Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Zen en The Last Samurai

Johann Sôhô Rossouw

The Last Samurai is ’n rolprent wat ryk is aan Zen-Boeddhistiese motiewe. Sonder om die rolprent volledig te ontleed, kan ons hier kyk na drie sulke motiewe wat in die rolprent ontgin word, naamlik die so-heid van dinge, I shin den shin en die sanpai (buigval, “prostration”).

Die twee hoofkarakters is die Amerikaanse soldaat Nathan Algren en die samoerai Katsumoto. Tydens een van hul gesprekke wys Katsumoto vir Algren die kersiebloeisels en verklaar dat ’n lewe bestee daaraan om na ’n volmaakte kersiebloeisel te soek, ’n goeie lewe sal wees. Maar wanneer Katsumoto op die slagveld in Algren se arms sterf, verklaar hy van die kersiebloeisels, “They are perfect, they are all perfect.”

Hoe is dit moontlik dat Katsumoto eers praat oor ’n lewe gewy aan die soeke na die volmaakte kersiebloeisel, maar dan sê dat alle kersiebloeisels volmaak is? Die antwoord lê daarin dat Katsumoto self deur die gang van sy lewe — waar hy hom voortdurend inspan om dinge te sien soos hulle is, en waar hy ook gereeld in zazen[1] sit, wat die beste manier is om dinge te sien soos hulle is — groei tot ’n ander siening van volmaaktheid. Volmaaktheid, besef Katsumoto, is nie daar waar my hoogste verwagting (byvoorbeeld, die lewenslange soeke na ’n volmaakte kersiebloeisel) vervul word nie, maar daar waar ek nie net my hóógste verwagting aflê nie, maar álle verwagtings. Waar ek alle verwagtings aflê, kan ek dinge werklik sien soos wat hulle is, in hulle so-heid.

'n Toneel uit The Last Samurai

In die tradisie van Zen verwys ons na hierdie aflegging van alle verwagtings as mushotoku (uitgespreek moesjoetoekoe), verwagtingloosheid. Maar mushotoku is nie iets waarop ek kan besluit en dit dan verwesenlik nie (soos om te besluit om ’n volmaakte kersiebloeisel te soek tot ek dit kry nie). Nee, as ek so redeneer, dink ek nog met my ego, wat gewoond is daaraan om doelwitte te stel (verwagtings te skep) en dit dan wilsmatig na te jaag. Dit kom daarop neer om die verwagting te skep om verwagtingloos te word! Dit klink snaaks, maar dit is baie dikwels die reaksie van mense wanneer hulle op intellektuele vlak verstaan wat mushotoku beteken en bewustelik besluit om “so te word”.

Op dié manier sal hulle nooit “so word” nie! Want mushotoku is nie ’n voorneme of ’n projek nie, maar ’n praktyk en sy vrug, die praktyk van zazen. As ek in zazen sit, lê ek af, is ek bloot hier en nou, besig om te sit en niks anders te doen nie. Die gedagtes wat kom, laat ek gaan en ek keer weer en weer terug na my asemhaling en my postuur. Dit is die intieme, radikale “wees” van mushotoku. As ek werklik in zazen sit, is ek reeds mushotoku. Maar in die alledaagse lewe, wanneer ek nie in daardie hoogste staat is nie, val ek dikwels weer terug in verwagtings, soek ek die volmaakte, en word ek teleurgesteld en kwaad. Ook hiervoor is zazen die antwoord, maar dan volgehoue, toegewyde zazen, om altyd weer en weer te gaan sit. Algaande, oor ’n leeftyd, word mushotoku ook my alledaagse manier van wees. Maar dit is nie ’n maklike pad, ’n kitsdoepa of ’n alleroplossing nie. Die tweede motief in The Last Samurai waarby ons hier stilstaan, is I shin den shin (uitgespreek ie-sjien-dén-sjien), wat beteken “van my siel aan jou siel”. I shin den shin, direkte oordrag, intieme mededeelsaamheid, is nie iets wat beplan word nie. Dit is ook nie iets wat op die intellektuele vlak gebeur nie, maar wel op die intuïtiewe vlak. Soms is woorde daarvoor nodig, maar dikwels nie. Dit vind veral daar plaas waar ons die wydse gees het wat zazen aan ons gee, maar soms selfs vir diegene wat nie die Weg bewustelik beoefen nie (en dan sodoende iets van die Weg sien).

'n Toneel uit The Last Samurai

In die rolprent is daar veral twee sulke tonele. Die eerste is waar Algren vir Katsumoto op die slagveld help om te sterf. Wat vir Algren eens wreed was (dat ’n soldaat sy weerlose opponent laat sterf), kan hy nou, na sy werklike luister na Katsumoto se wêreld en sy eie beoefening van zazen, verstaan as ’n daad van erbarming (omdat Katsumoto gedoen het wat hy moes, kan hy nou, onverknog aan die lewe, sterf).

Die tweede toneel is waar Algren Katsumoto se swaard aan die Meiji-keiser gaan gee. Dit gebeur net voor die ondertekening van ’n verdrag tussen die Amerikaanse ambassadeur en die keiser, wat die VSA eensydig sou bevoordeel. Na soveel vrugtelose pogings om die keiser te oortuig om die gesag van sy posisie uit te oefen en werklik te doen wat goed is vir sy land, ervaar die keiser ’n oomblik van verligting wanneer die hinkende Algren die gestorwe samoerai se swaard aan hom oorhandig. “Tell me how he died,” sê die keiser. “I will tell you how he lived,” antwoord Algren. Hier is die oomblik van I shin den shin, wat ook beteken dat alle teenoorgesteldes agtergelaat word (in hierdie geval die teenoorgesteldes van lewe en dood). I shin den shin is nie beperk tot ons verwagtinge (verál nie!) of ons opvattings nie. Dit vind in die tradisie van Zen veral plaas tussen meester en dissipel, maar ook tussen dissipels onder mekaar in die gesamentlike beoefening van die Weg, daar waar jy saam in zazen sit, of saam samu (uitgespreek sa-moe) (die werk wat nodig is vir die gemeenskap van praktiserendes) doen. Wie werklik zazen beoefen, is soms verstom oor hoe dit wat werklik diep vat, oorgedra kan word tussen mense wat mekaar nie eens goed ken nie.

Die derde motief in die rolprent is die sanpai (san = saam, pai = buigval). Ook hierdie motief kom voor in die twee tonele waarna ons reeds verwys het. Wanneer Algren Katsumoto help om te sterf, maak die hele Japannese leër vir hom sanpai, net soos wat hy weer ’n pai maak voor die keiser wanneer hy Katsumoto se swaard aan hom oorhandig. Binne die konteks van hierdie twee tonele word die pai uitgevoer na die oomblik van I shin den shin, uit respek vir die hoogste oordrag wat plaasgevind het.

'n Toneel uit The Last Samurai

In die tradisie van Zen beteken die pai om met jou hele liggaamgees voor die ander te buig, jou as ’t ware liggaamlik te verootmoedig. Dit word byvoorbeeld aan die begin en einde van die seremonie in die dojo, ná zazen, uitgevoer. Maar dit word ook uitgevoer wanneer die meester een of meer van sy dissipels as sy of haar opvolger aanwys, en daarmee die gelykheid tussen meester en dissipel woordeloos en liggaamlik bevestig.

As ons gewoond is om te kyk met die oog van een vir wie religie beperk is tot wat ek op die vlak van my bewussyn beleef, is die sanpai vreemd. Maar as ek eers verstaan, veral deur die gereelde beoefening van zazen, met die eise wat dit ook aan my liggaam en gees kan stel, dat ek eers werklik glo wanneer ek my liggaam ook op die spel plaas, dan word die sanpai vir my die kragtigste uitdrukking van die hoogste waarheid: ek en jy is gereed om mekaar te dien.

I shin den shin

[1] Zazen word gedurende die volgende tye in die Durbanville Zen-dojo onder leiding van Johann Sôhô Rossouw beoefen: van Maandag tot Donderdag smiddae vanaf 17:30 tot 19:00 en soggens vanaf 06:00 tot 07:00; Vrydae soggens vanaf 07:00 tot 08:00 en Saterdae soggens vanaf 07:45 tot 09:15.



LitNet: 5 Maart 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top
terug na vorige rubrieke


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.