Mbeki ons vingerwysend met sy vlymskerp woorde gaan pak gee. En van sorry baas gaan daar ook nie sprake wees nie.) Die regering word dan links en regs gekritiseer en daar word gemobiliseer teen die swart meerderheid - ’n teken van ’n verdoemende Westminster-stelsel soos beoefen deur die DA van Tony Leon. En die gevolg: konfrontasie en polarisasie. Bruin mense word dan gebrandmerk as antitransformasie en word sodoende geïsoleer en verdoem.

’n Ander alternatief sou wees om ’n dialoog- en konsensussoekende opsie te volg wat tot voordeel van die hele Suid-Afrika sal strek. En dit is: om met die regering om ’n tafel te gaan sit en te praat. ’n Formele of ’n informele gespreksforum tussen bruin akademici, intellektuele, joernaliste en professionele mense sal ’n opsie wees. Gesprekke sal dan ook met gewone bruin mense gevoer moet word, omdat dit reeds oor hulle sorge gaan. Dit sal dan ook ideaal wees as die gespreksforum uit bruines bestaan, omdat dit hoog tyd is dat bruin mense iets vir hulleself moet doen. En belangrik: ons moet ophou om op andere se rûe te ry om vir ons iets te doen.

Dié gespreksforum sal dan moet oppas dat hulle nie in dieselfde slaggate as die Groep van 63 trap nie. Die probleem van die Groep van 63, soos met die brief aan die regering na die reeks bomontploffings gesien is, is dat hulle ván die regering praat en nie mét die regering nie. So, die regering ken nie regtig vir ’n Danie Goosen nie. Dit maak nie saak hoe opreg hulle motiewe is nie, hulle is alreeds gebrandmerk as ’n klomp geleerdes wat teen die nuwe orde gekant is. Daardie sentiment word dan verder versterk omdat die Groep van 63 hoofsaaklik uit wit Afrikanermans bestaan en ook omdat die Afrikaner oor die algemeen beskou word as anti-Nuwe Suid-Afrika.

Gegewe ons apartheidsgeskiedenis is bruin mense dan in ’n beter posisie om die regering van hul goeie motiewe te oortuig. Hierdie goeie motiewe sal dan versterk word indien mense soos ’n Neville Alexander - wat persoonlike bande met invloedryke regeringsmense het - deel van so ’n gespreksforum word, want dit is beter “om eers persoonlike bande te bou voordat jy omstrede kwessies bespreek. Mense bevraagteken jou motiewe soveel makliker as hulle geen persoonlike verhouding met jou het nie,” soos die DA-LP Raenette Taljaard onlangs in Rapport opgemerk het.

Hier in die Oos-Kaap het die ANC-LPW (eers UDM-LPW) Christian Martin alreeds ver gevorder in private gesprekke met die Oos-Kaapse regering. Daar is toe besluit dat hy meer tyd in bruin gebiede moet deurbring om na die griewe van die mense te luister en dan direk aan die premier moet rapporteer. Die premier sal dan op sy beurt met die verskillende LUR’e en hul departemente skakel. Die nodige stappe sal dan geneem word binne staande wetgewing, want volgens Martin “verwag bruin mense nie spesiale behandeling nie. Net gelyke behandeling.”

My voorstel is dan dat die tweede opsie (soos deur my genoem) dan as vertrekpunt gebruik word om gesprekke met die regering aan die gang te kry, want in hierdie tyd van demokratiese oorgang is dit nodig dat die bekommernisse van bruin mense op die tafel geplaas word. Anders gaan hulle vir altyd polities totaal geïgnoreer word. En indien dit nie gebeur nie, gaan die digterstem van Small: “die Here het gaskommel / en die dice het verkeerd gaval vi’ ons / daai’s maar al” vir altyd by bruin mense spook.

4 Mei 2003


Lees ook Clinton du Plessis se Ope Brief aan Allan Boesak

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.