oopbekArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Regstellende aksie: Ope brief aan Ivor Price

Jason Lloyd*

Beste Ivor

Eerstens: Veels geluk omdat jy aangewys is as Media24 se joernalis in Londen. Ek hoop en vertrou dat jy die beste van die geleentheid gaan maak. Maar dit is nie die rede waarom ek hierdie skrywe aan jou rig nie. Dit gaan eerder oor 'n meer ernstige onderwerp: jou onlangse ope brief (29 Oktober 2004) - in die spasie van jou tweeweeklikse "Van alle kante"-rubriek in Die Burger - aan president Thabo Mbeki.

As landsburger het jy die reg - en ook die voorreg, na my beskeie mening - om die geleentheid gebied te word om in ope dialoog met die President te tree. Ek hoop net alle Suid-Afrikaners vind dit nodig, soos jy, om openlik met die President te praat oor kwessies wat hulle pla. En dat die kwessie van regstellende aksie jou pla, is gewis. Maar ek is van mening jy het die verkeerde onderwerp gekies.

Hoekom? Dit is duidelik jy het nie jou huiswerk gedoen nie. Ook wil dit voorkom dat jy nie goed in die onderwerp onderlê is nie. En daarmee gee ek nie voor dat ek meer weet as jy nie. En so kom ek tot die slotsom dat jy maar 'n oppervlakkige debat gevoer het, sonder om oor die gevolge na te dink. Net soos 'n cowboy wat op die slagveld blindelings van die heup skiet, het jy in jou brief te kere gegaan.

Vir iemand soos jy - wat ek as 'n gesoute rubriekskrywer en joernalis kan beskryf - is dit, om die minste te sê, baie-baie teleurstellend.

Regstellende aksie is ongetwyfeld vir sommige mense 'n noodsaaklikheid; vir andere is dit weer die duiwel self. En kom ons wees eerlik: hoe jy na regstellende aksie kyk, het hoofsaaklik te doen met jou politieke status voor 1994. So, daar sal altyd hierdie twee pole wees, want die een was bevoordeel en die ander benadeel. (So, tussen hakies: Ivor, dit is vir my onduidelik om jou politieke status voor 1994 te bepaal, vanweë jou teenkanting teen regstellende aksie. Of is ek miskien colour blind?) Reeds vanweë die feit dat Suid-Afrikaners as gevolg van apartheid en kolonialisme volgens rasselyne verdeel was, kry ons vandag teenstrydige argumente vir en teen regstellende askie.

Maar apartheid en kolonialisme het 'n wanbalans geskep. En dit moet reggestel word. Dit is Zelda Jongbloed, nou 'n adjunkredakteur van Die Burger, wat destyds in 1998 in Rapport geskryf het: "Met die konsep van regstellende aksie skort daar niks nie. Dis om die erfenis van apartheid teen te werk." Sy het ook verder geskryf: "Daar is geen sprake dat regstellende aksie, soos apartheid, diskriminerend kan wees nie. Die waarde van regstellende aksie is meer op langtermyn geleë om almal deel te maak van die nuwe Suid-Afrika …"

Ivor, om die toekoms te verseker moet ons die foute van die (N)NP - toe hy die hele staatsdiens (en ook die privaatsektor) ge-Afrikaniseer het - regstel. En solank Suid-Afrika nog in 'n oorgangsfase is, moet dit nou geskied, anders betaal ons dalk later 'n duur prys.

'n Onlangse studie deur prof Pierre du Toit van die Universiteit van Stellenbosch het getoon die meeste swart mense in Suid-Afrika steun regstellende aksie. Sowat 51 persent van 'n alle swart Suid-Afrikaners meen ook daar moet geen keerdatum vir regstellende aksie wees nie. Ivor, hoe regverdig 'n mens jou brief aan Mbeki as 'n mens bogenoemde statistiek in ag neem? Kan 'n mens regtig verwag die President moet jou ernstig opneem? Ek sou sê nee, gegewe die oppervlakkigheid van jou argument en die gebrek aan 'n logiese motivering vir jou standpunt.

Na my mening vat jy die verkeerde man - Mbeki - aan. Die Wet op Diensbillikheid, wat regstellende aksie wettig, word nie deur sommige maatskappye reg toegepas nie. Hoekom nie? Want hulle pas regstellende aksie toe bloot omdat die wet dit afdwing en nie omdat die eerlike wil daar is nie. Met ander woorde, die maatskappye pas die wet toe net vir blote vertoon.

So, wat is die regte toepassing van regstellende aksie? Eerstens moet daar by alle maatskappye 'n opregtigheid geskied wat regstellende aksie betref. Daar moet dan strategies beplan word hoe dit toegepas gaan word. Daarmee gepaard moet daar 'n geskikte omgewing geskep word waarin voorheen benadeeldes kan werk en vinnig kan aanpas. Die werkplek moet dus so omskep word dat die nuwelinge welkom voel en dat daar programme in werking gestel word om die nuwelinge te help. Maar die belangrikste is die gesindheid van die huidige werkers teenoor die nuwelinge.

Dit is reeds die "gesindheidsknoop" wat die hele proses van regstellende aksie in die wiele ry. Die nuwelinge, in die meerdere gevalle niewittes, raak dan moeg vir die negatiewe houdings jeens hulle en vat hulle goed en loop. En siedaar: die betrokke maatskappye is weer sneeuwit.

Ivor, die gesindheid van die ou werkers teenoor die nuwelinge en sommige maatskappye se moedswillige gebrek aan ondersteuningsprogramme vir gekleurdes is die groot struikelblok vir regstellende aksie. Nie Mbeki nie. Ook is daar 'n algemene persepsie by sommige voorheen bevoordeeldes dat niewittes regstellende-aksie-aanstellings is. En as jy skryf: "Hoe lank nog gaan dit vir maatskappye nodig wees om mense aan te stel bloot op grond van velkleur en nie op meriete nie?", sou ek sê jy ondersteun die standpunt van die voorheen bevoordeeldes. Om dit duidelik te stel: dié aanhaling van jou suggereer dat alle mense van kleur aangestel word op grond van hul velkleur en nie op meriete nie. Jy weet natuurlik dit is nie waar nie. Daarop sou ek sê … skaam jou Ivor …

Regstellende aksie het (eerder) - soos Heindrich Wyngaard (politieke redakteur van Rapport) dit op 28 Maart 2004 in Rapport gestel het - "ambassadeurs" nodig. En nie soos jy wat nou voorgee dat jou Londen-aanstelling niks met regstellende aksie te doen het nie. Maar daarmee gepaard kan jy gerus wees dat jou aanstelling op meriete gedoen is, want jy het jou alreeds as joernalis bewys. Dit is - soos Tim du Plessis dit op 12 September in Rapport gestel het - "omdat ek oortuig is dat sekere versuime van die verlede opgeklaar moet word", pleks daarvan om soos Wyngaard te sê: "Ek is aangestel ingevolge die diensbillikheidsbeleid van die maatskappy" (dit is nou Media24, waarvoor jy ook werk, Ivor). En ek is trots om dit prontuit te kan sê.

"Niemand hoef skaam te wees om te erken dat hulle 'regstellende aksie'-aanstellings is nie - mits hulle natuurlik weet hulle is uiteindelik bekwaam om die werk te kan doen," het Wyngaard verder geskryf.

Ivor, in plaas daarvan om 'n "ambassadeur" vir regstellende aksie te wees, draai jy nou jou rug op die proses (waaruit jy, soos baie ander Suid-Afrikaners, voordeel getrek het), maar jou aanstelling - as bedryfsredakteur en nou as Londen-joernalis - by Die Burger glo ek is gedoen op meriete om die (hoof)redaksie van die koerant meer verteenwoordigend van alle Afrikaanse lesers te maak.

Maar Ivor, iets sê vir my jou skrywe aan Mbeki was eerder belaai met 'n valsheid en nie noodwendig gedryf deur eerlikheid nie. Was dit miskien bedoel om 'n bepaalde groep te paai? Miskien sou dit gepas wees om te vra - om weer Wyngaard te betrek: "Wat doen die bruin (swart) Afrikaanssprekende wat wel koerantruimte gebied word?

"Die vraag is of jy net daar sit en die sonskyn geniet. Of jy 'n 'jabroer' of 'n 'jasuster' is, iemand wat glo die pad na sukses is om met alles saam te stem; iemand wat die kuns van die lang, lekkende tong vervolmaak.

"Of is jy bereid om moeilike dog noodsaaklike vrae te stel - al weet jy dit gaan nie noodwendig beantwoord word nie (Ivor, het Mbeki jou al geantwoord?) en dat jou gewildheid op die binnenshuise aandelemark van 'n maatskappy of organisasie of in jou persoonlike vriendekring daarmee 'n lelike duik kan vat?"

Ivor, ek hoop dié brief sit jou weer aan die dink oor jou standpunt oor regstellende aksie. Alles van die beste met jou nuwe uitdaging in Londen …

Jason Lloyd
10 November 2004



Ivor Price antwoord:

Dankie vir die geleentheid om te antwoord.

Ek het reeds my sê gesê oor die onderwerp. My rubriek was bedoel om 'n ander lig op die kwessie te gooi en die geykte skeiding tussen pro en teen oor regstellende aksie bietjie te ondermyn. Dit wou help ruimte maak vir ander opinies wat nie so maklik in wit en swart uitmekaar val nie.

Ek dink dit sou teenproduktief wees om nou in gesprek te tree met iemand wat daardie tweespalt (digotomie) probeer versterk en blykbaar 'n sterk agenda het om homself as spreekbuis vir een van die twee kante te vestig.

Ten slotte, die skrywer se aanmerkings op my huidige pos en onlangse aanstelling is baie venynig. Al daardie stellings en wat alles daardeur geïmpliseer word, verdien nie kommentaar nie.

Dankie
Ivor





* Jason Lloyd was voorheen 'n politieke joernalis by Die Burger (Oos-Kaap). Hy werk tans as adjunkdirekteur: mediaskakeling in die kantoor van die Oos-Kaapse LUR vir finansies. Hy is ook 'n rubriekskrywer vir LitNet.



LitNet: 26 November 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.