|
|
Zazen as daad van weerstandJohann Sôhô Rossouw
Dit het 'n cliché geword om te sê ons leef in 'n tyd van lyding: reeds die lyding wat die Boeddha 25 eeue gelede rondom hom gesien het, het hom besiel om sy prinslike lewe agter te laat en hom te wy aan die beëindiging van lyding. As lyding 'n konstante is, wil dit nie sê dat lyding altyd in dieselfde vorme manifesteer nie. Soos die wêreld konstant verander, so verander die gedaantes van lyding ook konstant. Een van die belangrikste vorme van lyding in ons tyd word deur Bernard Stiegler beskryf as simboliese ellende. Simboliese ellende is 'n groeiende wêreldtoestand wat voortspruit uit die drang om almal oral dieselfde te laat dink, voel en glo deur die mark van dieselfde ervarings vir almal: dieselfde musiek, rolprente, boeke, idees. Hierdie mark word onderlê deur gierigheid, volgens die Boeddha een van die drie giwwe van die gees. Mense word daagliks deur die massamedia gedompel in 'n staat van verdowing waar die volgende ekstase die belangrikste is, en uiteindelik bly hulle oor met 'n uitgeputte gees in 'n valse werklikheid. Dit is 'n vorm van lyding wat nie vir ons onbekend is in Suid-Afrika nie. Soos ons land dieper gedryf word in 'n ryk enklawe en 'n arm enklawe, word die simboliese ellende in die ryk enklawe en die materiële ellende in die arm enklawe al hoe groter. Uiteindelik dryf dit ons nader aan 'n situasie van wedersydse haat en onkunde, die ander twee giwwe van die gees waarvan die Boeddha gepraat het. As jy hierdie woorde lees, leef jy waarskynlik binne die ryk enklawe, al is jy dalk nie self ryk nie. Binne hierdie enklawe neem die simboliese ellende vandag toe: mense ly aan eetversteurings, depressie, angs. Hulle weet nie wie hulle is of wat hulle moet glo nie, en al wat oorbly, is doellose verbruik van dinge en ervarings. Kyk maar net in enige bioskoop hoeveel van die advertensies voor die rolprent is van moontlike ervarings - alles fiksies gerig op 'n ander en selfs 'n valse werklikheid. Lyding spruit uit die gaping tussen hoe ons dink oor die werklikheid en die werklikheid self. Die konstante stroom moontlike ervarings wat aan ons bemark word, verhoog die potensiaal vir hierdie gaping tussen ons en die werklikheid oneindig. Mense se aandag - die kosbaarste deel van jouself - word opgeslurp in hierdie vervlietende ervarings, tot jy uiteindelik nie meer weet wat die werklikheid is nie, en jou in simboliese ellende bevind. Dit het 'n tirannie geword wat menswees en geluk self bedreig. Wat kan ons hieraan doen? Kan ons dit verander? Kan ons dit vryspring? Die antwoord is, ja, deur die gereelde beoefening van zazen (sittende meditasie). Zazen is 'n onmiddellike, kragtige manier om my verhouding met die werklikheid hier en nou te herstel. Deur in zazen te sit, beoefen ek my geloof met my liggaam en kan ek my gees koester. Zazen gee my aandag terug aan my, en neem dit weg van die mark van ervarings. Zazen is die weiering om aan te hou beweeg en geraas te maak. Dit is ook die weiering om gedurig beweeg te word en gevolglik in geraas te verander. Om een keer per dag in hierdie stilte te gaan sit, is om 'n afspraak met die werklikheid self te maak. Maar dit is ook 'n daad van weerstand, van om te sê, nee, ek weier hierdie valse werklikheid. Daarom is zazen te midde van simboliese ellende die eerste en diepste politieke daad wat ons kan pleeg. As ons ons tyd met zazen weerstaan deur na die tyd self terug te keer wanneer ons sit, word dit vir ons moontlik om dinge te sien soos hulle is, om met goeie oordeel en in die regte maat te handel, om te sorg en te gee soos wat dit nodig is en soos wat ons kan. Die ironie van ons tyd met sy absolute obsessie met die liggaam is juis dat dit die liggaam volkome materieel hanteer. In zazen kan ons hierdie kru liggaamlike materialisme eensklaps vernietig en die liggaam herstel tot 'n weg van weerstand, tot 'n weg waar gees en liggaam in harmonie is. Dit is om die geestelike kant van die liggaam te herstel en te beleef. Een van die gebreke van ons geestelike tradisies in Afrikaans is juis dat ons die liggaam geringskat en verwaarloos. Gelukkig hoor 'n mens vandag toenemend van kerke wat Christelike meditasie beoefen, en is zazen ook iets wat ons kan doen. 'n Ander wêreld is moontlik, en dit begin by die herstel van liggaam en gees, by die herstel van die werklikheid self - in zazen.
LitNet: 05 Julie 2005 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |